'n Klein lewe. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Klein lewe - Wilna Adriaanse страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Klein lewe - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

wiele kan sien en vir daardie paar oomblikke is dit asof sy verder as die skoolmuur en die losieshuis se sandgrond kan kyk.

      Naweke sorg haar pa dat hulle rondry en die Kaap sien.

      “Die Kaap is ’n verleidelike plek,” sê haar ma eendag toe hulle teen ’n steil straatjie teen die berg uitry en afkyk oor die see. “Die Noordweste het aardse kleure, maar hierdie is ’n speelse plek met al die verskillende kleure en geure en aksente.”

      Die mense in die Kaap lyk vir haar anders as dié waaraan sy gewoond is. Waar hulle vandaan kom, is dit asof die mense dieselfde skerp kante van die kliprantjies het en hulle lywe is dikwels riemdun en laat haar aan ’n wildsbok dink. En om hulle oë het die son diep plooie getrek. Hier lyk die mense sagter, ronder en hulle praat ook anders. In die Noordweste praat die mense baie mooi en duidelik, byna asof hulle die woorde daar ver in hulle kele gaan haal en dan met hulle tonge so aanrol tot op die lippe. Hier is dit of die woorde sommer so los op die voorpunt van hulle tonge lê. Baie is ook vinnig van tong. Sy luister vir hulle wanneer hulle op ’n Saterdag Parade of blommemark toe gaan. En sy sien hoe party mense gaan stilstaan en dan lag.

      In die klas het hulle nou die dag ’n gediggie geleer:

      Ma’ mêrim, pô-pô, pô-pô en banana

      en juicy drywe yt die hartjie van die Kanaän,

      of hoe fancy die mêrim so ’n vy . . .

      Almal het gelag.

      Hulle eet saans halfses in die losieshuis se eetkamer. Dis ’n groterige vertrek met ’n boogvenster wat straat toe kyk. Dis baie vroeg en haar ma koop brood waarmee sy later saans vir hulle toebroodjies in die kamer maak wanneer hulle weer honger word. Maar op ’n dag ontdek haar ma ’n klein restaurantjie nie ver van die losieshuis af nie en toe hulle die volgende aand weer honger word, laai haar pa almal in die kar en hy gaan koop vir hulle ’n heelgebraaide hoender. Van toe af kan hulle nie wag vir die uitstappie nie en hulle raak nooit moeg vir die hoender nie. Haar ma sê hulle is op soek na trooskos omdat hulle nie in hul eie huis woon nie. Soms hoor hulle hoe kom snuffel die wolfhond by die deur terwyl hulle die hoender sit en eet. Haar pa sê die eienaar van die restaurant is ’n Italianer en sy wonder of hy nie dalk van Meisie se pa familie kan wees nie. Hoeveel Italianers is daar dan in Suid-Afrika?

      Aan die einde van daardie skooljaar besluit haar ouers om oor die berg tot in die Breëriviervallei te trek. Dit is naby genoeg aan die stad vir haar pa wanneer hy vergaderings moet bywoon, maar ver genoeg dat ’n mens weer die sterre kan sien. En op die groot dorpserf is dit nie sanderig nie. Hulle kan weer modder maak.

      “Ek het Kalahari-kinders,” sê haar ma wanneer mense vra. “Hulle is gewoond om wyd te speel.”

      Hier is ook ’n rivier. Van die huis se stoep af kan hulle die effens groener soom sien, maar dis nie so opsigtelik soos daar in die droë wêreld nie. En tog is sy altyd bewus daarvan en wanneer dit in die winter vir ’n week of wat onverpoos reën en die sneeu plek-plek op die berge smelt, oorstroom die rivier ook sy walle. Dan laai haar pa hulle in die kar om te gaan kyk. Hulle is dikwels die enigstes daar. Dis nooit so vinnig en raserig soos die Grootrivier nie. Die vloei is vlakker, wyer, stadiger.

      “Julle is niks gewoond nie,” spot haar maats soms as sy vertel hulle het na die rivier gaan kyk. Dan probeer sy verduidelik van droogte wat ’n mens kan sien en van plantjies wat net na die reën opkom. Maar mense wat op sagter plekke woon, verstaan nie altyd nie.

      Haar nuwe skool is ’n meisieskool en sy wens elke dag sy kan liewer by die huis bly. Sy is nie gewoond aan soveel meisies nie. Hulle stemme klink anders en hulle praat ander dinge as die seuns.

      “Hulle maak my bang,” sê sy toe haar ma haar vra. “En ek verstaan hulle nie altyd nie. Die een dag praat hulle met my, maar die volgende dag hardloop hulle weg as ek nader kom.” Wat sy nie vir haar ma of enigiemand anders vertel nie, omdat sy bang is hulle lag vir haar, is die droom dat sy saam met haar broers kan skool toe gaan. Net sy. Dis altyd moeilik wanneer sy na so ’n droom wakker word.

      Van die vroue wat by haar pa-hulle werk, dra lang doeke oor hulle hare. Hulle lyk soos die bruin mense, maar haar pa sê hulle is Moslems en hulle gaan na die kerk met die ronde torinkie waar ’n man met ’n lang wit rok soms op die balkon uitkom en hardop roep.

      “Dis die imam wat hulle herinner om te bid,” verduidelik haar ma. Sy is nie seker vir wie hulle bid nie, maar hulle het baie mooi name: Moena, Ibrahim, Nazeed, Nabu.

      Moena bak die lekkerste sjokoladekoek wat sy al ooit geproe het en toe sy verjaar, bak Moena vir haar ’n sjokoladekoek wat soos ’n hart lyk. Sy kook ook baie lekker kerriekos wat anders as haar ma s’n ruik en proe, en haar ma gaan gee soms vroegoggend kosbakke daar af en dan gaan haal hulle dit laatmiddag.

      Haar ma sê die vreemde reuk in die huis is van al die speserye waarmee hulle kook.

      “ ’n Mens kan van die vloere af eet,” hoor sy haar ma vir haar pa sê nadat hulle die eerste keer daar was.

      Soms bring Moena self die kos en dan nooi haar ma haar in en hulle sit in die kombuis en haar ma maak tee. En hulle drink uit die gewone kombuiskoppies, nie die bekers onder die wasbak waaruit Japie die tuinjong of Maria die bediende drink nie. Toe sy haar ma eendag vra, sê haar ma iets van ’n beter tipe en daarna het sy nooit weer gevra nie, want sy kan sien haar ma sukkel om daaroor te praat.

      Soos toe sy kleiner was, daar langs die kanaal en die Grootrivier, kry hulle lewe hier tussen die berge en wingerde ook mettertyd ’n patroon.

      “Ek gaan nooit aan hierdie nat winters gewoond raak nie,” kla haar ma dikwels gedurende daardie eerste winter. “Wat maak die mense hier met die kinders in die winter?”

      Sy hou nogal daarvan as die reën so ’n paar dae lank oor die vallei hang. Dan word die vuur in die sitkamer al vroeg-oggend opgesteek en kan sy middae na skool daar lê en boeklees. Dis vreemd om te dink die jakarandas voor die huis wat heeltemal kaal staan, gaan ooit weer blare kry.

      “Wag vir die lente en jy sal hulle nie ken nie,” lag haar pa wanneer sy vra.

      Soms ry hulle op ’n Sondag om na die watervalle in die berg te kyk.

      “Waarom is ons so behep met water en dink jy ons sal ook eendag nie meer kyk nie?” vra haar ma toe hulle weer eendag uitry om te kyk hoeveel dit gereën het.

      Haar pa het nie dadelik geantwoord nie. Eers net die wêreld om die motor sit en bekyk, terwyl die motorbande op die nat pad suis en die ruitveërs heen en weer op die voorruit swaai.

      “Nee, want ons ken dors.”

      Sekere dinge het nie verander nie. Hulle gaan steeds elke Sondag kerk toe en sit aan die linkerkant van die kerk en haar pa bekyk nog elke Sondag die mense aan die regterkant asof hulle op ’n dwaalpad is. Haar ouers werk hier ook vir elke basaar, skoolkermis en verkiesing. En hulle stem steeds Nasionaal.

      Onder hulle in die straat woon Engelse mense en die pa is die leier van die Sappe op die dorp. Bloedsappe, sê haar pa. Toe dit weer verkiesingstyd is, ry sy en haar maatjie met hul fietse daar verby en skreeu kliphard: “Sappe!”

      Sy weet nie hoe haar ma daarvan uitgevind het nie, maar sy was baie kwaad en hulle het dit nie weer gedoen nie. Na die verkiesing vergeet ’n mens in elk geval weer sulke dinge.

      Sy dink nie sy hou daarvan om ’n kind te wees nie, besluit sy toe sy een aand op haar bed lê, haar kamerdeur op knip getrek. Daar is te veel dinge wat

Скачать книгу