Wildvreemd. Carina Stander

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wildvreemd - Carina Stander страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Wildvreemd - Carina Stander

Скачать книгу

      Dis Wouter Hartman met die breë glimlag.

      Aan die begin van die jaar het ek en Wouter mekaar by die prefekkamp gesoen. Dit was nogal nice, maar Wouter is nie die soort ou op wie ’n mens jou hart verloor nie.

      “Sommer niks,” sê ek.

      “Dit kom reën. Klim op, dan lift ek jou gou huis toe.” Voordat ek iets kan sê, spring hy van sy fiets af en vat my sak uit my hand. Wouter is ’n regte hunk – die spiere bo sy knieë bult. Die ouens by die skool noem hom Haelskade (“oor my borselkop lyk soos ’n koringland wat nie by Sentra-oes verseker is nie”), maar eintlik is dit omdat hy “vat hom!” skree in die skrum, en dan begin hulle die ander span moker.

      Hy help my om op die handvatsel te sit. Die bult na ons huis ry hy uit asof dit ’n hobbeltjie is.

      “Jy’s darem maar baie gespin met die gryskoppe se praatjies oor ou Honey,” praat hy hier agter in my nek. Sy lyf is so naby ek kan die Axe onder sy arms ruik.

      “Honey?”

      “Die bee charmer, man.”

      “Hmmm, so jy’t my en tannie Brenda afgeluister? Ken jy haar?”

      “Niemand kén vir Honey nie, maar almal weet van haar. Is nogals moeilik om haar mis te kyk. Sy’s sexy, maar so koekoes soos ’n haas.”

      “So, jy’s ook een van die aasvoëls, nes tannie Brenda.”

      “Hoe nou?”

      “’n Aasvoël wat sit en wag vir haar karkas. Hoekom pik almal op haar?”

      “Man, ou Honey bly al lank hier. Ek was seker so nege jaar oud toe ek en my tjommies die eerste keer met haar te doen gekry het.”

      “Vertel bietjie.”

      “Lang storie, te lank om nou te vertel. Maar oor een ding maak tannie Brenda ’n groot fout: die ouks bang nie vir Honey nie.”

      “Genuine?”

      “Genuine. Die latte het vandag by die mark weer oor haar gechat. Een lot sê sy’s stom en die ander sê hulle hét haar al hoor praat. Vanaand gaan hulle haar huis bekruip en haar skrikmaak. As sy ‘help’ skree, of so iets, dan weet hulle mos sy hou haar net stom. Die wenspan kry die kopdoek as ’n soort trofee, jy weet. Iets vir die spangees.”

      “Dis flippen laag! Jy moet hulle stop. Hulle sal na jou luister.”

      Toe hy voor die huis stilhou en my help om af te klim, raak ek per ongeluk aan sy boarms. Arms waarmee hy meer as net drieë kan druk.

      “Jy verstaan nie. Die ouks is my pelle, oukei?” Hy staan en trap rond soos ’n ou wat ek eenkeer tussen die bra’s en panties in Woollies gesien het. Ek lees hom hard en duidelik: Sê nou Ingrid vind uit? Maar ek sê nie ’n woord nie. Ek hou my hart soos ’n klip. Vir wat wil hy en sy pelle na die Bosvrou se huis toe foeter? Watter soort ou kry ’n kiek daaruit om ’n eensame vrou die skrik op die lyf te jaag? Ek gee hom so ’n vuil kyk dat hy maar liewers op sy fiets klim en wegry.

      Die huis is tjoepstil. As Pa nie vir middagete huis toe kom nie, los hy altyd ’n nota onder die yskasmagneet of stuur vir my ’n SMS, maar hier is niks én sy selfoon is af. Dalk moet ek gou my vriende nooi vir pizza, dan kyk ons DVD’s om die begin van die vakansie te vier. Gmff, watter vriende? Tog net nie hormoondamp Haelskade en sy bende nie!

      Eintlik wens ek Ebro was nader. Ek skuif voor die rekenaar in.

      From: Ingrid van Aarde [[email protected]]

      To: [email protected]

      Subject: storiejag

      Ola, Ebro!

      Lekker prentjies wat jy laas week op Facebook gepos het! Ek hou veral van die meermin wat visvang. :) Jou kuns laat my altyd giggel, skater, tjank, snottereer of skud.

      Gou ’n skarrelpossie: Vandag by die boeremark het ek ’n vrou gesien oor wie ek bitter graag ’n opstel wil skryf. Sy bly in ’n eenkantbos in ’n huis waarvan almal weet, maar min het dit al gesien. Hulle sê sy praat nie, sy maak net dieregeluide. Jou ouma Brenda glo vas die vrou is stom omdat ’n spikkelwolf (gevlekte hiëna) haar aan die keel gehap het. Gek om te dink enige iemand kan so iets oorleef, ek weet, en sy het tog gesnik (of geneurie) toe die kinders om haar kring. Ek vertel later die gory detail. Daar is ook ’n paar nadraaie. Al wat ek weet, is dat my idees oor “onskuldige laaities” saam met dié oor “gawe tannies” ’n ereplek in die asblik van my brein gekry het. Jy kan net dink hoe word hier geskinder en gespot. Koekoes! Hippie head! Gypsy!

      Iemand sê jou oupa Braam ry elke maand haar heuning en kerse aan mark toe. Weet jy daarvan? As ek ’n paar opstelle oor haar skryf, kry ek dalk ’n verdekselse A vir stelwerk, en dan word ek dalk makliker gekeur vir daardie nuwe graad in skryfwerk by Tuks. Ná alles wat ek vandag gesien en gehoor het, is ek ’n bietjie bibberbeen om haar op my eie te ontmoet, maar Ebro, hier’s ’n storie. Ek voel dit so aan my haarwortels. :) Lus om saam te kom storie jag …?

      Ciao!

      Ingrid

      Braam Botha

      Ek’s hier midde in ’n stryd om die slaansakke en nat takke op die Chevrolet gelaai te kry, vir wat kom help Jan Mampoer nie? Is dít nou die tyd om my in die steek te laat?

      “Daardie verbrande ou likkewaan moet opskud!” roep ek oor my skouer na sy seun, Jan Pampoen, maar dié gaap my net aan en beduie na die berg. “Dáár. Pa het mampoer, dáár.”

      “Dis nog nie eens melktyd nie, jou pa sal nie nóú al suip nie! Hy beter sy riete roer.”

      Met die ander werkers agterop rammel die Chev soos donderweer teen die berg op. Van agter die stuurwiel af sien ek reeds dat die vlamme oor die grensdraad gespring het. Al die bure is hier, besig om teen die vuur te baklei. Zack van Aarde en sy span veldwagters werk saam met die wind om die vlamme suidwaarts te stuit, voor dit by die plaashuise en pakkamers kom, maar brandende blare en takkies waai deur die lug, bo-oor die voorbrand in die rigting van die dorp.

      Tussen die vuurslanery deur hoor ek die Pedi’s praat van Mampoer wat vanmiddag die stookketel laat staan en bergop geloop het na waar Jan Groentjie smiddae speel. Mampoer wou hom seker huis toe stuur, soos hy graag doen, om twak te gaan haal, sê die een. Miskien het die kind toe met die vuurhoutjies gepeuter. Aikona, stry die ander, iemand anders het kwaad gestook. Maar wie? Seker weer die heuningboer wat bye uit die berg wou rook …

      Op die daad moet ek my inhou om nie tussenin te praat nie. Spaar jou stem, sê iets vir my, jy gaan jou nog hees praat oor hierdie ding. Dis nog net die begin. Teen hierdie tyd weet ek tog al hoe los dié dorp se tonge kan raak. Kort nadat die heuningboer langs die rivier ingetrek het, het ek dit vir die eerste keer aan eie lyf gevoel. Ek het haar op die grondpad hier naby die plaas raakgeloop. Dit was die eerste dag van Junie, die begin van die winter. Die lug was effe bewolk, wat vreemd is hier by ons daardie tyd van die jaar, en in die vroemôreson het haar skaduwee soos ’n smal grashalm voor haar uitgestrek. Dit was onmoontlik om haar andersheid mis te kyk, die regop skouers, die swart hare tot in die middel van haar rug, nes ’n ryp tros druiwe. Sy het stadig gevorder met die krat heuningbottels in haar arms en ek het stilgehou om hulp aan te bied. Van daardie oomblik af het ek my in ’n ding begewe waarvan

Скачать книгу