Afstande. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Afstande - Dan Sleigh страница 26

Afstande - Dan Sleigh

Скачать книгу

kant, ’n heilige eed om mekaar nooit te verraai nie. Hulle brand doringhout tot as, offer ’n bosvark en ’n wolf en giet duur wyn op die sand.

      Vir Arras is dít nog nie genoeg nie: Hy dring aan om ’n tweede eed met Klearkos te sweer, dat hy wat Arras is die Grieke, sonder verraad, huis toe sal lei. Vir dié eed word ’n wit perd geslag: Sy bloed spuit in ’n kavalleris se borsplaat. Arras doop ’n Persiese sabel daarin, Klearkos doop sy swaard, en hulle kruis dit oor die springende vlamme om die wapens met vuur te suiwer.

      Vir die Pers is dít ook nog nie genoeg nie: Hy was sy hande in die bloedbak en steek hulle na Klearkos uit. In die vuurlig lyk Klearkos se ruie gesig monsteragtig van moegheid en verwaarlosing toe hulle mekaar die hand gee en op die wange soen.

      Klearkos sê: “Wel dan, Arras, ons is almal op dieselfde weg. Ons moet see toe. Gaan ons soos ons gekom het, of ken jy ’n beter pad?”

      Arras vee die koue as van sy sabel in sy handpalm af, vee sy hand oor sy mond. “Ons gaan omkom van honger as ons trek soos ons gekom het. Eers het Abrokomas die land gestroop, toe trek Kuros daardeur, nou is daar net stof en sprinkane oor. Ek dink aan ’n roete wat heelwat langer is, maar nêrens sonder voorraad nie. Ons moet ons eerste dagmarse so lank moontlik rek om vóór die koning te bly. Ek hoor hy soek ons, en as ons twee of drie dae kan vóórbly, sal hy ons nie inhaal nie en ons kom elke keer eerste by die proviand.”

      “Goed. Ons kan ooreenkom.”

      “Maar nog een seël op al ons ede, Klearkos. Daar lê koue nagte voor waar ons gaan. Ek het ’n besonder mooi poppetjie gesien net voor ons uit die prins se laer padgegee het. Nog nie vyftien nie. Sy was so haastig om weg te hardloop dat ons haar nie kon vang nie. Nou ja, Klearkos, jy het haar en ek wil haar graag hê. Ek gee jou twee in ruil vir haar.”

      “Nee.”

      “Wat wil jy vir haar hê? Ek het perde, honde, renosterhoring.”

      “Vergeet dit.”

      “Loot?”

      “Ek is nie ’n koppelaar nie.”

      “Kom, ek kan dit nie uitveg teen jou nie. Sê wat jy vir haar wil hê. Of meer prinslik, ’n paar potte skaak? Beste uit drie. En ’n hoeveelheid goud.”

      “Nee,” sê Klearkos, met ’n kort handgebaar oor die vuur. “Lei voort, Arras. Jy het gesweer met bloed en vuur en handtasting. Die vrou kry haar vryheid. Sy was nooit buit nie. Maak haar die hof as jy haar wil hê.”

      Dagbreek vertrek hulle van die staanplek aan die Eufraat met die son aan die regterhand, om miskien voor die aand dorpies met proviand en hout te bereik. Hulle rus twee keer by strome om te drink, maar vind min om te eet. Laatmiddag hang spieëlbeelde van ruitery onderstebo in die lug bo die horison. Arras, in ’n kar agter sy leër, laat stilhou en gespe harnas aan. Van die Grieke wat nie in hulle regimente marsjeer nie, hardloop om by hulle goed te kom. Die verkenners se leiertjie kom terug: Die beelde is verwronge, dit is pakdiere wat sonder wagte by die rivier wei. Daar is heelwat rook uit huise in die verte; die koning se leërkamp is naby. Die verkenner stel voor dat hy van die pakdiere probeer vang en die koning uitlok om hulle aan te val, maar die generaals is eenparig daarteen. Die troepe is moeg, was lank sonder kos, dit is amper nag.

      Hulle marsjeer reguit op die dorpies af, en die son is al onder toe die voorhoede die gehugte haal. Dit lyk of al die hutte se oë uitgesteek is, rame en luike is uitgebreek en hulle vind geen ander vuurmaakhout nie. Die voorhoede het tyd om behoorlik kamp te maak, maar afdelings wat later opdaag, moet plek kry waar hulle kan.

      Die verkenners rapporteer dat die koning se wagvure in die rivierbedding vlak agter die laaste huise brand. Daar is geen maan nie, en in die donker maak die onderoffisiere ’n groot geraas soos hulle heen en weer skreeu en na mense roep om hulle afdelings in orde te kry. Daarna lê hulle honger en neerslagtig op sand wat vinnig sy hitte verloor.

      Hulle probleme maak hulle senuweeagtig. Daar is van die vorige nag af nog nie geoffer nie. Die koning se leër lê geen myl van hulle af nie. Hulle is sonder vriende in ’n dor streek, sonder skuiling in die stikdonker hart van die vyand se land en ’n skrikwekkende afstand van die see af. Hul ekspedisie het misluk, al die beloftes van beloning en verwagtings van buit, alle hoop op rykdom is weg. Al wat oor is, is vrees, dreigende gevegte, uitputtende marse, maande se honger en gesukkel.

      In die nag gil iemand, moontlik in sy slaap, en ’n wag skreeu ’n waarskuwing, onderoffisiere skrik en skreeu bevele om aan te tree, offisiere roep om harnas en fakkels. Mense hardloop deur die donker. Helms en swaarde en skilde kletter teen mekaar. Dit is ’n deurmekaar rondvallery wat amper op paniek uitloop.

      Klearkos beveel sy herout om te roep. “Die generaals bied ’n beloning van een talent silwer vir die naam van die dwaas wat sy muil tussen die wapenrakke losgelaat het,” skreeu hy die geharwar in. Toe hulle dit hoor, lag die soldate, en besef die alarm was ongegrond.

      Dagbreek paradeer die Grieke in die vertroude formasie waarin hulle by Kunaxa geveg het. In Arras se kamp, sien hulle, word ook parade gehou. Klearkos praat hulle moed in en wys op hulle suksesse. Hy sê dat daar die oggend nie ’n kamp of rook of ’n vreemde pakdier in die omgewing te sien is nie, en dat dit duidelik is dat die koning hulle oproer gehoor, groot geskrik en padgegee het. Daarna offer hy namens hulle aan Apollo die Verlosser. Die tekens aan die offerdiere is ongunstig, maar hulle kan nie daar bly nie, en hy vertel aan die leër die tekens lyk goed vir nog ’n dagmars vorentoe.

      Proxenos vra aan Xenophon, terwyl hulle oppak vir nog ’n dag se mars in die mismoedige stoet: “Wou Arras ons miskien gister in ’n lokval gelei het, so na aan die koning se kamp?”

      “Toe skrik sy lokval vir ons en hardloop weg? Onwaarskynlik.”

      “Arras word gebind deur ’n driedubbele eed van sy eie maaksel,” sê Proxenos.

      “Dan weet jy wat dit werd is.”

      “Ek hoor by die kapteins dat toe ons gisteraand hier by Arras aankom, het daar kort tevore ’n ding gebeur. Sy kok het ’n kalf op ’n rooster oor die kole gespan, met ’n Egiptiese slaaf om dit op te pas. Toe kom Arras se honde om die vuur ruik, die bruin jaghonde wat aan Kuros behoort het, en die slaaf skop na een, en toe die hond wegspring, draai hy om en skop weer daarna. Maar toe skrik hy, want daar sit Arras op sy groot perd vlak agter hom, en hy lyk glad nie gelukkig nie. Arras het net ’n paar woorde gepraat, toe vat sy lyfwag die slaaf en span hom op die rooster oop vir sy honde se aandkos.”

      Die ooreenkoms

      Terwyl die leër nog op parade staan, gebeur iets vreemds. Ambassadeurs van die Goue Troon meld by die buitewag aan. Gister het die koning hulle wapens geëis, vanoggend wil hy onderhandel.

      Klearkos laat antwoord: “Sê dat Klearkos sy parade inspekteer. Hy kom wanneer hy tyd het.”

      Hy doen die hele parade oor om die ambassadeurs te laat wag, eers die inspeksie en rapporte deur offisiere, dan laat hy linies sluit en rig en die leër van tienduisend man tot vlak voor hom opmarsjeer. Toe hulle met skilde teen die knieë en spiese in rus staan, wens hy hulle geluk met hulle vertoning en maak ’n paar aankondigings vir die dag oor afstand, spoed en die gebruik van rantsoene.

      Vir Xenophon lyk die leër uitstekend. In watter rigting hy ook kyk, sien hy reguit rye van brons spiespunte en gepluimde helms. Almal is vuil, luisbesmet, stink en honger, maar as ’n eenheid is hulle ’n vreesaanjaende instrument. Hy stoot sy bors effens uit en dank Apollo dat hy daar kan wees. Die hegte massa gewapendes onder swart helmkamme maak

Скачать книгу