'n Klein lewe. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Klein lewe - Wilna Adriaanse страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Klein lewe - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

sy nie slaap nie.

      “Hoe weet ’n mens as daar ’n wurm in jou kop is?” vra sy later haar ma, maar haar ma lag net vir haar en sê sy moet haar nie oor nonsens bekommer nie.

      Op Saterdag 10 September sit sy saam met haar ma-hulle voor die radio om na die uitsending van die begrafnis te luister. Daar is selfs mikrofone in die kerk en hulle hoor hoe die dominee uit 2 Samuel 10 lees: Wees sterk en laat ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë.

      In sy gebed sê die dominee: As ons vyande ons hard wou slaan, kon hulle ons geen gevoeliger slag toegedien het as om hom van ons af weg te ruk nie. Maar as hulle meen dat hulle daarmee ons rug sou breek, dan ken hulle nie die gees van die volk wat ’n Hendrik Verwoerd opgelewer het en waarvan hy die geliefde leier geword het nie. Ons het ’n man verloor, maar goddank ons het die boodskap van sy lewe behou.

      Hulle kan hoor hoe die mense sing en hoe die dominee die seën uitspreek. Toe vertel die omroeper dat die draers die kis onder die vlag op die kanonwa laai. Hulle kan selfs hoor hoe negentien kanonskote afgevuur word en die dodemars gespeel word. Volgens die omroeper ry daar veertig polisiemanne op perde met lanfervlaggies langs die kis. Die stoet beweeg stadig van Kerkplein af, maar by die hek van die begraafplaas kan die omroeper nie meer vertel nie, want van daar af mag net die familie by wees. Sy bly sit saam met haar pa-hulle tot die laaste note van die aandsinjaal stil raak.

      “Die omroeper het dit goed gedoen. Sy stem het die gewydheid mooi oorgedra.” In haar ma se oë is trane toe sy dit sê.

      “Ja, dit was baie stigtelik,” beaam haar pa en sy sien dat sy oë ook blink.

      Sy het gewonder of ’n mens in die dorp sal agterkom daar het iets verander, maar die volgende dag en die dae daarna het die lewe tussen die kanaal, rivieroewer en kliprantjies maar min of meer dieselfde gebly. Selfs die foto in die gang het bly hang. By die winkel en kafee staan die bruines en enkele swartes wat op die dorp is, steeds by die buitevenster wanneer hulle wil koop. Die Sondag in die kerk waarsku die dominee weer teen die Roomse Gevaar en toe sy kort daarna saam met haar ma winkel toe gaan, sien sy hoe ’n kind agter sy ma se rok wegkruip toe een van die nonne van die sendingstasie buite die dorp verby hulle loop. In die groot afdelingswinkel sit die toonbankassistente steeds die geld in die klein grys houertjie en dan gly dit al met die oorhoofse draad na die kassiere bo in die kantoor terwyl die klante geduldig op die “geldkarretjie” wag om die regte kleingeld te bring.

      ’n Paar maande later word daar weer kerkbasaar gehou en die mense staan tou vir ’n pannekoek en ’n kerriesosatie. Die enigste nuwe ding is dat die biblioteek begin het met musiek-aande en haar ma het gesê sy kan saamgaan. Na die tyd kan hulle van die plate koop en sy besluit die mooiste lied wat sy gehoor het, is die Duitse liedjie “Muss I’ Denn”. By die huis gaan spog sy met haar eerste musiekplaat.

      Ja, hier teen die rivier gaan die lewe min of meer sy normale gang.

      3

      It was a childish ignorance, but now ’tis little joy to know I’m farther off from heaven, than when I was a boy.

      (Thomas Hood)

      Dis donker toe hulle die Kaap nader en hulle kan nie die berg sien nie. Haar ma is baie stil, maar sy huil nie meer nie. Hulle almal het gehuil toe hulle haar oupa en ouma moes groet. En vir Josef en Meisie. En die vorige dag is hulle ook nog eers kerkhof toe om blomme op haar oorlede oupa en ouma se grafte te gaan sit en te groet.

      Die vorige keer toe hulle getrek het, was sy te klein om alles te sien en te verstaan, maar nou is sy groot genoeg. En al kom hulle elke jaar ná die seevakansie Kaap toe, is dit hierdie keer anders. Die pad lyk vreemd, want jy weet jy gaan dit nie weer gou ry nie. En wanneer jy dit weer ry, gaan jy nie huis toe nie, maar jy gaan net kuier, sê haar ma.

      Sy weet nie wat ’n kettingwinkelgroep is nie, maar haar pa gaan help om een te begin en dis waarom hulle Kaap toe moet trek. Haar pa het hulle in die sitkamer laat sit toe hy vir hulle die nuus vertel. Haar ma was baie stil en haar pa het gesê dit was nie ’n maklike besluit nie, maar dis ’n goeie geleentheid vir hulle.

      “Die Kaap het goeie skole.”

      Haar ma was ’n rukkie stil en toe knik sy. “Dit sal nie maklik wees nie, want ons almal maak diep wortels, maar die Kaap het sy eie bekoring en ek is seker dit sal ’n interessante nuwe ervaring wees.”

      By die losieshuis bly hulle in die kar sit terwyl haar pa eers alleen ingaan en sy sien hoe haar ma die plek bekyk. Dit staan styf tussen ander huise ingedruk.

      “Hier is nie eers plek om spore te trap nie,” hoor sy haar ma sag mompel toe haar pa terug in die kar klim.

      “Drie maande is darem nie ’n leeftyd nie,” paai haar pa en dan beduie hy dat hulle moet afklim. Op die stoep staan ’n groterige vrou met ’n wolfhond langs haar. Sy sê iets vreemds vir die hond en die hond gaan lê by haar voete.

      “Waarom praat sy Duits met die hond,” wil haar ma weet toe hulle in die kamer kom, maar haar pa weet nie.

      Hulle het twee kamers in die losieshuis. ’n Grote waar haar ma-hulle slaap en ’n kleiner een vir hulle drie kinders. Die eerste nag lê en luister sy na al die geluide wat sy nie ken nie. Dis ook vreemd om weer saam met iemand in ’n kamer te slaap. By die huis het hulle elkeen hul eie kamer gehad. Die volgende oggend lyk alles vreemd en sy sien haar ma het nog nie ophou kyk nie. Voor die huis staan ’n lukwartboom met klein vruggies aan. Die vrou met die wolfhond sê ’n mens kan die vruggies eet, maar toe sy probeer, spoeg sy dit uit, want dit smaak nie vir haar lekker nie. Sy hou van die stroopsoet sultanakorrels wat hulle somermaande onder die groen wingerdblare pluk.

      Die grond agter die huis is sanderig en hoe hulle ook al probeer, hulle kan nie klei daarmee maak nie. Op die ou end vang hulle maar van die baie slakke wat daar is en probeer met hulle resies jaag. Daar is soveel slakke dat elkeen meer as een span kan inskryf. Sy mis grond, dink sy toe sy daardie aand in die bed lê. Veral wanneer die grond nat is, dan ruik dit so lekker dat sy soms sommer ’n stukkie daarvan in haar mond sal sit. Hierdie sand ruik na niks.

      Die nuwe skool is nie ver van die losieshuis af nie en haar ma stap soggens saam met haar en middae kom haal sy en haar boetie haar weer. Hulle kom vroeër as die groter kinders uit en daarom kan sy nie saam met Boeta loop nie. Hy het in elk geval reeds weer maats gemaak saam met wie hy middae van die skool af stap.

      “Waarom dra jy ’n blou rok?” Die meisie is saam met haar in die klas, maar is langer en groter en sy moet opkyk na haar toe.

      “Ek kom van ’n ander skool af.”

      “Waarom koop jou ma nie net vir jou ’n groen skoolrok nie?”

      “Ek weet nie.”

      “Ons is nie seker of ons na die drie maande hier gaan aanbly nie,” sê haar ma toe sy die middag vra. “As iemand vra, sê vir hulle die skoolhoof het gesê julle mag eers met julle ou skoolklere kom. Die kwartaal is te kort om nou ’n klomp nuwe klere te gaan koop.”

      Sy is gereed met haar antwoord toe die meisie haar die volgende dag weer vra, maar haar verduideliking is blykbaar nie goed genoeg nie, want die meisie skud haar kop.

      “Jy lyk snaaks met die blou skoolrok. As ek jy is, bly ek maar liewer by die huis.”

      Sy beny haar boetie wat nog nie skool toe gaan nie en bedags by die huis kan bly. Hier en daar probeer iemand vriendelik wees, maar die meeste kinders het reeds deur die jaar groepies gevorm en

Скачать книгу