Slagoffer. François Smuts
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Slagoffer - François Smuts страница 9
“Jy’t nie iets vir gewigsverlies nie? Ek pas nie meer in my klere nie.”
“Jy behoort dit te verloor as jy ophou met die Cipralex. Hoewel ek moet sê dat die bietjie ekstra gewig jou nie sleg laat lyk nie.”
Hy het sy oë momenteel op haar voller borste laat rus. En die lang oomblik wat sy hom daarna in die oë gekyk het, het gewys dat sy dit raakgesien het. So ook die sweem van ’n glimlag.
“Baie dankie. Jy’t baie vir my beteken.”
“Dit was my plesier.”
Hulle het opgestaan en sy het weer haar sak opgetel.
Hy het by die deur gestaan en wag vir haar. Toe sy verbykom, het sy hom ’n drukkie gegee en hy het haar lippe vlugtig in sy nek gevoel.
Toe het sy geloop, een met haar lyf. En asof wetende dat hy haar agterna kyk.
+ + +
Daimonion, my daimonion, my daimon, my duende.
Wat my versaak het onder ’n mis van pille en oewerlose, droomlose slaap. Van “beter voel”. En van sy woorde, vertroud, vaardig, soos sy hipnotiese hande.
Was al hier, ken dit. Pille gegee daarvoor. Maar ken jou nie, erken jou nie.
Praat met kennis oor die kuns en letterkunde, maar nie uit sy hart nie. Speel met sy trouring – haal dit af, hou dit onbewustelik tussen sy vingers voor sy bleek, dunlip-mond terwyl hy luister en glip dit dan terug oor sy vinger. Dis of hy wil twyfel daaroor maar nie mag nie, asof daar tog in hemelsnaam net nie ’n kraak in die mondering mag verskyn nie.
En tog is hy gaaf. Is hy besorg agter die masker van psigiater-wees. Sien hy my raak.
Maar hy hou my met woorde en wenkbroue op ’n afstand, laat net sy oë soms toe om te opskeploer. Ek sal jou gryp, man, ek sal jou verskeur! Ek sal jou bors oopbreek en jou hart verslind! Ek sal jou die duende aan jou geslag laat voel as ek dit soos ’n feniks deur vlamme laat verswelg, om te herrys en weer te brand! En weer en weer, tot jy smeek om jou lewe en jou dood.
Maar eers aan die mis van pille ontkom.
Kom, lewe! Kom, dood! Kom gou!
TWEE
Soos in die hand ’n vuurhoutjie, wit,
voor dit vlam word, na alle kante
dartelende tonge steek – begin in die kring
nabye kykers haastig, helder en heet
haar ronde dans sigself rukkend uitsprei.
En meteens is dit volledig vlam.
– Rainer Maria Rilke
“Ag, wel, dit was dít.” Hy kon die lekker hartseer van ’n onopgeloste vraag in sy binneste voel toe hy weer in sy stoel sit en by die venster uitkyk. Hy het in sy gedagtes weer deur die sessie gegaan en homself herinner aan die fyn haartjies in haar nek, haar lippe en die beweging van haar borste. Aan die beweging van haar bruin vingers in haar skoot terwyl sy praat. En die bittersoet van haar afskeid, wat sonder twyfel dié was van iemand wat nie wou groet nie.
Maar wat nou?
Niks, was die antwoord.
Miskien een oproep met ’n navraag. Maar sy ervaring was dat die kanse daarvoor nie goed was nie. Mense gaan aan met hulle lewens ná verbygaande geestestoestande en as hulle dit onthou, is dit met ’n mate van weersin, soos wat mens ’n siekte onthou. Jy bel nie jou psigiater om te rapporteer dat daar niks is om te rapporteer nie. En Cipralex is ’n middel wat nie veel probleme veroorsaak met die afskaal daarvan nie.
So het hy die somer ingegaan. ’n Aantal fietsrenne, die afname in sy werkure soos wat die studente die dorp verlaat. Toe die gewone gekompliseerde Kersfees, met die vraag oor wie se familie besoek sal word en waar hulle die res van die vakansie sal deurbring.
Tot einde Januarie, toe sy selfoon een aand lui terwyl hy voor die televisie sit.
“Dis Eva. Eva Rodriguez.” Hy het sy hart voel ruk. Hy het opgestaan, weggeloop van Ingrid af, uit die vertrek uit.
“Ja? Is daar fout? Kan ek help?”
“Nee … ja. Ek … ek wil jou sien.”
“Ek is nie by my dagboek nie. Kan jy mevrou Wilsnach …”
“Nie by jou spreekkamer nie.”
Daar was weer ’n rukking in hom en hy het hard probeer om sy afsprake vir die volgende paar dae te onthou, maar tevergeefs.
“Ek sal … kan ek jou terugbel as ek voor my rekenaar is?”
’n Stilte, asof sy nie dié gebeurlikheid voorsien het nie.
“Ja.”
’n Elektroniese girtsklankie, en die foon se skerm wat na hom staar soos ’n beskuldiging.
Ingrid het opgekyk toe hy weer by die sitkamer instap.
“’n Pasiënt,” het hy gesê in antwoord op die vraende blik.
“Dit was vinnig.”
“Ek het gesê sy moet my by my spreekkamer kom sien. Dis nie ’n ernstige probleem nie.”
Wat natuurlik ’n leuen was, op soveel maniere. Waarvan die belangrikste die swerende wond van hulle onpaar bestaan was, waarin Eva nou ’n vinger kom steek het. Ingrid het, skynbaar totaal onbewus van die skeur in Dawid se aarde, haar oë teruggedraai na die TV toe. Maar hom nietemin later die aand met ’n besitlike hartstog aangeval.
Hy het die volgende oggend vroeg kantoor toe gegaan en Eva gebel. Wat ’n erkenning van ’n aard was. Maar hy het nie so daaroor gedink nie. En selfs al het hy, sou dit nie saak gemaak het nie. Want sy gemoed is oorweldig deur ’n begeerte wat soos ’n bandsaag in sy ore gesing het.
Hulle het die volgende middag op ’n stoep gesit wat uitkyk oor wingerde en ’n spieël van ’n dam, met watervoëls wat skynbaar willoos agter mekaar aan dryf. Maar die uitsig, die kos en die wyn was net ’n agtergrond vir die oë wat hom gevange gehou het met hulle boodskap. Want hulle het gans ander wêrelde beloof, van gesteelde vryheid en ongekende avontuur en donker heerlikheid.
Haar hande was sag en warm en haar vingers het ongemerk met syne vervleg terwyl sy praat. Sy het Dawid se trouring om sy vinger gedraai. Sy het hom baie dinge vertel, waarvan hy ná die tyd nie veel kon onthou nie, behalwe die algemene strekking: die verhaal van sy meedoënlose aantrekkingskrag vir haar. Maar hy het ná die tyd die besef – dat hy nog altyd só wou voel, dat hierdie een die vrou was wat alles sou moontlik maak, met wie hy voluit kon leef – in sy hart gedra soos ’n skoolseun ’n geliefkoosde knipmes in sy broeksak, hard en vir ewig.
Hulle het ná die ete sommer by ’n gaste-eenheid op die plaas ingeboek en die deur nie eens behoorlik toegemaak voor hulle mekaar