Katryn van die klipdassies. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Katryn van die klipdassies - Maretha Maartens страница 4

Katryn van die klipdassies - Maretha Maartens

Скачать книгу

in direkte verhouding tot die omvang van die probleme op Müllerhof, by die spa’s of in LeanRLeanest se laboratorium en pakskuur.

      Ma, weer, begin so lyk soos wat sy lyk. Ma word eers vir ’n onbepaalde tyd stil. Sy smeul soos ’n vulkaan. Dan bars sy uit.

      Vir ses maande – vandat die eerste berigte oor Rhoda Swanepoel se lewervergiftiging en -versaking in die Sondagkoerante verskyn het – het Ma gesmeul. Toe die Medisynebeheerraad toeslaan en LeanRLeanest Laboratories elke dag verdere dagvaardings ontvang van die regsverteenwoordigers van verslankers met lewervergiftiging, leweratrofie, nierversaking of dreigende nierversaking, het dit nog erger geword. Soms het die gedagte deur my kop gegaan: Wie is dié vreemdeling? Dan skrik ek my boeglam: die vreemdeling was my ma.

      Wat sy in daardie tyd in haar en Pa se vleuel van die huis kwytgeraak het, het nie een van ons geweet nie. Kleiner uitbarstings het sekerlik reeds daar aan die noordekant van die huis voorgekom. Soggens, wanneer die veiligheidsdeur tussen die hoofslaapkamer en die res van die huis oopgaan, het Ma gelyk asof sy self reeds maande lank verslank met New LeanRLeanest Hoodia – met sy tot dusver sorgvuldig versweë toevoeging van nitrosofenfluramien, sibutramien en fenfluramien.

      Brian het een oggend, toe sy besonder sleg gelyk het, gesê sy steier asof ’n persoonlike afrigter wat nie weet sy is dié Frieda Müller nie, haar twee uur lank in een van haar eie Stadspa’s se stoomkamers toegesluit het.

      Ma wás waarskynlik onbewus van die feit dat Pa toestemming aan meneer Lin Yu gegee het om die geregistreerde formule te verander. Ma reis nie altyd saam wanneer Pa formules met die hoof van LeanRLeanest se laboratorium in Shanghai gaan uitsorteer nie. Pa is nie ’n man vir argumente nie, en Ma is ’n uiters versigtige vrou. Sy sou dié riskante plan om die verslankingsmark ná LeanRLeanest se groot insinking in 2007 te herower, met al die angstigheid in haar teëgestaan het. Sy sou die groot sakebeginsel aangaande emosionele beheer verbreek het – eintlik maar die ou beginsel wat in elk geval met verloop van jare tot die nommer-een-reël in my ouers se toenemend disfunksionele huwelik opgegradeer is.

      In die middel van Brian se toesprakie het my ma se selfoon gelui, uitdagend, natuurlik. Voor die aanvang van die drama rondom LeanRLeanest se verslankingsprodukte, moes haar persoonlike assistent gereeld vir haar interessante luitone van die internet aflaai. Queen se “I want it all” is ’n nalatenskap uit daardie tyd. Ma het haar persoonlike assistent verloor, maar die luitoon behou.

      Dit was eintlik so tragies om te sien: Ma het bang geword vir haar eie selfoon. Dis asof sy dag en nag oproepe van oor die hele wêreld verwag, almal dreigemente of kennisgewings van dagvaardings.

      “Dié tyd van die nag?” het Ma gefrons. Sy het die Freddie Mercury-klingel met ’n beweging van haar beringde vinger stilgemaak en die plat foontjie teen haar oor gedruk. “Eggert?”

      Ek het haar hoor sug.

      Arme Ma. Brian het sy kop meewarig agter haar rug geskud en sy oë gerol. Senuweewrak, het hy lyftaal gepraat.

      “Ons is nog in vleuel C,” het Ma vir Pa gesê. “Ons dra net die sakke uit, dan sluit ek toe. Hoekom skink jy nie vir jou ’n tot whisky nie?”

      Pa het iets gesê, want sy het skielik erg gefrons. “Wát?”

      Sy het in die rigting van die buitedeur geloop en sag gepraat: “Dis die hele voorraad van die vyf en twintigste en die nege en twintigste, Eggert. Jy weet dit het nog nie geskuif nie. En oor ’n paar uur is die ondersoek-beampte hier en –”

      Pa moes haar in die rede geval het met iets wat sy nie verwag het nie, want sy het haar kop skeef gedraai en met ’n diep keep tussen haar oë op een plek bly staan.

      “Wát?” het sy weer gesê. “Kyk, Eggert, moenie vannag met daardie storie by my kom nie. Ek is moeg, doodmoeg. Jy is maar net oorspanne.”

      Pa het bly terugpraat.

      “Ek sal kom luister as ek toegesluit het,” het Ma gesê en haar selfoon toegeklap. Dit was duidelik dat sy die gesprek summier beëindig het.

      “Wat is dit met Pa?” het Bert gevra.

      “Hy voel nie lekker nie,” het Ma kortaf gesê.

      “Wie van ons voel lekker?” het Bert gesê. Hy het die vullissak met platgetrapte kapsules toegeknoop en dit op die hoop sakke teen die binnemuur by die deur gegooi. “Maar nou ja, by LeanRLeanest is –”

      “Kom ons kry die sakke in die trollies en kom almal in die bed,” het Brian ’n volgende botsing probeer afweer. “Gee hier, Katryn. Jy cope nie.”

      “Ek gaan maar op na Pa toe,” het Ma dof gesê. “Sluit die veiligheidsdeur en skakel die ligte almal af.”

      Ek weet nie waarom nie, maar ek het skielik geweet Pa het nie om dowe neute gebel nie. Ek het Ma agternagekyk en intuïtief geweet daar lê ’n slapelose nag vir haar voor. Nóg een.

      2

      Ek het op die kant van die dubbelbed gesit en ek kon my kop op ’n blok sit dat selfs my nagklere na vars hoodia ruik: effens bitter, effens komkommeragtig. En na ’n duisternis ander kruie wat op die niere inwerk. Die LeanRLeanest-kapsules se kenmerkende reuk was die hele kamer vol.

      Ek het tam opgestaan en die venstertjie aan die westekant van die woonstel ook gaan oopmaak. In die badkamer het Brian met mening gestort en ek het geweet hoekom.

      Miskien was ek net baie moeg, of dalk het iets wat met moegheid niks te make gehad het nie, daardie aand in my uitmekaargeval.

      “Ek gaan nou slaap!” het ek geroep en met ’n trampolienwip plat op my rug op die bed neergebons.

      Die gedruis van die water uit die stortkrane het verstil. Brian het my deur die badkamerdeur en die gedruis gehoor.

      “Ek stort dan!” het hy verwytend geroep.

      “Stort so lank jy wil,” het ek teruggeroep. “Lekker slaap!”

      Die badkamerdeur het oopgevlieg; Brian het met die groot wit badhanddoek om sy lyf in die deur gestaan, muurspieël, wasbakkrane en alles agter hom in ’n stoomwolk gehul.

      “Wat is dit nou, Katryn?” het hy gevra.

      “Jy bedoel: hoe laat is dit nou, Katryn?” het ek gesê. “Toe ek laas gekyk het, was dit drie minute oor twee in die oggend.”

      Hy het ’n paar oomblikke lank stilgebly, asof hy sy volgende vraag formuleer. Asemwegslaan oorspronklik was dit toe nie. “Ek vra: wat is dit nou, Katryn?”

      “Jy bedoel: hoe vóél jy nou, Katryn?” het ek moedswillig gebly. “As dit is wat jy as sensitiewe man bedoel het: ek voel geskud, dankie. Gerattle. Ek vermoed dis maar soos die meeste jong mense voel wanneer hulle sien hoe alles wat hulle ouers opgebou het, tot niet gaan.”

      Hy het langs my op die bed kom sit en geurig van seep en warm water oor my geleun. “Vergeet nou ’n bietjie van al die probleme hier op Müllerhof,” het hy sag gesê. “Dís wat my pla: alles wat hier aangaan, verander jou ook.”

      Ek het sy klam lyf weggestoot en hy het die gebaar as ons ou speletjie gelees.

      “Dis beter!” het hy geglimlag. “Ons is jonk, Katryn. Ek weet dis erg, ek kan sien wat aangaan, maar jy kan ook net sóveel dra. Ons –

Скачать книгу