Onthou jy nog die liefde?. Marlee Tesselaar

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onthou jy nog die liefde? - Marlee Tesselaar страница 8

Onthou jy nog die liefde? - Marlee Tesselaar

Скачать книгу

bang met haar kop onder die kussing ingekruip. Sy was maar net vier jaar oud, maar sy het besef sy moet hom nie op daardie oomblik pla nie.

      Die volgende oggend het sy glasskerwe in die vullisdrom in sy slaapkamer gesien; op die bedkassie het ’n bottel en ’n glas gestaan. Die papier wat sy hom die vorige aand sien skeur het, was ook daarin. Sy het op haar knieë langs die vullisdrom gaan sit en die papiertjies een vir een uitgehaal.

      In haar slaapkamer het sy dit aanmekaargepas tot dit ’n prentjie gevorm het – die laggende gesig van haar ma. Die vrou wat belowe het sy kom haar haal.

      Wanneer, Ma? Dis nou al baie jare later en daardie belofte is nog steeds uitstaande!

      Sonja Summers, die vrou wat haar pa nooit kon vergeet nie … en sy ook nie. ’n Ma vergeet nooit die kind wat haar liggaam gedra het nie. Net so vergeet die kind ook nooit die ma wat hom of haar in die lewe gebring het nie.

      Laatoggend klim Anika in haar motor en ry hospitaal toe. Vandag wil sy met die dokter praat oor die versorging van haar pa. Sy glo nou eenmaal ’n pasiënt sterk vinniger aan by sy eie huis. Alhoewel sy nie vir ’n onbepaalde tyd in die Paarl kan vertoef nie, weet sy sy kan haar pa tuis dieselfde versorging gee as wat hy tans in die hospitaal kry.

      Nou is eintlik ’n baie kritieke tyd vir haar. Sy kan nie toelaat dat daar sand waai oor die spoor waarna sy soveel jare gesoek het nie. Die aand wat oom Abram haar geskakel het met die nuus van haar pa se beroerte, het sy net minute gelede eers tuis gekom. Vroeër die aand het sy buite Henk Zimmerman se huis verskuil agter bome in haar motor gesit en wag. Die een of ander tyd, het sy geweet, sou hy haar reguit na die vrou lei na wie sy al ses jaar lank soek.

      En hy het haar ook nie teleurgestel nie. Sy het skaars haar wagpos ingeneem, of hy het by die hek van sy huis uitgedraai en sonder om links of regs te kyk by haar verbygery. Met straaltjies sweet wat teen haar wange afloop, het sy hom op ’n veilige afstand gevolg, tot by die hospitaal.

      Sy ken die opset van ’n hospitaal en dit was nie moeilik om inligting uit die sekuriteitsbeampte by die ontvangstoonbank te kry nie. Sy het bloot die selfoon in haar hand vir hom gewys en gesê sy is dokter Henk Zimmerman se metgesel. Sy selfoon het gelui terwyl sy buite in die motor vir hom gewag het terwyl hy sy vrou, Petro de Klerk, besoek. Dis ’n dringende boodskap oor ’n pasiënt van hom. Sonder om te huiwer het die ouerige man agter die toonbank op ’n lys gekyk en die saal- en kamernommer vir haar gegee.

      Die oomblik toe sy A3 op die deur van die privaat hospitaalkamer lees, wou sy daar instorm en die vrou aan die keel gryp, maar sy het haar bedwing. Sy het in die damesbadkamer geskuil tot die skril gelui van ’n klokkie die einde van besoektyd aangekondig het.

      Toe sy Henk in die gang sien afstap, het sy vinnig by die kamer ingeglip. Sy maak die deur versigtig oop en druk dit net so sag agter haar op knip. Toe sy omdraai, herken sy dadelik die vrou wat teen die wit laken lê. Haar gesig is vervalle en uitgeteer, die oë toe en ingesonke in die oogkasse, merk sy sonder enige meegevoel op.

      Sy moet haar bedwing om nie aan die gil te gaan en vorentoe te storm nie. Haar hart klop met swaar slae; haar tong kleef aan haar verhemelte vas. Onthou breek in haar oop. Dit was ses jaar gelede wat sy ook in hierdie vrou se gesig gekyk het, met soveel dankbaarheid en vertroue. Nou is die enigste gevoel in haar een van veragting en haat. Petro de Klerk het haar lewe, haar hoop, haar vlees geroof. Al moet sy ook met haar kaal hande die bekentenis uit hierdie vrou wurg, sal sy dit doen.

      Die maer vrou wat teen die kussings sitlê, raak bewus van iemand se teenwoordigheid in die kamer. Haar oë gaan oop en oor die kort afstand kyk hulle mekaar net aan. Lees sy iets soos herkenning in die glasige oë? dink Anika. Of verbeel sy haar dit net? Wat as Henk tog reg is dat die vrou se brein só deur kanker aangetas is dat sy haar nie meer sal herken nie?

      “Wie is jy? Waar is Henk?”

      Sy tas na die noodklokkie, maar dan is Anika langs die bed en ruk die klokkie tot buite haar bereik. Sy buig nader na die vrou se gesig, tot haar gesig amper teen die uitgeteerde gesig gedruk is. Sy sien die uiterlike tekens van chemoterapie: die verdonkering van die te droë vel, die yl hare en tong wat aanhoudend oor die lippe lek.

      Haar verpleegstersoog mis niks van die agteruitgang in die lyf van die vrou voor haar nie. Maar vanaand is sy nie daardie mens wat ’n eed afgelê het om te genees en te versorg nie. Vanaand is sy net ’n vrou wat haar wil wreek op die een wat haar te na gekom het, van haar gesteel het.

      “Jy onthou my, dokter De Klerk, so staak jou speletjie! Jy kan vir Henk flous, maar nie vir my nie. Want weet jy hoekom?”

      Die vrou lê haar net en aankyk, maar daar is ’n duidelike terugdeinsing in haar liggaam. En Anika mis dit nie.

      “Weet jy?! Omdat ek jou ken, weet hoe slu en wreed jy is. Jy is ’n slang, Petro de Klerk! Jy is besig om dood te gaan en ek is bly!”

      Die vrou teen die kussings praat asemrig: “Ja, die kanker het my finaal ingehaal. Maar jy is ’n verpleegster; jy behoort meegevoel met ’n pasiënt te hê.”

      Anika lag skril, lelik. “Meegevoel? Hoe durf jy van alle mense praat van meegevoel vir ’n ander! ’n Duiwel soos jy wat my kinders gesteel het? My klein Sonja, weet ek nou, is by Henk se ouers in Australië. Maar waar is my seun? Ek gaan môre my prokureur sien om Sonja terug te kry in die land. Sy is mý kind, nie joune nie.”

      Die vrou beur weg van die kussings. “Nee, ek sal dit nie toelaat nie. Sonja is myne!” Die glasige bruin oë skitter nou met ’n abnormale glans. “Henk sal dit nie toelaat nie, Sonja is ons kind! Sy ken jou nie …” Die maer, vervalle gesig vertrek asof sy wil huil. “Los haar uit!”

      “Nee, sy is nie jou óf Henk se kind nie! Sy is mý baba wat jy gesteel het. En ek sal alles in my vermoë doen om dit te bewys.”

      “Die dokumente wat jy geteken het …”

      “Het jy my onder valse voorwendsels laat teken en ek sal dit ook bewys,” praat sy teen haar beterwete. “Geen hof sal ’n ma en haar kind uitmekaar hou nie. En Henk sal teen jou getuig – hy glo my.”

      Petro de Klerk lê haar kalm en aankyk. “Jy is nog steeds die naïewe dwaas wat jy destyds was. Glo alles wat aan jou opgedis word. Luister nou en luister goed: Henk behoort óók aan my!”

      “Dis nie waar nie, julle is geskei,” sê-vra Anika effens onseker. “Hy het nie geweet van alles wat jy gedoen het nie.”

      “Wel, ís ons geskei? En hoe sal jy vir seker weet my liewe man dra nie kennis van alles nie?”

      “Hy het my dit verseker …”

      Sy beweeg haar kop teen die kussings en lag geamuseerd. “Hy kan baie oortuigend wees … as hy moet. Vroumense, ek inkluis, sal enigiets vir hom doen. Enigiets!”

      “Soos om my Sonja te steel?”

      “O, maar dis waar jy verkeerd is. Jy het Sonja aan my verkoop.”

      Anika is grysbleek. “Jy is van jou verstand beroof! Ek sal nooit-ooit, hoor jy, my kind verkoop nie! Jy gaan nie hiermee wegkom nie. Noudat ek jou opgespoor het, is dit net ’n kwessie van tyd voor ek my kinders weer by my het.”

      “Bly stil! Ek weet niks van jou kinders af nie!”

      “Waar is my seun, vroumens? Waar ís hy?”

      Petro de Klerk antwoord nie. Sy probeer desperaat om die klokkie in die

Скачать книгу