Susanna M Lingua-keur 11. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua-keur 11 - Susanna M. Lingua страница 19

Susanna M Lingua-keur 11 - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

om of dit gemeen is of nie. Hy het ’n paar maande gelede aan mý behoort en ek wil hom terughê.”

      Alberto haal sy skouers op en volg Francesca voordeur toe.

      Lizelia is besig om vir Edoardo uit ’n tydskrif voor te lees toe ’n werker in sy studeerkamer verskyn en die koms van Francesca en haar broer aankondig.

      “So, dan het sy tóg haar voorbarige broer saamgebring,” merk Lizelia ergerlik op. “Ek hoop nie dit is my lot om hom geselskap te hou nie, Edoardo, want dan gaan ek my maniere vergeet en baie onbeleef met hom wees. Ek kan vreeslik onbeleef wees as ek wil, weet jy?”

      “Moet jou nie oor Alberto verontrus nie, Lizelia, ek sal hom self geselskap hou,” stel Edoardo haar dadelik gerus. “Neem my nou na die ontvangskamer, en onthou, jou plek is langs my op die rusbank.”

      “Toe maar, ek sal jou nie aan die genade van daardie twee oorlaat nie,” sê Lizelia toe sy sy arm neem. “Jy kan jou maar vir my vererg, maar ek sê jou reguit: Ek vertrou nie een van die twee nie.”

      “Jy praat al weer uit jou beurt, meisiekind,” sê hy, sy stem sag en gemoedelik, en nie soos gewoonlik kil en ongenaakbaar nie.

      “Nou goed, ek sal probeer om nie weer uit my beurt te praat nie,” belowe sy met ’n sagte laggie, en lei hom na die ontvangskamer waar hulle gaste reeds op hulle wag.

      Alberto en Francesca kom dadelik orent toe Lizelia en Edoardo die vertrek binnekom. Alberto vra sy gasvrou nederig om verskoning vir sy voorbarige optrede die vorige middag.

      “Dit was nie nodig dat jy my persoonlik om verskoning kom vra nie, meneer Bove,” wys Lizelia hom met ’n onpersoonlike stem tereg. “Jy kon dit net so goed oor die telefoon gedoen het …”

      “Ek sal Edoardo na ’n stoel toe neem,” stel Francesca vinnig voor, “dan kan jy en Alberto hierdie misverstand tussen julle ongesteurd uit die weg ruim.”

      Lizelia se stem is byna net so kil soos Edoardo s’n gewoonlik is toe sy Francesca vierkantig aankyk en met onversteurbare kalmte sê: “Gaan sit gerus, juffrou Bove. Ek sal self na Edoardo omsien. Ek het niks meer vir jou broer te sê nie. Daar is geen misverstand wat uit die weg geruim moet word nie.”

      “Ek is jammer as ek iets verkeerds gedoen het,” stamel Francesca, rooi van ergernis en verleentheid.

      Edoardo gee haar nie kans om meer te sê nie.

      “Ek is nie bereid om die hele middag in die middel van die vertrek na jou verskoning te staan en luister nie, Francesca.” Hy wend hom na Lizelia. “Neem my asseblief rusbank toe, my beskermengel.”

      Francesca en Alberto gaan ook sit. Edoardo begin ongeërg met Alberto gesels asof niks gebeur het nie, maar dit is duidelik dat Francesca ietwat van stryk is. Omdat Lizelia nog nie een maal vantevore getoon het dat sy Francesca se vriendskap met Edoardo afkeur nie, het Francesca haar onderskat en te gerus geword. Sy besef egter dat sy in die vervolg versigtiger sal moet wees. Dit sal haar hoegenaamd niks baat om haar Lizelia se onguns op die hals te haal nie, want dan gaan hulle deur vir haar gesluit wees. Sy ken Edoardo ook wanneer hy kwaad is en weet presies hoe ’n duiwel en ’n tiran hy kan wees.

      Francesca is vreemd stil en afgetrokke terwyl Edoardo en Alberto oor wêreldsake gesels, maar toe hulle ná middagkoffie oor kuns begin gesels, besluit sy dat dit tyd geword het om aan die geselskap deel te neem.

      “Ek het eendag iewers gelees dat u ’n groot versameling skilderye van onskatbare waarde het, baron,” kom dit belangstellend van Alberto. “Ek sou graag eendag die versameling wou sien.”

      “Byna die hele versameling word in die De Mashatini- kasteel gehou. Ek vrees dit sal nooit aan die publiek vertoon word nie, meneer Bove,” sê Edoardo baie beslis.

      “Jy kan gerus die barones vra om vir jou die deel van die versameling te wys wat hier in die villa gehou word, Alberto,” stel Francesca voor. “Jy gee mos nie om nie, Edoardo?”

      Lizelia verstyf dadelik toe sy Francesca se voorbarige voorstel hoor. Sy wens uit haar hart dat Edoardo hierdie versoek moet weier, maar hy sê geredelik: “Gaan wys maar die skilderye vir hom, Lizelia.”

      Lizelia se gesig is stroef en geslote toe sy van die rusbank af opstaan en die ontvangskamer saam met Alberto verlaat. Hulle stap met die trappe op wat na die ander twee verdiepings toe lei. Dan hoor sy Alberto met ’n pleitende laggie sê: “Moet asseblief nie so onvergenoeg lyk nie, barones. Jy is so mooi dat geen man dit ooit oor sy hart sal kry om jou leed aan te doen nie. Ek wil maar net ’n vriend wees, niks anders nie …”

      “Baie dankie,” sê sy kil, “maar ék wil jou nie as vriend hê nie, meneer Bove. Ek het nog nooit van ’n voorbarige man gehou nie.”

      Hulle bereik die tweede verdieping waar die skilderye en ander kosbare oudhede gehou word. Lizelia maak die vertrek se deur oop en laat Alberto ingaan, terwyl sy self in die oop deur bly staan.

      Daar is ’n ligte frons op die jong man se aantreklike gelaat terwyl hy elke skildery oënskynlik noukeurig betrag. Hy kan nie die barones se afkeer van hom verstaan nie. Vroumense was nog altyd gretig om hom ’n guns te bewys en tot dusver kon hy na hartelus kus en keur onder die skone geslag.

      Lizelia is so diep ingedagte waar sy in die oop deur staan dat sy nie eens opmerk dat Alberto na haar toe aangestap kom nie. Sy ruk soos sy skrik toe hy skielik sy arm om haar sit en haar nader trek. Verskrik sien sy hoe sy kop stadig afbuig, en sy weet intuïtief dat hy haar gaan soen. Die volgende oomblik ruk sy haar met geweld los uit sy omhelsing en vlug verward met die trappe af.

      Lizelia is so verbouereerd en geskok dat haar voet halfpad met die trappe af gly. Met ’n benoude gil stort sy na onder en kom met ’n sagte kreun op die laaste trap tot stilstand.

      Alberto, nou self bleek geskrik, is binne enkele sekondes langs haar. Hy steek sy hande uit om haar op te help, maar Lizelia klap sy hande weg en snou hom half histeries toe: “Los my uit, jou boef, en trap liewer uit die huis uit!”

      “Wat gaan hier aan, Lizelia?” klink die baron se stem skielik agter Alberto op. Hoe hy so gou sonder hulp by die trap opgedaag het, weet niemand nie. Maar dit is vir almal baie duidelik dat hy woedend is.

      “Meneer Bove wou my daar bo vasdruk en soen,” vertel Lizelia met ’n bewerige stem, onbewus van Mario, Gino, die huishoudster en Francesca wat nou ook by die edelman aangesluit het. “En toe ek van hom af wegvlug,” gaan sy voort, “gly my voet op die trappe en … Ek dink my arm het seergekry, Edoardo.”

      Daar is ’n streng trek om die baron se mond en sy stem is onvriendelik toe hy sê: “Meneer Bove, verlaat asseblief my huis onmiddellik, en neem jou suster saam.”

      Francesca is rooi van woede omdat Alberto al weer verbrou het. Maar dan dring dit tot haar deur dat Edoardo nie net haar broer uit sy huis uit weggejaag het nie, maar ook vir haar.

      Sy is merkbaar bleek toe sy haar na die edelman wend en pleitend sê: “Edoardo, jy durf my nie straf vir my broer se oortreding nie! Ek het jou lief …”

      “Jou liefde is heeltemal onnodig en ongevraag, Francesca. Ek is getroud, as jy dit miskien vergeet het,” wys Edoardo haar met ’n onverbiddelike stem tereg.

      “Dit maak nie saak dat jy getroud is nie, Edoardo. Ek wil net vriende wees met jou … met julle. Ek kan nie glo dat jou gevoel vir my heeltemal dood is nie …”

      “Jy

Скачать книгу