Schalkie van Wyk Keur 9. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk страница 8

Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

en staar hom stil aan, onbewus daarvan dat haar oë sonder woorde pleit om bevryding. Hy lees haar pleidooi in haar oë, maar omdat hy nie weet waaroor dit gaan nie, buig hy nader en soen haar op haar lippe. Die aanraking van sy lippe op hare is soos ’n vlam.

      “ ’n Soen vir my bruid,” sê hy met iets soos eerbied in sy stem en wonder oor die hartseer wat nog in haar oë skuil.

      “Het oom Lukas jou nie vertel nie? Ek sal nooit trou nie,” sê sy, verstom oor die alledaagse klank van haar stem in haar ore.

      “So alle Josafat!” skril ’n skel stem. Sanet ruk haar kop op na die westelike ringmuur. “Jean-Pierre, wat soek jy met ’n vreemde meisiemens in jou arms? Wat gaan Elrina daarvan sê?”

      Sanet sien oor die ringmuur die kop en skouers van ’n skraal vroutjie wat sy in haar vyftigerjare skat. Die vrou het helderpienk en koningsblou haarkrullers in haar gekleurde, rooibruin hare, en met haar geplukte wenkbroulyne en sonder ’n tikkie grimering herinner sy Sanet aan ’n kaalgeplukte hoender. Die vrou, wat heel waarskynlik op ’n leer staan, hou haar donkerrooi kamerjas met ’n kuis gebaar teen haar keel toe en klou met haar regterhand aan die ringmuur vas.

      “Al gehoor van die slang in die Paradys?” vra Jean-Pierre gedemp en kyk na die nuuskierige buurvrou wat verder oor die ringmuur leun om tussen die takke en blare deur te sien presies wat hy en Sanet doen. “Môre, tant Ellie! Gaan trek ’n mooi rokkie aan, dan stel ek tante aan oom Lukas se niggie voor,” roep hy hartlik.

      “Dan het die meisiekind gekom, nè? Kom ’n bietjie hierdie kant toe sodat ek haar behoorlik kan sien, Jean-Pierre. Wat klou jy haar so vas, hè? Ou meisietjie, Jean-Pierre het jou seker nog nie vertel nie, maar dis ’n uitgemaakte saak dat hy en my dogter gaan trou, daarom kan jy maar ophou ogies maak vir hom. Toe, toe, Jean-Pierre, stel die meisiekind aan my voor dat ek darem ook kan sien hoe sy lyk,” beveel tant Ellie ongeduldig.

      “Ek kan nie nou nie, tant Ellie. Die arme meisie het haar enkel verstuit, en ek was juis van plan om haar huis toe te dra,” antwoord Jean-Pierre, buk effens en swaai die oorblufte Sanet in sy arms op. “Hou vas om my nek, anders ruk jy my van balans af,” fluister hy. “En kreun so ’n bietjie, net om tant Ellie tevrede te stel.”

      “Nee, los my! Ek is te swaar en … en …” protesteer Sanet, haar wange gloeiend van verleentheid, en klou Jean-Pierre werktuiglik om sy nek vas wanneer hy met lang, vinnige hale tussen die bome deur na die agterdeur begin stap.

      “Swaar? Jy?” Sy oë lag haar uit. “ ’n Bietjie benerig en maer, maar niks wat gesonde boerekos nie kan regmaak nie. Ek kan nie toelaat dat my bruid ondervoed lyk nie.”

      “Is Elrina ondervoed? Jou aanstaande skoonmoeder lyk soos ’n visgraat,” sê sy. Sy probeer skerts, maar klink katterig. Sy weet lankal reeds sy sal nooit trou nie, maar dit het tog ’n klein bietjie getroos om net oomblikke lank na ’n towerwêreld te ontsnap en te glo dat ’n man soos Jean-Pierre haar kan liefkry en haar as sy bruid begeer. Maar sy liefde was ’n grap en sy woorde leeg soos al haar môres, besef sy en kriewel ongemaklik in sy arms, bewus van haar eie hande wat hom styf om sy nek vashou.

      “Mooi, my meisie is reeds jaloers op een van my ou nooiens. Maar moenie kwel nie, Sanet. Ek is ’n gewilde man en jy gaan nog hope van my ou meisies raakloop. Wanneer gaan jy my van al jou ou liefdes vertel?”

      Hy sit haar op haar voete voor die kombuisdeur neer en kyk haar laggend aan, maar sy vermy sy blik. Hy kan skerts oor sy baie liefdes, maar as sy die dag eerlik moet praat … Sy steek haar hand na die deurknop van die agterdeur uit.

      “Gaan jy nie vanoggend werk toe nie? Of gee jou baas nie om dat jy laat kom nie?” vra sy kil.

      Hy antwoord nie dadelik nie, en hy kyk haar lank aan. “Ek wil lag omdat ek liefhet, Sanet, maar as jy glo ek skeer die gek …” Hy steek sy regterhand uit en streel met ’n vingerpunt liggies oor haar wang en ken. “Die tweeling het my verseker jy het niemand anders lief nie. Is dit dan nie waar nie?”

      “En as dit waar is?” vra sy.

      “Dan vra ek jou of ek jou mag leer om my lief te kry, want ek gaan met jou trou,” antwoord hy.

      “Maar jy het my nie lief nie! Jy ken my nie,” sê sy verbysterd, vir die eerste maal seker van sy eerlikheid.

      “Ek het jou gistermiddag liefgekry daar voor die kafee,” antwoord hy. “Snaaks dat jy my nie liefgekry het nie, want ek het vanaf die eerste oomblik geweet jy behoort by my. Het jy dit nie ook aangevoel nie?”

      “Ek het ’n molslang om my nek gehad,” herinner sy hom en glimlag teësinnig.

      “Maar intussen het ek jou gesoen en in my arms gedra. Is jy nog nie lief vir my nie?” vra hy ernstig.

      Sy hou van hom … sy hou so baie van hom, dink Sanet. As sy haarself kon toelaat om lief te hê, sou dit so maklik gewees het om hóm juis lief te kry. Nee … Nee, sy is immuun teen die liefde, want liefde bring net vernedering en pyn, waarsku haar verstand en verdryf die stil verlange uit haar oë.

      “Ek is seker daarvan dat Elrina vir jou ’n ideale vrou sal wees, meneer Du Pont. Sien, ek is ’n meisie met ’n verlede, daarom soek ek nie vir my ’n bruidegom nie,” sê sy gelykmatig en begin die agterdeur oopmaak.

      Sy hand skiet uit, sluit om haar pols en dwing haar hand weg van die deurknop. “Ons het almal ’n verlede, goed of sleg. En wie het nie ’n ratelende geraamtetjie in die kas, soos die Engelse sê nie? Is dít wat jou kwel?” vra hy dringend.

      Sy kyk na sy groot hand op haar pols, voel sy krag en weet in ’n flitsende oomblik dat sy altyd veilig sal wees as sy sterk hand hare vashou. As sy maar net kon … smag haar hart, maar haar magteloosheid om haar hand uit te steek en sy droom van liefde te aanvaar, laat ’n gevoel van onredelike woede in haar binneste opstu.

      “Laat my gaan, meneer Du Pont. Ek stel nie in jou of jou ligsinnige liefdespraatjies belang nie.” Sy probeer haar arm losruk.

      Hy los haar hand en kyk haar ’n paar oomblikke lank stil aan.

      “Hy het jou baie seergemaak, nè? Anderdag vertel jy my van hom, maar nou moet ek eers gaan. Tot later, Sanet,” groet hy. Hy kyk haar besorgd aan en draai dan weg.

      Sy staar hom verslae agterna en wonder of hy tog nie weet van dít waarvan sy so lank reeds wegvlug nie, en gaan die kombuis binne.

      Oom Lukas kom by die voordeur uitgestap, ’n kierie in sy hand, juis wanneer Sanet met ’n skinkbord met koffie die voorportaal binnekom.

      “A, ’n lekker koppie koffie is net wat ek nodig het,” sê oom Lukas en stap nader. “Môre, Sanet. Dan is jy ook vroeg op?”

      “Ja, oom. Môre, oom Lukas. Ek was in die boord, maar … e … Gaan stap oom elke oggend?” vra sy en voel haar gesig warm word wanneer sy aan haar ontmoeting met Jean-Pierre in die boord dink.

      “Elke oggend, winter en somer, klokslag sesuur,” antwoord hy en gaan sit op ’n stoel langs ’n muurtafeltjie in die voorportaal om sy koffie te drink. “Ongelukkig weet Ellie van Duuren, my buurvrou op linkerhand, dit ook en word ek elke oggend van my lewe deur ’n bleek gesig met krulpenne in die hare voorgelê.”

      “O … O ja, tant Ellie,” prewel Sanet en sluk aan ’n mondvol koffie. Sou tant Ellie dalk iets van haar en Jean-Pierre gesê het? wonder sy en kyk sku na oom Lukas. “Is … is tant Ellie ’n weduwee?” vra sy en staar stip

Скачать книгу