Onthou jy nog die liefde?. Marlee Tesselaar

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onthou jy nog die liefde? - Marlee Tesselaar страница 5

Onthou jy nog die liefde? - Marlee Tesselaar

Скачать книгу

daarop.

      Anika herken onmiddellik dié onseker gebaartjie van Nelis. Nee, sy het nie vergeet nie, maar sy onthou meer as net hulle kinderjare … Al die gebeure van destyds is nou skielik weer op die voorgrond, soos ’n vuur wat skroei tussen hulle. Daardie nag … sy troue … haar pa se dronkpraatjies …

      En opnuut is sy briesend kwaad, sodat sy die moed iewers vandaan kry om haar kop te lig en hom vas aan te kyk. Sy wil die bitterheid in haar uitskree: Ek is moeg van hierdie alleenpad! Die pad waartoe jy my verban het! Haar brein vorm die woorde, maar haar tong weier om dit uit te spoeg.

      “Dag, Nelis,” groet sy kalm. “Ek moet sê, ek het jou nie hier verwag nie, en dit nog boonop so vroeg in die oggend. Wat sal Bertha daarvan sê?”

      Sy wil hom nie hier hê nie, beslis nie nou al nie. Eerste op haar lys is haar pa, by wie haar verantwoordelikheid lê. Daar is baie dinge om tussen hulle uit te sorteer. Dan is daar Henk en haar …

      Henk! Sy probeer om op hom te konsentreer. Maar kan een hart wraak én liefde dra? wonder sy bekommerd.

      “Dis asof ek net geweet het: eendag sal ek hier verbykom en jou hier op die agterstoep sien sit met ’n beker koffie in die hand,” antwoord hy rustig.

      Deur vernoude oë bekyk sy hom: die verbleikte denimbroek wat nie die gespierde bobene verberg nie, die grys rolkraagtrui wat om sy breë bors span. Ook die blonde hare wat laag in sy nek lê, die bruingebrande vel, die lagplooitjies om sy oë – alles is so steurend bekend. Maar die diep kepe om sy mond ken sy nie, en sy forse, manlike lyf is tog effens leniger as wat sy onthou.

      “Die wind is regtig onplesierig hier op die stoep. Kan ons nie in die huis gesels nie?” vra hy.

      Sy is traag om gehoor te gee aan sy versoek, maar staan ná ’n oomblik se huiwering tog op. Die masker waaragter sy nou al jare lank wegkruip, is weer in plek.

      “Hoe gaan dit met jou pa?” vra hy toe die stilte tussen hulle ongemaklik begin rek. Met sy hande diep in sy broeksakke gedruk neem hy stelling in voor dieselfde venster waar sy vroegoggend gestaan het. Sy rug is na haar gekeer.

      Sy haal haar skouers op. “Ek is nie seker nie; gisteraand met besoektyd by die hospitaal het ek hom net vlugtig gesien. Vandag wil ek met die dokter praat en sy presiese diagnose hoor – in hoe ’n mate die beroerte skade aangerig het.”

      Sy verander die onderwerp doelbewus. “Jy het nie geantwoord toe ek gevra het hoe dit met Bertha gaan nie.”

      “Goed, sover ek weet. Sy het ’n coffee shop in Hoofstraat oopgemaak, en dit doen blykbaar nie te vrot nie. Bertha is mos maar die gebore gasvrou,” kom sy antwoord traag.

      Hy is onwillig om Bertha met haar te bespreek. Dit voel net nie reg nie. Trouens, presies so het dit in die verlede ook gevoel. Met Anika kon hy oor enige onderwerp onder die son gesels. Hy kon net ’n woord sê, ’n gedagte uiter, en sy sou dadelik snap wat hy bedoel, so goed het hulle mekaar geken. Maar met Bertha was dit anders. Hy wou haar nie met Anika bespreek of haar selfs van hulle verhouding vertel nie. Iets het hom telkens daarvan weerhou, wat meegebring het dat Anika lank onbewus was van sy verhouding met Bertha.

      Vandag besef hy dit was ’n fout om Anika so in die duister te hou. Dan sou sy dit nie uiteindelik uit Bertha se mond gehoor het nie. Toe hy uitvind dat Bertha met Anika gepraat het, het hy haar onmiddellik kom sien. Sy het egter amper traak-my-nieagtig op die nuus gereageer. So asof dit nie vir haar enigsins saak gemaak het nie. Dié afsydige houding van haar het aan hom gekrap – waarom weet hy tot vandag toe nog nie.

      Hy trek sy asem hoorbaar in en blaas dit dan weer hard uit. “Nooit gedink ek sal weer my voete in dié huis sit nie,” praat hy sommer net om die ongemaklike stilte tussen hulle wat rek en rek te verbreek. Maar toe die woorde oor sy lippe glip, besef hy dit was ondeurdag.

      “Dis ’n vreemde opmerking, Nelis! Enige spesifieke rede?” vra sy versigtig en hou hom deurentyd dop.

      Hy vryf teen sy voorkop – weer die onseker gebaartjie, sien sy.

      “Ag, jy weet …”

      Sy skud haar kop beslis. “Nee, ek weet nie, sê jy vir my.”

      “Jy’t padgegee sonder om te groet … en nooit van jou laat hoor nie. Vriende maak nie so nie!” slaan die verwyt in sy stem deur.

      “Nee, seker nie.” Sy stap tot by die rusbank en gaan sit met haar voete onder haar ingetrek. “Maar ’n vriend laat dit ook nie aan ander mense oor om te vertel van sy troue nie, nè? So wat is die werklike rede, Nelis? Het my pa iets daarmee te doen? Het hy iets gesê of gedoen wat jou hierdie huis laat vermy het? Ek wil weet!” dring sy aan.

      Hy begin op en af in die vertrek stap, sy hande diep in sy broeksakke gedruk.

      “Jou pa en ek … Wel, eintlik het ons nie langs dieselfde vuur gesit nie,” probeer hy dit ligtelik afmaak.

      Haar vreemde kalmte en amperse koudheid maak hom senuagtig. Dis asof hy met ’n waspop probeer kommunikeer – ’n pragtige uiterlike, maar die oë is vol donker skadu’s. ’n Rilling glip langs sy ruggraat af.

      My briewe! besef Anika dadelik. Sy verbleek.

      Met haar briewe wou sy haar pa straf en skok met die waarheid. En natuurlik sou hy vir Nelis de Villiers blameer – Piet Summers het immers geweet hoe lief sy vir Nelis was.

      Nelis het voor die kaggel vasgesteek. “Onthou jy nog … ons het wintertye hierdie kaggel gestook. Jy was altyd so koulik en het omtrent binne-in die vuur plat op jou sitvlak gesit.” Hy uiter ’n suggie. “Moet sê, daar is darem min dinge so lekker soos ’n kaggelvuur terwyl die reën neersif. Voor die vuurtjie met ’n glasie wêreldklasrooiwyn van die Paarlvallei in jou hand.”

      “Baie geluk met die toekennings vir jou wyn – ek het daarvan gelees.”

      Hy grinnik effe verleë. “Was maar altyd my droom om wyn te maak, onthou jy nog?”

      Sy antwoord nie en hy gaan voort: “Ek en Gerhard het oom Hendrik de Villiers, Pa se neef, se plaas Deville by hom gekoop en dit toe herdoop tot Nouveau – eerste wyn, nuwe wyn. Broer Gerhard is die boer, hy plant die wingerde en oes, en ek pars en maak wyn.”

      Hy gee ’n tree in haar rigting. Sy stem raak opgewonde; sy hande beduie en praat saam. “Ek sê jou, daar is niks meer bevredigend as om onder die blou hemel, in die asemrowende natuurskoon van die Paarlvallei, ’n bottel se prop uit te lig en jou eie wyn te proe nie.”

      Sy hou hom dop met gesluierde oë. “Jy wou van kleins af wyn maak soos jou oom Hendrik. Vakansietye het jy ure saam met hom in sy kelder deurgebring – en my gewoonlik ook soontoe saamgesleep.”

      Hy glimlag met ’n sagte onthou-uitdrukking in sy blou oë. “Jy was lank weg, Antjie … Ek sien daar is nog geen ring aan jou vinger nie.”

      Hy vryf ongemaklik agter sy nek toe hy die waarskuwingslig in haar oë sien. Maar om die een of ander rede is dit vir hom belangrik om te weet.

      “Is daar iemand spesiaal in jou lewe? Jy’s ’n te pragtige vrou om nie deur mans raakgesien te word nie.” Hy kan sy tong afbyt oor die vraag, maar betrap hom dat hy angstig op haar antwoord wag.

      “Is ek vir jou mooi, Nelis?” Sy kom voor hom staan, amper teen hom. “Voorheen het jy my nooit as ’n vrou raakgesien nie. Net as ’n

Скачать книгу