Onthou jy nog die liefde?. Marlee Tesselaar

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onthou jy nog die liefde? - Marlee Tesselaar страница 4

Onthou jy nog die liefde? - Marlee Tesselaar

Скачать книгу

wil terugdraai, terughardloop, haar pa aan die skouers beetpak en uitroep: “Praat met my! Vir ses jaar swyg jy nou al!”

      Met geboë skouers draai sy om, weg van die groot wit gebou, en loop die nag in.

      It is not dying that hurts us so. It is living, draal die woorde van Cindy Lauper deur haar kop. Weer wonder sy wat is die seerste: om iemand aan die dood af te staan, of aan die lewe?

      “Ma, jy’t in jou liedjie belowe: ‘If you fall I will catch you, I’ll be waiting, time after time …”

      Net leë beloftes in die lug gestrooi, en die wind het dit geskep en weggedra.

      Die wind waai onstuimig, takke kraak buite en iewers ratel ’n venster omdat dit nie dig op knip is nie. Die koue byt haar lyf terwyl sy kaalvoet in ’n dun nagrok in die lang gang afhardloop. Aan die onderpunt daarvan flikker ’n flou lig. Sy hoor ’n droewige gehuil. Dit meng met die weeklag van die wind. Vir ’n oomblik wonder sy of die gehuil nie dalk maar net die wind is nie. Haar nagrok kleef aan haar vas van sweet ten spyte van die winterkoue. Haar voete maak hol geluide op die plankvloer; haar asem jaag. Dit voel of sy nooit die onderpunt van die gang bereik nie.

      Nou is die gehuil harder, nader. Sy kom voor ’n toe deur tot stilstand. Daar binne kan sy die droewige, bang gehuil hoor. Die deur is gesluit; sy ruk daaraan. Stamp daarteen en dit gee mee, swaai oop. Sy gil en gil …

      Anika skok wakker; ruk regop in die bed. Haar hare lê in ’n natgeswete warboel om haar kop. Die lakens en komberse het sy in haar nagmerrie deurmekaar gewoel. Die huilgeluid in haar droom weerklink nog in haar ore, sodat sy verplig is om haar hande daaroor te slaan.

      Toe dit voel of sy nie kan asem kry nie, druk sy paniekerig die beddegoed van haar weg. Sy vrees donkerte en skakel onmiddellik die bedliggie aan. Die oomblik toe die donkerte verdryf word, slaak sy ’n verligte sug. Na ’n paar minute bedaar haar hartklop en begin sy rustiger asemhaal.

      Nog ’n nagmerrie! Wanneer hou dit dan op?

      Haar skouers begin ruk; woedend, histeries swaai sy haar arms wild deur die lug. Soms voel dit of sy besig is om haar verstand te verloor. Aan die ander kant: sal dit nie genadiger wees as die onthou en die gesoek nie? wonder sy vir die soveelste keer. Dis nog net haat wat haar aan die gang hou.

      “Ag, Here, ek kan nie meer nie!” kreun sy hardop en val vooroor. Dieselfde droom oor en oor – nag ná nag. Dis om van gek te word, dink sy. Hoe lank moet ek nog hierdie pad alleen stap, Here?

      Haar skraal lyf ruk van die koue, maar ook van vrees; sy is tot die dood toe bang. Die gehuil bly in haar kop draal en sy val moeg terug teen die kussings. Haar arms pyn van leegheid sonder die kinders van haar lyf.

      Sy vee moeg oor haar natgeswete gesig. Sy het nie eens ’n foto nie, net maar die onthougedagtes. Sy slaan met haar vuis teen die bed. Angs pak haar opnuut beet en laat haar vinnig opspring; sy pluk die gordyn voor die venster weg en kyk die donkerte in. So voor die oop venster staan sy wiegend tot die eerste lig die duisternis breek.

      So gaan dit nou al maande, jare lank aan, dink sy. Moeg slinger sy deur haar dae om haar pligte uit te voer. En dan die gesoek en soek … sonder ophou.

      Dis asof sy in ’n diep afgrond afkyk. ’n Afgrond wat haar trek … geen skuilplek, geen pil wat lank genoeg help om die angs van depressie te onderdruk nie. Niemand sien jou raak of vra na jou nie. Sy voel soos ’n uitgedroogde dam waarvan net modder agtergebly het.

      In die briewe aan haar pa het sy ’n stuk van haar menswees prysgegee. Daarin het sy geskree om hulp, maar hy het nie gereageer nie. Tussen haar en Piet Summers lê ’n berg verwyte. In haar briewe was sy die aanklaer én die regter. Arrogant het sy ook self die vonnis voltrek oor die leuens wat sy van kleins af gevoer is saam met lepels pap.

      Die wind huil om die huis, strooi ’n nuwe vlaag blare grond toe. Die son begin teen die oosterkim sy kop wys. ’n Rooi sonsopkoms bring reën, het haar pa altyd gesê. Sy draai weg van die venster en gaan skakel die ketel in die kombuis aan om koffie te maak. Outomaties haal sy ’n beker uit die kassie bokant die wasbak en meet ’n teelepel koffie daarin, dan die suiker. Net toe sy die yskas wil oopmaak om die houertjie melk uit te haal, onthou sy sy het al die vorige aand gesien die melk is op.

      Sy besluit om sommer op pad hospitaal toe die nodige kruideniersware te koop. Vandag nog, as dit moontlik is, wil sy met haar pa se dokter praat om presies vas te stel hoe groot die skade ná sy beroerte is. Sy weet uit ondervinding hy sal fisioterapie en dalk ook arbeidsterapie nodig hê.

      Sy kam met haar vingers deur haar deurmekaar hare en stap met die beker in haar hand op die agterstoep uit. Op die boonste trappie gaan sit sy en kyk uit oor die verwaarloosde tuin. Die tuin was háár werk, haar terapie. Haar pa het duidelik nie veel aandag aan die tuin gegee sedert sy weg is nie. Alles is oorgroei en deur onkruid ingeneem. Die oggendluggie is koud en sy trek die pante van haar kamerjas stywer om haar lyf vas.

      “So, jy’s sowaar terug!” praat iemand skielik naby haar.

      Sy skrik; alles in haar stol. Sy ken daardie stem, die persoon aan wie dit behoort – die man wat sy met elke vesel in haar liggaam haat en tog ook … Ja, wat? wonder sy.

      “Toe Ma gisteraand bel en vertel van jou wat terug is, het ek gevra of sy en Pa nie te veel van die goue voggies daar by my op Nouveau geproe het nie,” gaan hy voort.

      Haar hande bewe só erg, van die warm koffie stort oor die beker se rand en brand haar vingers. Vinnig sit sy dit langs haar op die trappie neer en skud die nattigheid van haar vingers af. Met inspanning dwing sy haar brein om ’n boodskap na haar tong te stuur, maar sy kry nie ’n woord uit nie.

      Nou onthou sy skielik weer alles wat sy so graag wou vergeet. Haar kinderjare se klein dingetjies, wat sy gedink het lankal reeds vergete is. In die paar sekondes wat sy terugkyk in sy sagte blou oë, is sy verstom oor die onthougedagtes wat deur haar kop snel.

      Nelis verkyk hom aan haar. Sy is duidelik onbewus van haar voorkoms, die bruin hare wat slaap-deurmekaar om haar gesig val. Die pante van haar kamerjas het losgekom en vertoon nou die sagte vel daaronder. Soos sy beweeg, gly dit verder oop en sy blik volg die beweging hongerig. Hy sien die sagte blou materiaal teen haar wit vel. Sy oë soek verder daar waar die pante van die kamerjas oopval: die vol rondings daaronder, die tepels wat swel en styf raak, asof hy pas met sy duim daaroor gevee het.

      Hy trek sy asem rukkerig in, maar kry nie sy blik losgeskeur van die verleidelikheid voor hom nie. Sy liggaam reageer vreemd op haar onbewustelike sensuele vertoning. Iets amper soos ekstase skiet deur sy lyf. Vinnig druk hy sy bewende hande in sy broeksakke, probeer om die drang van sy liggaam om te wil aanraak en te voel in bedwang kry. Nog nooit voorheen het hy met soveel amper dierlike begeerte na ’n vrou se liggaam gesmag nie. Nie eens Bertha se liggaam het soveel begeerte in hom wakker gemaak nie.

      Hy verstaan nie waar hierdie gevoel vandaan kom nie. Voor hom sit sy maatjie wat hy al sy hele lewe lank ken. Weliswaar het daar ’n klompie jare verloop waarin hulle nie kontak gehad het nie, maar sy bly sy maat. Iemand wat hy ken soos hy homself ken – of so dink hy.

      Miskien is hy net te lank al alleen, besluit hy. Dís waarom sy liggaam nou so oorreageer op die skouspel van naakte, vroulike prag hier voor hom. Met moeite kry hy sy gevoelens onder beheer.

      Sy bly hom net aankyk met ’n vreemde uitdrukking in haar oë.

      Geaffronteer oor haar amper vyandige afsydigheid vra hy vererg: “Moet net nie vir my sê jy onthou nie meer jou beste maatjie nie?”

      Noudat

Скачать книгу