Schalkie van Wyk Keur 9. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk страница 7

Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

ruk deur haar, ruk haar hand wat die glas koeldrank vashou, en sy sien die geel lemoensap teen die wande van die deursigtige glas opspat. ’n Stormagtige see van lemoensap, mymer sy, stormagtig soos die gisters wat sy moet vergeet. Sy wag totdat die lemoenkoeldrank weer ’n kalm oppervlakte weerspieël en plaas die glas op die tafeltjie langs haar neer.

      “Ken die mense van Bothasrus my storie, oom Lukas?” vra sy, haar stem sag, ingehoue.

      “Nee, Sanet, want ek het niks gesê nie. As daar iemand is wat onthou, sal dit nie saak maak nie. Op een-en-twintig was jy ’n bang kind met groot oë en ’n vae gesiggie langs ’n swart koerantopskrif, maar op vyf-en-twintig is jy ’n beeldskone en trotse vrou. Niemand sal glo jy is daardie kind met die bang oë nie.”

      “Ek is nie beeldskoon nie, oom.”

      “Vir my is jy. Maar miskien is dit waar dat jy nie beeldskoon of trots of selfversekerd is nie. Jy is nog altyd die bang kind wat wegvlug van die liefde en die seerkry van jare gelede. Dis wat Gerhard by geleentheid aan my gesê het en Magda het dit bevestig. En nou het jy hier na my gevlug. Dis goed so.”

      Sy merk sy begrypende glimlag. “Oom is ook nie getroud nie. Beteken dit oom het ook eenkeer seergekry en toe aanhou vlug vir die liefde?” vra sy en hoop haar woorde gesel hom omdat hy met woorde ’n ou seer in haar binneste oopgehaak het.

      “Ja, Sanet,” antwoord hy eenvoudig. Sy rustige antwoord blus die opstandvure in haar en sy ken die skaamte van ’n kind wat onder ’n gebed gelag het. ’n Blos van verleentheid vlek haar wange rooi en sy kyk hom sku aan.

      “Ek is jammer ek het gevra, oom,” sê sy skuldig.

      “Ek is nie, want so leer ons mekaar beter ken en verstaan.” Sy glimlag stel haar gerus en hy staan op. “Vertel my eendag wanneer jy geleer het om my te vertrou of jy daardie man nog liefhet. Maar nou kan jy my jou motorsleutels gee sodat ek jou bagasie kan gaan haal.”

      “Ek kom saam, oom,” sê sy en neem hom aan die arm terwyl hulle die stoeptrap afklim. Sy weet hy het nie haar hulp nodig nie, maar dis sy wat hom wil vashou, omdat sy vir die eerste maal in baie jare nie langer alleen voel nie.

      Gisteraand was sy te moeg om die agterplaas te verken, maar met die tweeling nog vas aan die slaap en ’n molslang wat ’n hele nag tyd gehad het om ’n veilige wegkruipplek in die tuin te soek, kan sy dit seker waag om in die boord rond te loop, dink Sanet. Sy asem die vars oggendlug in en drafstap tussen die vrugtebome deur na die suidelike ringmuur.

      Sy het vergeet om oom Lukas oor hul bure uit te vra, want ná aandete het sy en die tweeling gaan bad en dadelik gaan slaap. Dit sal aangenaam wees as een van hulle bure darem nog jonk is, want sy sal graag ’n vriendin wil hê, dink sy en onthou hoe lank gelede sy reeds van al haar ou skool- en studentemaats vervreemd geraak het.

      Sy hoor ’n vrolike gefluit agter die suidelike ringmuur opklink en loop gretig nader, maar bly teleurgesteld staan wanneer sy besef dat sy tog nie lank genoeg is om bo-oor die ringmuur te kyk nie. Op ’n ingewing spring sy teen die muur op, gryp die boonste bakstene vas en trek haarself op.

      “Goeie môre,” groet Jean-Pierre, wat oor die ringmuur kan kyk sonder om op sy tone te staan. “Ek wou jou nog sê ek gaan met jou trou. Reg so, Sanet?”

      3

      Die skok om Jean-Pierre van aangesig tot aangesig op haar nugter maag te ontmoet, laat Sanet byna haar houvas op die boonste ry bakstene verloor, maar sy versterk haar greep en sis: “Jy is simpel!” voordat sy haar voete weer tot op die grond laat sak.

      “Dis moontlik,” beaam Jean-Pierre wat teen die ringmuur uitklim en homself bo-op die muur tuismaak, geensins van stryk gebring deur haar bitsigheid nie. “As my beste vriend my gisteroggend vertel het ek gaan gistermiddag my toekomstige bruid ontmoet, sou ek ook gesê het hy is simpel. Maar dis nie belangrik nie, want intussen het ek jou ontmoet ek nou weet ek dat ek eendag met jou gaan trou.”

      “Eendag?” vra sy nuuskierig.

      Wat weet Jean-Pierre van haar wat sy self nie weet nie? Hoe kan hy met soveel sekerheid sê dat hy eendag met haar gaan trou? Hy lyk doodernstig, maar moontlik is hy altyd ernstig wanneer hy ’n meisie vir die gek hou, dink sy en gluur wantrouig op in sy oë wat haar vonkelend betrag.

      “Ja, eendag – sodra jy ja sê. Dit hang natuurlik alles af hoe gou ek jou kan leer om my lief te kry,” antwoord hy doodluiters, steek sy regterhand uit en pluk ’n rooiwangperske van die boomtak bokant Sanet se kop af.

      “Regtig? Watter ander grappe ken jy, meneer Du Pont?” vra sy sarkasties.

      Hy vryf die perske teen sy hemp skoon en begin smaaklik te eet.

      “Lekker! Het jy al oom Lukas se Alberta-perskes geproe? Ek sou hierdie een vir jou gegee het, maar ’n meisie wat weier om my naam te onthou, verdien nie ’n perske nie. Of hou jy regtig so min van my dat jy nie eens my naam wil onthou nie, Sanet?”

      Sy staar hom stom aan. Wat ’n vreemde man is Jean-Pierre du Pont. Hy ken haar nouliks, maar het klaarblyklik klaar besluit hy gaan met haar trou. Nee, so iets is te vergesog om waar te wees, besluit sy. Daarom weet sy vir seker hy hou haar vir die gek. Sy frons, lig haar ken en begin haar wegdraai.

      “Jy is ’n hopelose plattelander, want jy kan nie eens jou buurman oornooi vir ’n koppie vroeë oggendkoffie nie,” verwyt hy haar, maar sy ignoreer hom en begin wegstap totdat hy waarskuwend uitroep: “Staan stil, Sanet! Ek dink dis die seuns se ou molslangetjie wat teen jou rug opseil!”

      “Jieeergh!” gil sy, swaai om en storm terug en reg in Jean-Pierre, wat van die ringmuur afgespring het, se arms.

      “Salig,” sug hy en hou haar in sy arms vas. “Ek vergeet soms hoe onweerstaanbaar ek eintlik vir die vrouegeslag is. Beteken dit jy gaan tog met my trou?”

      Ysige rillings jaag teen haar ruggraat af wanneer hy liggies met sy vingerpunte oor haar rug streel, en sy klim byna teen hom op in haar poging om van die molslang op haar rug weg te kom.

      “W-waar is hy? W-waar is die s-slang?” klappertand sy. Hy frons en kyk haar skerp aan, asof hy vir die eerste keer bewus word van haar vrees.

      “Kom nou, Sanet, jy kon tog voel dat daar niks teen jou rug rondkriewel nie?” vra hy en skud haar liggies aan haar skouers. “Ek het jou net geterg, maar as jy werklik so ’n vrees vir slange het, vra ek om verskoning. Ek is jammer, Sanet. Is ek vergewe?”

      Sy behoort kwaad te wees, want geen man maak misbruik van ’n meisie se vrees om haar in sy arms te kry nie, dink Sanet en wonder waarom sy nie eens ’n klein bietjie vies is nie.

      Sy kyk op in sy gesig wat nou baie na aan hare is, sy hou van die geboë lyn van sy digte, swart wenkbroue en die skerp afgeëtste kurwe van sy ferm lippe. Hy het ’n hoë voorkop en die lig in sy oë is wakker en intelligent, maar dis die aanraking van sy hande wat haar betower en van haar ’n gewillige gevangene maak.

      Of is dit die warmte in sy glimlag wat weerklank vind in die koue stiltes van haar siel waarin die dooie, gryswit as van haar jongmeisiedrome so lank reeds vergete in ’n hoekie bly lê het? Kan sý lag en warmte en liefde weer vlamtonge uit die dooie kole haal en haar jeug en liefdesdrome aan haar teruggee? Kan sy weer jonk wees, liefhê en in ’n môre glo?

      Nee, om lief te hê is waansin en vir die dwaasheid van ’n oomblik boet die mens ’n ewigheid. Jy word ’n vlugteling van die liefde.

      “Kom

Скачать книгу