Vat 'n gap. Jana du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vat 'n gap - Jana du Plessis страница 11

Vat 'n gap - Jana du Plessis

Скачать книгу

moet wegbly van daai man, Jazzie. Alex sal jou oë uitkrap.”

      “Alex Shmalex, man! Wie is sy nou eintlik?” Net om die Aussie te irriteer, sal sy nou aspris by Gary aanlê, die pap lekker dik aanmaak.

      Frank lig ’n wenkbrou. “Hokaai, tierwyfie. Ek waarsku jou maar net, vriendin tot vriendin.”

      “Whatever, Frank. Jy’s nie my pa nie!”

      En ook nie haar vriend of “vriendin” nie. Sy wil niemand se hulp of raad hê nie, kan almal haar in vadersnaam net uitlos! Net omdat sy dom genoeg was om te veel Slug Specials te drink en Frank van haar werksituasie te vertel, beteken dit nie dat hulle skielik “vriendinne” is nie. Jess is haar vriendin! Haar een en enigste!

      Frank se gesig verkleur. “En dankie tog daarvoor, want jy is een ondankbare blerrie dogter!” snou hy haar toe.

      Voor sy haarself kan keer, gooi sy die skinkbord met sout-en-peperpotte en al teen die muur. Stukkies glas, sout en peper skiet die hele plek vol. Dit land op Frank se klere, die vloer en die kelners se sluitkaste. Net die skinkbord land met ’n harde slag in een stuk op die vloer. Dit tol ’n paar keer in die rondte voordat dit roerloos gaan lê.

      Minder as vyftien minute: Dis hoe lank sy by die restaurant was. Dis die tyd wat dit haar gevat het om haar werk te verloor. Dit moet ’n nuwe rekord wees, dink Jaz bitter.

      Sy skink ’n gul sopie vodka uit die bottel wat sy by duty-free gekoop het. Sy draai die koffiebeker met vodka om en om in haar hand en lees die woorde You are a star wat daarop gedruk is. Ja, reg. Sy is ’n ster. ’n Gevalle ster.

      Sy sluk die sterk drank af en ril. Dis nie elke dag dat sy vodka skoon sal drink nie, maar vandag is nie elke dag nie, of hoe?

      Sy tel die afstandbeheer op, skakel die televisie aan, gooi nog ’n vodka. Sy slurp-slurp daaraan en staar na die skerm, sien niks. Sy weet wat haar ma sou gesê het: “Kom huis toe, Maretha, jy kan saam met my by die salon werk. Jy sal goed wees met naels, jy het dan so ’n natuurlike aanvoeling vir mode en kleur.”

      Gmf. Naels, blerrie naels. Dink Moeder waarlik dat sy enigsins daarin belangstel om plastiekpoppies van Sandton se naels te doen? Sy sal eerder Kilimandjaro kaalvoet uitklim.

      Sy lig haar regterhand, vryf liggies oor die lelike litteken. Besef sy sal self kan doen met ’n manikuur, maar waar gaan die geld daarvoor vandaan kom? Haar verdomde pa en sy nuwe gesin het als van haar gevat. Sy haat hulle almal!

      Vodka drink, dis al wat vir haar oor is om te doen. Die beelde op die televisieskerm begin swem. Het sy vanoggend ontbyt geëet? Sy kan nie onthou nie, die alkohol het haar geheue ook aangetas.

      Waar is jy, Jess? Ek mis jou … Ek wil jou vertel van die fokop wat ek van als maak. Hoe drie jaar se swot en drome – onthou jy, Jess? – tot niet is in hierdie aaklige land. Hoe ek nie eens vir langer as ’n minuut ’n oortuigende kelnerin kon wees nie. Ek mis jou, vriendin …

      Iemand skud haar skouer. Wat is dit nóú weer? Kan almal haar nie blerriewil net uitlos nie?

      “Ga weg,” mompel sy.

      “Jaz? Is jy oukei?”

      Dis Annika. Wat doen sy so vroeg by die huis?

      “Los my uit.” Sy draai om, weg van Annika se aanraking.

      “Wat gaan aan met jou?” Annika klink bekommerd.

      Jaz wonder hoekom. Sy laat rus tog net haar oë hier op die bank, wat is fout daarmee? “Niks.”

      “Het jy pille gedrink of iets?”

      Jaz maak haar oë oop, knip hulle ’n paar keer, draai so dat sy Annika kan sien. Sy kan die wit van die jonger meisie se koeëlronde oë in die skemer vertrek uitmaak. “Nee, Annika, net ’n bietjie vodka. Ek was ontsteld.”

      Annika skakel die lig aan. “Sjoe, jong, jy’t my nogal laat skrik. Hier lê jy in die donker met ’n halfleë bottel langs jou …” Sy tel die bottel op en skud dit.

      Jaz skuif regop op die bank. “Dis net vodka! Wat is jy so paranoïes?”

      “Frank het my gebel en gesê …”

      Blerrie Frank kan ook nie sy bek hou nie. Sy gaan nooit, ooit weer met hom praat nie.

      “Ja, wat het hy gesê? Het hy nou weer by jou geskinder oor my?”

      Annika frons. “Nee, Jaz, hy’t gesê hy’s bekommerd oor jou en het gevra of ek vandag vroeër kan huis toe kom om seker te maak dat jy oukei is.”

      “O, so nou het ek ’n pa én ’n ma wat my dophou?”

      “Wat?” Annika se skouers verstyf. Jaz is seker as sy ’n kat was, sou die hare op haar rug nou penorent gestaan het. “Nee, ons gee net om vir jou.”

      “Whatever.” Jaz weet dis bitchy, maar sy het nie hulle simpatie nodig nie.

      Sy sien hoe ’n verskeidenheid emosies oor Annika spoel. Sy lyk kwaad, maar dan skud sy haar kop. “Jy is ontsteld, so ek gaan jou uitlatings eerder ignoreer. Wil jy koffie hê?”

      Jaz blaas haar asem stadig uit, die wind skoon uit haar seile. Wat is fout met hierdie Annika-meisie? As iemand so met háár gepraat het, sou sy haar sweerlik die leviete voorgelees het.

      Hmmm, koffie klink eintlik nogal lekker. Sy kyk na Annika se geruite romp – heeltemal te lank – en bonkige groen trui. Jess sou nooit, ooit so iets naby haar slanke lyf gebring het nie! En nie in ’n duisend jaar met iemand soos Annika gesels het nie, om nie eens te praat van saam koffie drink nie.

      Jaz se hart trek onverwags saam en haar onderlip begin bewe. Sy kyk weg. Annika moet net nie sien dat sy wil huil nie.

      Annika tel die You are a star-koffiebeker op. “En dié?”

      Jaz maak keel skoon. “Jammer. Daar is nie meer skoon glase nie.”

      Sy wag vir Annika om met haar te raas, want sy weet hoe erg Annika oor haar koffiebekers is.

      “En jy kon nie vinnig net ’n glas uitspoel nie?” Annika se stem is ferm maar gelykmatig.

      Sy klink soos Moeder as sy met een van haar werkers praat, dink Jaz. Ga! Hierdie meisietjie sal haar wát verbeel om so te praat met iemand wat ’n volle drie jaar en een graad ouer as sy is. Maar Jaz is te moeg om verder te baklei.

      “Ek is jammer, Annika.”

      Annika sug. “Dis te verstane, maar sorg asseblief dat dit nie weer gebeur nie.”

      Sy loop kombuis toe. Jaz hoor hoe die ketel aangeskakel word.

      Is dít hoe dit in Engeland gaan? Jou huismaats word jou familie, al sou jy terug by die huis nie dood gesien word in dieselfde vertrek as dié mense nie?

      Sy vee geïrriteerd oor haar wang. Sy wil nie huil nie, want dit beteken dat sy dalk tog iets vir hierdie mense begin voel. En sy weier om aan enigiemand geheg te raak.

      “Oukei, ek kan nie meer hierdie spanning in die huis verdra nie, dis tyd vir ’n huisvergadering,” kondig Annika aan.

Скачать книгу