Dokter sonder grense. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dokter sonder grense - Malene Breytenbach страница 3

Dokter sonder grense - Malene Breytenbach

Скачать книгу

Ek weet ook dat dit ’n tropiese land is, dat die temperatuur en humiditeit konstant hoog is, en dat malaria daar endemies is. Maar die reënseisoen is nou in November verby, daarom is dit nou die tyd om te gaan.”

      Spies grinnik. “Huiswerkies gedoen, nè? As die harmattan, die noordoostewind, in die droë seisoen waai, bring dit weer stof. Sierra Leone was nog altyd bekend as ‘the white man’s grave’. Jy sal jou inentings en malariapilletjies moet kry voor jy gaan, maar jy beweer mos jy ken Afrika goed, al was jy nog nie in Sierra Leone nie.”

      “Jý het daar oorleef.”

      Hy lag spottend. “Daar’s nie ’n vergelyking nie. Ek is veel taaier as ’n tingerige ou dingetjie soos jy. Dis ’n vrek gevaarlike plek daai. Die RUF is nie heeltemal ontwapen, gedemobiliseer en geïntegreer nie. Al teken hulle kastig vredesverdrae, word een rampokker eenvoudig deur ’n ander – en soms ’n erger een – vervang.”

      Clare voel hoe ’n ergerlike blos haar wange warm maak. Waarom moet mans soos Spies altyd maak asof hulle so superieur en vroue so swak is?

      “Kyk, Spies, ek weier om hande gevou te sit en wonder wat van Nick geword het. Jy moet my nie onderskat nie.”

      “Jô-jô,” is al wat hy sê, voordat hy sy glas ledig.

      Die kelner bring die kos en hulle gesprek word eers onderbreek. Spies skink hulle glase weer vol. Clare sit gespanne en kyk hoe hy met smaak wegval aan sy kos. Sy proe aan haar kunstig gerangskikte Kingklip Extraordinaire avec fruits de mer.

      “Hoe is joune?” vra hy.

      “Baie lekker, dankie. Het jy ’n vrou in jou lewe, Spies?”

      Toe die woorde uit is, kan sy haar tong afbyt van spyt, want hy kry ’n glinstering in sy oë waarvan sy nie hou nie. Al wat sy eintlik wil weet, is of iemand gaan kwaad wees oor sy saam met hom eet.

      “Nee, jou mooi ding. Wel, nou nie so dat ek skuldig hoef te voel oor ek jou uitneem nie.”

      “Jou ... e ... sekretaresse?”

      “Nee wat, ou Cindy-Lee is niks van my behalwe ’n gesalarieerde werknemer nie, al verbeel sy haar sy gaan my vastrek. Ek is nie troumateriaal nie, al dink sy so. Vroumense wil mos hê ’n man moet tuis sit, die gras sny en help kook. Nope, dis nie vir my nie. Ek verveel my maklik. Variety is the spice of life, my diertjie.”

      Clare is spyt dat sy gevra het. Netnou dink hy sy stel in hom belang. Hy wil nie ’n vrou hê nie, maar ’n speelding. Speelgoed, eintlik.

      Daar is net een man wat sy regtig wil hê – en dis dokter Louis du Plessis met sy smeulende donker oë, sensitiewe gesig met die reguit neus, sterk ken en gebeitelde lippe. Die enigste man wat sy diep in haar hart begeer, en teen wie niemand anders kan kers vashou nie.

      Die vis wat sy nie gevang gekry het nie ... Gewoonlik het sy nie probleme op daardie gebied nie. As sy haar groen oë omraam met lang swart wimpers op ’n man gefikseer het, reageer hy gewoonlik positief. Sy is nie bloot ydel as sy dit dink nie, want dis haar ondervinding.

      Spies smul aan sy kreef. Hy breek die dop met sy vingers en doop die wit vleis in die sous.

      “Jy moes die kreef gekies het, dis hulle spesialiteit,” sê hy tussen die kou en sluk deur. “Die plek moes eerder die naam Drie Krewe as Three Bees gehad het. Wat bye met die saak te maak het, weet nugter.”

      Clare glimlag flou vir sy grappie en neem ’n slukkie van haar wyn. Hulle is al op hulle tweede bottel en Spies het die meeste daarvan gedrink.

      “Ek het nie regtig hierheen gekom omdat ek ’n smulpaap soos jy is nie, Spies. Ek wil weet of jy bereid is om my te help om my broer te vind. Jy hou my aan ’n lyntjie.”

      Hy vee sy mond met sy servet af, was sy vingers in die waterbakkie met suurlemoen, vee dit tydsaam droog, en kyk uiteindelik reguit na haar.

      “Ja, ek sal jou help. Maar op een voorwaarde.”

      Haar hart bokspring van verligting, maar sy vra behoedsaam: “En wat is dit?”

      “Ek kom saam – all the way. Dis te gevaarlik vir ’n mooi dingetjie soos jy om alleen te gaan infoeter in ’n hool soos Sierra Leone. Jy sal nêrens kom op jou eie nie.”

      Sy wil vra of hy bybedoelings het, maar sy keer haarself. Sy is te verleë om hom te antagoniseer en te verheug oor die hulp. Sy sal sy vrypostigheid eenvoudig moet bestuur.

      “Dis ... e ... wonderlik, maar ...”

      “Ek het contacts in Sierra Leone. Ek sal my ou pellie Jakes Williams, wat saam met my in 32 Bataljon en EO was, en Obed Stevens, ’n Krio wat familie van die oudpresident Siaka Stevens is, vra om ons aan daardie kant te help. Hulle is my men on the spot, en hulle kan vervoer en logistiek reël. Oukei?”

      Clare kyk hom oopmond aan. Dit klink asof hy al vooraf besluit en planne begin maak het. “Ek ... Hemel, Spies, baie dankie. Dis ... e ... dierbaar van jou.”

      “No problem, ou ding. Dis in elk geval tyd om weer van die ou blinketjies uit te bring. Ek behou my bande met daardie klomp rampokkers. Een van my kontakte is ’n Temne-kolonel in die regeringsleër. Hy het ’n bodemlose sak, soos sy landgenote. Daar is baie etniese groepe in Sierra Leone, maar die Temne en Mende is die grootste. Die Mende is hoofsaaklik in die suidooste, daar waar Nick is. ’n Temne sal jou altyd help om ’n Mende te ondergrawe. Hulle is weer vyandig teenoor die Krio. Daarom sal daar nooit in Sierra Leone vrede wees nie. Hulle moor mekaar nog altyd uit.”

      Hy wink die kelner nader en vra spyskaarte vir nagereg. Nadat hulle bestel het, kyk hy met geligte wenkbroue na haar. “Sien jy nog kans vir die ding ná alles wat ek jou vertel het?”

      Clare kyk na die rooiwyn in haar glas wat lyk soos bloed. Ná al die praatjies oor dood en wreedheid laat dit haar ril, maar sy sê beslis: “Ja, ek sien kans. Niks wat jy sê of doen, gaan my afsit nie. Dankie by voorbaat vir jou hulp. Jy moet my sê wat dit gaan kos. Ek verwag nie om dit mahala of teen afslag te kry nie.”

      Spies grinnik. “Ons kan môre by my kantoor die kontrak opstel. Ek het ’n bietjie aksie nodig. Die lewe raak gans te saai deesdae. My spiere sal pap word en my are sal verkalk as ek nie aktief bly nie. Die lewe is te kort om gevrek op een plek te sit.”

      ~ 2 ~

      Clare ry met haar Suzuki na die lughawe, waar Spies haar sal kry. Hy het beduie presies waarheen sy moet gaan, waar sy vliegtuigloods is en waar sy haar motor in veilige bewaring by sy eie voertuie kan laat.

      Sy is eintlik vroeg, maar sy veronderstel hy doen alles met militêre presisie en hou by vertrektye. Al bagasie wat sy het, is een rugsak. Sy dra ’n kakiehemp en -broek, fotograafbaadjie en stewige toerygstewels, al is dit warm. Haar hare is in ’n poniestert en sy dra geen grimering nie. Die mans moet sien sy is ernstig oor die saak. Sy gaan nie probeer glamorous of verleidelik wees nie.

      Spies het gewaarsku dat sy nie onnodige of waardevolle bagasie moet bring nie, maar haar kosbare klein Nikon-kamera is veilig in haar binnesak. Verder het sy haar geld, dokumente en paspoort in ’n sak aan haar lyf. Sy het ook haar medikasie geneem en ekstra ingepak. Sy is so paraat soos kan kom.

      Flying Spear Air Service se loods is taamlik ver van Kaapstad-lughawe se nasionale en internasionale aankomssale, amper teen die oop veld, asof hy verborge wil wees. Sy ry stadig

Скачать книгу