'n Klein lewe. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Klein lewe - Wilna Adriaanse страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Klein lewe - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

kom. Vytjie is haar naam en Koba is baie erg oor haar. Ma sal dit nie glo nie, maar die gouste wat ons haar aan die slaap kry, is as Vytjie haar kopdoek oor Koba se oë gooi. Ek weet wat Ma dink, maar Koba is nog heel gesond, so daar kan nie te veel kieme in die kopdoek wees nie. Sy is ook maar nog self kind en is daarom ’n goeie speelmaat vir die kinders. En wanneer die kinders slaap, was sy die doeke en help vir Sanna-hulle met die vloere en die groente se skil. Of sy gaan haal water by die buitetenk. Ma weet mos die werk hou net nooit op nie.

      Nie dat Boeta ’n speelmaat nodig het nie. Hy boer al fluks saam met die werkers en saans wanneer hulle die kalwers na die koeie moet neem, kom haal hulle hom, want hy ken elke koei se kalf. Ek weet nie wat van hom gaan word as hy moet skool toe gaan nie, Ma. Die plaas is in sy bloed.

      Die einde van die jaar gaan hulle weer see toe en sy laat kom vir Vytjie twee nuwe rokke van die dorp af en toe hulle vroeg die oggend vertrek, sit Vytjie agter langs die kinders. En soos hulle al verder ry, sien sy hoe Vytjie se oë al groter rek. Op die koppie by Mosselbaai lyk dit of Vytjie se oë uit hulle kaste spring toe die see skielik voor hulle lê.

      “Vytjie, dink jy die mense by die huis gaan jou glo as jy vir hulle gaan vertel van al die water?”

      Vytjie antwoord nie dadelik nie en toe sy antwoord, is haar stem ’n fluistering. “Nee, kleinnôi.”

      Vytjie slaap in die klein buitekamer. Daar is ’n enkelbed en kassie in en die eerste oggend gaan koop hulle ’n waskom en beker by die winkel. Saans na ete kom haal Vytjie vir haar warm water in die kombuis. Bedags gaan sy saam met hulle strand toe. Daar is kennisgewingborde op om te sê dat net blankes op die strand mag kom, maar daar is oral kindermeidjies te sien. Solank hulle met die kinders in die vlak water bly en sandkastele bou, kla niemand nie.

      Na twee weke by die see gaan hulle Kaap toe. Hulle het albei afsprake by spesialiste en dis ’n goeie geleentheid om darem ’n opvoering en ’n rolprent te sien. Hoe nader hulle aan die stad kom, hoe stiller raak Vytjie, tot haar asem klein wasempies teen die ruit maak. Die hotel sit teen Tafelberg en in die agterplaas is ’n ry buitekamers waar Vytjie saam met die ander werksmense slaap. Bedags gaan sy saam stad toe en saans neem sy vroeg die kinders na die kinder-eetkamer en dan bly sy by hulle in die kamer sodat hulle kan uitgaan of gaan eet.

      “Is hier dan nie sterre nie, kleinnôi?” wil Vytjie na drie dae weet.

      “Jy kan hulle net nie sien nie. Hier’s te veel liggies.”

      “Wanneer slaap die mense dan, kleinnôi? Die ligte brand dan die hele nag.”

      “Dis die straatligte, Vytjie. Hulle brand maar so deur die nag.”

      Elke aand wanneer hulle die kamerlig afskakel en die wind die stad se naggeluide op teen die berg dra, dink sy aan Vytjie in die buitekamer. Die kindmens wat gewoond is aan stilte en ’n naghemel wat in al sy grootsheid saam met die aandster oopmaak, en sy wonder oor die stories wat Vytjie by die huis gaan vertel.

      Die volgende jaar raak die droogte net erger. Bedags hou hy die horison dop en saans bid hulle saam in die voorkamer vir reën. Sy word al stiller, maar hy weet dis nie net die droogte nie. Boeta moet skool toe en dit beteken koshuis toe. Hy het later gewonder of dit die besluit makliker gemaak het. Wat as dit daardie jaar gereën het? Maar dit het nie en ’n mens kan nog vir reën bid, maar jy kan nie die brakwater onder die kalkrand soet bid nie.

      Die oppakkery maak haar moeg, so met die derde een op pad. Maar dis die groetery wat haar die meeste vang. Daar in die laaste dae stap hulle dikwels laatmiddag tot op die eerste duin, daar waar hy haar die eerste dag gaan haal het, en van daar sit en kyk hulle dan na die werf tot dit donker word. En na die werksmense wat gelate met die aandwerkies aangaan.

      Die laaste aand stap sy nie saam nie en klim vroeg in die bed. Sy wil nie vir hom sê sy het pyn nie, maar toe dit deur die nag vererger, bel hy vroegoggend die dokter.

      “Hy sê jy sal nie met die kar kan ry nie. Ek het reeds vir ’n vliegtuig gebel. Daar is genoeg plek vir jou en die kinders. Hulle behoort net na die middag hier te wees. Die dokter sal vir jou by die vliegveld wag en ek en Vytjie sal so vinnig kom as wat ons kan.”

      Die vliegtuig land net na een terwyl die hitte golwe op die pan maak. ’n Verpleegsuster klim saam met die vlieënier uit en wil eers weet hoe sy voel. Hulle maak haar gemaklik agter in die vliegtuig en tel toe die kinders in. Maar voor hulle die deur toemaak, roep sy hom.

      “Vat vir Boeta saam met jou. Jy en Vytjie kan nie alleen ry nie. Jy weet hoe moeilik dit gaan wees as julle vanaand by ’n padblokkade gestop word.”

      Hy tel die seuntjie uit en hulle drie bly staan langs die kar toe die vliegtuig opstyg, een maal laag oor die werf draai en toe suidwaarts koers kies.

      Haar ma se stem raak stil en sy sien hoe haar hand haar pa s’n vind. Sy wil haar ma vra of sy gehuil het, maar sy is oud genoeg om te vermoed sy weet wat die antwoord sal wees.

      Ons is soos die olienhoute langs die rivier, ons groei diep wortels, het sy haar ma al dikwels deur die jare hoor sê.

      “Was Pa al ooit jammer oor die besluit om daar weg te trek?”

      Die oumensoë kyk weer in die rigting van die grensmuur.

      “ ’n Mens kan nie so omkyk-omkyk leef nie. Jy kom nêrens nie.”

      Toe sy vra dat hulle verder moet vertel, skud hulle gelyk hul koppe. “Dis jou vlegwerk.”

      “Waar sal ek begin?”

      “Net waar jy wil.”

      “En wat moet ek alles gebruik?”

      Hulle kyk na mekaar en dis haar ma wat antwoord.

      “Woorde. Takkies. Gras. Hier en daar ’n klossie wol en ’n donsveer.”

      2

      In the name of the Father, and of the Son, and of the Holy Ghost.

      ’n Mens het twee geboorteplekke, besluit sy toe sy aan die begin dink. Daar waar die wêreld jou die eerste keer gesien het, maar dan is daar ook ’n plek waar jy die wêreld die eerste keer sien.

      Sy kan nie die lewe langs die rivier met iets anders vergelyk nie, maar vir haar voel die lewe hier maklik. Soos ’n klip wat in die water gegooi word ál wyer kringe maak, so word sy hier bewus van die wyer kringe wat om haar vorm. In die een naaste aan haar is haar pa, ma, haar ouer broer en die jonger een wat hier gebore is. Maar daar is ook ’n wyer familiekring met ’n oupa en ’n ouma, ooms, tannies, neefs en niggies. En nog wyer strek ’n vriendekring en heel buite ’n dorp vol kennisse.

      “Kennisse is mense wat ’n mens groet, maar jy nooi hulle nie noodwendig na jou huis toe nie,” sê haar ma.

      En selfs al woon hulle nou in die dorp, is daar weer grond. Nie net die groot erf waarop hulle huis staan nie, maar ook ’n plaas buite die dorp. Haar pa sê die klippe roep hard in hulle familie. Sy dink dit is omdat hulle daarvan hou om hulle arms wyd te swaai as hulle praat.

      “Gee ons ’n paar kluite, ’n bees, ’n skaap en dalk ’n hoender of twee en natuurlik ’n paar gewillige hande om die ploeg te help trek en die water aan te dra en ons vra nie veel meer nie,” sê haar oupa. Haar oupa woon langs hulle en teen sononder baklei hulle altyd wie oupa se melkkannetjie gaan wegbring, want daardie een kry gewoonlik ’n lekker. Dan hardloop hulle sommer met die hardgetrapte voetpaadjie deur die wingerd, onder die

Скачать книгу