Schalkie van Wyk Keur 9. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk страница 12

Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

… waar hou hulle die slang?” vra sy en loer benoud na die voorportaal asof sy verwag om enige oomblik die slang te sien nader seil.

      “In my een buitekamer. Nee, wag, moenie voorspooksels maak nie, want daardie molslang word so vet gevoer met allerlei insekte en maalvleis wat die seuns vir hom aandra, dat hy nie eens die moeite sal doen om te ontsnap nie, selfs al kon hy,” probeer hy om haar gerus te stel.

      “Maar julle gaan tog nie die arme slang vir altyd in ’n buitekamer toegesluit hou nie?” vra Sanet, haar emosies wisselend tussen jammerte vir die slang en kommer oor haar eie veiligheid as die slang dalk sou ontsnap.

      “Die slang is net ’n nuutjie en sodra die skool begin, sal die tweeling wel iets anders kry om hulleself mee te vermaak. Maar ek het nie tien rand betaal om oor ’n lawwe molslang te gesels nie, my stowwerige bruidjie. Wanneer gaan jy by my kom eet?” vra hy, lê sy hand op haar ander arm en laat haar voor hom staan sodat hy haar gesig kan dophou.

      “By jou?” Sy staar hom aan. “Meneer Du Pont, ek waardeer jou humorsin, maar oom Lukas het my reeds vertel van jou en Elrina. Jy hoef nie langer die vriendelike buurman te speel wat probeer om my tuis te laat voel nie. Ek is klaar tuis hier op Bothasrus.”

      “En elke sin is ’n leuen … tsk, tsk,” klap hy sy tong terwyl hy haar betrag. “Oom Lukas kon jou niks van my en Elrina vertel het nie, want sy dra nie my ring nie. Daarby kan jy onmoontlik tuis voel op Bothasrus, want behalwe die Sondagoggenddiens in die kerk, het jy nog nie jou neus by die voordeur uitgesteek nie. Is jy bang vir mense?”

      Hy laat haar skrik en sy wonder of hy dalk daardie koerantberig van vier jaar gelede onthou. Sy voel ’n gloed van verleentheid op haar gesig en kyk skuldig af.

      “Dis byna etenstyd. As jy nou asseblief die molslang sal verwyder …” dwing sy hulle gesprek in ’n ander rigting.

      Hy lig sy regterhand, laat ’n blonde krul wat onder haar kopdoek uitgekruip het speels om sy wysvinger krul en vee dan liggies met sy vingerpunt oor haar wang.

      “My vuil meisie … maar so pragtig soos ’n sprokiesprinses. Dalk moet ek jou tog nie vet voer nie, want dis makliker om jou rond te dra as jy soos ’n sprinkaan lyk,” sê hy en laat dit soos ’n kompliment klink.

      “Dankie. Ek waardeer dit as iemand my ’n sprinkaan noem. Wat noem jy Elrina? ’n Vetgevoerde ruspe?” vra sy gekrenk.

      “A-ha, al weer die jaloesie! Sanet, my skat, jy wil dit nie erken nie, maar jy hou tog ’n klein bietjie van my, daarom raak jy so katterig teenoor die onskuldige Elrina. Besef jy wat daardie meisie alles vir ons dorp doen? Dis ’n komitee vir ’n nuwe kerkklok, ’n vereniging vir vet vroue wat maer wil word, ’n klub vir kinders wat op hulle ouers se senuwees werk. ’n Meisie wat soveel tyd aan ander se welsyn kan afstaan, verdien ’n medalje. Stem jy nie saam nie?”

      “Gaan gee dan vir haar ’n medalje en bly uit my pad, meneer Du Pont,” antwoord sy kwaad omdat sy wel jaloers voel op ’n meisie wat haar geen leed aangedoen het nie.

      “Noem my Jean-Pierre en beloof my plegtig jy sal eendag met my trou, anders soen ek jou hier voor die voordeur en hoop tant Ellie sien ons,” treiter hy.

      Sy kyk na hom en haar blik word ’n liefkosing, want diep in haar rank ’n nuwe besef op: sy hou van hom … sy hou so baie van hom. Hy terg haar omdat hy dit geniet om haar kwaad te maak; spot met die liefde asof hy nog nooit ervaar het dat liefde angels het wat pyn pleks van vreugde bring nie. Miskien moet sy daardie ver gister vir goed begrawe en saam met hom lag oor die liefde, want solank ’n mens nie liefhet nie, kan jy ook nie seerkry nie; solank liefde net ’n woord bly, dra jy geluk in jou hande.

      “Nee,” sê sy dan en besef nie sy praat hardop nie. “Nee, nie weer nie … nooit weer nie.” Sy kyk in sy oë, besef dat sy haar gedagtes hardop uitgespreek het en voel verleë. Sy hande vat aan haar boarms en sy oë is byna swart van erns.

      “Ek het hardop gedink … ek is jammer,” maak sy verskoning.

      “Was jy baie lief vir hom?” vra Jean-Pierre asof hy haar verskoning nie gehoor het nie.

      Sy knik stom en vervolg aarselend: “Hy was my eerste liefde en dalk … dalk verwag ’n mens te veel van die liefde as jy jonk is. Ek het verwag dat hy …” Sy glimlag ongemaklik en tree weg van hom. “Ek het nog nooit met ’n vreemdeling daaroor gepraat nie.”

      “Ek is nie ’n vreemdeling nie, Sanet. Ek is Jean-Pierre, die man met wie jy eendag gaan trou. Of sal hy terugkom en jou kom haal?” vra hy.

      “Niemand sal my kom haal nie,” antwoord sy.

      “En as jy trou, sal dit met my wees?” vra hy dringend.

      Sy lag oorwonne. “Ja, Jean-Pierre,” antwoord sy en vlug weg om die hoek van die huis toe hy sy arms gretig uitsteek om haar te vang.

      Sanet stap in die gang af na die studeerkamer, hoor stemme in die voorkamer en loop die voorportaal binne. Sy het die hele oggend, soos die vorige vyf dae, haar tyd in die solder deurgebring om dit in ’n speelkamer vir die tweeling te verander. Wanneer oom Lukas besoekers het, is dit seker haar plig om hulle te gaan groet en dan te gaan tee of koffie maak, dink sy en bly in die deur van die sitkamer staan.

      “Môre, tant Ellie,” groet sy met ’n halfhartige glimlaggie toe sy tant Ellie op ’n rusbank teenoor oom Lukas sien sit, en wens sy het liewer nie by die sitkamer ingeloer nie.

      “Dis lankal middag, want dis byna etenstyd. Het jy darem al begin met die middagete? Ek verneem die twee seuns boer by Jean-Pierre en pla die arme Marie-Louise tydig en ontydig … eet haar glo uit die huis uit. Wat staar jy my so aan asof jy nie mooi verstaan wat ek sê nie? Jy weet tog Marie-Louise is Jean-Pierre se jonger suster en orreliste van ons kerk. Sy gee musieklesse ook … ’n geleerde meisie, net soos Elrina. Jy het haar tog seker al ontmoet?” vra tant Ellie met ’n skrilheid in haar stem asof sy liewer met Sanet wil rusie maak as om rustig te gesels.

      “Ek weet van Marie-Louise, tant Ellie, maar ek het haar nog nie ontmoet nie. Sal ek tee of koffie gaan maak, oom Lukas?” vra Sanet met ’n kalm glimlaggie.

      “Nee wat, my kind, dan sit ou Ellie net langer en kritiseer boonop die tee wat jy agter haar aandra,” sê oom Lukas en lag oor die venynige kyk wat tant Ellie in sy rigting flits. “Ja, toe, Ellie, ek ken jou mos al langer as gister en daarom hoef jy nie gekrenk te lyk nie. Jy hou nie van my niggietjie nie, want sy is ’n mooi kind en jy kwel jou oor die moontlikheid dat Jean-Pierre dalk meer van Sanet as van Elrina hou.”

      “Oom Lukas …” verwyt Sanet gedemp.

      “Ek het g’n rede om my te kwel nie, Lukas Grové,” sê tant Ellie en lig haar ken terwyl sy haar hande vroom op haar skoot saamvat. “Elrina is ’n geleerde meisie met ’n graad, nie ’n ryk familielid se huishoudstertjie nie. En daarby weet almal dat my dogter eendag skatryk gaan erf wanneer haar ouma Christina sterf, want sy is haar ouma se enigste erfgenaam. Jean-Pierre sal ’n dwaas wees om vir hom ’n ander bruid te kies.”

      “Jean-Pierre het nie ou Christina se geld nodig nie, Ellie, want hy het genoeg. En ’n bietjie geleerdheid pla Sanet nie, want sy het self haar B.Com-graad,” antwoord oom Lukas, en ’n tikkie skerpte in sy stem verraai sy ergernis aan Sanet.

      “En wat vir ’n graad is dit? Ek het nog nooit van so ’n graad gehoor nie. Gaan ’n mens universiteit toe daarvoor?” stel tant Ellie haar onkunde ten toon.

Скачать книгу