Schalkie van Wyk Keur 8. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk страница 15

Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

slaap vreeslik baie, want hy is siek. As hy wakker is, praat ek met hom en dan glimlag hy so ’n bietjie. Tant Kobie sê hy is te siek om te lag.”

      “Maar vandag slaap hy net, Nicky,” sê Erik onverwags skuins agter hulle.

      Marné swaai om na hom toe, voel haar hart in haar bors ruk en weet nie of dit skok of blydskap is nie.

      Nicolette storm by haar verby. Sy gooi haar arms om Erik se nek, druk haar kop teen sy bors en hou dan een van sy hande vas. “Jy is terug!” sing sy en dans voor hom rond. “Tant Kobie het gesê jy kom terug, want ek het gehuil. Maar nou is jy terug.”

      Erik steek sy regterhand uit en krap haar krulle deurmekaar. “En ek het vir jou iets saamgebring van Johannesburg af, asjas. Toe, draf vooruit en gaan vra my ouma om die pakkie vir jou te gee. Maar moenie raas nie, want oom Sebastiaan slaap.”

      “Dankie! Dankie! Dankie!” jubel Nicolette, los sy hand en huppel weg terwyl sy sing: “Ek gaan tog ’n presentjie kry! Ek gaan tog ’n presentjie kry!”

      Marné luister verstom na die helder klank van haar stem en kyk op na Erik. “Sy sing pragtig! Het niemand al daaraan gedink om haar sang- of klavierlesse te laat neem nie?”

      “Sy kan sing, maar sy sal nooit die teorie van musiek kan verstaan nie.” Nadenkend voeg hy by: “Maar voëls ken ook nie enige teorie nie, en nogtans sing hulle pragtig.”

      “Jy is lief vir haar?”

      Hy glimlag stadig. “Ek is bly jy sê ‘lief’ en nie ‘jammer’ nie, want dis nie nodig om Nicolette jammer te kry nie. Ek glo sy is gelukkiger as ons almal, want sy sal nooit die hartseer van die volwasse wêreld ervaar nie.”

      “Nogtans … ek sal liewer alles wil ervaar.”

      “En seerkry?”

      “Moontlik, ja, maar tant Annie sê altyd alle ervaring is kosbaar, daarom is die prys wat ons daarvoor betaal dikwels so hoog.”

      “Jou tant Annie klink soos ’n wyse mens.”

      “Stem jy nie saam nie?”

      “Heelhartig, ja.” Hy kyk onwillekeurig in die rigting van Flaminke-huis. “Voel jy al tuis in jou nuwe woning?”

      Sy huiwer. “Ek dink tant Mathilda is ’n skat en ek is seker ek en Ilze gaan goed oor die weg kom. Vincent sal nie ’n probleem wees nie, maar tant Rentia beskou my as ’n indringer.”

      “Omdat sy bang is jy gaan haar mooi seuntjie afrokkel en haar uit Flaminke-huis verdryf.”

      “Maar dis loutere onsin!” reageer sy onthuts.

      “Dalk, maar tant Rentia sal nie met jou saamstem nie. Het jy al Haar Hoogheid, Renate Brandenberg, ontmoet?”

      “Ja.” Marné steek haar neus in die lug, gee voor dat sy op ’n kierie leun en sê met ysige veragting: “Hou op om skynheilig te wees, Rentia! Jy kan nie wag dat ek my nek moet breek nie, want jy hoop jy sal Vincent om jou pinkie kan draai.”

      Erik skaterlag. “Snip! As tant Renate jou nou kon hoor, het sy jou in die pad gesteek.”

      “Ek glo nie.” Marné frons verwonderd. “Tant Renate het die lila suite wat deur haar en haar oorlede man gebruik is, vir my gereed laat maak. Dis ’n bietjie vreemd, dan nie? Ek is Nicolette se oppasster, nie ’n eregas nie.”

      Sy merk die kommer op sy gelaat en wens sy het hom nie van die lila suite vertel nie. Sy hou meer van hom wanneer hy lag, maar hy lag so selde. Is Laura Viljoen die rede vir sy stroewe voorkoms?

      “Dit ís vreemd,” gee hy toe. “Tant Mathilda praat graag oor al die rusies wat tant Rentia en tant Renate al oor die lila suite gehad het. Aangesien tant Renate nie meer die suite gebruik nie, voel tant Rentia dis haar reg om daar in te trek.”

      “Ek veronderstel tant Renate wou tant Rentia net vermaak, daarom het sy vir my die suite aangebied. Maar ek gebruik dit in elk geval nie. Ek het besluit ek wil liewer in die kamer langs Nicolette s’n slaap.”

      Hy kyk haar aan asof hy haar nie gehoor het nie, sy oë ’n donker silwergrys asof ’n innerlike skadu daaroor val. “Hoe ryk is jy, Marné?” vra hy dringend.

      Sy staar hom oorbluf aan en lag onseker. “Ek het jou reeds gesê: ek het nog ’n bietjie geld van my studiebeurs oor.”

      “Het jy niks geërf nie?”

      “Nee. Is my geld belangrik vir jou?”

      ’n Glimlag vonk in sy oë voordat hy ernstig sê: “Nie vir my nie, maar vir die Brandenbergs.”

      “Maar hulle besit ’n hele eiland! Ek is seker tant Renate is fabelagtig ryk!” protesteer sy heftig.

      “Ek betwis dit nie, maar …” Hy kyk op en frons dieper. Sy volg die rigting van sy blik en sien Vincent te perd aangery kom. “Ons sal weer praat,” sê hy gedemp en wag saam met haar dat Vincent hulle moet bereik.

      Vincent hou sy perd in, klim af en glimlag effens onseker met sy oë op Marné gerig. “Ek is jammer ek moet pla, Marné, maar ongelukkig het my ouma nog nie tyd gehad om jou oor die reëls van Flaminke-huis in te lig nie.”

      “Watter reëls?” vra sy verwonderd.

      Hy kyk flitsend na Erik en daarna na die sandsteenwoning tussen die bome. “Nicolette is nie van klasseverskille bewus nie. Sy beskou almal as haar vriende, maar ouma Renate verkies dat sy net met haar huismense meng. My ouma verwag dat jy ook die De Ridders sal vermy.”

      Marné staar Vincent spraakloos aan en draai onthuts na Erik toe. “Gaan jy hom klap, Erik, of sal ek?” vra sy, helder vlekke van verontwaardiging gloeiend op haar wange.

      5

      Vincent tree ontsteld nader aan Marné. “Asseblief, Marné, moenie my verkwalik nie. Ek voer maar net my ouma Renate se bevele uit,” sê hy.

      “Sowaar?” Haar uitdrukking spreek van minagting. “Dan is jy te onvolwasse om te besef dat jy uiters beledigend teenoor Erik en sy grootouers is! As ek reg onthou, was dit Erik wat my in Johannesburg kom haal het, en dit was tant Kobie en oom Lukas wat my werklik laat welkom voel het op Flaminke-eiland en in hulle huis.”

      “Die huis behoort aan die Brandenbergs,” sê Vincent met die ingebore trots van ’n landheer. “Jy verstaan nie, Marné. Oom Lukas en tant Kobie is in diens van my oom Sebastiaan.”

      “En?” vra sy bruusk, ’n dreigende lig in haar oë.

      Vincent maak ’n hulpelose gebaar met sy hande. “Jy is ’n stadsmeisie, maar op die platteland … Die Brandenbergs is gesiene mense. Almal verwag dat ons ons vriende versigtig sal kies.”

      Langs Marné lag Erik sag, humorloos. “Laat ek die arme vent uit sy ellende verlos, Marné. Wat Vincent probeer sê, is dat die Brandenbergs die adel van Twiswaters is, daarom meng hulle nie met doodgewone arbeiders nie.”

      “Wonderlik! Gelukkig is ek een van die arbeidersklas, daarom kan niks my verhoed om by oom Lukas en tant Kobie te boer nie,” spot sy en kyk

Скачать книгу