Die goue vlinder. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die goue vlinder - Susanna M. Lingua страница 5

Die goue vlinder - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

diep weg en die geel gevaarte vlieg oor die verlate pad in die rigting van Bronkhorstspruit.

      Die buitebande sing gesellig oor die teerpad, die helder ligte werp ’n lang, wigvormige baan oor die pad en Janet voel in haar element. Sy hou van snelheid en dit lyk ook of sy die enigste motorryer op die pad is.

      Teen agtuur trek sy al ver in die Laeveld en besluit dat sy teen nege-uur êrens sal stilhou om ontbyt te nuttig. Die pad kronkel met gevaarlike skerp draaie oor die berge, gevolglik voel sy ook nie lus om in hierdie bergwêreld stil te hou nie.

      Die sonnetjie begin nou lekker warm skyn. Janet het dit erger verwag, daarom dat sy vanoggend ’n lang wolbroek onder haar rok aangetrek het. ’n Kilometer of wat duskant Hectorspruit hou sy stil. Na al die pragtige berge en mooi natuurskoon waarlangs sy gery het, lyk hierdie stukkie vlakte maar droog en verlate. Nadat sy ontbyt geëet het, trek sy haar jas en langbroek uit, knap haar grimering op en lyk weer soos die moderne stadsmeisie wat sy is. Niemand sal ooit kan droom dat sy al so ’n lang reis agter die rug het nie. Daar is nie ’n beduidenis van vermoeienis op haar gelaat nie.

      Dis reeds na tienuur toe sy die hekke by die grens nader. Sy is bly dat sy al die nodige vorms tuis ingevul het. As die doeane-beamptes net nie die vorige aand ’n wilde partytjie bygewoon het nie en nugter wakker is, behoort sy gou met hulle klaar te wees. Sy hoop net die beamptes neem nie dalk haar pistooltjie in bewaring nie, want daarsonder sal dit inderdaad gewaag wees om alleen te reis. Espiño lê nog ver, en dit is ’n vreemde wêreld waardeur sy moet reis.

      Nou eers dink Janet daaraan dat die Portugese taal vir haar absoluut onbekend is. Wat gaan sy tydens haar reis in verband met maaltye aanvang? Die mense sal haar nie verstaan nie en sy vir hulle ewe min. In Maputo en Beira is die Engelse taal darem nie vreemd nie, maar wat van die dorpies? Sy moet tog eet en ook brandstof vir haar motor hê! Waarom kan die mensdom nie maar een taal praat soos voor die sondvloed nie?

      Janet besef skielik dat sy haar in ’n yslike penarie bevind, maar sy besluit om ’n bietjie inligting by die beamptes in te win. Hulle is nogal ’n vriendelike en behulpsame klomp daar aan die ander kant.

      Die hekwag maak die hek vir haar oop. Stadig ry sy deur en hou langs ’n luukse, swart sportmotor stil. Die swart voertuig trek dadelik haar aandag weens die vreemde, goudkleurige wapen wat swierig teen die twee deure pryk. Die eienaar moet beslis ’n vername persoon wees.

      Etlike sekondes verkyk Janet haar aan die indrukwekkende wapen, dan skuif haar blik op en kyk sy vas in die donkerste bruin oë wat sy nog ooit gesien het. ’n Vuurwarm blos sprei terstond oor haar wange. Haastig draai sy haar gesig weg en klim uit.

      Sy voel lus om haarself te skop omdat sy die man se motor soos ’n nuuskierige agie aangestaar het. Hemel, wat moet hy van haar dink?

      Janet stap die Suid-Afrikaanse grenspos binne, en is opvallend ingedagte toe sy die vorm aan die beampte voorlê. Hier word sy gelukkig nie lank opgehou nie en na ’n paar minute begeef sy haar na die ander kant van die gebou waar die Mosambiekse doeanekantore geleë is, onbewus daarvan dat die lang man wat in die netjiese, wit somerspak geklee is, nie meer in sy indrukwekkende swart motor sit nie.

      Sy kyk doelbewus nie in die rigting van die swart motor nie, uit vrees dat dit straks die indruk wek dat sy opsetlik die man se aandag wil trek. As hy ’n onaantreklike man was, sou sy haar glad nie eens aan hom gesteur het nie. Maar nou is die kêrel gevaarlik aantreklik en vir sulke aantreklike mans loop sy gewoonlik lig. Hulle is gans te geneig om te dink dat jong meisies ewig daarop uit is om hul aandag te trek.

      Met haar kop trots in die lug, stap Janet die Mosambiekse doeanekantoor binne. Tot haar groot verleentheid tref sy die eienaar van die swart motor daar aan, druk in gesprek met die beamptes. Sy stap na die toonbank, neem ’n paar treë van hom af stelling in en maak asof sy nie van sy teenwoordigheid bewus is nie.

      Janet hou haar oënskynlik besig met die lees van die vorms in haar hand, maar toe hoor sy een van die beamptes op Engels sê: “Kan ek help?”

      “Dankie,” sê sy bedaard, ook op Engels, onderwyl sy al die nodige vorms, haar paspoort en rybewys voor hom neerlê.

      Die beampte lees alles vlugtig deur, stempel die vorms en paspoort en stuur haar na ’n aangrensende kantoor.

      Ook hierdie man lees alles vlugtig en vra meteens: “Mag ek die pistooltjie sien, asseblief?”

      Janet haal die vuurwapen uit haar handsak en hou dit na die beampte uit, wat die loop ’n oomblik noukeurig bekyk en dit aan haar teruggee.

      “Wat is die doel van die vuurwapen, señorita?” vra hy met ’n breë glimlag, asof hy ’n geheime grappie geniet.

      Janet vervies haar innerlik vir die man se simpel vraag. Die vorms toon tog duidelik dat sy alleen per motor na Espiño reis! Sy tel tot tien en kyk die kêrel reguit aan.

      “Die doel van die vuurwapen, señor,” antwoord sy nadruklik, “is om mense mee dood te skiet wat my onderweg na Espiño probeer molesteer. Soos jy wel in die vorms sal opmerk, reis ek alleen per motor.”

      “O, maar ek het pas berig ontvang dat jy slegs tot Maputo per motor reis, señorita,” kom dit vriendelik van die beampte. “Ek sal dus die wapen vir jou in bewaring hou totdat jy na Suid-Afrika terugkeer.”

      “Ek vrees jy het ’n verkeerde berig ontvang, señor,” weerspreek sy hom baie ernstig. “Ek herhaal: ek reis alleen in my motor na Espiño. Terloops, ek gaan vanaand nog op een van die talle kusdorpies, êrens naby Beira, oornag.”

      Janet het glad nie meer lus om hom te nader in verband met brandstof en maaltye nie. Sy sal die nodige inligting wel in Maputo bekom.

      Maar dan hoor sy die onmoontlike man weer sê: “Señorita Hartman, laat my toe om die señor duque, sy geëerde excellencia Ramiro Velasco de Gouveia, aan jou voor te stel.”

      Janet se onthutste oë volg die beampte se blik. Sy draai effens om en dan kyk sy weer eens vas in die lang, aantreklike man se swartbruin oë. Dis sowaar dieselfde man wat met haar aankoms in sy luukse, swart motor gesit het – daardie motor met die indrukwekkende wapen teen die deure.

      “Aangename kennis, señorita,” hoor sy die duque op foutlose Engels sê met ’n sjarmante buiginkie so reg uit die sewentiende eeu – ’n gebaar wat Janet heimlik amuseer.

      O gits, dink sy, nog ’n hertog, en nogal ’n uiters aantreklike en imponerende een daarby. Ja, glad nie so ’n ou vet slobber soos die een vir wie Vic die dam moet bou nie!

      Maar hardop, en ook op Engels, sê sy: “Aangename kennis, señor duque!”

      Daar is ’n ondersoekende, deurdringende blik in die man se swartbruin oë toe hy met ’n mooi diep en bedaarde stem vra: “Gaan jy nie die vuurwapentjie aan die beampte oorhandig nie, señorita?”

      “Nee, ek gaan nie, señor duque,” antwoord sy met besliste finaliteit in haar stem. “Ek kan die pistooltjie tydens my reis nodig kry. Espiño lê nog ver …”

      “Jy het gelyk, señorita, Espiño lê nog baie ver,” val hy haar sag in die rede. “Maar jy gaan nie verder alleen reis nie; jy gaan per vliegtuig saam met my reis.”

      Janet kyk die man met ’n frons aan asof hy een van sy bont varkies verloor het en nog totaal onbewus daarvan is. Sou hy wraggies dink sy is so onnosel en eenvoudig om saam met hom, ’n wildvreemde man, per vliegtuig te gaan reis? Nee, sowaar, die man is nie by sy volle verstand nie.

      Janet

Скачать книгу