Onthou jy nog die liefde?. Marlee Tesselaar

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onthou jy nog die liefde? - Marlee Tesselaar страница 7

Onthou jy nog die liefde? - Marlee Tesselaar

Скачать книгу

op die agtergrond bewus.

      Sy trek haar kamerjas stywer om haar lyf vas. “Ek het nog baie om te doen, Nelis. Asseblief, jy moet my verskoon,” pleit sy amper.

      “Natuurlik,” knik hy geredelik.

      Sy stap na die voordeur en hou dit vir hom oop. Hy kom tot by haar en vee ’n haarsliert van haar voorkop weg. Sy aanraking brand haar! Sy durf egter nie enige fisieke kontak tussen hulle duld nie. Hy is ’n getroude man, hy behoort aan ’n ander vrou.

      “Kom kuier vir my op Nouveau,” nooi hy gretig. “Ons het nog baie om oor te gesels, jare se belewenisse om oor te vertel en in te haal.”

      “Het jy van Bertha vergeet – jou vrou?” vra sy skerp.

      Omdat sy so daarop hamer, begin dit hom irriteer. “Bertha … Nee, vir geen oomblik het ek van haar vergeet nie. Maar jy hoef my nie aan my vrou te herinner nie. Bertha is my probleem, my gewete.”

      Sy verstaan nie die strekking van sy woorde nie, maar vra ook nie uit nie. Van Bertha Beukman-De Villiers wil sy niks hoor nie. As sy nooit weer nodig het om die vrou se naam op haar tong te vorm nie, sal dit haar perfek pas.

      “ ’n Mens los nie ’n klomp afgebreekte drade net so nie; jy probeer hulle knoop, sin daaruit maak. Daar is dinge waaroor ons moet gesels, Anika. Kom kuier vir my op Nouveau – jy ken sekerlik nog die pad.”

      “Nee!”

      Hy raak ongeduldig. “Jy vergeet ek ken jou te goed. Jy konsentreer op hierdie oomblik baie hard om iets vir my weg te steek. Toe, uit daarmee!”

      “Jy praat twak! Wat sal ek nou sodanig vir jou probeer wegsteek?”

      “Jy vertel vir my leuens, terwyl ek die waarheid wil weet. Kom kuier op Nouveau,” herhaal hy. “En as Bertha dalk die probleem is: moenie bang wees nie, sy het nog nooit op Nouveau gewoon nie. Dis net ek en Gerhard wat daar boer.”

      Sy bly net haar kop ontkennend skud. “Nee!”

      “Gaan jy my inlaat in jou geheim? Jy skuld my die waarheid, Anika!”

      “Geheim? Watter geheim? Jy praat –”

      “Snert, ja, ek weet. Genugtig, Anika, jy’s amper te bang om asem te haal.”

      Hy vee met sy vinger oor haar kuiltjie, waar haar pols vinnig klop. Instinktief wil sy wegruk, maar sy dwing haar om sy aanraking te verduur. Desperaat probeer sy haarself oortuig Nelis de Villiers se aanraking beteken niks vir haar nie.

      “Kom uit na Nouveau en bewys aan my én aan jouself dat niks van die verlede tussen ons staan nie. For old times’ sake!” koggel hy haar.

      Sy antwoord nie en hy lag saggies. “Ek wag vir jou op die plaas – enige tyd, maak nie saak wanneer jy kom nie. Ek is maar heeldag daar in die kelder doenig.”

      Hy stap uit en net voor hy die trappe afgaan, draai hy terug en sê: “Dis goed jy’s terug, Antjie. Veral ter wille van jou pa, hy het jou nodig … maar ons ook.”

      Dan is hy weg. Sy bly staan met haar hand om die deurknop geknel.

      Hy was altyd die leier van sy seunsmaats en sy was sy gewillige volgeling. Ter wille van hom het sy maats haar as deel van die speelgroep aanvaar – dis immers hoe Nelis dit wou hê.

      Toe Nelis die voorhekkie agter hom toeslaan, is dit asof hy vir die eerste keer weer onthou om asem te haal. Met vinnige asemteue lawe hy sy longe. Dan eers word hy bewus van die winterkoue en ril; hy rek sy treë na sy bakkie en klim in. Met sy hande rustend op die stuurwiel sit hy sonder om sover te kom om die sleutel in die aansitter te draai.

      Die beeld van ’n naakte lyf wat teen syne pas, die geur van parfuum in sy neus, donker hare oor sy bors gestrooi … Dis beelde wat hom nou al jare lank treiter, hom mal maak omdat hy nie die oorsprong daarvan ken nie.

      Hy het Bertha elke nag in sy arms vasgehou en dan hierdie drome oor sy droomvrou gedroom. Met sy droomvrou was dit ’n fees en het dit gevoel of sy presies in sy arms pas. By Bertha het hy dieselfde passie en intensiteit gesoek wat hy in sy drome by sy droomvrou ervaar het. En telkens was hy teleurgesteld.

      Hy voel weer die bruin hare wat tussen sy vingers deurglip, die geur van haar warm lyf … sy droomvrou. Sy hand wat om ’n vol ronding vou; haar tepels onder sy tong is warm en styf. Fyn, warm hande wat om sy boude vou, hom nog nader aan haar beur.

      Hierdie nagmerrie het hom sonder ophou bly teister en dan het hy in die middel van die nag langs Bertha opgestaan en buitentoe gevlug. Bertha het altyd benoud geraak wanneer hy haar te styf vashou. Sy het hom uitgekryt as te vurig en te lastig met sy liefkosings. Al wat hy gesoek het, was oortuiging vir homself: Bertha ís die vrou van sy drome.

      Maar Bertha was dit beslis nie, besef hy opnuut. Dit was net gerieflik en sussend vir sy gewete om hom dit te probeer wysmaak. Bertha is nie sy droomvrou van wie se lyf hy nie versadig kon word nie. Die uiteinde was: hy het opgehou probeer om Bertha te bevredig en gelukkig te maak.

      Bedags het hy op Nouveau gewerk tot hy te moeg was om te dink of te droom. Dikwels het hy sommer daar in die kelder geslaap. En toe hy eendag onverwags huis toe gaan ná ’n week waarin hy Bertha nie gesien het nie, was daar ’n ander man in sy bed, met sy vrou in sy arms. Die musiek wat effens te hard op die agtergrond gespeel het, het sy teenwoordigheid verbloem. Toe het hy net die deur toegetrek en uitgestap, in sy bakkie geklim en die nag ingery.

      Lank sit Nelis in sy bakkie en dink. Dan kom hy tot ’n besluit. Hy skakel die bakkie aan en ry terug in die rigting van sy plaas.

      Ek sit vandag met my lewe in my hand en vou dit oop soos ’n stadskaart. Voel met bewerige vingers oor strate, pleine en uitweë.

      Anika druk die verseboek terug in die boekrak. Opnuut besef sy hoe waar dié woorde van T.T. Cloete is. Dis sinneloos om langer te probeer om die ompad te loop. Hierdie pad waarop sy nou is, moet sy enduit stap, met een doel voor oë. Hulle behoort aan haar … háár vlees en bloed, die kinders van haar lyf.

      Sy stap uit op die stoep en gaan sit in die tuin. Genadiglik het die wind wat in die nanag begin waai het, nou effens bedaar. Die lug is egter nog betrokke en dit ruik na reën.

      Langs haar op die bankie lê die speelgoedteddiebeertjie wat sy gisteraand in haar slaapkamer se kas ontdek het. Traag draai sy haar kop en kyk daarna. Haar ma het dit nog vir haar gegee, onthou sy. Dit was ’n afskeidsgeskenk vir ’n klein dogtertjie wat nie kon verstaan waarom haar ma haar nie wou saamneem nie.

      Sy tel die beertjie op en bekyk dit. Dis al effens gehawend van die baie hanteer.

      Onthou jy nog, Ma? Met ’n kreet gooi sy die speelding van haar weg. Wel, ék onthou nog!

      Daardie dag het die wind ook so aan die deure en vensters geruk, sonder ophou. Klein Anika was bang, want sy was alleen in die groot huis met sy krakende vloere en dak. Met die nuwe speelding styf in haar arms vasgedruk het sy in haar pa se stoel in die sitkamer gaan sit. Wagtend op haar ouers om huis toe te kom.

      Sy skud haar kop ergerlik om van die seerkrygedagtes te probeer ontvlug. Sy vee haar natgeswete hande, ten spyte van die winterkoue, teen haar langbroek droog. Dis asof sy haar pa weer duidelik op die rand van die groot bed sien sit daardie aand. Sy lyf ruk, maar hy maak geen geluid nie. Dan skielik uiter hy ’n noodkreet soos ’n gekweste dier en met ’n kragwoord op sy lippe skeur hy iets tussen

Скачать книгу