In ruil vir my hart. Annie Mouton

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу In ruil vir my hart - Annie Mouton страница

In ruil vir my hart - Annie Mouton

Скачать книгу

n>

      

      In ruil vir my hart

      Annie Mouton

      Melodie

      1

      Met haar bene reguit en haar hakke op die mat, sit Sonja op die armleuning van die leerrusbank. Sy proe-proe aan haar koffie sonder om die beker voor haar gesig te laat sak. Al weet sy dat die mense daar buite nie deur die getinte ruite van hul woonkamer kan sien nie, voel sy tog meer verskans agter die beker se rand.

      Die sekuriteitswagte het die spul mense darem nou uit die tuin en het hulle laat saambondel buite die skuifhekke by hul voertuie wat die hele straat en oprit vol staan. Van die tuin op die sypaadjie sal seker nie veel oorbly nie. Hier en daar is een wat tog maar foto’s van die drieverdiepinghuis neem, en sy sien ook dat die televisiekamera, skuins oor die aanbieder se skouer gedrapeer, op die huis gemik is en dat die aanbieder in haar mikrofoon praat.

      Sonja leun agteroor en kry die afstandbeheer om die televisie aan te skakel.

      “… voor die huis waar Werner Britz saam met sy dogter, Sonja, gewoon het ten tye van die skietvoorval. Sy was nie saam met hom in die motor toe daar met AK47’s op Werner Britz, sy vennoot, Barend de Groen, en twee onbekende vroue losgebrand is nie. Al vier die insittendes is noodlottig gewond en het op pad na die hospitaal beswyk. Die identiteit van die twee dames kon nog nie bepaal word nie …”

      “Jy kon dit ook maar net sowel gesê het!” snou Sonja die aanbieder op die TV-skerm toe. “Al die koerante het dit al uitgebasuin dat die twee moontlik betaalde gesellinne was. Niemand dink daaraan wat dit aan daardie vroue se familie doen nie. Of aan die reputasie van die slagoffers nie. Julle oorweeg nie eens die voor die hand liggende moontlikheid dat dit gewoon ’n sakeafspraak kon gewees het nie!”

      Maar dan sou iemand hulle geken en na vore gekom het, begin daardie stemmetjie in haar binneste weer karring. Of die maatskappy waarvoor hulle gewerk het, of ’n sekretaresse êrens – iemand, enige iemand, sou geweet het van die afspraak.

      Nou weet niemand wie die twee vroue was nie. Kon sy regtig so blind gewees het? Is dít die eintlike rede waarom haar pa nooit eens belang gestel het in ’n verhouding met enige vrou na haar ma se dood nie? Waarom Barend, haar pa se vriend en vennoot, van sy vrou geskei is? Waarom sy oornag verdwyn het en “terug is na haar ma toe”, soos Barend altyd smalend na Sanet en hul skielike egskeiding verwys het? Hy was mal oor sy herwonne vrygeselstatus, en het nie geskroom om dit uit te basuin aan almal wat dit wou hoor of nie wou hoor nie, veral as daar ’n aantreklike dame binne hoorafstand was.

      Waarom het sy nou weer die televisie aangeskakel? Sy is sommer vies vir haarself. Dalk in die hoop om meer duidelikheid te kry? Maar soos elke keer wat sy tot dusver geluister het, word niks nuuts aangekondig nie.

      Sonja het die hele storie al soveel maal gehoor dat sy nie meer regtig luister na die nuusberig nie. Haar gedagtes strompel deur die chaos wat eens, nie so lank gelede nie, haar bedrywige maar beskutte lewe was. Kan dit wees dat dit maar drie weke gelede was dat Pappa, soos hoeveel ander oggende, met sy tas by die voordeur uitgestap en na die kantore van Britzgroen in Meiringstraat gery het?

      Genadiglik het die pers en die polisie eers ná die begrafnis begin met die vrae en aantygings. Daar was wel nuusberigte van die vier mense se dood, maar soos sy, het almal eers gedink dit was net nog ’n motorkaping wat sleg skeefgeloop het.

      Tot kort na die begrafnis.

      Toe is daar skielik soveel vrae rondom die twee mans se optrede, hul handelsvennote en al hul transaksies. Dit voel vir haar asof selfs die eenvoudigste vergadering met die bekendste sakemanne nou skielik bevraagteken word. Veral hul verbintenis met regeringsamptenare van Suid-Afrika en ook uit die buiteland word van alle kante onder die loep geneem.

      Sonja kon sien dat die speurder wat haar ondervra het haar nie geglo het toe sy sê dat sy niks van haar pa se besigheid af weet nie. Dat sy nie die vaagste benul het waarmee hy besig is of met wie hy elke dag afsprake het nie.

      “Hoe is dit moontlik dat u niks van u vader se doen en late weet nie? U was tog baie maal aan sy sy – ek het immers al self van die foto’s gesien wat by onthale geneem is.”

      “Wanneer ek en my pa ’n funksie saam met ander sakemanne bygewoon het, was dit bloot sosiaal. Ek is nooit betrek by hul beplanning of onderhandelinge nie. Natuurlik het ek geweet wat sy verskillende ondernemings doen, maar presies wat by elkeen aan die gang was en wat sy daaglikse agenda was, weet ek nie. Waarom vra u nie dié vrae by sy kantoor nie? Sy sekretaresse en die ander personeel sal tog sekerlik weet wat aan die gang was?” het sy half ergerlik gevra. Die man se hele houding was besig om haar om te krap. Hy was nie net ongevoelig en onsimpatiek oor haar verlies nie, maar sommer blatant ongeskik en beskuldigend.

      “O, ons sal. Sodra ons sy sekretaresse kan opspoor, sal ons,” het die ondersoekbeampte belowe. “Sy is glo met verlof – op reis êrens in Namibië waar geen selfoonontvangs is nie. Die res van die personeel sweer dat hulle net daar is om administratiewe werk te doen en dat hulle niks van hul base se doen en late weet nie.”

      Hy het deur sy boekie geblaai, ’n doelbewuste, goed geoefende beweging wat hom seker na ’n groot speurder moes laat lyk het. “En nou wil ek met die res van die personeel in die huis ook praat, asseblief. Ek is seker hier is ’n hele paar hande wat hierdie yslike plek in stand hou?”

      Dit was vir haar duidelik dat hy beslis nie in Suid-Afrika leer Engels praat het nie, omdat hy sy Amerikaanse Engels met soveel gemak gepraat het.

      “Ja, hier is, maar ek het al die mense wat hier werk huis toe gestuur die dag ná die begrafnis. Ek sal vir u hul adresse gee.”

      “Al die mense huis toe gestuur?” Die insinuasie in die vraag het haar bloed laat kook.

      “Inspekteur, kan ek asseblief u bevelvoerder se naam en telefoonnommer kry?” Sy het ’n pen en papier na hom uitgehou. “Sy direkte lyn, nie die stasie se nommer nie, asseblief?”

      “Om wat mee te maak?” wou hy weet en het agterdogtig na die stuk papier gekyk.

      Sy het nie geantwoord nie en haar hand net so uitgestrek voor hom gehou, totdat hy die papier gegryp en die nommer neergeskryf het, met ’n onderlangse gebrom dat ryk mense altyd dink hulle moet anders behandel word as ander kriminele. Hy het skoon vergeet van die rol van die groot Hollywood-speurder wat hy besig was om te vertolk.

      “… het die polisie aanvanklik gedink dat dit ’n kapingspoging was wat skeefgeloop het. Maar dit het intussen aan die lig gekom dat daar heel moontlik veel meer skuil agter die aanval op die twee bekende sakemanne en hul gesellinne. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, en die polisie se ondersoek duur voort. Werner Britz se enigste oorlewende familielid, Sonja Britz, die model wat veral naam gemaak het met ’n sjampoe-advertensie, wou tot dusver niemand te woord …”

      Met die druk van ’n knoppie maak sy die aanbieder stil. Sy hoef nie daarna te luister nie. Wat op die aarde wil hulle hê moet sy vir die pers sê? Sy het nie eens antwoorde vir haarself nie!

      Hier sit sy soos ’n gevangene in haar ouerhuis. Sy kan haar kop nie by die deur uitsteek sonder dat die nuushonde haar bestorm en ’n mikrofoon in haar gesig druk nie. Haar telefoon het sy lankal reeds van die mikkie afgehaal. As sy net aan ’n manier kan dink om ongesiens hier uit te kom. Hulle kan maar voor die huis kampeer, sy gee nie om nie, solank sy net nie meer hier binne hoef te sit nie.

      Daar móét ’n manier wees.

      Daar sál ’n manier wees.

      “Albert?”

Скачать книгу