Liefde in fokus. Zoë Gouws

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Liefde in fokus - Zoë Gouws страница 4

Liefde in fokus - Zoë Gouws

Скачать книгу

As ons hier by Houtbaai afdraai en met die bergpad opry, is ons sommer nou-nou in Constantia waar ek woon.”

      Die dorpie Houtbaai is nie so mooi van naby as van ver nie. Daar is skielik te veel motors rondom hulle. Dis stowwerig. Papiere en plastieksakke dwarrel in die sanderige wind, raap hulle op en gaan hang aan die lemmetjiesdraadheinings om die eksklusiewe woonkomplekse neffens die dorpie.

      “Amper by die huis,” sê oom Jan toe Xante skielik moeg agteroor leun. “Net hier anderkant die nek draai ons regs, en dan is dit nog so vyf minute.”

      Hy haak sy selfoon se oorstuk om sy oor en Xante hoor hom sê: “Witness? Hello. We’ll be home in five. Will you have something ready for us? I think Xante is in need of something special – she looks all wan and wasted.”

      Sy sit regop. “Ek’s nie ‘wan and wasted’ nie! Net ’n bietjie oorweldig deur hierdie plek waar jy woon! Goeiste, maak die kontraste julle nie doodmoeg nie?”

      “Soms, ja. Soms tog wel.”

      “Wie’s Witness?” vra sy toe hy by ’n oprit intrek.

      “ ’n Vriend uit Zimbabwe. Hy’s ’n sjef – opgelei in ’n Michelin-restaurant in Londen. Hy was tot onlangs ’n uitvoerende sjef by ’n tophotel in Harare, maar … Wel, daar was ’n groot familietragedie en toe het hy uitgewyk na Suid-Afrika. Sy aansoek om ’n werkspermit sloer nou al amper agt maande, so hy kuier solank by my.”

      Xante verkyk haar aan die kleurryke blombeddings weerskante van die oprit.

      “Hier is ons,” kondig oom Jan aan toe die motorhuisdeur geluidloos agter hulle toeskuif. “Welkom by my huis, Xante. Ek hoop jy gaan jou tydjie by ons geniet.”

      ~ 3 ~

      Faan Viljoen het nie ’n oomblik tyd vir stilsit nie. Noudat hy die eerste afspraak met die uitgewery agter die rug het, moet hy seker maak hy het alles in plek vir die volgende – hopelik finale – vergadering. Hy wil ten volle voorbereid daar aankom, met sy teks klaar afgerond en al die huiswerk oor die tegniese span gedoen, sodat die uitgewery bloot ja of nee hoef te sê.

      Hy bel rond en hoor uiteindelik dat Tripod die heel beste foto- en videografiese groep in die Kaap is. Hy skakel Jan Tredoux, die uitvoerende hoof en glo ook eienaar van die groep, en maak ’n afspraak met hom vir die Vrydagoggend.

      Die redakteur wat verantwoordelik sal wees vir die teksversorging van sy potensiële boek bel die Woensdagoggend om haarself voor te stel, en nooi hom vir middagete. Sy wil graag oor die omvang en aantal foto’s teenoor die teks gesels, asook oor moontlike borgskappe.

      Hy ontmoet haar by die restaurant op die grondvloer van die toringgebou waarin die uitgewerskantore is. Sy is heel oulik en gemaklik, en baie entoesiasties oor die projek. Hy wonder of sy in ’n verhouding betrokke is – hy sien geen ring aan haar vinger nie. Sy skep die indruk dat sy professioneel is en gek oor haar werk. Dalk sal sy van die soort vriendskap hou wat hy kan bied.

      Toe die rekening kom, maak hy hom gereed om te vra wanneer hy haar weer kan sien, maar sy sê skielik: “Haai, wag, ek moet weg wees. Kyk hoe laat is dit al. My ou kleintjie dink seker nou al ek het hom vergeet!”

      “Jou ou kleintjie?” vra Faan flouerig.

      “Kyk net!” borrel sy en pluk ’n foto uit haar beursie. “My ou kleintjie.”

      Hy sien ’n fyngeboude seuntjie van seker so drie of vier met die grootste, sielvolste oë wat hy nog in ’n kindergesiggie gesien het. Die seuntjie se haartjies is nog korter geskeer as sy eie, en hy merk ’n lelike litteken aan die linkerkant van die kind se kop. Dit lê gryswit teen die kind se gitswart vel. Hy kyk vraend op na die redakteur.

      “My ou kleintjie, Sipho. Hy’t al regtig swaar gehad in sy sewe jaartjies.”

      “Sewe?” vra Faan verstom. “Hy lyk kwalik vier!”

      “Sewe en in graad een,” bevestig sy. “Ek het hom nou al drie jaar in pleegsorg, en hy het omtrent verdubbel in lengte en breedte!”

      Faan skud sy kop verstom. Nie soseer oor die kind nie, maar oor hierdie vrou wat ’n verwaarloosde en verrinneweerde kleintjie in pleegsorg geneem het en met soveel liefde oor hom praat asof hy haar eie klein geskenk van God is.

      “Ek moet ook gaan,” sê hy skielik haastig. Hy is bang as hy langer in haar geselskap bly, oortree hy die allerbelangrike Reël Nommer Een en blaker iets oor Katrien uit. Dis ’n onderwerp wat hy met geen vrou bespreek nie. Wat kan dan nou ’n groter passiedoder wees as om te hoor ’n man het reeds ’n kind?

      Tydens haar eerste week in die Kaap besef Xante dat die klere wat sy saamgebring het hopeloos onvanpas is. Haar Johannesburgse wollangbroeke en lamswoltruie is almal te warm vir die Kaapse winter. Selfs haar skoene voel te swaar en dik.

      En alhoewel dit nog nie sedert haar aankoms gereën het nie, besef sy dat sy ten minste ’n sambreel moet gaan koop, indien dan nie ’n reënbaadjie ook nie. Die Kaap is immers in ’n winterreënvalstreek geleë, en volgens oom Jan reën dit deesdae die meeste in Augustus en vroeg-September, in plaas van in Junie en Julie, soos dit altyd was voor aardverwarming alles verkeerdom gedraai het.

      “Oom Jan,” vra sy die eerste Woensdag nadat sy in die Kaap aangekom het, “waar koop ’n mens klere in hierdie plek?”

      “Sjoe, nou vra jy my! Witness?” roep oom Jan in die gang af kombuis toe. “Where can Xante go shopping for clothes?”

      “Start at Cavendish and then work your way down through Gardens to the Waterfront.”

      Dis alles vir Xante net name, en sy voel omtrent oorweldig, maar dan onthou sy van die Garmin wat haar pa vir haar gegee het. Daarmee sal sy sekerlik al die plekke kan vind.

      “Gits!” skrik sy skielik op. “Het my kar al hier aangekom uit Johannesburg uit? My pa het gesê hy’t gereël dat dit per trein hierheen kom – ek het totaal daarvan vergeet!”

      “Staan by my ateljee. Ry vanoggend saam in, dan kry jy dit daar. En dan wys ek jou sommer waar jy van volgende week af gaan werk.”

      “Okay, well, then start at the Waterfront and work your way backwards through Gardens to Cavendish!” roep Witness uit die kombuis.

      “Verstaan jy dan Afrikaans, Witness?” roep Xante terug.

      “Amongst several other languages, sweetie. Ek verstaan amper alles nou se dae – as julle hom gewoonweg praat. Dis net dat ek hom nie self so lekker kan praat nie. Ek klink vir myself net soos ’n mamparra as ek Afferkaans praat.”

      “Klink verstommend goed vir my!” sê Xante.

      “Kom, ons moet ry,” verklaar oom Jan, en sy draf eers gou kamer toe om haar kamerasak te gaan haal.

      Toe hulle op die snelweg na Kaapstad draai, sê Xante: “Nou’s ek heeltemal gedisoriënteer. Waar lê Tafelberg van hier af?”

      “Kyk, daar,” beduie oom Jan. “Jy sien van hier af die agterkant van Tafelberg en Duiwelspiek. Dit lyk heeltemal anders as van die lughawe af. En jy kan glad nie Leeukop van hier af sien nie.”

      Xante probeer dié inligting verteer. Van ’n sekere hoek af kon sy al drie berge sien toe sy in die Kaap aangekom het. Nou kan

Скачать книгу