Afstande. Dan Sleigh
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Afstande - Dan Sleigh страница 28
![Afstande - Dan Sleigh Afstande - Dan Sleigh](/cover_pre705703.jpg)
Tisafernes verskyn nie die volgende dag of die dag daarna nie, sodat die Grieke begin bekommerd voel, maar op die derde dag kom hy en die koning se skoonseun weer. Klearkos nooi hulle na die generaals se tent en bied hulle wyn aan, maar Tisafernes wys dit van die hand. Hy wil ook nie sit nie.
“Die koning het my die werk gegee om julle te red,” sê hy. “Baie adviseer ten sterkste daarteen. Hy beloof vrygeleide deur sy land en ek bring julle tuis in Griekeland. Julle kry oral geleenthede om kos te koop, en waar nie ’n mark is nie mag julle teen behoorlike betaling kos van die lande versamel. Net die lug, die water en die pad landuit is verniet.”
So word besluit. Die Grieke giet wyn op die grond en Tisafernes en die koning se skoonseun steek die regterhand na die Grieke uit en sweer by Zeus en by Ahura-Mazda.
“Nou gaan ek na die koning toe,” sê Tisafernes. “Oor ’n paar dae kom ek weer, gereed om julle huis toe te begelei en na my satrapi in Wes-Asië terug te keer. So kom daar weer orde.”
In die groen, koel dorpies ontmoet Xenophon van die Joodse slawe en vra hulle met ’n tolk se hulp uit, maar hulle is bang. Die koning se Oog is oral, is wat hulle aan die tolk sê. Die tolk verduidelik dat die mense nakomelinge van ontheemdes is, wat nie hul god in ’n vreemde land kan dien nie, nie hulle feeste kan vier nie en gedurigdeur meer van hul taal vergeet. Al wat hulle het, is stories van ’n outyd, eeue gelede.
“Ek verstaan,” antwoord Xenophon. Atheners voel ook só, onder Sparta se koue hand.
Terwyl hulle op die satrap wag, vra die rustelose soldate aan hul offisiere of dit sin het om hier te bly sit. “Die koning het ons gevang,” sê ’n Athener, bles maar ruig bebaard. “Sal hy ons laat leef om te vertel hoe ’n paar van ons die Groot Koning verslaan en veilig die huis gehaal het? Op dié oomblik ry sy mense die land vol om ons voor te lê, vestings te bou en slote oor ons pad te grawe.”
“Ons het ’n heilige eed gesweer,” probeer Klearkos die ongemaklikheid verredelik. “Waarom sou hy ’n eed van ons verwag en die regterhand in vriendskap gee, net om meineed te pleeg en sy woord in die oë van die wêreld waardeloos te maak?”
Keirisofos, een van die minder siniese Spartane, sê: “ ’n Set. Hulle sal met ’n hond ’n eed sweer om hul sin te kry. Laat ons eerste aanval, en hierdie satrap gyselaar neem. Daarna bloed vir bloed.”
“Kyk, ek voel soos julle,” sê Klearkos, “maar wat hier voorgestel word, is ’n oorlogsverklaring. Dit doen ons wanneer die toestand desperaat word. Arras gaan ons verlaat, dan het ons nie langer vriende in dié land nie, ons gaan nie kos te koop kry nie en moet vir elke mond vol baklei. Ons het nie gidse nie, en ek weet nie hoeveel riviere ons moet oor nie, maar ons sal nie oor die Eufraat kom met een vyandelike leër agter ons en nog een wat oorkant wag nie. Ons het ook geen ruitery nie, terwyl die koning se ruiters en hulle kennis van die terrein juis sy grootste bates is. Dink daaraan, en wees geduldig.”
Dít sê Klearkos meer as een keer op parade om hulle te kalmeer.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.