Vat 'n gap. Jana du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vat 'n gap - Jana du Plessis страница 7

Vat 'n gap - Jana du Plessis

Скачать книгу

saam met vriendinne of saam met haar partner uitry na een of ander gastehuis in die landelike buitewyke van Londen.

      Die rokkiehemde in haar sketsboek is ontwerp om stewige agterente te verbloem, maar steeds die draer vroulik en sexy te laat voel. Sy is so in haar noppies dat sy selfs vir Annika raad vra oor waar sy gehaltemateriaal teen billike pryse kan koop.

      Op dag drie van haar toegelate sewe dae is sy reg om naald in materiaal te druk. Die televisiekamer is oortrek van haar sketse, materiale, naalde en prentjies uit tydskrifte van H&M-items.

      “Genade, Jaz, hoe gaan ek vanaand my sepies kyk tussen hierdie gemors?” vra Annika toe sy inkom, haar hande vol bultende inkopiesakke met kos.

      “As ek ’n groter kamer gehad het, sou dit nie vir my nodig gewees het om in die televisiekamer te werk nie,” kap Jaz terug.

      Annika ignoreer die aanmerking, fokus op die materiaal in Jaz se hand. “Wat maak jy met daardie materiaal?”

      Jaz skuif haar sketse onder ’n tydskrif in. “Klere. Soos wat anders lyk dit vir jou?”

      “So met die hand?” Annika sit haar inkopiesakke op die vloer neer. Die brode en pastas en souse raak seker bietjie swaar, dink Jaz.

      Sy lig haar skouers. “Met wat anders?”

      Annika staan met ’n breë glimlag nader. “Ek het nie geweet jy beplan om als met die hand te doen nie, maar ek het goeie nuus vir jou. Ek het ’n naaimasjien!”

      Jaz kyk na haar huismaat se triomfantlike uitdrukking. As Annika maar net geweet het. “Dis oukei, ek het nie ’n masjien nodig nie.”

      Annika se glimlag is nou ’n reguit lyn. “Maar dit sal vinniger gaan as jy met die masjien werk. Ek sal jou help. Ek is briljant met naaldwerk; ek het selfs op skool ’n onderskeiding vir huishoudkunde gekry.”

      Jaz sug binnensmonds. “Dis nie nodig nie, Annika. Ek verkies om met die hand te werk.”

      Sy sal nie vir Annika die waarheid vertel nie: dat sy haar doodsukkel net om ’n naaimasjien te koppel. Dat Moeder ’n paar helpers betaal het om haar dogter se klere-items aanmekaar te slaan nadat die talentvolle dogter die ontwerpe gedoen het. Sy sal nie erken dat sy soos ’n vis uit die water voel as dit by naaldwerk kom nie.

      Annika se glimlag is nou 360 grade omgekeer. “Nou maar goed.” Sy verkas met haar inkopiesakke en groeiende agterent na die kombuis.

      Toe sy later verskyn met ’n bak stomende pasta tussen haar hande vasgeklem, gee sy Jaz net een kyk waar sy rooi in die gesig besig is om die een rytjie wat sy gewerk het uitmekaar te trek. Trane van frustrasie brand in haar keel, maar sy beteuel haar tot Annika en haar bak pasta by die trappe op verdwyn het.

      Die sysagte materiaal wat sy gekoop het om dromerige rokkiehemde van te maak, is ’n dekselse nagmerrie. Dit het ’n wil van sy eie en as sy hierdie kant toe ruk, trek die materiaal daardie kant toe. Sy frommel dit in ’n balletjie op en gooi dit na die middel van die vertrek, waar dit oor die koffietafel gaan lê.

      Sy sluk die trane weg. Dit help nie om nou te wil tou opgooi nie. Sy moet deurdruk, haar kop regkry, fokus. Wyn. Dis wat sy nou nodig het. Die Sainsbury’s is nog oop. Sy gryp haar handsak, pluk haar jas oor haar skouers.

      Vyftien minute later lyk die materiaal nie minder intimiderend nie. Sy tap ’n behoorlike glas wyn, sluk die alkohol gretig af. Dis beter. Sy tel weer die naald en materiaal op.

      Ek. Is. Jaz. Coetsee. En. Ek. Doen. Fashion.

      Met een twyfelagtige klere-item (is dit ’n kort-kort rokkie, ’n hemp vir ’n dwergie of ’n belt vir ’n oorgewig vrou?), ’n boek vol pragtige sketse en ’n kop volgestop met hoofpynpille, vat Jaz die pad na H&M se hoofkantoor in die stad. Sy het twee dae gelede al gedagtes aan ’n goeie nagrus laat vaar, haar oorgegee aan koffie om wakker te bly en wyn om te slaap.

      Hier staan sy nou voor H&M se deur, haar toekoms in ’n blink-nuwe H&M-inkopiesak toegevou. Sy het dit goedgedink om ’n nuwe uitrusting van H&M aan te skaf, dit vroeër selfs oorweeg om een van haar rokkiehemde ter illustrasie te dra – ha, as daar maar één drabare rok was! Maar die beste wat sy kon doen, was om die inkopiesak te gebruik vir haar voorlegging.

      Sy trek diep aan haar sigaret, probeer haarself paai dat dit nie só erg is nie; sy het darem een item om te wys en ’n hele paar sketse. Watter topontwerper maak in elk geval sy of haar eie klere? Die H&M-mense sal tog sekerlik verstaan dat sy nie op haar eie vyf – vyf is so baie! – items kon maak nie. Sy is die kreatiewe meester agter die ontwerpe, nie die naaldwerkster wat knopies aanwerk en rytjies stik nie. Sy is oortuig daarvan dat haar nuwe werkgewers dit sal verstaan. Net so oortuig soos sy daarvan is dat hulle haar vandag op die spot ’n werk gaan aanbied.

      Sy trap haar stompie dood dat dit so sjjj maak op die nat sypaadjie, trek haar skouers terug en stoot die deur van haar toekoms oop.

      Die H&M-mense laat haar vyftig minute wag. Sy tik-tik met haar hakskoen teen die gelamineerde vloer, kyk betekenisvol vir die ontvangsdame, maar Jaz sit. Sy loer elke nou en dan in die inkopiesak, maar dan wil haar keel toetrek.

      Sy probeer fokus op ’n tydskrifartikel, haal ’n snesie uit haar handsak om die sweetdruppeltjies op haar voorkop te klad. Soos die meeste winkelsentrums en geboue in Engeland is H&M se kantoor verhit, en sy weier om haar nuwe baadjie uit te trek. Dit sal haar hele uitrusting bederf!

      Net toe sy wil opstaan om die kleedkamer te gaan soek, verskyn die vrou wat haar ’n week gelede gebel het met die blye nuus oor haar portefeulje. Sy begelei Jaz na ’n vertrek waar ’n paar mense op ’n ry sit met notas, penne en glase water. Dit voel vir Jaz skoon asof sy ’n Idols-finalis is. Hulle beduie vir haar om te begin.

      Eers wys sy haar pragsketse; die paneel knik ingenome. Hulle glimlag afwagtend toe sy die H&M-sak optel. Sy haal diep asem, druk haar hand in die sak, vat die materiaal raak.

      “Look, I must just warn you … My items aren’t finished. I sort of completed this one piece, but it’s definitely not a reflection of my talent.”

      Sy trek die materiaal stadig uit, maar dan haak ’n punt aan iets in die sak. Sy glimlag verleë. Die paneel frons. Sy pluk-pluk, maar haar een en enigste rokkiehemp het toegevou soos ’n vlieëvanger wat sy prooi gevang het. Sy voel hoe die sweetkolle onder haar arms plasse word. Fokkit! Hierdie is haar groot kans en sy is besig om dit totally op te mors!

      Sy pluk nog ’n keer. Waddehel haak so aan haar rokkiehemp? Het sy ’n naald of iets aan die materiaal vergeet? Met ’n aaklige skeurgeluid kom die materiaal los en ’n item wat selfs Jaz nie in ’n kategorie kan plaas nie, kom te voorskyn.

      Sy weet sy het verloor, maar tog. “I’m so sorry! But if you look at my sketches instead, you’ll see what I actually had in mind. It’s … like … not this.” Sy wapper die materiaal soos ’n vlaggie, glimlag hoopvol.

      Die vrou wat haar gebel het, praat eerste. “You had a great opportunity here, Margaret, and you obviously didn’t take it seriously.”

      “But I …”

      Die vrou kyk Jaz stip in die oë. “How can you ever expect to be a designer when you clearly can’t even work with material?”

      Jaz sluk.

      “Please take your sketches when you leave, Miss Coetsee.”

Скачать книгу