Laduma vir die liefde. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Laduma vir die liefde - Maretha Maartens страница 5

Laduma vir die liefde - Maretha Maartens

Скачать книгу

sak nie. Word toornig, maar moenie sondig nie. Moenie vir die duiwel ’n plek gee nie, kinders.”

      Paula het daardie dag besef dat ’n kind sy eie pad kan loop. Dat ’n mens die raad van jou vader kan verwerp. Dat elke mens sy eie pad diep in homself loop. Dat sy en Lalla geloop het waar hulle wóú.

      “Hulle kan nie vanaand in dieselfde kamer slaap nie, Herbert,” het sy Ma met Pa hoor praat. “Dis twee honde en dieselfde been.”

      “Mag ’n derde op die toneel verskyn en met die been weghardloop,” het Pa gesug. “Maar nou ja, as jy dink óns het dit moeilik … Ek wil nie in daardie mannetjie se skoene staan nie.”

      “Ek gaan Paula maar vanaand in die gastekamer laat slaap. Netnou verwurg Lalla haar.”

      Hulle het gelag, maar daar is lag én lag.

      Enigiemand wat Ma daardie aand hoor lag het, sou geweet het: Oor dié lag is daar iets gesprinkel, iets soos asafoetida oor rys, vleis, pampoen en aartappels.

      Ma se lag was met radeloosheid besprinkel. Of met sinisme.

      “Moenie lag nie. Moenie op daardie manier lag nie,” het Pa sewe-uur die oggend van Werkersdag, die dag van sy dood, vir Ma gesê. “Ek bedóél wat ek sê. Die Kerk is nie ’n verversingspos waar mense een keer per week kan aandoen nie. Dis nie ’n kitskosplek waar dié wat alles het gou ’n geestelike happie kan kom haal nie. Die Kerk in hierdie land het net bestaansreg indien dit die voete, oë, bene en arms van Christus is.”

      “Die Kerk in hierdie land mergel my uit,” het Ma gesê.

      “Die Kerk doen wát?”

      Ma het hom nie geantwoord nie.

      Hy het sy stapklere aangehad, want hy en Evangeli Phindani sou op ’n dag lange gebedswandeling deur die Evangeli se landelike gemeentetjie gaan. “Wil jy nie maar saamkom nie, Paula?” het hy in die waskamerdeur gevra. “Dit sal gaaf wees as jy Elias se vrou kan ontmoet. Toegewyde mens. Sy’s ook ’n onderwyseres.”

      Sy het haar wasgoed daardie oggend by die pastorie kom was; haar woonstel se krag was af.

      “Ek sou graag wou, Pa,” het sy geantwoord. “Maar ek moet waai: die pretstap by Horison begin al nege-uur.”

      “My en Elias se stap is lekkerder,” het hy opgewek gesê. “Ons draai naby Thaba Nchu-berg.”

      “Die hele liewe dag lank.” Ma was iewers tussen stilstuipe en verbete baklei. “Ek en jy sou gaan huise kyk het, as ek reg onthou.”

      “Ek het gesê ons moet dit dalk oorweeg om te gaan huise kyk. Maar dit was voordat Elias my geskakel en –”

      “En jy jou vrou se belange weer op die agtergrond geplaas het. Weet jy wat vandag hier gaan gebeur, Herbert? Hier gaan weer ’n aanloop wees. Jy ry weg. Jy en die Evangeli loop op die vlaktes rond. Ek moet al die voordeurklokkies beantwoord; ek moet brood smeer en tee maak vir dronkies en druggies wat lang kanse met ons vat. Gee jy –”

      “Ek het jou genooi om saam te stap. Jy hoef nie die hele aarde se laste te dra nie, my dierbare vrou. Die uitnodiging staan. Dit sal vir my so lekker wees as my vrou saam met my oor die wye vlaktes –”

      “Jy weet ek wil nie saamstap nie. En jy weet ewe goed ek kan nie alleen gaan huise kyk nie.”

      “Dan weet ek regtig nie,” het Pa tam gesê. “Jy wil nie saamstap nie, jy wil nie by die huis met ’n stroom boemelaars opgeskeep wees nie … Ignoreer dan maar die hekklokkie. Of sê net nee.”

      “Gee ’n boemelaar of ’n straatkind die pinkie, dan vat hy jou hele hand en driekwart van jou kruideniersware.” Ma het die vadoeklaai driftig toegestamp. “Wat het vanoggend gebeur? Ons het nie brood vir onsself gehad nie.”

      “Ons moet meer brood koop,” het Pa ernstig gesê. “Vyf is te min; ons moet vir sewe of agt begroot.”

      “Ek wil nie meer gee en uitdeel nie!” het Ma geskree. “Ek wil ’n lewe hê! My eie lewe!”

      Pa het wonderbaarlik kalm gebly. “Ek voel dikwels so, Jo. Maar die Here het tog gesê: ‘Gee julle vir hulle iets om te eet.’ ”

      As Ma maar stilgebly het. Maar sy het nie. Sy het skielik gelag, ’n dwars lag waarvoor sy hom nooit om verskoning sou kon vra nie.

      Paula keer haar gedagtes met moeite weg van dié pynlike herinnering.

      “Ek hét gisteraand lig in die tweelingkamer sien brand,” sê Hans. “Maar moenie vir my vra hoekom ek nie die kloutjie by die oor kon bring nie. Dalk is dit oor ek en my ma gestry het. Sy het gesê Paula gaan ’n motorfiets koop, ek het gesê dis onmoontlik, Paula het in haar lewe nog nooit motorfiets gery nie. Toe praat ons oor Lalla wat in Shenzhen sit en …”

      Lalla het in die tyd van die groot breuk geglo dat Hans se skuif na die slaapkamer anderkant hulle muur vooraf beplan was. Dat Paula daaragter gesit het. Hoe dan anders?

      Eers verneuk Hans haar met haar tweelingsuster. Hulle kom agter dat sy iets vermoed, daarom stuur hy vir haar die simpelste afsê-teksboodskap in menseheugenis: Lalla RN voel ek dis beter om net BFFL te wees. IMS, Hans.

      “Best friends for life se verdomde voet!” het Lalla geskree. “I am sorry se gat!” En sy kon bygevoeg het: Mag die bed in jou nuwe slaapkamer, drie meter van die pastorie se tuinmuur af, vol bedluise wees, Hans de Lange.

      Paula het toe ’n ewigheid van twee en dertig dae in die sonnige gastekamer gebly. Lalla het op ’n eetstaking gegaan wat Ma se hande laat bewe en haar traankliere geaktiveer het. Appels het Lalla se stapelkos geword, met wortels vir nagereg. Haar skoolrok het ná ’n maand soos ’n sak aan haar gehang, haar polse het knopperig geword.

      Die etenstafel was ’n oorlogsone. Elke soort oorlog is aan daardie ronde tafel gevoer: koue oorlog, stilstuipe-oorlog, guerrilla-oorlog, bosoorlog met mortiere wat onverwags afgeskiet word.

      “Ek is nie honger nie. Kan julle nie julle dowe ore oopmaak nie? Ek is net nie honger nie!”

      “Ek sit nie langs Paula nie.”

      “Kyk, Lalla, genoeg is genoeg. Maak vrede met Paula. Paula, vra vir Lalla om verskoning.”

      “Hoe kan Pa dit van my verwag? Het Ma die ander meisies met wie Pa uitgegaan het om verskoning gaan vra? Dis gek!”

      “Ek stem met Paula saam, Herbert. Lalla het tog –”

      “Kyk, Johanna …” (Ma was altyd Johanna wanneer Pa die duiwel in was vir haar), “as ons oor sekere aspekte verskil, is daar ’n tyd en ’n plek om die verskille te bespreek. Daardie tyd en plek is nie aan die etenstafel nie.”

      “Sy hoef nie om verskoning te vra nie, dit sal in elk geval vals wees. Ek wil net nie in haar bakkies vaskyk nie.”

      “Hou óp om so kinderagtig te wees!” het Pa ontplof. “Magtig! Hoe moet ’n mens die werk van die Here doen as dit só in jou eie huis gaan?”

      “Moenie aanmekaar ‘magtig’ sê nie, Herbert!”

      “Dan sê ek bliksem!”

      Lalla

Скачать книгу