Draairivier. Engela Ovies

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Draairivier - Engela Ovies страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Draairivier - Engela Ovies

Скачать книгу

      Dit lyk of die vet vrou langs my slaap, terwyl die gesin voor my hulle bes doen om almal onder die babakombers in te pas. Almal is stil. Ek bewe só van die koue dat ek ongemerk probeer om my voete in die plastieksak met my klere te druk.

      Om van die koue te vergeet, konsentreer ek op die geluid van die treinwiele, die geklik van staal op staal. Die kind lê met groot wakker oë in haar ma se arms. Uiteindelik roer die vrou langs my. Sy haal ’n handdoek uit haar sak en hou dit na my uit. Ek glimlag bewerig my dankbaarheid en trek dit oor my skouers.

      Ek staar deur die venster na die veld. Verbeel ek my of kry ek die reuk van damwater, skaapkraal en vuurrook? Nee, ek gaan nie weer daaraan dink nie! Die verlede is dood, dis begrawe. Ek gaan nou net op die toekoms fokus.

      Laat ek liewer aan Agnes dink.

      Jy sal mos nooit iemand kwaad aandoen nie, Sanna, hoor ek haar stem so duidelik asof sy langs my sit.

      Maar is ek regtig onskuldig, Agnes? Niemand word só lank tronk toe gestuur as jy niks verkeerd gedoen het nie. Is ek nie tóg op een of ander manier skuldig aan wat gebeur het nie?

      Ag, twak! Jy het my alles vertel wat gebeur het, en ek glo jou. Jy sal nie ’n vlieg seermaak nie. Ek het jou mos darem goed leer ken. Jy was daai dag net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek!

      Sonder dat ek wou, bars ek in ’n histeriese lagbui uit. Dis eers toe ek voel hoe my gesig brand dat ek besef iemand het my geklap. Ek kyk deur my trane na die vrou langs my en druk my hand teen my mond om die snikke te keer.

      Ek haal diep asem. Stadig maar seker voel ek hoe die kalmte terugkom.

      Iets ruik nie lekker nie. Ek draai my kop om na die baba te kyk. Sou sy haar vuilgemaak het? En hoe kom die ma niks agter nie? Sy sit met toe oë, en die kind lyk ook of sy slaap.

      Eers toe die vrou langs my beweeg, besef ek waar die reuk vandaan kom. Sy is besig om ’n gekookte eier af te dop. Die reuk vat my onmiddellik terug na Draairivier en die piek­niek by die dam. Terug na Inge.

      Hoe meer ek daarteen stry om te onthou, hoe meer druk die stortvloed van herinneringe op die voorgrond. Dit neem my terug na die verlede. Terug na daardie November toe my lewe so skielik, so onherroeplik verander het.

      Hoofstuk 2

      _____________

      1955

      “Sanna! Sanna!” roep Ma. Sy is besig om buite op die sand­vlak tussen die houthoop en bossieskerm in ’n groot swart­pot seep te kook.

      “Ja, Ma? Ek kom!”

      Ek trek vinnig my rok aan en loop uit.

      “Môre, Ma. En as Ma so dringend roep?”

      “Ja, môre, kind. Jy moet gou vir Pa en Gert kos wegbring veld toe. Ek draai bietjie vas vanoggend, dis al amper agtuur.”

      Sy hou vir ’n oomblik op met roer in die seeppot en kyk stip na my. “Hoe slaap jy dan so laat? Is als reg? Die res van ons is al voor vyf op. Pa en Gert is lankal weg veld toe.”

      “Ek was net moeg, Ma. Van al die vuurmaakhout aandra vir Ma se seep!” Ek wys na die kaal kol waar die hoop gisteraand nog gelê het. “Ma het ook nie met die hout gespeel nie. Waar’s die kosmandjie? Ek sal sommer nou loop.”

      “Dankie, Sanna.” Sy druk die rietmandjie in my hande. “Ma moet nog gister se goedjies by die Groothuis gaan klaar stryk.”

      Ek wil eers vra of dit dan nie haar af dag is nie, maar los dit. Dis nou al ’n geruime tyd dat ek agterkom Ma word gou moeg. Sy raak seker maar oud. Ek kyk na haar mooi bene en besluit twee-en-veertig is ook glad nie só oud nie. Haar blas vel lyk nog glad, met geen grys haar in sig nie. Dis net die donker oë wat afgemat lyk.

      Pa is vyf jaar ouer as Ma en is al grys teen die slape, met ’n ligter vel. Ek en Gert trek al twee op hom. Maar waar hulle drie donker oë het, is myne groenbruin. Ons is nie lang mense nie, en tog ook nie kort op die been nie.

      “En toe, as jy so oop-oë staan en droom?” vra Ma.

      “Nee, ek wonder net wat gaan Ma nou met die seep maak?”

      “Ek gaan eers die vuur doodmaak, ek sal vanmiddag ver­der kom kook.” Sy dra die lewendige stuk hout eenkant toe en begrawe dit in die sand. “Loop jy maar. Jou pa-hulle is in die sementdam se kamp.”

      “Sien Ma later!”

      Ek loop na die klein hekkie in die lyndraad wat die werf van die veld skei. Hoe nader ek daaraan kom, hoe meer bruis die opwinding in my. Toe ek terugkyk, sien ek Ma is al op pad Groothuis toe. Miskien, as ek gelukkig is, loop Johannes-hulle se vee in die kamp hier agter die klipkoppie en kan ek hom weer sien …

      Ek kry ’n warm gevoel in my hart toe ek onthou dat hy weer eergister met my gepraat het. Dis darem al die vierde keer wat hy met my gepraat het, al was dit ook net om na Gert te vra. Op sewentien sien hy my seker as ’n kind, al is hy en Gert net twee jaar ouer as ek. In Februarie word ek agttien. Ouma Bet sou sê dan raak my hakskene pienk!

      Eers op die koppie val dit my by dat ek my hoed ver­geet het. As Ma nie so besig was nie, sou sy gesien het en my teruggeroep het. Langs ’n groterige klip gaan ek staan. Ek staar oor die buurplaas se veld. Nie eers ’n stofwolkie wat iewers trek nie. Johannes en sy pa is seker baie vroeg uit met die skaap, dalk na ’n kamp verder weg.

      Die lyndraad loop reg onder die koppie verby, met die dam waar hulle vee kom suip net aan die ander kant. Die draad het ’n effense duik in waar ons altyd oorklim om vir antie Poppie, Johannes se ma, te gaan kuier.

      Bultfontein se opstal lê meer na links van waar ek staan. Nou kan ek net die dak sien. Antie Poppie se riethuisie lê versteek agter die heuwels. Van hier af lyk dit of die veld een gelyk stuk grond is, maar jy moet twee hoë bulte oor om by die opstal te kom. Of liewer, mens kry eers antie Poppie se huis en dan verder op die plaashuis. Van die groot­pad se kant af kry jy natuurlik eers die plaashuis.

      Toe ek omdraai om weer af te klim, kyk ek uit oor ons plaas. Ek glimlag vir die gedagte aan “ons” plaas, maar vir my is dit die mooiste plek in die Boesmanland. Nie dat ek al baie ander plase gesien het nie.

      “Draairivier,” sê ek die naam hardop en trek met my vingers die twee rye spore van die plaaspad soos dit van die grootpad af kom. Dit loop verby ons drievertrek-riethuisie en draai skielik weg na die Groothuis. Amper nes die Oranje­rivier, wat van iewers agter die bergreeks aan die voorkant van die opstal uitkom, dan wegdraai en al voor die berg verbyvloei. Aan die bokant van die rivier is daar ’n donga met hoë walle. Maar soos die stroom aan die onderkant weg­raak, word alles kleiner, die bome ook.

      Ma waarsku my en Gert altyd teen daai donga. Toe me­vrou Rita se ouers nog op die plaas geboer het, was daar glo ’n wolkbreuk wat ’n hele vloed veroorsaak het. Ek was al een keer saam met Pa by die walle en dis grillerig hoog. As jy daar kan af, loop jy op droë grond tot by die rivier. Ons swem maar altyd aan die onderkant, waar dit meer gelyk is.

      Draairivier se werf bestaan uit die Groothuis, mevrou Rita se stoorplek, die vleiskamer en die afdakke vir rygoed. Daaragter is die skeerhok en ’n stal waar net een wit perd staan.

      Ek wonder skielik hoekom die perd nie gery word nie. Jana en Elsie, die tweeling, is al veertien. Oud genoeg

Скачать книгу