Hoe gemaak met my dikmond kind?. Suzette Truter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hoe gemaak met my dikmond kind? - Suzette Truter страница 6

Hoe gemaak met my dikmond kind? - Suzette Truter

Скачать книгу

      Dis ’n moeilike een, en ’n fyn kuns. Jy wil haar nie ontstel of onder druk plaas nie, maar jy wil haar ook nie ignoreer nie. Berei jou maar daarop voor dat die gesprek uitputtend en veeleisend gaan wees, maar moet haar nie net uitlos nie, want sy voel reeds eensaam.

      Ansie Gous, ’n kliniese sielkundige van Roodepoort en medeskrywer van As ’n kind se lag verdwyn, doen die volgende wenke aan die hand:

       Praat rustig en saggies, oor een onderwerp op ’n slag.

       Wees geduldig. Dit kan lank neem voor sy antwoord.

       As jou pogings haar irriteer, moenie onttrek of kritiseer nie. Bly net daar.

       Moenie probeer raad gee oor hoe sy beter kan voel nie.

       Vra haar wat jy kan doen. Soms sal sy wil praat, soms wil sy jou net in die omgewing hê en soms wil sy uitgelos word.

      VRAAG 13

      My kind onderbreek my aanmekaar as ek op die telefoon met ’n vriendin of sy juffrou praat. Hoe leer ek hom om net ’n rukkie geduldig te wees? Ek vererg my en wil dan sommer op hom skreeu. Hy is sewe en behoort hom al te kan inhou, maar hy doen dit nie.

      ANTWOORD

      Skakel eers ’n groter probleem uit deur jouself te vra of daar by jou kind ook ander aanduidings is dat hy sukkel om te konsentreer of om sy impulse te beheer. Kan hy byvoorbeeld sy beurt afwag vir kolf in krieket, kan hy stilsit in die teater en agterna vir jou vertel wat hy gehoor en gesien het en kan hy wag totdat die juffrou vir hom ’n antwoord in die klas vra eerder as om sommer uit te skree?

      Dr. Erika van der Wateren sê as jy agterkom jou seun het dalk ’n groter probleem met aandag, konsentrasie en aktiwiteitsvlakke, soek professionele hulp. Sulke kinders sukkel regtig om hulle beurt af te wag, selfs al is hulle ouer. Lees ook vraag 88 oor aandagafleibaarheid.

      As dit “doodnormale” ongeskiktheid is, gesels met jou seun daaroor wanneer jy ook rustig en in beheer voel. Verduidelik op ’n eenvoudige manier presies waarom sy gedrag vir jou onaanvaarbaar is en hoe dit jou laat voel. Stel vir hom iets anders voor wat hy kan doen om sy probleem op te los, sodat hy ook minder gefrustreerd is. (Herhaal hierdie gesprek ’n paar keer.)

      Erika stel voor julle besluit vooraf op ’n handsein wat jy kan gebruik midde-in ’n gesprek om hom aan julle ooreenkoms te herinner. As jy die sein wys, moet hy dadelik weet dat hy jou nie mag pla nie. Hy moet ook weet wat hy intussen kan doen om sy behoefte uitgesorteer te kry. Onthou om dan dadelik ná die oproep aandag aan sy behoefte te gee.

      Wees ook realisties oor jou oproepe. Laatmiddag, as almal honger is of jou heeldag nie gesien het nie, is nie ’n goeie tyd om met jou beste vriendin te praat nie. Hou die tydsduur realisties. Dit kan vir ’n kind baie lank raak as hy ’n halfuur moet wag vir jou aandag.

      Onthou om jou kind van jongs af te leer om maar ’n bietjie te wag. Jy hoef nie te spring om dadelik elke wens te gehoorsaam nie. Moedig hom aan om intussen self ’n plan te maak en komplimenteer hom as hy dit van sy kant af self doen.

      Anèl sê dis belangrik om ook ’n punt daarvan te maak om aandagtig na jou kinders te luister. “Hoeveel keer gebeur dit nie dat ons kinders opgewonde oor iets wil gesels, maar ons is so besig met iets anders dat hulle net ’n afgetrokke antwoord kry, terwyl ons lyftaal duidelik wys dat ons gedagtes op ’n ander plek is?”

      Anèl sê as jou kind jou aandag soek, en jy regtig druk met iets anders besig is, buk af tot jy hom in die oë kan kyk en verduidelik dat hoewel hy vir jou die belangrikste mens op aarde is, jy eers dringend aan iets aandag moet skenk. Kom ooreen dat jy direk daarna al jou aandag aan hom sal gee. Onthou om dan terug te gaan en dit te doen. Dit leer hom dan ook sommer iets omtrent respek.

      VRAAG 14

      My dogter het my altyd alles vertel, maar deesdae is sy baie meer geslote – ek moet klop voor ek mag inkom! Sy deel nie meer haar “geheime” met my nie. Moet ek bekommerd wees dat sy nie meer met my praat nie? Sy is elf.

      ANTWOORD

      Daardie eerste tekens dat ’n kind na haar eie private ruimte smag, is nie vir alle ouers ewe maklik om te hanteer nie. Dis menslik om selfs ’n bietjie verwerp te voel.

      Maar kenners sê dis normaal – ’n kind se behoefte aan privaatheid is deel van ’n natuurlike proses om ’n onafhanklike, selfstandige individu te word. In kort, jou dogter is waarskynlik maar net besig om ’n tiener te word!

      Erika verduidelik dat die pituïtêre klier en die eierstokke met puberteit skielik baie meer hormone as tevore produseer.(Puberteit strek gemiddeld van 7-jarige ouderdom tot en met 13 jaar, met die gemiddelde ouderdom 10,5.)

      Die hormone verander nie net jou kind se liggaam nie, maar ook haar buie. Deel van hierdie proses is dat sy haar unieke identiteit vind. Daarom is dit baie algemeen dat kinders skielik meer privaatheid wil hê en meer begin dink oor allerhande dinge. Hulle is geneig tot buierigheid en onvoorspelbare gedrag, en dit verwar hulle ook, sodat hulle hulle soms onttrek. Hul portuurgroep se mening word elke dag al belangriker as pa en ma se “outydse manier” om na die wêreld te kyk. En natuurlik beteken dit dat hulle dus al meer hulle geheime eerder met ’n vriendin as met ’n ouer sal bespreek.

      Dus: geen rede tot kommer nie. Jy moet wel bekommerd wees daaroor as haar gedrag baie skielik verander en as dit ’n groot, betekenisvolle afwyking van haar gewone optrede is. Jy behoort ook verder na probleme te soek as sy sleg slaap, huilerig is, haar eetpatroon aansienlik verander, as sy haar onttrek van dinge of lang tye depressief lyk.

      Dis veral belangrik dat julle haar privaatheid respekteer, sê die kliniese sielkundige Elmarié du Plessis van Durbanville, Kaapstad. Klop byvoorbeeld voordat jy inkom, dit wys jy respekteer haar. Wees steeds beskikbaar wanneer sy wil praat – stel belang in haar lewe, maar respekteer haar as sy nie wil praat nie.

      Erika stel ook voor dat jy doelbewus ’n moontlike geselskans skep, soos om vir haar elke middag met huiswerktyd tee en ’n koekie te vat. Deel met haar spesiale privaat inligting soos hoe jou eie puberteit gevoel het en wat die dinge was waaroor jy bekommerd was. Dit skep ’n aanknopingspunt. Julle kan dalk selfs saam daaroor lag en dit verseker dat julle aanhou praat oor die dinge wat jy as ouer graag wil hê jou kind heel eerste met jou moet bespreek.

      DOENLYSIE

       Doen ook gereelde lekker gesinsuitstappies en betrek haar daarby.

       Moet nooit jou kind laat voel sy is onder polisiebewaking nie. Moenie in haar kamer gaan rondsnuffel as jy bekommerd is nie.

       As jy voel jy moet inmeng, maak seker jy doen dit om die regte redes, en nie vir jou eie behoeftes nie. As jy werklik bekommerd is en jy het die feite, gaan na jou kind en gesels met haar daaroor.

       Moet nooit ophou bou aan jul verhouding nie. Daar sal weer tye kom dat sy baie dinge met jou deel. Wees sensitief vir haar hunkering na privaatheid.

       Die meeste kinders moet al hier om en by elf, twaalf ’n private ruimte hê – verkieslik ’n eie slaapplek of ten minste ’n eie private hoekie.

       Lees ook vraag 87 oor depressie.

      VRAAG 15

      My kind sê ek luister nooit na haar nie, maar ek stem nie saam nie.

      ANTWOORD

Скачать книгу