Dokter sonder grense. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dokter sonder grense - Malene Breytenbach страница 4

Dokter sonder grense - Malene Breytenbach

Скачать книгу

met ’n spies. ’n Man in ’n kakieoorpak waai vir haar en sy herken Spies se fris figuur. Hy beduie waarheen sy moet ry en waar sy moet stilhou, en stap dan met lang treë nader.

      Hy lyk vir haar vars en vrolik, asof hy na ’n avontuur uitsien, maar sy het ’n beklemming wat sy probeer wegwens. Nou en dan pomp die adrenalien van uitsien na risiko egter weer. Haar ma, wat swaar van haar afskeid geneem het, is gewoond aan haar waaghalsigheid en die werk wat sy in Afrika doen, maar Clare het nog nie ’n plek besoek wat so gevaarlik soos Sierra Leone is nie.

      “Moenie jý ook iets gaan staan en oorkom nie, my liewe kind,” was haar ma se laaste woorde voordat Clare gery het.

      “Ek is bly jy is darem een vroumens wat jou tyd ken,” spot Spies toe hy haar rugsak en motorsleutels neem. “Ons gee die sleutels vir my sekretaresse.”

      Clare sien ’n lang meisie in ’n kortbroek en moulose T-hemp wat vir hulle staan en wag. ’n Sexy blondine sal Spies se smaak wees, dink sy geamuseer. Spies stel die blondine voor as Cindy-Lee van der Merwe en toe Clare haar hand skud, let sy op dat die meisie geveins vriendelik is. Dit lyk of sy beslis nie daarvan hou dat Spies saam met Clare gaan nie.

      “Ons is gelaai en wag net vir jou,” sê Spies. “Kom ek stel jou voor aan my loods, Boegoe Hanekom. Ek is co-pilot.”

      Boegoe is duidelik ook ’n taai oud-Spesmagtemakker, baie blas, met ’n litteken oor een wang. Hy is korter as Spies, maar net so fris gebou. Sy swart oë dwaal oor Clare van kop tot tone, asof hy haar beoordeel en punte gee.

      “Is jy seker dis sý wat wil gaan?” vra hy bars vir Spies. “Ek het nie ’n fashion model verwag nie.”

      Clare vernou haar oë en gluur hom aan. “Het Spies jou nie oor my CV ingelig nie? Ek is al ses jaar lank ’n buitelandse korrespondent en ek was al dikwels waar gevaar is. Dis my werk. Ek vind julle chauvinisme regtig laakbaar.”

      Boegoe lyk verbaas oor die aggressie en Spies waai sy hande paaiend. “Sorry, ou girlie, ons is maar so. Jy lyk nie asof jy ’n pantservoertuig se wiel kan omruil nie. Maar Boegoe bedoel dit nie sleg nie. Hy’s altyd nice teenoor vroumense.”

      “You could have fooled me,” mompel Clare. Maar sy forseer ’n glimlag en tot haar verbasing grinnik Boegoe ook, asof hy haar respekteer vir haar astrantheid.

      “Watse vliegtuig is dit dié?” vra sy.

      “Ons noem dit ’n Caravan,” sê Boegoe. “Dis ’n enkelprop en kan tien passasiers en ’n bietjie cargo vervoer. Dis meesal bedoel vir safarigroepe vervoer, maar niemand gaan safari nou in Sierra Leone nie.”

      “Word jy maklik lugsiek?” vra Spies.

      Clare skud haar kop. “Het nog nooit. Solank Boegoe nie loop the loop nie, behoort ek oukei te wees.”

      Boegoe grinnik weer breed vir haar.

      Spies het alles gereël, paspoorte inkluis, en dit vir haar só maklik gemaak dat sy nie weet hoe sy sonder hom sou klaargekom het nie. Hy is egter ’n ou hand, wat nog smokkel ook. Sy wil haar nie daaroor bekommer nie, want sy het ’n missie waarop sy moet konsentreer, en dit is om Nick en Louis te vind. Alle ander dinge is bysaak.

      Nadat alles afgehandel is en klaring vir vertrek verkry is, klim sy in die vliegtuig. Sy gaan sit reg agter Boegoe en Spies en maak haar veiligheidsgordel vas. Hulle is die enigste passasiers. Binne is dit nie luuks nie, maar gemaklik genoeg. Dis vir seker nie eersteklas nie.

      Die vliegtuig ry na die aanloopbaan en met ’n vreeslike gedreun styg dit op, draai ’n slag oor Tafelberg en mik na die noorde. Die bal is nou aan die rol en vir omdraai is daar nie meer kans nie, dink Clare, half verlig, half benoud.

      “Jy gaan NGO-ouens soek wat die militêre nie gewoonlik goedgesind is nie,” praat Spies hard met Clare oor sy skouer om bo die dreuning gehoor te word. “As ons patrollies deur die dorpies gedoen het, of by die klinieke aangedoen het, het die MSF-ouens ons nie verwelkom nie. Hulle werk mos kastig uit idealisme, en hulle vertrou nie gewapende mense nie, selfs nie die VN-vredesmagte nie. Toegegee, mens kan die vredesmagte ook nie altyd vertrou nie. Almal stroom na daardie klinieke met hulle siektes, peste en oorlogbeserings en word met ope arms verwelkom, maar as ons militêre ouens daar aankom, word ons weggejaag.”

      “Daar is niks kastigs omtrent die MSF se idealisme en opoffering nie,” praat sy hard terug. “Daardie mense gee alles prys om hulle medemens te dien, en hulle word maar swak betaal. Hulle is nie daar vir die diamante en plundery nie. Ek kan verstaan dat daar tussen die MSF en troepe wrywing kan wees, want die troepe wond en beseer en die dokters moet die mense heelmaak. Die Hippokratiese Eed sê dat jy selfs jou vyande, alle mense van alle oortuigings, moet help.”

      Sy bly ’n rukkie stil voor sy vervolg: “Jy is nie bereid om my te help net oor jou hart vir my en Nick bloei nie, Spies, en jy vra my ook nie ’n plaas se geld nie. Daar is vir jou gewin in die ding, wat niks met my te doene het nie.”

      Hy grinnik oor sy skouer. “Kom ons sê ek werk aan my pensioen, my mansion, my seiljag, my Ferrari en my harem. Wat ek alles doen, hoef jy nie te weet nie. Dit sal veiliger wees as jy nie uitvra nie. Ek sal jou help, maar jy moenie nuuskierig raak nie. Oukei?”

      Ek gee jou ’n heerlike geleentheid om jou smokkelbedrywighede voort te sit, dink sy. “Oukei, ek sal nie my neus insteek waar dit gebyt kan word nie.”

      Clare skrik wakker toe Spies haar skouer skud en vir haar ’n kospakkie en Coke aangee.

      “Ons is ’n halfuur van Freetown-Lungi-lughawe af. Dis die Royal Air Force- en siviele lughawe. Ek het landingsregte, en ons bly altyd in ’n hotel aan Lungi se kant. Om in Freetown te kom, neem mens ’n boot oor die rivier. Dis nou nag en gevaarlik. Iets kan altyd uit die donker in jou rigting vlieg.”

      Clare eet en drink vinnig en maak haar reg vir die landing. Sy kyk by die venster uit en sien net donkerte, maar gou bespeur sy ’n lig of twee wat flikker. Spanning laai in haar op. Wat as iemand na die vliegtuig skiet? Mens kan enigiets in Sierra Leone te wagte wees. Maar as sy eers haar voete op die aarde het, weet sy dat dit net afstand is wat haar van Louis en Nick skei. Sy wil nie eens daaraan dink dat hulle dood of in lewensgevaar kan wees nie. Nee, dis net kommunikasie wat onmoontlik geraak het, oortuig sy haarself.

      Haar hart sit in haar keel toe die vliegtuig uiteindelik op die aanloopbaan neerstamp.

      “Ons is terug in die hel,” spot Spies. “Maak julle klaar vir die hitte.”

      Dis inderdaad so warm soos die hel toe Clare uitklim, want die temperatuur is veel warmer as wat sy nog ooit beleef het, en die humiditeit is geweldig hoog. Skynbaar koel dit nie hier in die nag af nie. Sy snak eintlik na asem. Reuke van vrot tot diesel oorweldig haar.

      Willoos laat sy toe dat Spies haar deur alles kry: doeane, die vyandige of ondersoekende meesal swart gesigte en mense in uniform. Die teenwoordigheid van Britse soldate laat haar effens minder bedreig voel, hoewel hulle haar bekyk asof sy van Mars af kom. Die hitte tap haar energie en haar klere klou aan haar lyf. Sy smag na ’n yskoue Coke.

      “Daar’s ons manne,” sê Spies, wat haar aan die boarm beethet en haar na die uitgang stuur.

      Twee grinnikende fris mans wag vir hulle in die afgeremde ontvangsarea van die lughawegebou, die een wit en die ander een swart.

      “Manne, hier is Clare Rutland,” stel Spies haar voor. “Dis nou Jakes Williams, my ou makker van Spesmagte en EO, en Obed Stevens,

Скачать книгу