Wildvreemd. Carina Stander

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wildvreemd - Carina Stander страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Wildvreemd - Carina Stander

Скачать книгу

Ek hike Vrydag tot op die dorp. Kan julle my asb 20:00 voor die poskantoor oppik? Thanx!

      Ebro.

      PS: Ek het probeer bel, maar julle lyn was af. Hier is my selnr.

      Ek laat sak die poskaart só stadig dat my varkhond, Tjop, beginne grom.

      “Ebro.” Gmf. Klink altoos na iets tussen Epol en Hebro. Bid jou aan, die ge-Ebro is nie Botha-styl nie!

      “Is dit nie wónderlike nuus nie, Brenda-lief? Hy kom Vrydag al,” jubel Braam.

      “Onse heiden, Abraham! Sê ons aan om hom wie weet waffer tyd te gaan oplaai. Vrotsige grondpaaie, de lot. Die vermetelheid. Om ná al die jare … En wat vir ’n ma is Ida dat sy haar kind van die stad af laat ryloop?”

      As Braam eers sy baard so staan en vryf, weet ek sy humeur raak haastig. Dis sy manier, van altyd af.

      “Ons blóédkind kom kuier. Is jy dan nie bly nie?”

      “Hoe weet jy hy’s Bothabloed?” troef ek. Ek sê al jare lank vir hom Ida het die kind by ’n ander man opgetel. Sy’s immers van dieselfde baksel as Skarlakenvrou. Die een pronk dalk op haaipolfaais en die ander een loop kaalpoot, maar tert bly tert. Elke slag hou Braam sy ore so toe soos ’n kleios se sweetgaatjies. Sê niks, stry niks. So goed ek praat met ’n dowe. Maar vandag beweeg sy slape op en af en die lug blaas hard en hoorbaar uit sy neus, nes ’n befoeterde afrikanerbul, toe hy die poskaart uit my hand gryp, dit in sy hempsak druk en hard vir my bulk: “Vrydagaand laai ek vir Ebro op en hy bly solank soos hy wil. Tot hiertoe en nie verder nie.”

      Zack van Aarde

      Vandag staan die son weer stil. Dis ’n ongenadige soort hitte wat groot reën belowe. Selfs hier in die koelte van die maroelaboom, met my knope los, klou die hemp steeds aan my rug. En kyk nou vir die swaels wat so heen en weer oor die verbrande landskap vlieg, natuurlik op die uitkyk na tekens van oorlewing – kos, skuiling, water. En oorleef sál hulle. Die son en hul ingebore kompas sal die trekrigting bepaal en saans sal die sterre hulle help koers hou. Maar hoe kan ék weet watter rigting die brandondersoek moet inslaan? Sal ek ook op instink staatmaak?

      My instink sê ’n hele paar dinge is nie pluis nie. Daar is al maande lank ’n toeloop van wildstropers wat met semi-outomatiese vuurwapens en kragtige skietlampe uit voertuie jag, maar ons kan hulle net nie vastrek nie. Dalk wou hulle die gras afbrand, sodat die jong spriete ná die reën meer wild kan lok. Onwettige jagters ontsien immers geen privaat eiendom of menselewens as dit om jaggebied gaan nie.

      Of miskien gaan soek ek nou te ver na die antwoord. Wanneer die gras teen die vroeglente stadig groei, maak die boere dikwels ’n seisoenbrand ter voorbereiding van ’n weiveld. Dalk wou een ’n droë veld opruim om die somer se ploeg en plantery te vergemaklik, of probleembome of bosluise uitroei. Dat iedereen onskuldig pleit, is te verstane, want die ware vuurmaker sal beslis beboet word vir nalatigheid. Maar die swaarste straf sal waarskynlik die wrewel van die gemeenskap wees.

      Sê nou ’n plaaswerker is die skuldige? Sal die mense dan ook eerder swyg as om in die hof te getuig? Jan Rats vertel ’n groep plaaswerkers het aan die einde van ’n vorige droë seisoen ’n vuur gemaak om hulle skelm jagtery te vergemaklik. Hulle het in ’n halfmaan om die vuur uitgesprei en die voortvlugtende diere gejaag in ’n rigting waar mans met klippe, stokke en kort spiese hulle ingewag het. Waarom is die brand ná werktyd gestig? Sou Braam se werkers jag vir eie gebruik of geldelike gewin?

      Dit gebeur soms dat ’n geringe bries ’n vuur weer laat opvlam, daarom het ek die dag ná die brand die swartveld gaan patrolleer. ’n Digte rookmis het oor die landskap gehang en baie stompe het nog rooiwarm gegloei. Ek het ’n skilpad opgetel wat oorleef het deur sy kop en bene onder sy dop in te trek. Net die rand van sy dop is deur die vlamme gevlek. Vinniger diere het in termietheuwels, rotsskeure en hoë bome geskuil. Daar was hase en meerkaaie in die ondergrondse tonnels, en slange in die nabygeleë rivier, maar die groter diere was minder gelukkig. Plek-plek was die vlamme so hoog dat selfs lenige diere die vuurdood nie vrygespring het nie. Teen die wildsdrade het die verkoolde karkasse van sewe koedoes en ’n waterbok gelê.

      Heit, kyk nou so ’n vlakvark! En die string kleintjies agterna … Hulle honger moet groter wees as hul vrees vir my mensreuk. Al het die gras tien dae ná die brand tekens van nuwe groei getoon, was dit eers twee weke later reg om gevreet te word. Die veld het nou nog nie behoorlik herstel nie. Veral hier in die oopte, waar ek sit, is die skade enorm. Skaars honderd meter na regs is die oorblyfsels van die massiewe doringtakheining waarin twee-en-twintig diere verstrik het. Nóg meer het losgeruk en elders ’n langsame dood gesterf. Te oordeel na die soorte strikke en slagysters wat gestel is, en die aantal seldsame spesies wat gevang is – ’n krimpvarkie, klipspringer, erdvarke, selfs ’n ietermago – vermoed Jan Rats dat toordokters agter die brand sit. Hoe skaarser ’n diersoort, hoe gretiger is hulle om dit in die hande te kry. Jan Rats is gebroke. Hy reken sy pa en broerskind het ook net té naby verdwyn aan die gebied waar die toordokters hulle moetie versamel.

      Aan die ander kant glo ’n handvol inwoners dat die natuur self die brand veroorsaak het. Die swaar donderweer het daardie middag aanhoudend teen die berg geslaan, ’n algemene verskynsel wanneer die eerste reëns uitsak. Maar dié wat al jare hier boer, sê dis onsin. Hulle hou vol dat brandstigting ondersoek moet word en dié verantwoordelikheid rus nou maar eenmaal op my skouers, aangesien ek my as Natuurbewaring se brandkundige bekwaam het.

      ’n Stuk of tien inwoners het my gekontak met inligting oor ’n verdagte. Oor die algemeen stem hul getuienisse ooreen: ’n Wit vrou van iets in die dertig het glo die oggend voor die brand by die boeremark op die dorp haar humeur verloor toe ’n groep kinders haar oor haar spraakgebrek spot. Nou reken die inwoners weerwraak moet as motief ondersoek word. Aan dié verspotte storie het ek my aanvanklik nie juis gesteur nie, maar toe Brenda Botha my in die koöperasie voorkeer en vir die eerste keer in bykans twee dekades met my praat, het ek besef hoe sterk baie van die mense oor die aantygings voel.

      Ek het nog so ’n bietjie probeer wal gooi. “Tannie glo tog nie regtig dat kindergrappies ’n volwasse vrou tot brandstigting sal dryf nie?” het ek gesê.

      Brenda het heel vroom geantwoord: “Sy’s kens, is dié. Hartroerend vervreemd van die werklikheid,” het sy gesê. “Ons het dié dag so gesit en dophou hoe sy haar vir die kleintjies vererg, en in ’n ommesientjie was die berg in vlamme!”

      “Hoe sou sy dit reggekry het om binne so ’n kort tydjie ’n brand van honderde hektaar te stig?” het ek hardop gewonder. Ek kon sien die vraag was te direk, dat Brenda dit sou verkies het om eerder oor die vrou as oor die brand te praat.

      “Daai vroumens is alte slim met vuurmaak,” het sy met ’n pruilmond laat hoor.

      Uit die hoek van my oog het ek Braam Botha sien nader staan. “Middag-sê, Zackman,” het hy gesê en sy hoed gelig, maar sy glimlag het nie sy oë bereik nie. “Sien, sy boer met heuning en rook soms bye uit, maar sy is nie ’n slegding wat sal brand stig nie, en dit boonop op my plaas. Ek het my bedenkinge.”

      “Hoe so?” In die kringe waarin ek beweeg, is daar nie juis skindertonge nie en dit was een van die eerste stories oor die vrou wat my ore bereik het.

      “Almal praat hulle prate, maar die stomme vrou kan nie boe of ba nie, is dié dat hulle weet hulle kan maar ’n vuur maak om haar uit die Ruig te dryf. Sy kan mos nie praat om haarself te verdedig nie.”

      “Waarom sal een mens so iets aan ’n ander wil doen?” Ek het my naïef gehou.

      “Seker oor sy nie hier hoort nie,” het

Скачать книгу