Katryn. Jan Huisamen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Katryn - Jan Huisamen страница 9
“Ek sien, meneer. Dis nogal ’n slim ding, of hoe?”
“Ja, dis omtrent handig.”
Hy skuif die masjien reg en druk hier en trek daar. Toe sit hy die mikrofoon voor haar neer en beduie hoe sy dit by haar mond moet hou.
“Katryn, nou wil ek hê jy moet goed dink oor wat presies daardie Vrydagmiddag gebeur het. As jy klaar gedink het, moet jy die storie hier in die mikrofoon vertel.”
“Dink is so by so nie nodig nie, meneer. Van daai middag af is dit al wat ek heeltyd doen: ek dink.”
“Nou maar goed, dan is jy gereed om te begin.”
Sy knik en trek haar kopdoek reg.
“Een ding moet jy baie goed verstaan, Katryn: jy moet niks uitlaat nie. As jy party dinge meer as een keer vertel, is dit heeltemal in orde. Jy moet net niks uitlaat nie.”
“Ek sal perbeer, meneer.”
Hy skakel die masjien aan en tel sy koffertjie op. By die deur kyk hy om en sê: “Gesels rustig, hoor, niemand sal jou steur nie. Ek kom oor ongeveer ’n uur terug.”
Sy wag tot sy nie meer sy voetstappe in die gang hoor nie. Toe buig sy nader aan die mikrofoon. Sy begin praat. Sy vat die storie by sy begin en sy lê hom stap vir stap uit: alles wat die Klinke aan hulle gedoen het, van haar pa se graf desjare op Kortdoorn tot by hulle boerdery vandag op Diepdrif.
“Maar nou moet ek meneer eers van Doempies Pieterse vertel, die slegding uit die Kaap wat hom kom flaai hou het by my dogter Fluitjie. So het dit aangegaan tot Fluitjie by hom ingetrek het, en nou is Mêrie al ’n kruipkind. Soos ek geweet het, sou die neukery een of ander tyd begin. So vroeg in die jaar kom Fluitjie een middag huil-huil met Mêrie by die huis aan en sê sy kan dit nie langer uithou by Doempies Pieterse nie. Hy het glo in die laaste tyd sakke vol geld wat sy nie weet waar hy dit kry nie, maar daarvan sien sy en die kind niks. Hy hang alles aan sy lyf op, en as sy vir hom geld vra vir nodiggeite, sê hy sy moet vir haar ma geld vra. Solank haar ma meen hy’s te sleg om met haar te trou, moet haar ma maar sorg dat sy en haar kleinkind kos in die maag kry.
“Mister Vlok het glo vir Doempies ’n baaisiekel uit die Port uit gebring en met dié ry hy baie middae daar weg en dan sien sy hom eers weer die volgende dag. Toe sal sy uitvind sy kuierplek is by die Klinke op Bruinwater. Sy’t hom ingevlieg daaroor, toe sê hy die Klinke is goeie mense en sy moet die oorsaak van die twis tussen die twee families in haar ma se huis gaan soek.
“Meneer, ek het my dogter nie verwyt nie en ek het nie vir haar gesê dat ek haar van die eerste dag af teen Doempies Pieterse gewaarsku het nie. Ek het net vir haar gesê sy weet waar’s haar kamer en sy weet daar’s kos in hierdie huis. Dit was nie net lekker om my kind terug te kry nie, ons het ook ’n ekstra paar hande op die plaas baie nodig gehad.
“Ek het eers gemeen Doempies se geheul met die Klinke was net ’n nuwe manier om ons by te kom, maar Salmon het verder gedink. ‘Nee, my vrou, ek dink daar’s ’n heel ander duiwel aan’t uitbroei,’ het hy gesê. ‘Neuk hulle nie dalk met diamante nie? Waar sal Doempies skielik so baie geld vandaan kry?’
“Ek het vir Salmon gesê ek sal bly wees as dít die waarheid moet wees, want in ons wêreld hou jy deesdae nie lank as jy met diamante deurmekaar raak nie. Nou-nou kom tel die diamantspeurders jou op en dan hoor of sien niemand weer van jou nie. Jammer, meneer, ek praat so lank, maar ek kom nou by daai Vrydagmiddag waarvan meneer wil weet.
“Die Klinke het ons al suffel skade aangedoen, maar daai middag . . . Ai, meneer moet tog saam met my bid dat daar nooit weer so ’n middag oor my lewe sal kom nie. Dit was al namiddag toe Sona en Lizzie af rivier toe is om te gaan water skep. Toe kom hulle vaal in die gesig aangehardloop om te sê hulle het op ’n karakoelooi afgekom wat naby die paadjie lê, die stomme ding se hakskeensenings is afgesny. Salmon en Pietertjie het die skaap keelaf gesny en huis toe gebring en toe moet ons kort voor sononder staan en slag.
“Ons is nog by die slagbank besig toe ons ’n mouterkar hoor dreun, ’n vreemde kar. Toe hy voor ons stop, het my bene so byna onder my geswik toe ek sien wie sit agter die stuurwiel. Niemand anders nie as Doempies Pieterse. Hy skree so by die venster uit: ‘Hoe’s dit vandag? Hoe’s dit vandag? Hoe lyk die man wat te sleg is om met jou dogter te trou vandag vir jou?’
“Meneer, ek kon hom nie antwoord nie, want van skrik het die woorde in my keelgorrel vasgeslaan. Fluitjie het hom bygeloop en geskree: ‘Wie se mouterkar ry jy? Is dit die myn s’n?’ Toe sê Doempies: ‘Myn se moer! As ek mouterkar ry, ry ek my eie kar. Ek kom julle net wys. Jy vat my kind en jy loop uit my huis uit weg en jy vertel vir almal langs die rivier ek’s te armgat om vir julle te sorg. Hoe lyk dit nou, huh?’
“Mêrie ruk toe los uit Fluitjie se hand, die armpies in die lug, en skree: ‘Pa, Pa!’ Sal daai vreksel nie ’n kardoes lekkers deur die venster na die kind toe gooi nie! ‘Hier’s vir jou niekerbôls, Mêrie. Sit een in jou mond en druk twee in jou ore dat jy nie kan hoor as jou ouma begin vloek nie,’ en toe lag hy daai skollielag van hom.
“Meneer, toe ek sien hoe hy sy eie kind behandel, toe gaan my gorrel oop. Ek het net daar vir hom vertel wat ek van sy soort vuilgoed dink. Al die goed wat ek oor die jare lus was om vir hom te sê, maar stilgebly het ter wille van my kind, het ek nou vir hom gesê, tot by sy inkruipery tussen die duiwelse Klinke. Ek het na die ooi op die slagbank gewys en vir hom gesê: ‘Sien jy daar, Doempies, hoe daai ooi se hakskeensenings afgesny is? Dís wat jou vriende maak met die goed waarvoor eerlike mense hard gewerk het. Gaan vertel vir Abraham Klink dat daar ’n Here is wat ook gesien het en dat die dag gekom het wat die Here hulle boosheid sal ontbloot. Ek, Katryn Jonis, ek voel dit in my binnegoed, so help my God.’
“Doempies se oë het omgedop en ek kon die skrik op sy gesig sien. Hy’s met so ’n vaart daar weg dat sy kar se skopspore seker nou nog op Diepdrif se werf lê. Toe weet ek, meneer. Daar’s net een ding wat ’n man só laat lyk, en dis ’n skuldige gewete.
“Salmon en Pietertjie is toe kraal toe om te gaan melk en ek het die tweeling weer rivier toe gestuur vir water. Ek was nie lank in die kookhuis nie, toe hoor ek die meisiekinders se gille van die rivier se kant af. Toe weet ek daar’s ’n groot neukery. My kombuismes met die swart hef het by my hand gelê. Dis ’n mes wat Salmon vir my by ’n Wambo gekoop het. Ek het daai mes elke dag van my lewe gebruik, vir vleis werk of groente skil of brood sny. Ek het die mes gegryp en uitgehardloop, vas in Sonatjie. ‘Dis Koos Klink, Ma!’ het sy gehuil. ‘Hy’t vir Lizzie gegryp en op die grond vasgedruk!’
“Ek het vir haar geskrou: ‘Loop roep jou pa-goed by die kraal!’ Toe het ek begin hardloop. So ’n ent tussen die bome in sien ek die twee: Lizzie op haar rug met Koos Klink bo-op haar. Daar maak ek toe die fout om te skrou: ‘Hou, Lizzie, hou, Ma kom!’ Koos het opgespring, gulp oop en sy skaamte wat uithang. Hy’t soos ’n windhond tussen die bome weggeraak en ek is agterna.
“Meneer, ek erken vir meneer, en ek sal dit in die hof ook erken: die drif wat op daai oomblik in my hart was, was die drif om te moor. Wat die Klinke betref, het ek gevoel, het ek klaar met my mond gepraat. Vandag gaan ek met my kombuismes praat.
“Meneer sal nou sê ’n vroumens met ’n lang rok aan kan nie ’n man wat helfte haar jare is inhardloop nie, maar ek het daai middag gehardloop soos toe ek ’n jong meisiekind was en ek maklik ’n bokkapater van agter kon inhardloop en aan sy stert vang. Die gevoel wat oor al die jare in my hart opgehoop het teen die Klinke, oor al die dinge wat hulle aan my en my familie gedoen het, het my krag gegee. Ek het tree vir tree op Koos ingehaal en ons was