In ruil vir my hart. Annie Mouton

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу In ruil vir my hart - Annie Mouton страница 4

In ruil vir my hart - Annie Mouton

Скачать книгу

      “Waarom kyk jy so in die truspieël? Volg iemand ons?”

      “Nee, dit lyk darem nie so nie. Ek gaan nog een maal om die blok ry, net om seker te maak, en dan gaan ek by ons agterste hek inry. Niemand sal die kombi agter daardie mure kan sien nie.”

      “Petro, ek gaan nie by julle bly nie. Dis nie billik nie. Julle sal ook soos misdadigers moet begin rondsluip.”

      “Jy weet dat nie ek of Albert sal omgee om jou daar te hê nie.”

      “Ja, ek weet, en baie dankie daarvoor. Maar ek wil jou net by jou huis aflaai en dan wil ek die pad vat.”

      “Met daardie mondering?” lag Petro. “Jy sal minder aandag trek as jy poedelnakend deur die straat loop as met daardie klere.”

      “Oukei, dan eers na julle huis toe. Dalk moet jy gou my hare knip …”

      “Nee!” keer Petro vinnig. “Jy kan dit mos nooit doen nie!”

      “Ja, juis my hare. Almal ken my aan my lang, blonde hare. Ek dink jy moet sommer my kop blink skeer, dan sal niemand my herken nie.”

      Dit neem ’n hele rukkie voordat Petro sê: “Jy is natuurlik reg, maar ai, dis hartseer …”

      “Dit sal mos weer groei, man! En dis ook nie asof ek ooit weer in ’n sjampoe-advertensie sal verskyn nie. My dae van model wees en toneelspeel, is vir goed verby. Ek sal totaal van die radarskerm af moet verdwyn as ek wil hê mense moet vergeet dat ek Werner Britz se dogter is.”

      “Wat is jou planne? Waarheen wil jy gaan?”

      “Ek weet nog nie, en al het ek geweet, sou ek jou nie sê nie. As die polisie of enigiemand anders jou of Albert ondervra, kan julle in alle eerlikheid sê … Oppas!”

      Maar dis te laat. Petro het die stofbesmeerde bakkie wat oor die rooi verkeerslig ry ook te laat gesien.

      Sy trap met mening rem en Sonja voel hoe die kombi oor die teer skuif. Met wydgesperde oë en asof die toneel in stadige aksie voor haar afspeel, sien sy hoe hulle tot teen die ander voertuig gly. Dit voel vreemd verwyderd van haar, so asof sy nie betrokke is nie. Selfs toe sy die slag hoor en voel hoe hul paneelwa die bakkie tref, is dit nog nie ’n werklikheid nie.

      Haar nek ruk vorentoe en haar neus en voorkop tref die voorruit. Feitlik onmiddellik proe sy bloed. Die bloedsmaak in haar mond maak alles skielik werklik.

      Tjankend beland die twee honde op ’n hoop agter teen haar sitplek.

      “Jou vervlakste idioot! Kan jy nie sien as ’n robot rooi is nie! Uit watter gat het jy gekruip?” hoor sy Petro met die ander bestuurder raas.

      “Ek is jammer …”

      “Jammer se g- … gedagte, man! Kyk hoe lyk my vriendin van die bloed!”

      “Ek was ingedagte en het nie die lig gesien nie. Ek het verdwaal …”

      “Wat is jou naam? Waarom bly jy nie in die Noord-Kaap nie? Daar waar jy vandaan kom, is seker net drie karre op die pad!”

      “… soek na Meiringstraat … het nie gesien nie …” probeer die diep stem verduidelik, maar aan Petro is daar geen keer nie.

      “Staan net daar! Ek wil die polisie bel. Sonja, waar is my selfoon? Is jy orraait?”

      “Ja, dis net my neus. Jy kan nie die polisie bel nie. Kom klim in dat ons ry voor iemand anders stop en vrae vra. Hulle sal dink ons het uit die sirkus ontsnap!”

      Petro se oë rek. “O ja, ek het skoon vergeet. Maar kan ons net so –”

      “Ja, ons moet wegkom. Kom nou! Niemand het te seer gekry nie, en sy bakkie is nie te erg beskadig nie. Klim in dat ons ry!”

      Iemand klop aan Sonja se venster.

      Sy kyk vinnig om. Reguit in die twee blouste blou oë wat sy in haar lewe nog gesien het. Uit sy byna swart hare loop ’n dun straaltjie bloed teen sy slaap af.

      Onwillekeurig draai sy die ruit verder af.

      “Nog een?” vra die diep stem van die grootste man wat sy nog ooit gesien het. “Is julle in ’n konsert of iets?” vra hy met ’n ligte frons.

      Sonja antwoord nie. Sy kan nie antwoord nie.

      “Laat ek sien wat bloei so?” sê-vra hy en steek sy hand uit na haar gesig. “Ek is regtig jammer.”

      ’n Baie groot hand raak liggies aan haar ken en draai haar kop sodat hy mooi kan kyk na die oorsaak van die bloed aan haar gesig. Met sy ander hand haal hy die oorgroot bril af.

      Sy kom tot verhaal, trek haar gesig terug en druk die bril weer vinnig oor haar oë.

      “Oppas, meneer, ons is baie haastig.” Sy druk die groot hand weg van haar gesig. “Ry, Petro! Totsiens … e … ons is klaar laat vir die konsert.”

      “Maar …” sê die reus met die blou oë en Petro tegelyk.

      “Ry!” beveel Sonja só skerp dat die man terugstaan en Petro onmiddellik wegtrek.

      Burger Vollgraaff kyk die kombi met ’n skuins gedraaide kop agterna. Ingedagte steek hy sy hand in sy hare bokant sy slaap en bekyk die taai, rooi vingers.

      Hy vee sy hand aan sy broek af.

      Ook maar goed die twee meisies met die lawwe konsertklere was baie haastig, want as hy nou nog by al dié drama vertraag moes word deur ’n lang verslag en ’n ondersoek na die ongeluk, sou hy die blouaapstuipe kry. Hy kan wraggies nie bekostig dat daar nog iets in sy lewe verkeerd loop nie.

      Jislaaik, daardie enetjie wat bestuur het, is kwaai! Maar die ander een het die hartseerste oë. Waarom was dit so opvallend? Waarom het hy dit raakgesien?

      Haastig loop hy na sy bakkie toe die ander motoriste ongeduldig begin toeter. Dit sal nie help hy staan en talm hier tot daar wel ’n verkeersbeampte opdaag nie. Hy moet by die kantoor van daardie skelms kom.

      As die geld wat hy vir die verpakkingsmateriaal geleen het, nou saam met die maatskappy se ander bates bevries word, is hulle boerdery onderdeur. Die verpakkingsmateriaal is betaal, maar dis nog nie afgelewer nie. Die druiwe is behandel, reg vir die uitvoermark, die oes lyk belowend. Die splinternuwe sinkdak van die verpakkingsaanleg en koelkamers staan en blink in die Noord-Kaapse son.

      Maar sonder die verpakkingsmateriaal sal hulle nie ’n enkele tros druiwe kan uitvoer nie, want geld vir ander kartonnetjies is daar nie. Hy het vir sy pa en sy broer gesê hulle moet vergeet van die uitvoerbedryf, maar dié twee hardekoppe wou nie na hom luister nie. Hy is mos die jongste, wat sal hy tog weet.

      Waarom hulle juis met daardie gladde vent moes sake doen, weet hy ook nie. Daar is mos meer bekende uitvoerders wat hulleself reeds bewys het. Toe hy dit durf waag om sy pa-hulle te waarsku dat die man net te glad is en te vinnig beloftes maak, het hulle hom met ’n minagtende handgebaar stilgemaak.

      Maar toe die nuus van die twee mans se dood rugbaar word en niemand by hul kantoor iets kan sê van die Vollgraaffs se geld, of die verpakkingsmateriaal, of die uitvoerooreenkoms

Скачать книгу