Schalkie van Wyk Keur 9. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk страница 6

Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

weerskante van hom.

      Oom Lukas lyk presies soos sy hom uit haar kleintyd onthou, dink sy wanneer hy opstaan en sy hande uitnodigend na haar uitstrek. Hy is ’n lang, skraal man – sy weet sy het haar lengte van die Grové’s geërf – met silwerwit hare, ’n reguit neus en ’n mond wat net so maklik soos haar eie glimlag. Sy oë is blou en wakker, asof vyf-en-sewentig somers te kort was om die jeug uit sy oë te verdryf.

      “Sanet,” sê hy en glimlag, en sy weet dat hy bly is dat sy gekom het. Hy soen haar op die wang en hou haar dan op armlengte weg van hom.

      “Dag, oom Lukas.” Sy wonder of hy haar gaan uitvra oor die dinge van vier jaar gelede. Almal lees tog koerante, selfs die mense van Bothasrus. Lees Jean-Pierre ook koerant? vra sy haarself af, en weet dis ’n belaglike vraag, maar wens vurig hy het nooit leer lees nie.

      “Jy is ’n klein Grové, Sanet, en ek praat nie net van jou lengte nie. Jou blonde hare en jou gesig … Dis net jou oë wat jy by ’n onbekende voorvader gekry het, want ons Grové’s het almal blou oë en jou ma se mense is donker … almal met groenbruin of donkerbruin oë, soos jou tant Dassie,” sê hy opsommend, ’n tikkie trots en goedkeuring in sy stem.

      “Sanet aard baie na tant Dassie, oom Lukas,” merk Peet van die riempiesbank af op. “Sy sukkel ook om ’n man te kry en sy is klaar ’n arme oujongnooi.”

      “En jy meen alle oujongnooiens is arm, Peet?” vra oom Lukas en wend hom tot die seuntjie. “Of glo jy ons moet ’n oujongnooi jammer kry?”

      “Ek sal net vir Sanet jammer kry, maar nie vir tant Dassie nie. Oom weet, sy is so agterbaks. Sy gee ’n mens sommer so ’n vinnige klap as jy nie kyk nie. Ek wed dis waarom sy nie ’n man kan kry nie, want sy klap hulle te vinnig,” kom dit vies van Peet.

      “Sy het my al in die kerk geknyp toe ek net so ’n bietjie rondgeskuif het,” gooi Gerrie ook ’n stuiwer in die armbeurs.

      “Is nie. Jy het tant Dassie eerste met ’n speld gesteek, daarom het sy jou geknyp,” verdedig Peet.

      “Daar is ’n bottel koeldrank in my motor as julle dors is,” sê Sanet met die hoop om van die tweeling ontslae te raak sodat sy oom Lukas oor die molslang kan uitvra.

      “Gaan haal jy die koeldrank, Sanet, want ek en Peet wil nog ’n bietjie alleen met oom Lukas gesels,” stel Gerrie voor en hou haar kwellend dop.

      Sanet merk dat Gerrie sy hand in sy regterbroeksak hou, wonder of dit sy vingers is wat in sy broeksak rondkriewel, maar voel haar nekhare rys en weet dat hy die molslang in sy broeksak versteek.

      “Oom Lukas, die tweeling weet van oom se hooikoors en …” begin sy en lê haar hande in ’n pleitende gebaar op sy arm.

      “Oom Lukas, sal oom aspris vir Jan van Riebeeck doodmaak? Oom sal mos nie, nè, oom? Oom weet moes hoe ’n belangrike ou was Jan van Riebeeck?” skree-praat Gerrie haar tot stilswye.

      “Oom hoef niks bang te wees vir ou Jannie nie, want hy het nie een ou haartjie op sy kop nie, daarom sal hy oom nie hooikoors gee nie,” pleit Peet, spring op en kom langs oom Lukas staan.

      Sanet sien hoe Gerrie opstaan en hou haar hand gebiedend op.

      “Sit, Gerrie! Ek weet daardie molslang is in jou broeksak en as jy naby my kom … Gerrie, ek kan baie harder as tant Dassie klap!” waarsku sy.

      Oom Lukas vee ’n glimlag met sy groot hand weg en kyk na Gerrie wat onseker op die riempiesbank bly sit.

      “Jean-Pierre het my vertel dis sommer nog ’n klein ou molslangetjie, Sanet, maar as jy nie van so ’n troeteldier hou nie, is dit beter dat die seuns hom in die tuin loslaat. Toe, Gerrie, die slang kan nie baie gelukkig in jou broeksak voel nie. Laat hom in die tuin vry,” beveel oom Lukas.

      “Ja, oom,” antwoord Gerrie bedees. Hy lyk afgehaal, maar stap weg om die huis na die tuin. ’n Ewe besadigde Peet volg hom.

      “Kan ons nie liewer die slang doodmaak nie, oom? Ek kan die goed nie verdra nie en as ek weet daar is ’n slang in die tuin …?” Sanet ril en staar na die hoek van die huis asof sy verwag dat die molslang sy verskyning sal maak.

      “ ’n Molslang is ’n nuttige reptiel, want hy leef van muise en rotte en daarom sou dit dom wees om hom dood te maak. Hy is nie giftig nie en jy hoef ook nie bang te wees dat hy jou sal aanval nie. Boonop sal die bure se katte die arme slangetjie gou verwilder. Jean-Pierre het my verseker dis ’n molslangetjie,” antwoord oom Lukas gerusstellend en beduie na ’n glas lemoensap op die klein tafeltjie langs die riempiesbank. “Sit en drink eers iets. Jy is seker moeg en dors ná die lang rit.”

      Sanet wens sy kan daarop aandring dat die molslang liewer in ’n ander tuin vrygelaat word, maar onderdruk haar vrees en gaan sit op die riempiesbank om haar koeldrank te drink.

      “Dankie, oom. Dit smaak vorentoe,” sê sy en hou oom Lukas dop terwyl hy peinsend voor hom uitstaar. Sy kyk vinnig af wanneer hy onverwags na haar draai. Sy ken hom nie, besef sy. Behalwe dat hy haar sterk aan haar pa herinner omdat hulle albei blond en lank is, is oom Lukas vir haar ’n volslae vreemdeling.

      “Ek het die huis gekoop toe ek nog ’n jongman was, maar dit was eers nadat ek afgetree het dat ek uit my woonstel in die skoolkoshuis weg is. Ek het toe hier kom woon en Marthie Breytenbach en haar man, Lourens, het die woonstel in die agterplaas gehuur en sommer vir ons almal se etes gesorg,” begin oom Lukas te gesels asof hy haar vreemdheid aanvoel en haar op haar gemak wil stel.

      “Gerhard het my vertel oom het ’n huishoudster,” merk Sanet op.

      Oom Lukas sug diep. “Hy was ’n goeie seun, oorlede Gerhard. Nogal my peetseun, hoewel ek nooit ’n goeie peetpa vir hom was nie, want ek onthou nie verjaardae nie. Maar nou kan ek tog vir hom en Hermien iets doen …” sê hy en kyk Sanet skerp aan. “Lourens Breytenbach is verlede November dood en omdat dit so hoort, is Marthie toe weg na een van haar dogters toe, want skindertonge het nie respek vir ouderdom nie. Daarom kon sy nie langer in die woonstelletjie aanbly en vir my huishou nie.”

      “Ek is bly dat ek kon kom om met die huishouding te help, oom Lukas,” sê sy en wonder hoeveel die skindertonge van Bothasrus van háár verlede weet.

      “Dis waaroor ek wou praat, Sanet, voordat ons finale reëlings tref,” sê oom Lukas ernstig. “Gerhard het voorsiening vir die kinders gemaak en ek is nie ’n arm man nie, daarom sal jy ’n ordentlike salaris kry. Jy is …”

      “Maar ek verwag geen betaling nie, oom Lukas! Die tweeling is tog my broer se kinders,” maak sy beswaar.

      “En jy dink jy is ’n voël van die lug af of ’n lelie van die veld? ’n Mens koop nie klere en ander benodigdhede met goedhartigheid nie. Jy sal nie so ’n groot salaris kry soos waaraan jy gewoond was nie, maar jy sal ordentlik kan aantrek. Maar eers moet ek sekerheid hê oor jou toekomsplanne. Wat van jou jongetjie in Johannesburg?”

      Sanet frons en staar hom onbegrypend aan. “Van wie praat oom?”

      “Die Lindeque-seun – Tertius Lindeque. Jou suster, Magda, het my van hom vertel toe sy en Anton vroeg in Desember hier kom kuier het. Dis toe dat hulle my vertel het van hulle probleem om langer vir die tweeling te sorg. Jy en Tertius het nie dalk trouplanne nie?”

      Sanet glimlag wrang. “Ek sal nooit trou nie, oom. Tertius is ’n goeie vriend, maar dis ook al,” antwoord sy met finaliteit.

Скачать книгу