Laduma vir die liefde. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Laduma vir die liefde - Maretha Maartens страница 3

Laduma vir die liefde - Maretha Maartens

Скачать книгу

ten goede meegewerk,” stoom Jo senuweeagtig voort. “Niemand in die gemeente het verwag dat hier elke dag so baie mense sou kom sokker kyk nie. Dis baie monde om te voed. Ek het nie besef hoe nodig ek Paula se hande het nie.”

      “En Paulie hét handige hande,” loop Hans op eiers.

      Paulie. Honger en vuur, Paulie, Paulie. Vuur in sy asem, vuur in sy fluistering. Ek wil jou hê, Paulie. Ek en jy, net ek en jy. Ek wil jou hê, kom ons trou en trek in ’n woonstel in. Dit kan maar ’n klein troue wees, almal weet eerstejaars het nie geld nie. Ons hóéf nie baie goed te hê nie. ’n Ketel, ’n toaster, ’n braaipan, ’n bed en twee of drie stoele. Kom ons trou in die Septembervakansie, dan gaan honeymoon ons in my ma-hulle se strandhuis.

      Vuur in die woord “honeymoon”, sy asem vinnig, sy oë by voorbaat brandend. Sy ouers se vakansiehuis kon maar in die middel van die Mandela View-blikhuisbuurt op die rand van die stad gestaan het, dit sou ewe goed gewees het. Wie vra vir ’n see? Wie soek ’n strand as jy net vier mure en ’n deurslot nodig het?

      Hulle sou die gordyne toetrek, die deur sluit en al die dae van hulle wittebrood net liefde maak, slaap, appels eet, tande borsel en weer liefde maak. Vir hulle wittebrood sou hulle so min nodig hê: ’n boks appels en ’n kissie druiwe, tandeborsels, tandepasta.

      “Hoekom verlei jy my so?” het Hans gereeld gevra nadat sy tande geborsel het. “Ek is mal oor jou asem, jy moet altyd dié tandepasta gebruik.”

      “Ons moet net nie gou kinders kry nie,” het sy haar één voorwaarde in die tyd van hulle trouplanne aan hom uitgespel. “Ons moet klaarmaak met ons studies, ’n inkomste kry.”

      “Ons moet, ja,” het hy saamgestem. Verliefdes stem immers oor die meeste dinge saam.

      Ons, dink Paula bitter. Ons was vuur vir mekaar en saambly was nie ’n opsie nie. Ons het in ons eerste jaar op universiteit meer oor trou en gesinsbeplanning as oor die akademie gepraat. Ons sou ’n woonstelletjie huur, sommer ’n eenmansplekkie. Ons sou die Pil gebruik, één bekommernis minder vir my pa-hulle.

      Hulle ouers aan weerskante van die pastoriemuur sou die stuipe gekry het as hulle moes weet waaroor Paula en Hans aan die begin van hulle eerste jaar op universiteit gepraat het. Hulle medestudente was besig om joolvlotte te bou; hulle twee was nie náby die vlotte nie.

      “Eers net ons twee, net ek en jy, eers graadvang en werk kry. Maar die dag as ek my aanstellingsbrief het, los jy die Pil.”

      Sy het geskrik. Iets was anders. Hy was in ’n plek vóór of ná vuur en verbode vrugte. “Hoekom sê jy so?”

      “Ag, jy weet tog. Dis jý wat my gespot het oor Billie Boelie.”

      “Billie Boelie? Ek het skoon van hom vergeet!”

      “Ek het hom in ’n boeliestem laat praat. Hoe oud was ek toe? Seker so vyf of ses. Billie Boelie was dáár as ek hom nodig gehad het: ‘Kan ek iets vir jou doen, Hans?’ … ‘Ja, Billie Boelie, ek wil hê jy moet vir Muff keer as hy teen my opspring’ … ‘Hou jy dan nie van honde nie, Hans?’ … ‘Nee, Billie Boelie, ek hou van katte’ … ‘Hel, Hans, jy moenie dat jou pa dit hoor nie, dan gaan hy sê jy’s ’n dogtertjie in panties’ … ‘Dis hoekom jy vir Muff moet skop as hy teen my wil opspring, Billie Boelie. Asssebbbliefff …’ Jy was aan julle kant van die heining, jy’t afgeluister, toe skree jy skielik: ‘Daar ís nie ’n Billie Boelie nie, whê-whê. En ek is nie bang vir Muff nie, whê-whê. Jy ís ’n dogtertjie in panties!’ Ek het my byna natgepiepie, so min het ek dit verwag. Jy was ook maar lekker gemeen toe jy klein was.”

      Sy het stywer teen hom aangenestel, berouvol. “Ek was. Ek was ’n pyn in die nek. Eintlik was dit sad dat jy net vir Billie Boelie gehad het. Oukei, ons kan sommer drie laaities hê, dalk vier. Dan kan ons ’n hond ook aanhou. Viér laaities sal een Muff op sy plek kan hou.”

      Hy was steeds in die plek vóór of ná passie. “My laaities sal altyd iemand hê wat goed saam met hulle doen, iemand wat saam met hulle kan weggaan.”

      “Weggaan?”

      “Boomhuis toe. Garagedak toe. Enige plek op die werf waar hulle húlle ding doen en …”

      “En nie alleen is nie?”

      Hy het geknik. Was daar ’n bitter trek om sy mondhoeke?

      Later, op ’n ander dag, het hy iets laat val, net ’n enkele stukkie van die dowwe legkaart van ’n glanslewe waarin kinders nie hoort nie. “Ek was nog nie in die skool nie, toe vind ek uit dat ’n huis vol weerklanke raak as jy alleen daarin is. Dat eggo’s soos tennisballe is. Ek het baie keer in die gang gestaan en skree, dan spring my stem van die een muur na die ander.”

      “Jy was ’n anderster outjie. Ek wonder wat jou ma sou gesê het as jy vir haar sou sê sy moet koes vir die eggo’s, hulle spring soos tennisballe.”

      “Jy het nie geluister nie. ’n Huis raak vol eggo’s as ’n kind alléén daarin is. Ek was negentig persent van die tyd alleen in die huis.”

      “Maar Marta was tog –”

      “Komaan, Paula! As ’n mens nie meer in nappies is nie, hoef niemand meer jou gesig af te vee nie. Dan hoef niemand meer aan jou te raak nie. Marta kon in haar kamer gaan slaap of teen die muur op die sypaadjie met haar vriendinne gaan kuier.”

      Dié soort gesprek het Paula ontstig. Sy wrokkigheid was soos ’n krat vol rommel: afbeenspeelgoedperde, gebreekte Lego-blokkies, die hardgeworde reste van gemorskos, ou selfone, duur batteryspeelgoed met pap batterye, verslete drafskoene, verkreukelde toppies, bierblikke en verdagte leë plastieksakkies en koeldrankstrooitjies, skeermeslemmetjies en stukkies bladaluminium.

      Daar was véél meer in die rommelkrat as wat enigiemand kon raai.

      Pa het haar gewaarsku teen alles wat nog uit die rommelboks kon kom. “Jy ken hom goed, my kind,” het hy eenkeer vir Paula gesê. “Julle het saam grootgeword. Maar Hans kom uit ’n ander soort huis as jy.”

      “Jy het darem grootgekom,” het sy Hans tydens daardie gesprek probeer uitlok uit wat ook al in hom gebroei het. “Jou ma is lief vir jou; jy moet hoor hoe sy oor jou spog.”

      Hy het sy lip opgetrek, steeks perd in sy eie donkerte. “Dankie dat jy dit vir my sê. Ek sal vir haar sê sy moet iets op Marta Motaung se spaarrekening inbetaal.”

      “Have a heart, Hans!”

      Hy het haar skielik stywer vasgehou. “Dit sweer ek, Paulie: die dag as ek mý kind in ’n koue gang kry waar hy na eggo’s luister, loop ek voor ’n trein in.”

      2

      Paula voel asof sy haar kop moet skud om seker te maak wat die werklikheid is. Nou staan Hans hier in sy kakieklere voor haar ma. Nou verduidelik hy asof daar nie drie jaar tussen toe en nou lê nie.

      “So help ek my ma toe gisteraand in Marta se plek toebroodjies maak, Mevrou, want Marta is na ’n kleinseun se begrafnis. Die skaapbredie is in die oond …”

      Sipho? Marta was swart van skok toe hy met die Nuwe Siekte plus TB gediagnoseer is. Sy was verpletter toe hy vir haar gesê het die TB-pille maak hom te siek, hy gaan net muti gebruik.

      “… en ek is so honger dat ek ’n bees kan opeet,

Скачать книгу