Hoe gemaak met my dikmond kind?. Suzette Truter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hoe gemaak met my dikmond kind? - Suzette Truter страница 5

Hoe gemaak met my dikmond kind? - Suzette Truter

Скачать книгу

skop. Jou man hét ’n veeleisende werk, en dis vir hom moeilik om by al dié dinge uit te kom, maar met aandag en moeite kan hy hul verhouding versterk. Sien vraag 10.

      MA SE DOENLYSIE

      Erika se raad:

       Verduidelik saam met jou man aan jul seunskind waarom sy pa weggaan, wat hy daar doen en wat hulle alles gaan doen wanneer hy weer terug is.

       Hy kan dalk op sy ouderdom nog sukkel om die begrip tyd te verstaan. Maak dit eenvoudig, verstaanbaar en konkreet. As sy pa oor ’n week terugkom, trek byvoorbeeld saam met hom dae dood op ’n kalender. Dan kan hy al die dag of twee voor sy terugkoms opgewonde raak en ook geleidelik voorberei word op die afskeid. Koppel tydsverloop aan iets wat hy verstaan, soos: “As jy weer skooltjie toe gaan, kom Pappa terug.”

       Dis uitputtend om twee ouers se rolle te hanteer. Rus genoeg sodat jy kans sien vir die uitdaging. Probeer om nie voor hom negatief te wees oor jou ekstra verantwoordelikhede of omdat jou man weggaan nie.

       Gesinsrituele versterk die hele gesin. Doen ook ekstra moeite met die onderlinge verhoudings.

      ’n Ma se wenk

      “Maak jou ‘afwesige’ man soveel moontlik deel van die gesin se doen en late; verwys na hom in jul gesprekke.”

      VRAAG 10

      Hoe kan ek as pa my verhouding met my jongste seun versterk as ek so baie pendel? Dit pla my dat hy my vrou bo my verkies, en haar aandag so opeis.

      ANTWOORD

      Begin deur tegnologie in te span.

      Erika stel voor jy skype met jou seun sodat julle mekaar kan sien. Hy moet jou ook op sy eie kan kontak. Bel hom dikwels. Met jonger kinders werk meer gereelde en korter kontak. Maar moenie ontsteld wees as hy nie elke dag oor die telefoon wil gesels nie. Sulke kommunikasie is nog vir jonger kinders moeilik.

      Maak ook vir hom ’n kort DVD vir dae wanneer hy verlang: Daarop kan jy vir hom nagsê of gesels oor die dinge wat julle saamdoen.

      Erika sê dis belangrik om sy gedrag te probeer verstaan. “Maak ’n speletjie daarvan of ignoreer hom as hy jou vrou se aandag wil opeis.”

      PA SE DOENLYSIE

      As jy tuis is (soos naweke en vakansies) probeer soveel moontlik ononderbroke tyd saam met hom deurbring.

      Erika se voorstelle:

       Gesels gereeld met hom, luister en weet wat in sy wêreld aangaan.

       Weet wie is sy maats, sy gunsteling-speelgoed en alles wat hom opgewonde maak. Doen dit saam met hom, veral dié dinge waarmee jou vrou nie so goed is nie. Bou ’n modelvliegtuig of skop ’n rugbybal saam.

       Betrek soms sy twee boeties sodat hy sien hoeveel pret dit is om saam te wees.

       Gebruik alledaagse geleenthede om jul verhouding te verstewig. Spring saam in die motor om te gaan petrol ingooi.

       Koop saam ’n sagte speelding wat hom troos as hy verlang. Sit ’n foto van julle twee langs sy bed.

      ’n Pa se wenk

      “Skep ’n spesiale tuiskomsritueel vir julle twee. Ek en my seuntjie speel altyd ‘bakleiings’ – ons naam vir ’n vinnige stoei, of ’n jaagsessie deur die tuin met ons twee skaaphonde.”

      Kommunikasie

geselsborrel_2.jpg

      Moeilike geselsies, sensitiewe gesprekke en stilswye …

      VRAAG 11

      Ek wil smiddae so graag hoor hoe my negejarige seun se dag by die skool verloop het, maar hy reageer bot op my vrae. Hoe kry ek hom om te praat oor sy dag? Sy sussie praat soos ’n grammofoonplaat. Sy onderwyseres sê hy is goed aangepas by die skool, maar hy deel nie sy dag met my nie.

      ANTWOORD

      Daar’s ’n magdom redes hoekom party kinders ’n hond uit ’n bos gesels en ander nie. Shani Grové, ’n voorligtingsielkundige en skrywer van talle breinboeke, noem ’n paar oorsake wat jy dalk sal herken:

       Persoonlikheid kan ’n rol speel: As jou seun ’n introvert is, mag hy dalk nie daarvan hou as jy hom oor homself uitvra nie. Of dalk irriteer dit hom as jy elke middag dieselfde vrae vra.

       As hy gespanne is oor iets, gaan hy moontlik minder woorde tot sy beskikking hê, omdat stres dele van sy korteks (ook die spraakgedeeltes) tydelik kan “uitskakel” of “verlam”.

       Sommige kinders kan nie te veel impulse van buite, soos te veel klanke, reuke of kleure hanteer nie, en skakel letterlik af weens sensoriese oorlading. (Lees ook vraag 91 oor sensoriese sensitiwiteit.)

       Meisies se taalvermoë ontwikkel vinniger as seuns s’n. Dalk dink jou seun jy gee voorkeur aan sy sussie?

      Die kruks van die saak: Verbreek die patroon. Hierdie patroon werk nie vir julle nie!

      Kies liewers ’n ander tyd om met jou kind te gesels, sê die kliniese sielkundige Ronéll Lemmer. “Net soos jy, het jou seun dalk ná ’n besige dag ’n behoefte om eers te ontspan. As jy hom nie druk nie, sal hy waarskynlik uit sy eie dinge vir jou vertel soos die dag verloop. Leer om hom te ‘lees’. Is hy in die bui vir ’n gesprek, of is sy gedagtes elders? Saans, as alles en almal al rustiger is, is hy tien teen een ook meer ontvanklik vir gesels. Skep gemoedelike geselstye saam – net vir julle twee. ’n Gedeelde belangstelling of stokperdjie soos krieket op TV of skaak sal jul verhouding verbeter en gewoonlik bly gesprekke nie net daarby nie.”

      Die lewensafrigter Anèl Bester van Randburg sê dit werk vir haar as ma van twee seuns (agt en tien) om vrae te vermy wat haar kinders net met ’n ja of nee kan beantwoord. Pleks van vra: “Het jy ’n goeie dag gehad?” kan jy vra: “Wat het vandag by die skool gebeur?” Of: “Wat was die lekkerste of snaaksste ding wat vandag gebeur het?”

      DOENLYSIE

       Vermy vrae wat met “hoekom” begin. Dit maak dikwels ’n kind negatief en hy tree dadelik verdedigend op.

       Moenie dat jou kind voel dat jy hom druk of bymotiewe met jou vrae het nie. Al is daar net ’n persepsie van druk of geïmpliseerde kritiek (waar of nie), soos dat jy eintlik op sy huiswerk ingestel is, kan hy steeks raak en kortaf antwoord.

       Minder as 20 persent van kommunikasie bestaan uit woorde. Ondersoek jou eie gemoed. Hoe lyk jou liggaamstaal as jy jou seun uitvra? Onthou, jou stemtoon, gesigsuitdrukking, die emosionele interaksie, ou emosionele pyn, die verhouding tussen julle twee en enige ondertone van byvoorbeeld frustrasie of woede speel alles ’n rol in kommunikasie.

      ’n Ma se wenk

      “As jou minder spraaksame seun dinge begin verklap van sy dag, moenie hom dan peper met vrae om soveel moontlik uit hom te kry nie. Dan gaan hy weer toeslaan. Praat minder, luister meer.”

      VRAAG 12

      Hoe

Скачать книгу