Schalkie van Wyk Keur 9. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk страница 5

Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

hoe Jean-Pierre op die sitplek gaan sit en gemaklik regskuif asof hy van plan is om lank te kuier.

      “Ek was nie ’n kleuterbruid nie!” snou sy hom toe en bloos vuurrooi omdat sy soos ’n katterige kleuter klink en oor iets rusie maak wat die vreemdeling tog nie kan raak nie.

      Wat skort met haar? Sy was reeds drie dae voor Kersfees vyf-en-twintig, en almal wat haar ken, bewonder haar oor haar ysige selfbeheersing en kille waardigheid; daar is selfs enkele mans wat haar opreg bejammer oor haar onkreukbare selfdissipline, want hulle voorspel ’n eensame oudag van oujongnooiskap vir haar.

      Watter vreemde invloed het Jean-Pierre du Pont op haar dat sy van ’n koue, professionele rekenmeesteres in ’n twisgierige kind kan verander? vra sy haarself af en blik ongemaklik na hom.

      Hy glimlag vir haar en sy glimlag laat haar onmiddellik vergeet wie of wat sy is. Dit laat haar vergeet van haar woede jeens hom en van die tweeling se molslang, want daar is soveel warmte en opregte belangstelling in sy glimlag dat sy vir die eerste keer in baie jare voel asof sy nie langer alleen buite in die koue staan nie.

      “Ek is so bly, want nou kan ek jou mý bruid maak,” antwoord Jean-Pierre en nou vonkel sy glimlag onnutsig.

      Dan is hy een van daardie soort mans, dink sy teleurgesteld. Hy is die soort wat elke tweede meisie vra om met hom te trou, omdat hy te onnosel is om ’n interessante gesprek te voer. Gelukkig het sy op vyf-en-twintig geleer hoe om alle soorte mans te hanteer, daarom is Jean-Pierre dalk ’n bietjie lastig, maar geensins ’n probleem nie.

      “Meneer Du Pont, ek is vanoggend voor dagbreek uit Johannesburg weg en teen hierdie tyd is ek moeg en honger en nie lus vir sottepraatjies nie. As jy uit my motor klim, kan ek en my nefies na my oom Lukas Grové se huis gaan soek,” sê sy styf.

      “My naam is Jean-Pierre en as jy regtig van plan is om ’n plattelander te word, vergeet dan jou stadsmaniertjies en noem my op my naam. Ek gaan jou beslis nie juffrou Grové noem nie, want dan klink jy sommer klaar soos ’n oujongnooi, al is jy nog nie een nie. Reg, Sanet?” vra hy.

      En sy weet hy het haar op die een of ander manier beledig, maar hy hou aan glimlag en sy begin aan die getuienis van haar eie ore te twyfel.

      “Dis wat oom dink!” praat Peet onverwags langs Jean-Pierre en steek sy kop deur die oop venster. “Arme Sanet is klaar ’n oujongnooi, oom, want sy was al vyf-en-twintig en ons tant Dassie sê as ’n meisie eers vyf-en-twintig is, is dit uit en gedaan met haar, want al wat vir haar nog oorbly, is ’n ou wewenaar of dalk ’n geskeide man.”

      “ ’n Ordentlike, geskeide man, maar hulle is maar skaars,” verbeter Gerrie op Peet se vertelling. “Ons tant Dassie sê as vroumense nie so geduldig was nie, was daar net geskeide mans. Het oom gesien hoe lank is Sanet? Dink oom sy is lankmoedig genoeg om nie te skei as oom instem om met haar te trou nie?”

      Sy ken haar tweelingnefies nege jaar lank – altans, sy het geglo sy ken hulle. Hulle was Gerhard en Hermien se oulike babas, dierbare kleuters en kostelike seuntjies, want hulle het gewoonlik buite in die tuin of in hulle speelkamer gespeel. Hulle was werklik oulik … tot vandag toe. Waarom het sy nooit agtergekom dat die oulike babas intussen grootgeword het nie? vra Sanet haarself met ’n gevoel van verleentheid en ergernis af.

      “Hoekom klim julle nie solank in daardie wit motor en wag daar nie? Julle het mos gesê julle wil graag voel hoe ry my motor,” stel Jean-Pierre taktvol voor.

      “Dan moet oom net gou maak, want ons is al moeg om net te sit en te sit,” maan Gerrie en draf agter Peet aan na die groot, Duitse motor wat ’n entjie verder voor die slaghuis geparkeer staan.

      “Gaan jy hulle ontvoer?” vra Sanet hoopvol.

      “Ek kon, ja, maar ek twyfel of jy bereid sal wees om ’n losprys vir die twee snippe te betaal,” skerts hy.

      Sy kyk na hom en ’n glimlaggie pluk om haar mondhoeke.

      “Dan ken jy my oom Lukas Grové?” vra sy. Sy wil nie met Jean-Pierre gesels nie, sy wil hom nie leer ken nie. Waarom sy so ’n teësin in ’n vriendskap met hom het, is vir haar nog duister.

      “Hy was twaalf jaar lank my skoolhoof, want ons skooltjie spog nog met een laer- en hoërskool. Hy het my vertel julle kom hier woon en toe ek die tweeling saam sien, het ek geweet wie julle is, want hul foto is in oom Lukas se studeerkamer.” Hy swyg en Sanet merk met ’n gevoel van ongemak die vonkeling in sy oë voordat hy vervolg: “As ek kon kies, het ek liewer jou foto in my studeerkamer laat pryk.”

      “Weet jou vrou dat jy ongetroude meisies so graag komplimenteer?” vra sy bitsig.

      “A-ha, en nou gaan ek sê ek het nie ’n vrou nie, en dan is jou nuuskierigheid oor my ook bevredig,” treiter hy haar. Hy lag sag wanneer ’n donker gloed van verleentheid oor haar gesig stoot.

      “Dit sal seker vir ’n man met jou verwaandheid ongelooflik klink, meneer Du Pont, maar ek stel nie in jou of jou vrou of enigiemand anders op Bothasrus belang nie. Ek is hier om my oom Lukas en my nefies te versorg, maar ek soek beslis nie na ’n man nie. Ek sal dit opreg waardeer as jy onmiddellik uit my motor klim en in die toekoms uit my pad bly.”

      Sy wag dat hy hom vererg en uit haar motor klim, maar hy bly sit, sug diep en klik sy tong simpatiek.

      “Tsk, tsk … Dan het oom Lukas gelyk gehad – dat jy aard na jou tant Dassie. Sy was glo net so ’n giftige ou skepsel op haar dag. Dan hou jy sowaar nie van mans nie?” vra hy bekommerd.

      “As oom Lukas jou so breedvoerig oor my ingelig het, waarom vra jy my uit?” vra sy nydig. Sy voel verneder omdat haar oom haar met ’n wildvreemde man kon bespreek het.

      “Omdat ek amper seker is dat oom Lukas êrens ’n fout begaan het, want geen meisie wat soos jy lyk, kan ’n giftige ou skepsel op vyf-en-twintig wees nie. Inteendeel, jy lyk …”

      “Meneer Du Pont!” roep sy uit en gluur stip na sy voorkop sodat sy die lag in sy oë kan miskyk. “Gaan jy nou dadelik uit my motor klim, of sal ek uitklim en by die polisie hulp gaan soek?”

      “Sulke drastiese optrede is glad nie nodig nie, Sanet. Ek neem nou die tweeling na jou oom toe en al wat jy hoef te doen, is om agter my aan te ry. Ek ken in elk geval die pad beter as die sersant en sy twee konstabels, want ek woon my lewe lank op Bothasrus,” antwoord Jean-Pierre gemoedelik en klim uit die motor. “Volg my net, hoor!” roep hy nadat hy die deur toegemaak het. Hy loop met lang hale na sy motor.

      Sanet hoor haar harde asemhaling in haar ore, merk dat haar hande liggies tril en dwing haarself om stadiger asem te haal.

      Waarom laat sy haar so ontstel deur ’n eenvoudige, onbeskofte plaasjapie soos Jean-Pierre du Pont? Hy lyk soos ’n boer met sy gespierde, songebruinde arms en donkerbrons gelaatskleur, maar as hy op die dorp woon, is hy heel waarskynlik ’n bouer of ’n steenmaker of die een of ander arbeider. Hy is beslis nie ’n pennelekker nie, want daarvoor is hy te bruingebrand, mymer sy. Sy vervies haar vir haarself omdat sy soveel tyd op ’n onbelangrike plattelander mors.

      Sy sien die wit motor vertrek, maar wend geen poging aan om hom te volg nie. Sy sal koeldrank gaan koop en sommer die kafee-eienaar vra waar oom Lukas woon. Sy kom al vier jaar lank baie goed sonder die hulp van ’n man klaar. Tertius is natuurlik die uitsondering, maar noudat hy nie langer daar is nie, het sy beslis nie ’n plaasvervanger nodig nie, veral nie iemand soos Jean-Pierre du Pont nie, besluit sy en klim uit haar motor.

      Die huis is oud met

Скачать книгу