Draairivier. Engela Ovies

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Draairivier - Engela Ovies страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Draairivier - Engela Ovies

Скачать книгу

      “Los dit, Suzanna!”

      Ek kyk af en kerf verder. As Ma met haar pakgee-stem praat, moet jy eerder stilbly.

      “Daai vet is genoeg.” Sy sit met ’n kreun regop. “Jy hoef nie nou als klaar te sny nie. Draai die orige in ’n nat lap toe en sit dit onder die bed. Daar kom Pa-hulle ook nou. Ek moet nog Gert se broek se knoop aanwerk.”

      Op pad na Gert se kamer sit sy die draadloos aan wat op die tafel onder die afdak staan.

      Gé Korsten sing dat my ore toeslaan terwyl ek haar verbaas agternakyk. Wat gaan by die Groothuis aan?

      Die aand in my bed is dit nie aan Johannes wat ek lê en dink nie. My gedagtes bly by die meisiekind met die geel hare in haar groen rok. Sy lyk nie of sy veel ouer as die tweeling kan wees nie. Ek voel skuldig, want ek glo Ma nie. Sy is dan elke dag by die Groothuis, hoe kan sy van niks weet nie?

      En die tweeling? Hoekom praat hulle nooit van die mei­siekind wanneer ons skool toe ry nie?

      Ek sit regop, wawyd wakker. Die paddas brul in ’n onreëlmatige koor onder by die windpomp. Iewers tjank ’n jakkals. Dit klink of hy al verder weg beweeg.

      Ek sak weer teen die kussing terug. Miskien moet ek ’n boek vat en lees. In die donkerte voel ek na die boksie vuur­houtjies en steek die kers op.

      Die tas onder die bed het net ’n klompie ou Huisgenote in, nog wat Ma by mevrou Rita gekry het. In my skooltas kry ek ’n potlood en begin ’n blokraaisel invul.

      Dit help nie veel nie. Ek moet seker bid, miskien raak ek dan aan die slaap.

      Op my knieë voor die bed bid ek, ook vir die meisie wat so alleen gelyk het.

      Oormôre is dit Vrydag. Dan gaan help ek gewoonlik vir Ma met die wasgoed by die Groothuis. Miskien sien ek dan weer die meisiekind.

      Donderdagoggend word ek wakker met ’n dowwe hoofpyn. Pa en Gert is lankal weg veld toe. Dis nou al die tweede keer wat ek so verslaap!

      Ma kom uit haar kamer gestap. “Môre, Sanna! Ek het koffie gemaak, gooi vir jou.”

      “Môre, Ma.” Ek gaap. “Koffie sal lekker wees.”

      “Hoeveel keer moet ek vir jou sê om die kers uit te blaas voor jy slaap, kind? Jy moet eerder die lantern in ons kamer vat as jy wil lees of iets. Ek moes weer gisteraand jou kers gaan uitblaas. Jy sal dat ons almal uitbrand!”

      “Jammer, Ma.” Ek gooi van die koffie uit die ketel.

      “Jy gaan anderster jammer wees as jy houtskool is! Net vanaand moet Pa vir jou ’n bliklampie maak, of jy nou kla oor die reuk of nie.”

      “Dis reg so, Ma.”

      “Jy sal maar vandag alleen ons wasgoed moet was, dis besig om op te hoop.”

      Ek kyk fronsend na haar. “Nou hoe is dit dat Ma nie meer ’n dag af kry nie? Ek het gedink ek en Ma gaan saam die wasgoed was.”

      “Jy’t seker vergeet mevrou-hulle se kerkbasaar is uitge­stel na vandag. Ek gaan help om te verkoop.”

      “Kan ek saamgaan? Ek kan by antie Mina-hulle bly.”

      “Jy sal mos nie heeltyd daar wil bly as jy weet ek is by die basaar nie. En ek het nie geld vandag om enigiets te koop nie. Jy gaan die wasgoed was, Suzanna.”

      Ma het klaar gepraat, weet ek uit ondervinding. Dis beter om eerder stil te bly.

      Ná sy weg is, grawe ek in die naaldwerkmandjie waar sy haar pilletjies en salfies hou. Ek sluk ’n aspirien en klim terug in die bed.

      ’n Halfuur later, toe die pyn bedaar het, staan ek op.

      Terwyl ek die vetplantjies langs die huis natmaak, kom meneer Bertus se bruin Valiant by die motorhek uitgery. In die verbygaan sien ek dis net Ma, mevrou en die twee­ling in die groot kar. Ek lig my hand in ’n groet.

      Toe die stof wegtrek, kyk ek na die venster aan die linker­kant van die Groothuis. Die gordyne is toe. Sou die meisie­kind steeds daar wees? Ek sou tog gehoor het as hier nog ’n motor gery het, want die enigste pad na die grootpad loop verby ons huis.

      Ek skep van die warm water uit die blikkantien op die vuur en gooi dit by die koue water in die houtbalie waarin ons die wasgoed was. Dan vryf ek die wit goed met die boer­seep in. Terwyl die wasgoed week, kry ek die tyre-hark en hark die werf.

      Halfelf hang ek die laaste wasgoed op. Eers eet ek brood en koffie, dan klim ek in ’n sinkbad vol water. Skoongewas en afgedroog, trek ek my ligblou rok aan.

      Hoofstuk 5

      _____________

      1971

      Ek stap heen en weer, my bene kramp van die koue. Die brand in my keel is pynlik. ’n Sterker wind waai ook nou.

      Ná nog ’n halfuur se gewag gee ek op. My kop draai só dat ek moet keer om nie om te val nie. Ek loop stadig terug na die petrolstasie.

      “Hoe laat is dit?” vra ek vir die joggie.

      “Dis nou voor ses. Suster sal ma hier iewers moet gaan slaap. En suster sal moet gou loop, suster lyk vi my ma oes, jo! Nie eers ’n handbag nie. Hoe sal ek sê, wat is suster se lyk se naam?”

      Ek voel sommer of my kopboekie nog tussen my borste lê. “Ken jy vir antie Mina Swarts? Haar kinders is Martha, Ronnie en Mietjie.”

      “Ek ken vir antie Mina. Sy’s lankal witbene, en Mietjie ok.”

      “Wat het Mietjie makeer?” wil ek ontsteld weet. Sy was tog die jongste van antie Mina se kinders! Ek en Ronnie is portuurs, en Martha is tien jaar ouer as ons.

      “Koors. Sy was mos maar aan die dun kante gewies.”

      “Ja, ek onthou antie Mina was altyd so beskermend oor haar omdat sy so tengerig was.”

      “Martha is ook gatroud. Sy bly nog in die huis, en Ronnie en sy vrou bly in die straat net agter hulle.”

      Ons het Sondae ná kerk by antie Mina se huis vir meneer Bertus gewag. Dan het ons kinders die tyd omgespeel.

      Ek gaan vanaand by Martha slaap, besluit ek. Ek sal seker môre gelukkiger wees.

      “Suster, ek sê jou, jy kan ma bly tot Vrydag. Dan kô die boere katoenbale inbring en da het jy ’n beter kans om hie weg te kô.”

      “Dankie, hoor, en my naam is Sanna.”

      “Myne is Tjola Bruce Daries,” glimlag hy met ’n wye poort.

      Ek loop so vinnig as wat my bewerige bene my toe­laat. Die son trek al water. Mag ek tog gou die huis kry. Die sweet loop in my oë en my kop voel soos watte. Ek sluk van die water uit die botteltjie om my droë keel nat te maak.

      Ek kan my ou skool nie van hier af sien nie, baie huise het bygekom. Sou juffrou Klaaste nog lewe? Nou moet ek regs draai by die ou doringboom. Dit voorsien

Скачать книгу