Afstande. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Afstande - Dan Sleigh страница 24

Afstande - Dan Sleigh

Скачать книгу

rooi woestynstof kan hulle nie sien wat aangaan nie. Klearkos laat die regimente omdraai en gereed maak om die vyand te ontvang, maar die koning val hulle nie aan nie. Soos hy tevore agter die Grieke se linkerflank verby gegaan het, ry hy en sy lyfwag met dieselfde pad terug en red onderweg Tisafernes met sy afdeling. Dié satrap het met die eerste ontmoeting deur Menon se peltastai aan die linkerflank gedring sonder om veel skade te doen, want die Grieke het net geledere geopen, sy ruiters deurgelaat en gesteek en gekap soos hulle verbykom. Toe hy sien hoe sy afdeling van die hoofmag afgesny word, het hy hulle nie laat omdraai vir ’n tweede aanval in die Grieke se rug nie, maar voortgejaag tot waar hy die koning se vaandel in die prins se walaer kon sien. Nou kom hulle saam in gevegsorde terug soos oorwinnaars, met basuine en vaandels vooraan.

      Die koning trek agter die Griekse linkerflank verby. Vir Menon se hoplitai lyk dit of hulle omsingel gaan word. Klearkos sien die vyand hier naby, skaars honderd tree weg, en steek sy spies met die rooi lint op. Die hoplitai sing die paean, vervat die handgreep en storm skreeuend vorentoe met die spiese bo die kop, nog meer aggressief as tevore. Xenophon hardloop in die voorste linie van Proxenos se regiment in die plek van ’n gesneuwelde hoplite. Die Persiese ruitery veg weer nie: Hulle perde word ingetrek, deins agteruit, dan draai hulle om en galop weg. Ook die koning en sy bruin lyfwag draai voor hulle weg.

      Oorwinning! Die oorblywende deel van dié middag agtervolg die Grieke die vyand te voet, met hulle stampende, skommelende soldatedraf tot by ’n lae heuwel naby ’n gehuggie met die naam Kunaxa. Klearkos halt sy leër daar, want vir agtervolging is ruiters nodig, en Kuros se ruiters en Arras se voetvolk is nêrens te sien nie. “Drink ’n kwart van julle water,” beveel Klearkos.

      Bo-op die heuwel by Kunaxa, hoër as die hangende stof, staan die koning se lyfwag om hom saamgetrek. Sy banier is daar te sien: op purper, ’n goue leeu met gevoude vlerke. Die heuwel staan met ruiters oortrek terwyl tienduisende Persiese voetvolk verbystroom, agtertoe. En terwyl hulle kyk, ry die koning se ruiters ook weg, en nie in een groep nie, maar in bendes wat in verskillende rigtings vertrek sodat die heuwel geleidelik ontbloot word.

      Klearkos laat die leër wag en stuur verkenners om te weet wat anderkant gebeur. Dit blyk die vyand is in totale aftog.

      “Die Oosterling vermy die geveg as hy kan,” sê Xenophon. “Meer heuning, Neef. Waarom moet hy veg? Die mot sal vanself die kers vind.”

      “Ek dink jy is reg, wyse Sokrates. Maar volgens die boek moet ’n verslane vyand agtervolg word. Net, ek sien nie ons prins of sy ruitery nie.”

      Die Grieke stapel wapens, kampeer waar hulle is en stel die buitewag ’n myl ver op, met een pos bo-op die heuwel. Solank dié dinge gebeur, sak die son rooi agter stofnewels. Die generaals vergader by Klearkos se salpeter-gevlekte perd. Hulle wonder waarom geen boodskapper van Kuros kom nie en raai dat hy nou vooruit jaag om die een of ander belangrike stelling te beset en die koning in te wag, of miskien wag hy al met verversings in die hoofstad op hulle. Hulle bespreek of hulle moet bly waar hulle is en ’n boodskap agtertoe stuur om die bagasiewaens nader te bring, of om na hulle vorige kamp terug te gaan. Die besluit is: marsjeer terug.

      Die son is onder en dit is donker toe hulle by die tente agter die slagveld kom. Die meeste het dié middag nie geëet nie, nou is daar ook nie aandkos nie. Al die bagasie, ook die kos en drank, is weggedra; Arras se vlugtende horde het die veertig waens met gars en wyn gestroop wat Kuros spesiaal teen ’n moontlike skaarste vir sy Grieke gespaar het. Tussen die prisoniers wat in die verdediging van die walaer gevang is, is twee bejaarde amptenare en die koning se persoonlike dokter, ’n Griek genaamd Ktesias. Nadat hulle ondervra is, kry Xenophon toestemming om met Ktesias te praat. Daar kry hy inligting oor die samestelling van die vyand se leër, hulle manier van trek en kampeer, van hulle rantsoene en medisyne. Ktesias en die vernaamste Persiese gevangenes word aan die koning teruggestuur met die boodskap: Laat ons in vrede huis toe gaan, of jy sal dit berou.

      Xenophon skets die slagveld, met die posisies van die verskillende regimente en skryf die afstande waaroor hulle geveg het en versprei was daarby. Só bring hulle die nag op die vlakte by Kunaxa honger en koud deur, met hulle wapens in hulle hande. Die swart nag is maanloos, die hemel kook van die sterre, en hulle hoor jakkalse uit die rigting van die slagveld en later ook nader, rondom hulle eie kamp.

      Die koning se genade

      Lank voor dagbreek, in die koudste tyd van die nanag, staan die generaals om ’n vuur bymekaar. Daar is nog geen tyding van die prins nie. Oggendparade word vroeg gehou, onder fyn miswolke wat oor die rivier dryf. Al die afdelings is daar om te monster, elke offisier is teenwoordig. Behalwe onder die peltastai van die kampwag was die verliese gering en die gewondes is reeds behandel, ’n lae prys vir gister se oorwinning. In dié omstandighede besluit die generaals om op te pak, krygsgevangenes te verdeel, en sonder ontbyt vorentoe te trek om die prins te vind. Met sonop beveel Klearkos hulle om te marsjeer.

      Na ’n paar myl haal twee offisiere van Arras se inlandse ruitery hulle van agter in. Hulle vra na Klearkos, en hy verlaat sy regiment om te hoor wat hulle wil hê; die drietal staan en praat met hulle perde se koppe bymekaar, terwyl Proxenos met die agterhoede aan die windkant verbytrek. Arras, die prins se vriend en tweede in bevel, laat weet dat Kuros dood is. Arras wag in die kamp waarvandaan hulle die vorige oggend vertrek het, met omtrent negentigduisend inlandse troepe en sal die dag daar bly om te kyk of die Grieke by hom wil aansluit, maar die oggend daarna gaan hy terug Sardis toe waar hulle opmars begin het.

      Klearkos antwoord die boodskappers: “Sê aan Arras ons het die koning verslaan, en soos julle hier sien, agtervolg ons hom. Daar is geen weerstand nie. Sê aan hom dat as hy saamkom, sit ons hom op die troon van Persië.”

      Klearkos laat die generaals roep, hulle moet die nuus van die prins se dood aan hulle kapteins vertel, maar voorlopig nie aan die soldate nie. Hy sit sy hand oor sy neusgate, blaas stringe slym en stof in sy palm en vee dit aan sy bobeen af. “Dit is ’n nuwe set van hierdie duiwels. Mooier kan dit nie. Twee vrywilligers, om by Arras te gaan hoor wat waar is. En hulle waag waaragtig hulle lewe.” Sy stem is sonder emosie. Die gevoel van triomf is nog in hulle; as hulle later treur sal dit oor hulself wees, hulle gevaar, hulle verlies, hulle kommer oor ’n toekoms wat skielik ’n skemerkleur gekry het.

      Twee generaals, Keirisofos en Menon, ry saam met die boodskappers weg om Arras se antwoord te ontvang. Veral Menon is bly om te gaan; hy geniet Arras se geselskap.

      Die leër word weer langs die Eufraat tot halt gebring en verdaag. Dit is waar hulle moet wag. Alles word nogeens afgepak. Twintig man uit elke regiment en ’n priester word met waens na die slagveld toe teruggestuur om pyle, skilde en die oorblyfsels van strydkarre vir brandhout te haal, en as hulle Griekse lyke vind, hulle behoorlik te begrawe.

      Die generaals laat slag van die esels en pakosse en die soldate soek iets te ete bymekaar, en braai met wrakhout van die slagveld af die vleis vir ontbyt. So rus hulle en kry die eerste keer in twee dae iets te eet, maar daar is ’n stilte in die kamp en die kos is smaakloos en droog in die mond, asof hulle as eet.

      Omtrent die middel van die oggend daag ambassadeurs van koning ArtaXerxes met ’n herout en ’n berede geleide op, net toe Klearkos begin om te offer. Die buitewag ontvang die herout se ampstaf van eboniet met goud ingelê. Daar is baie goud te sien aan klere, sierade en hulle perde se tuig. Vyf is Perse, die sesde is Palinus, ’n swartgeklede Griekse tolk in satrap Tisafernes se diens. Hulle wil met die generaals praat.

      Klearkos kom bebloed van die altaar en wink hulle nader. En Xenophon gaan saam; hy moet hoor wat hier gesê word. Dit is oomblikke van geweldige belang, vir hom, vir die leër, vir die vaderland en die wêreld. Apollo van Afstande sê dit aan hom, in sy gedagte.

      Palinus is ’n lang, regop man, dit is jammer dat so ’n Griek vir die vyand werk. Hy kyk van sy hoogte op Klearkos neer en sê: “Die koning het

Скачать книгу