Draairivier. Engela Ovies

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Draairivier - Engela Ovies страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Draairivier - Engela Ovies

Скачать книгу

die huis, aan die kombuis- en washuiskant, is ’n uitgestrekte vyeboord. Maar my gunstelingplek is die dam met sy trop eende en die grootste ou bloekomboom wat ek al gesien het. Die kweek is soos ’n donskombers onder die boom, en die vinke bou neste in sy takke.

      Aan die onderkant van die Groothuis, in die rigting van ons huis, is die windpomp en die skaapkraal …

      O genade, dis al laat! Pa en Gert moet seker doodhon­ger wees. Ek draf die skuinste af.

      Toe ek uitasem by die sementdam aankom, is daar geen teken van Pa-hulle nie. Die son steek nou behoorlik. Gert kon mos hier gewag het. Nou sal ek moet bly tot hulle die skape kom water gee voor ek huis toe kan gaan.

      “Dis mos jou eie skuld dat hulle al weg is,” praat ek met myself. “Vir wat loop jy agter ’n mansmens aan?”

      Ek voel skielik skaam toe ek dink aan wat Ouma sou gesê het. “So ’n flerrie van ’n kind! Skaars droog agter die ore en flenter al agter ’n jongetjiesmens aan.”

      Ek haak die mandjie aan ’n draad teen die dam en maak solank vuurmaakhout bymekaar. Daarmee klaar, vat ek die mandjie en gaan sit en wag in die bome se skadu. Ná wat soos twee ure voel, hoor ek ’n geblêr. Ek staan op, my hand bokant my oë teen die son, toe die skape hier links van my uit die bosse aangestorm kom. Die stomme Gert, wat net so vaal soos die veld lyk, moet uithaal om voor te bly.

      Ek sien wat aangaan en hardloop na die dam toe. Toe ek die kraan oopdraai, stort koel water met ’n boog in die krip. Ek moet my pad deur die dors, malende skaap oopdruk om by Gert te kom.

      “Dankie, Sanna,” hyg hy hande op die knieë. “As die skaap by so ’n droë krip kom, kan hulle maklik nek breek.”

      “Waar’s Pa dan? Ek sit al heeldag vir julle en wag.”

      “Hier, meisiekind!” roep Pa waar hy met ’n stok in die hand aangestap kom. “Ons was net hier onder teen die lyn­draad,” beduie hy. “Ons sou eers middag se kant kom water gee het, maar die skaap het elfuur al besluit hulle is dors en het self koers gekry.”

      Ek lag en kyk na Gert, wat nog steeds uitasem is. “Seker oor dit so vrek warm is.”

      Ons gaan sit onder die bome en ek gooi eers vir Pa koffie uit die fles, dan vir Gert. Die skaap wei nou rustig om die dam en party lê in die skadu.

      Gert haal ’n roosterbroodjie uit die mandjie. “En toe, was jy eers bo-op die koppie dat jy nou eers hier aankom?”

      “Die koppie?” vra ek kamtig verbaas. “Wat sou ek daar gaan maak het?”

      “Kyk of jy ’n sekere buurman sien?” Hy vat ’n groot hap en kou smaaklik.

      Ek voel hoe my gesig warm word. “Hoekom sou ek ’n sekere buurman wou sien?”

      Ek staan sommer op en maak gereed om die drag hout op my kop te lig. “Ma het die hout nodig om die seep klaar te kook.”

      “Wag nou, meisiekind,” keer Pa. “Jou broer terg jou som­mer.”

      Ek gluur na Gert, wat sit en proes van die lag. “Ek moet regtig gaan, Pa. Ma wag vir my.”

      Ek stap haastig weg, my rug regop om die swaar vrag te balanseer.

      “Sien julle later!” roep Pa voor ek om die bome verdwyn.

      Waar sal Gert daaraan kom dat ek na die koppie toe gaan om vir Johannes te sien? So ’n gemene luis! Sê nou dit kom by Johannes uit dat ek hom dophou? My broer is simpel genoeg om vir hom te sê dat ek op hom “spioeneer”.

      Gert moet dit darem waag! Ek druk sy kop in hierdie warm Boesmanlandse grond in.

      Hoe sou hy weet? bly pla die gedagte my al die pad huis toe. Dis tog net mý geheim – of so het ek gedink.

      Die soetste geheim, wat ek saans op my kussing koester en wat my elke aand met ’n glimlag aan die slaap laat raak.

      Hoofstuk 3

      _____________

      1971

      Dit voel of iets my wil versmoor. Ek sit regop en kyk rond.

      Die trein spoed nog steeds voort. My nek is stokstyf en dit voel asof ek nie meer voete het nie. Wanneer gaan hier­die koue geskommel tot ’n einde kom?

      Asof die vrou langs my gedagtes kan lees, sê sy: “Ons is nou daar.”

      “Hoe lank is nou?” vra ek ongeduldig.

      Sy kyk net skuins na my, sonder om te antwoord.

      Ek ruk soos ek skrik toe die trein skielik fluit.

      “Hier’s ons nou,” sê sy vrolik.

      Deur die venster kan ek sien die lug bo Kakamas is oop­getrek. Die wind wat die bome so skuins druk, het die reënwolke weggewaai.

      Toe die trein ruk-ruk tot stilstand kom, voel dit of elke lit in my lyf wil skeur.

      Met die afklim verdwyn almal so vinnig dat ek skaars die vrou se handdoek kan teruggee en dankie sê. My oë voel al weer tranerig toe ek besef ek wou nog vra hoe om by die pad te kom wat Suurvlakte toe gaan.

      Miskien moet ek agter hulle aanloop, maar die ruig bosse maak my skrikkerig. Dit moet die dorp wees daar, die dakke wat bokant die bome uitsteek. Ja, ek kan die kerktoring sien. Maar toe ek afkyk, begewe my moed my. My rok is vuil en my voete is die ene droë modder.

      Langs die perron staan ’n kleinerige lorrie. ’n Kort man­netjie beur teen die wind op en af langs die trein, boek en pen in die hand. Ek maak die plastieksak in my hand oop, maar knoop dit dadelik weer toe. As ek gedink het om die klere aan te trek, kan ek maar net so wel in die vuil rok bly. Behalwe dat die bloes vol modderkolle is, is die langbroek nog stukkend ook.

      “Maar hier sal jy nie kan rondstaan nie, Sanna,” praat ek hardop met myself om nie te huil nie.

      Dit help nie, want die trane loop geluidloos oor my wange. In die koue wind voel dit asof die nattigheid my vel laat styf trek. So baie kere het ek gesien hoe mense vrygelaat word, en met hoeveel blydskap hulle buite die tronk ingewag word. Die innige omhelsings, die vreugde om weer tussen hulle geliefdes te wees.

      Ek druk my hande oor my gesig. Here, dit is my nie eers gegun nie! Is ek dan ’n soort pes wat deur almal vermy moet word? Was Ma en Pa maar nog hier! Waar is my broer? En Johannes! Lewe hulle nog?

      “Hallo!” roep ’n manstem.

      Eers toe hy aan my skouer vat, besef ek hy praat met my.

      “Waarheen gaan jy?” vra die kort mannetjie, nog steeds met boek en pen in die hand.

      “Suurvlakte,” fluister ek moeg.

      “Jou gelukkige ding!” Hy klap my tussen die skouers dat ek amper omval.

      Ek probeer om nie die pyn op my gesig te wys nie en glim­lag stram. Dis seker maar sy manier om my te troos.

      “Ek ry nou Suurvlakte toe, dan kan jy saamry. Sonder om ’n sent te betaal.”

Скачать книгу