'n Klein lewe. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Klein lewe - Wilna Adriaanse страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Klein lewe - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

nader hardloop en al rondom haar snuif. Selfs die kat wat stadig van die stoepstoel afgespring het en nou nader stap. En anderkant die heining, die duine.

      Hy wens hy het meer woorde gehad, beter woorde, sodat hy eendag vir sy kind kan vertel hoe dit gevoel het om hom vir die eerste keer hierheen te bring, dink hy toe hy die aand na die slapende baba kyk. Na ’n plek waar hy homself ken en verstaan. En aan sy eiewaarde glo. Maar hy weet nie hoe verduidelik ’n mens die vryheid wat saam met grond kom nie.

      Hulle slaap die eerste paar nagte binne, maar die tweede week sê sy Sanna-hulle aan om maar weer die beddens op die stoep op te maak. Wanneer die nagte nie afkoel nie, is dit die enigste plek waar daar soms ’n genadige luggie is. Soms laat dra sy die beddens selfs verby die stoep en dan lê en kyk hulle tot laatnag nog na die sterre.

      Die papiere dat hy as vrederegter vir die gebied aangestel is, kom op ’n dag met die pos daar aan. “Dit beteken maar net dat ek moet help toesien dat grense eerbiedig word,” verduidelik hy. Die eerste paar keer wat hy moet help om die grense na te ry, kom hy laatnag huis toe. Maar op ’n dag laat weet hy hulle is te ver, hy sal nie kan terugkom nie.

      “Moet ek die stoep se beddens opmaak, kleinnôi?”

      “Nee, Sanna, ons sal vanaand binne slaap.”

      “In dié hitte, kleinnôi?”

      Sy weet nie hoe sy vir Sanna moet sê sy sien nie kans om alleen met die baba buite te slaap nie. Sy het ook vergeet van huisgodsdiens, tot sy hulle na ete in die gang hoor en toe sy in die voorhuis kom, sit hulle reeds op hulle plekke. Sy gaan haal die Bybel in die kamer en lees die eerste keer vir hulle en bid soos sy hom elke aand hoor bid. Vir elkeen daar in die voorhuis, hul families, die plaas, die bure, die regering en die land.

      Die aand is doodstil en sy sweet onder haar hare toe sy klaar is.

      “Dra maar vir my die beddens buitentoe, Sanna,” roep sy voor hulle by die agterdeur uit is. “Dit gaan nie vannag afkoel nie.”

      Toe sy met die baba buite kom, gooi sy eers die wit gifkring om elke bed, soos hy haar geleer het. Dis al donker toe sy ’n ruk later die geskuifel ’n entjie verder hoor. Sy sit die flits aan en sien hoe die werksmense hul beddens tot by die hoek van die huis dra.

      “En nou, Andries?” roep sy na die oudste een.

      “Ons het maar gedink as ons hier kom lê, kan ons luister as kleinnôi ons in die nag nodig het.”

      “Dis goed so, Andries, dankie.”

      “Nag, kleinnôi.”

      “Nag, Andries.”

      ’n Sekelmaan is besig om oor die boomtoppe op te kom en die doringtakke gooi lang skaduwees oor die werf.

      Sy is gewoond aan die besproeiingserwe langs die rivier, nie hierdie duisende morge grond wat tot by die horison strek nie. Sy wonder soms of die regering geweet het daar sal mense wees wat bereid is om hier ’n heenkome te kom soek toe hulle die plase begin uitgee het. Gratis en verniet, op een voorwaarde: Die ontvanger moet die grond bewoon en bewerk en verbeterings op eie koste aanbring. Indien nie, word die grond deur die staat teruggeneem.

      Hy is soms so ver in die veld dat hy eers laatnag by die huis kom. Gewoonlik vat hy sulke tye sommer kortpad oor die duine en dan hoor sy die Jeep se dreuning lank voor hy by die huis is.

      “Hoe hou jy rigting in die donker as daar nie ’n pad is nie?”

      Hy het gelag toe sy dit die eerste keer vra en na die sterre beduie. “Sommer maar so met die Suiderkruis langs.”

      Toe die telefoon die oggend lui, tel sy dit niksvermoedend op. Die nuus laat haar daar in die gang op die vloer neersak. Hulle buurman is die vorige nag langs sy vrou in hulle bed vermoor. Sy leef nog. Die moordenaar is een van hulle eie werkers.

      Toe sy weer haar bene kan voel, stap sy buitentoe en stuur ’n werker met die perd om hom te gaan roep waar hy besig is om ’n windpomp in een van die kampe reg te maak. Voordat hy egter by die huis is, stop die eerste bakkie in ’n stofwolk op die werf. Kort in sy spore stop die volgende een en toe nog een en nog een, tot die werf later vol voertuie staan. Hulle praat vanoggend ’n harde taal, dink sy toe sy vir Sanna vra om die baba in te neem. Deur die voertuie se ruite kan sy die geweerlope sien. Toe hy met die Jeep stop, is daar nie tyd om te praat nie en toe hy oomblikke later met sy geweer op die stoep uitstap, kan sy hom net vlugtig soen. Sy bly staan ’n rukkie op die stoep voor sy omdraai. En dan sien sy hoe van die werksmense eenkant op die werf in ’n bondeltjie die stofstreep agterna staan en kyk. Sy bly die nag binne-in die huis, met die deure gesluit. Hulle soek heelnag, tot die polisie die volgende oggend laat weet hulle spoorsnyers het hom gekry en dat hy reeds in die selle op die dorp is. Sy sê dit nie vir hom toe hy later die oggend bleekmoeg by die huis kom nie, maar sy is bly die polisie het die moordenaar eerste gekry.

      Met die dogtertjie, vier jaar later, is sy haastig om by die huis te kom en na agt dae op die dorp laat weet sy hy kan haar maar kom haal.

      “Die kind se brein gaan losskud,” waarsku haar ma. “En wat van jou? Al jou vrouedele is nog nie eers behoorlik terug op hulle plek nie.”

      Maar sy lag net en begin inpak.

      Dis donker toe hulle op die werf stop. Hy stap voor haar uit om die lampe aan te steek. Toe sy deur die eetkamer loop, waai iets teen haar gesig vas en sy klap daarna, maar toe dit terugkom, trek sy daaraan en die volgende oomblik skakel ’n lig bo haar kop aan. Hy staan met ’n ondeunde glimlag in die deur. Dis toe dat sy eers bewus word van die sagte dreuning buite.

      “Jy het vir my lig gegee.”

      Hy lag net en neem die baba by haar.

      Sy is ’n vreeslike soet kind, skryf sy na ’n maand vir haar ma. Maar in die vierde maand skryf sy oor die kind wat so inkennig is. Sy wil na niemand anders toe gaan nie. Ons hoop maar sy verleer dit. Ons het besluit om haar na Ma te noem, laat weet sy toe dit tyd raak om haar te laat doop.

      Nee, my kind, gee haar tog ’n ander naam, skryf haar ma haastig terug. Op die ou end gaan sy ook maar net Kowa word. En dis vir my so lelik.

      Maar op die ou end doop hulle haar Jacoba en noem haar Koba. Die inkennigheid wil egter nie beter word nie, en die vriende spot al. Veral oor die planne wat sy maak wanneer daar vreemdes is en sy by haar mense wil uitkom. Dan kruip sy ver ompaaie.

      “Wat gaan van die kind word?” vra sy soms moedeloos vir hom wanneer Koba begin huil sodra iemand anders haar optel.

      “Gee haar maar kans. Sommige mense neem langer om aan die wêreld gewoond te raak.”

      Koba het ’n nuwe gier, skryf sy na ’n jaar huis toe. Sy is steeds stroopsoet en kan haarself vir ure met haar speelgoed vermaak, maar bewaar ons siele as ons haar daar wegneem. Dan huil sy tot haar asem uit is en sy soms blou om die mond word. Dan moet almal met natlappe hardloop. Ma moet dit sien, ’n mens skrik jou boeglam. Nou die aand het ons kuiermense gehad en toe ons haar optel om te gaan bad, was dit weer sulke tyd. Iemand het voorgestel ek gee haar ’n hou op haar sitvlak, wat ek natuurlik summier geweier het. Maar toe sy weer sonder asem in my arms lê, het ek nie geweet wat anders nie en ek het maar so gemaak. En daar vlieg haar oë oop en sy haal asem en hou dadelik op met huil. Kan Ma dit glo? Nou die dag het ek die ganse en hoenders gaan kosgee. Ek het nie gesien sy loop agter my aan nie tot ek ’n gil agter my gehoor het. Een van die gansmannetjies het haar omgespring en nou het sy ’n blou kol op haar maag waar hy haar gepik het. Ek

Скачать книгу