Laduma vir die liefde. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Laduma vir die liefde - Maretha Maartens страница 7

Laduma vir die liefde - Maretha Maartens

Скачать книгу

huis se plafon val nog in,” het Ma radeloos gesê. “Bel die voorsitter van die eiendomskommissie, Herbert. Nooi hom vir koffie en pannekoek. Maar hy moet nóú kom, dan kan ek ’n emmer waarin die water drup voor hom neersit. Dís hoekom ek voel ons moet ons eie huis kry. Hou jou voete onder die tafel van die kerk en jy sit hiérmee.”

      Oorlogswonde en verlies van plasma en rooibloedselle ten spyt, bly tweelingbloed dik, ondraaglik dik. Dit was sý, Paula, wat by Lalla gaan pleit het om weer tot die groot, koue tweelingkamer toegelaat te word. Lalla was nie op haar beste nie, maar dalk was genoeg ook vir haar genoeg.

      “Oukei,” het Lalla suur gesê. “Maar jy praat nie een woord met my oor Hans nie. Nie ’n wóórd nie. Jy smirk nie as jy en hy op jou selfoon chat nie. Ek wil niks van hom weet en niks van hom hoor nie. Ek weet nie hoekom ek vir jou ja sê nie.”

      Lalla het ’n kop langer gelyk toe sy die deur verder ooptrek, ’n optiese illusie. Die kamerlig was aan, want op bewolkte en reëndae was die tweelingkamer ’n grys spelonk. Lalla se oop skoolsak, skoolklere en kleurbaadjie het in ’n bondel op Paula se bed gelê. Die vloer was vol lêers, papiere en skoene.

      Posters wat Paula nog nie tevore gesien het nie, het teen die kamermure gepryk: Dié wat nie in evolusie glo nie, het dit die nodigste. Michael Jackson, King of Pop, London – Michael Jackson as Moonwalker in ’n balk wit lig. Háár posters – die Ons Vader-gebed, Dit het Ek vir jou gedoen, wat doen jy vir My en haar handgemaakte Sometimes God calms the storm, sometimes He lets the storm rage and calms his child – was nie meer teen die kamermure nie.

      Sy het niks daaroor gesê nie. Tweelingbloed is ondraaglik dik.

      Die tweelingkamer was die vertrek met twee uitsigte. Anderkant die diefwering voor die kamervenster het die oninspirerende deel van die werf gelê: ’n fokuslose plaat grondbedekkers, twee lukwartbome waarop die vlermuise saans toegesak het, ’n roesbruin muur waarteen klimplante uit ’n buurerf voel-voel met doringagtige kloutjies afgekruip het. Wanneer daar soms ’n tennisbal uit die agterste buurerf in die swartgroen blaresee buite die venster beland het, móés hulle eenvoudig om die huis stap om dit oor die muur te gaan gooi. Dit het te geel gegloei.

      Toe Hans en Lalla begin uitgaan het, het hulle die klandestiene uitsig ontdek. Voorheen het niemand ooit die luikvenstertjie bo Paula se bed oopgemaak nie. Een kyk boontoe en die rede was duidelik: die suidewind het stof en roet teen die suidemuur van die huis gesmyt sodat die ruit smerig vuil aan die buitekant was. Die trapleer in die garage was te kort en alle pogings om die venstertjie van buite af te was het misluk.

      Verliefdheid genereer of ontsluit kreatiwiteit. Hulle het ’n stoel en ’n omgekeerde laai op Paula se bed gepak en Lalla het die stoel as wankelrige steierbok vasgehou. Met die laai as steierplank het Paula die vensterwaswerk gedoen.

      Deur dié loergat in die suidemuur van hulle kamer kon hulle ’n gedeelte van die buurtuin, die De Langes se swembad, die hoek van die patio, die hoek van die boonste balkon en twee van die vier slaapkamervensters aan die noordekant van die herewoning sien.

      Wanneer Lalla tennisballe teen die oefenmuur aan die ander kant van die heining hoor klap het, het sy in kaartmannetjiestyl op Paula se bed gespring.

      “Oe, daai bene,” sou sy swymel. “Hy’t sy tennis-shorts aan.” Of: “Hy oefen sonder sy hemp, sy bolyf is kaal …”

      “Dan moet jy afkom daar. Dis obseen om kaal ouens af te loer.”

      “Wat is obseen?”

      “Slymerig.”

      “Jy sê dit nie weer nie. Ek is nie slymerig nie. Jy sê dit nóóit weer nie.”

      “Oukei, oukei! Loer soveel jy wil!”

      Hans het nooit van die loerdery geweet nie, want die lelike vibracrete-heining tussen die twee huise was te hoog en te oorgroei van plumbago en parasitiese rankplante.

      Toe, terwyl Paula in ballingskap in die gastekamer was, kry Faith de Lange ’n span bouers om mure uit te breek, twee nuwe vertrekke aan te bou en die mure van haar huis loodgrys te verf. Hans kry ’n lessenaar waarvoor die moderator van die Algemene Sinode sy voortande sou gee. Faith hou toesig terwyl die afleweringsmense die swaar swarthoutlessenaar by die slaapkamer se buitedeur indra. Sy wys vir hulle waar om dit te plaas. Die middag toe Hans van die skool af by die huis kom, tref hy ’n direkteurslessenaar naby die venster in sy nuwe slaapkamer aan.

      “Soos ’n … bus,” het hy die lessenaar die volgende dag aan Paula beskryf. “Ek weet nie hoe my ma se kop werk nie. Hoe kan my pelle in so ’n plek kom chill?”

      “Sy wil seker maar vir jou die beste gee, oor jy hulle enigste kind is.”

      Sy mondhoeke het net-net geroer.

      ’n Bleeksiel met ’n passie vir boeke was Hans nooit. My aandagafleibare, hiperaktiewe boyfriend, het Paula dikwels in die derde kwartaal van hulle matriekjaar gedink. Dit was nag in Hans se lewe: strafkamp by lamplig.

      Nou was dit sý wat op die bed onder die hoë ventilasievenster gespring het, maar net wanneer Lalla nie in die kamer was nie. Met die kamerlig afgeskakel kon sy sy silhoeët soms agter die ligte gordyne in sy helder verligte kamer sien. Met die blad van die groot lessenaar tussen hom en die venster het hy vreemd ingehok gelyk.

      Die eerste keer toe Lalla haar op die bed by die luikvenster aangetref het, het hulle albei versteen.

      “Ek glo dit nie,” het Lalla gesê. “Wie is jy regtig?”

      Dit was ’n vraag oor húlle twee, oor haar en Lalla, oor susterskap.

      Paula het soos ’n bang kleuter van die bed afgespring. “Jammer,” het sy gemompel. “Dit was stupid van my.”

      Lalla het die kamerlig aangeskakel, ’n blerts wit skuimspoeg op Paula se duvet gespoeg en ook die volgende oggend nie ’n woord met haar gepraat nie.

      Lalla het haar daarna wéér uitgevang. Die hemel weet, dit was nie moedswilligheid of vermakerigheid nie. Sy en Hans was ferromagnetiese elemente met ’n muur tussen hulle: yster en nikkel. Of kobalt en gadolinium.

      Dié keer het Lalla langs haar op die bed gespring en die venster oopgeruk. Sy het Paula teen die muur onder die venster vasgedruk, haar linkerhand se wys- en middelvinger teen haar lippe gedruk en skril deur die oop luik en oor die heining tussen die twee huise gefluit: Pfffffftttt!

      Anderkant die heining, verspot jonk agter die ontsagwekkende lessenaar, het Hans skielik opgekyk. ’n Oomblik het hy reg in Paula se oë gekyk. Haar wange het aan die brand geslaan en daar was ’n suisgeluid in haar ore.

      Lalla het haar van die bed afgestamp, maar sy het Lalla aan die arm beetgekry en saam ondertoe geruk. Al vallende het Lalla haar soos ’n kat in die gesig gekrap. Hulle het half op Lalla se bed, half op die gebedsmat tussen die twee enkelbeddens neergestort.

      “Nou gaan jy te ver,” het Paula woedend gehyg en Lalla weggestamp. Die bedlampie het van die bedkassie afgetuimel; die gloeilamp het aan skerwe gespat. “Jy … jy vra nog hoekom Hans jou gelos het. Dis oor jy is soos jy is!”

      “Hy sal jóú ook los, jou dik seekoei.”

      Dié aand het Paula ure lank in haar bed bly rondrol. Wat dínk Hans van haar? Wat het deur sy kop gegaan toe hy besef sy staan hom en afloer? Hoekom stuur hy nie vir haar ’n SMS nie, hoekom swyg

Скачать книгу