Schalkie van Wyk Keur 8. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk страница 16

Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

na Eiland-huis toe te kom nie. Dis een van die redes waarom sy jou in diens geneem het: jy moet verhoed dat Nicolette by die De Ridders kuier,” verduidelik hy en vermy Erik en Marné se spottende oë.

      “Dis nou oulik,” sê Marné sarkasties. “Nicolette word deur ’n arbeider versorg, maar die ander arbeiders op Flaminke-eiland is nie goed genoeg vir haar nie. Hoe rym dit, Vincent?”

      Hy frons ergerlik. “Almal weet wie en wat jy is, Marné. Hou op om jouself ’n arbeider te noem.”

      “Wat is ek dan? ’n Diensmeisie?” smaal sy.

      Vincent gluur Erik aan, maar kyk weer vinnig weg. Vanselfsprekend is Erik onbewus van Marné se erfenis. Hy het haar moontlik gevra of sy die Brandenbergs se nuwe diensmeisie is soos wat hy, Vincent, hom vertel het. Vervlaks, waarom het sy ouma hom nie voor Marné se koms na Flaminke-eiland vertel wie en wat sy werklik is nie?

      “Jy is skielik spraakloos, maat,” sê Erik, opsigtelik geamuseerd. “Ontstel dit jou dat Marné die geselskap van haar medearbeiders verkies?”

      “Ek het nie met jou kom rusie maak nie, De Ridder. Ek voer net my ouma se opdragte uit,” antwoord Vincent stug. Hy wend hom na Marné. “Ouma Renate het gevra dat julle dadelik terugkeer huis toe, Marné.”

      “Hoe goed ken jy Nicolette, Vincent?” vra Erik grimmig.

      Vincent staar hom onthuts aan. “Sy is my suster.”

      “Dit verbaas my dat jy dit erken, want jy ignoreer nog al die jare haar bestaan.”

      “Sy was lank in ’n spesiale skool,” sê Vincent ongemaklik.

      “Sy was, maar sy is al die afgelope twee jaar tuis. Nicolette het nie net die verstand nie, maar ook die eerlikheid van ’n jong kind. Sy ken jou nie, want jy praat nooit met haar nie. Daarom sal jy nie weet dat Nicolette haar nie laat voorskryf nie. Hoe gaan jy haar verhoed om by my ouma-hulle te kuier? Haar aan ’n tafelpoot vasmaak of in die kolehok toesluit?”

      “Nicolette is nie my verantwoordelikheid nie. Marné sal moet sorg dat sy wegbly van julle af, want my ouma –”

      “Snert, vent!” val Erik hom kras in die rede. “My ouma het my vertel dat Nicolette van jongs af weggeloop het na haar toe. Almal was eers besorg oor haar veiligheid, totdat tant Mathilda en jou ouma besluit het om ouma Kobie te bel wanneer Nicolette op die eiland rondgedwaal het. My ouma weet dan om Nicolette te verwag, maar draai sy te lank, gaan soek sy of my oupa na haar.”

      “Het jy geweet ons is op pad hierheen, Erik?” vra Marné.

      Hy knik bevestigend. “Tant Mathilda het gebel, daarom het ek julle tegemoetgekom.”

      “Is dit my skuld as my ouma besluit het om haar reëlings met jou ouma te verander?” vra Vincent, vies oor die opsigtelike vriendskap tussen Marné en Erik.

      “Seker nie, maar Nicolette sal nie voor vyfuur teruggaan huis toe nie. My ouma het haar geleer om op die kombuishorlosie tyd te lees. Sy weet wanneer dit vyfuur is en sy weier beslis om voor die tyd huis toe te gaan.”

      Vincent lyk opstandig. “Sy is nou in jou sorg, Marné. Jy sal haar moet leer om jou te gehoorsaam. As jy haar gaan haal … Ek sal hier op julle wag.”

      Marné haal haar skouers op. “As jy kans sien om tot vyfuur te wag, doen dit gerus. Ek probeer nog om Nicolette se vertroue te wen en ek sal dit nie regkry as ek haar teengaan nie. Verskoon my, asseblief,” sê sy en loop weg in die rigting van die sandsteenwoning.

      “Die mooi meisie laat haar nie voorskryf nie, Vincent. Onthou dit maar in die toekoms,” spot Erik en stap vinnig weg om by Marné aan te sluit.

      “Eiland-huis behoort aan ons, De Ridder! As dit moet, sal my ouma van oom Sebastiaan en julle gespuis ontslae raak!” roep Vincent agter hom. Vincent spring in die saal en jaag op ’n galop weg.

      “Wat ’n aanstellerige snob! Hoe kry jy dit reg om so geduldig met hom te wees?” vra Marné en bly staan om Vincent agterna te kyk.

      “Moenie hom te veel verkwalik nie, Marné. Die vent is nie baie slim nie.”

      “Maar het jy nie gesê hy was op universiteit nie?”

      “Hy was, ja, maar …” Erik huiwer ongemaklik. “Ek voel soos ’n skinderbek, maar miskien is dit beter dat jy weet, want dan sal jy Vincent beter kan verstaan. Sy ouma het groot verwagtinge van hom gehad en hom na ’n duur privaat skool toe gestuur, maar hy het uit die staanspoor swak presteer. Dit het twee jaar en private onderrig geverg om hom matriek met universiteitsvrystelling te laat slaag.”

      “Miskien het hy gedink dis nie nodig vir ’n ryk erfgenaam om hard te leer nie,” sê sy.

      “Nee. Ek sê nie hy is ’n idioot nie, maar tant Mathilda het ons vertel dat die skoolhoof tant Renate afgeraai het om Vincent universiteit toe te stuur, omdat hy nie oor die intellektuele vermoëns beskik om ’n graad te behaal nie. Maar tant Renate laat haar nie voorskryf nie en Vincent is universiteit toe, waar hy net haar geld gemors het.”

      “Hy lyk nie dom nie.”

      “As hy die kans kry, sal hy ’n suksesvolle boer wees. Tant Mathilda sê Vincent boer in die koeistal en help met die versorging van die diere. Toe hy jonger was, het hy die werkers gehelp om die stalle skoon te maak, maar tant Renate was woedend toe sy daarvan hoor. Dis waarom Vincent gewoonlik soos ’n model lyk: skoon klere, skoon hande en elke haar op sy plek. Tant Renate laat hom toe om toesig te hou, maar hy mag nie sy hande vuilmaak nie.”

      “Ek dink ek kan hom jammer kry. Maar is dit waar dat hy Nicolette ignoreer?”

      “Ja, maar ek glo dis net nog ’n opdrag van sy ouma wat hy uitvoer. Vincent is doodeenvoudig te swak om sy oorheersende ouma teen te gaan, en tant Rentia kan nie ophou om hom te waarsku dat hulle almal afhanklik is van tant Renate se genadegawes nie.” Erik glimlag flitsend toe hy die besorgde uitdrukking op Marné se gesig sien. “Hou op om jou te kwel, Marné. Selfs tant Renate kan nie vir altyd lewe nie en eendag sal Vincent vry wees om te doen wat hy wil. Ek wou net gehad het jy moet die ware toedrag van sake verstaan, want dan sal jy Vincent nie te kras veroordeel nie.”

      “Jy kry hom jammer, nè, Erik?”

      “Soms,” sê hy. Sy sien ’n skadu oor sy oë skuif en merk ’n stroefheid op sy gelaat wat hom skielik van haar vervreem. Asof hy besef dat sy hom dophou, kyk hy na haar en glimlag gerusstellend. “Kom ons gaan kyk wat Nicolette van haar geskenk dink,” sê hy lighartig en begin aanstap huis toe.

      Nicolette spring op van haar stoel en storm op Erik af toe hy en Marné die ruim kombuis binnekom. Sy gooi haar arms om hom, druk haar kop teen sy bors en lag uitgelate in sy gesig. “Dankie, dankie, Erik! Drie legkaarte is baie! Ek en oom Lukas bou hulle almal,” vertel sy trots en wys na die skinkbord op die kombuistafel. “Tant Kobie sê ek is slim, want ek kry al die regte stukke, maar oom Lukas sukkel.”

      “Weet jy hoeveel stukke is daar in elke legkaart, Nicky?” vra hy en beweeg met sy arm om haar na die tafel.

      “Twintig! Ek hou van die seuntjie en die dogtertjie wat die emmer dra. Kyk, ons het dit klaar gebou.” Sy stap na die kombuiskas en wys na ’n skinkbord. “Sien jy, Marné? Hou jy ook van legkaarte?”

      “Ja, baie. Ek en jy kan jou legkaarte by die huis bou.”

Скачать книгу