Vat 'n gap. Jana du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vat 'n gap - Jana du Plessis страница 6

Vat 'n gap - Jana du Plessis

Скачать книгу

so uit te vra? It. Is. None. Of. Her. Business.

      “Regtig? Dit moes vreeslik gewees het! Hoe het jy gegly? Was die vloer nat? Of …”

      Annika aarsel. Sy moes die vuur in Jaz se oë gesien het.

      “Gaan jy nie laat wees vir jou groepie-storie nie?”

      Annika is soos ’n hond wat nie ’n speelding wil los nadat hy bytplek gekry het nie. “Is jy seker jy wil nie saamkom nie?”

      Moenie. Aan. My. Karring. Nie.

      Jaz draai weg voor sy Annika en die pizzaboks vermorsel. “Nag, Annika.”

      “Ek sal vanaand vir jou bid, Jaz.”

      Hoe oulik. Hierdie nat-agter-die-ore-kind gaan vir haar, die straatwyse Jaz, ’n gebedjie opsê. Gmf. Annika kan maar lekker bid tot haar knieë nerfaf is. Want sy wat Jaz is, weet wat sy die graagste wil hê, en dit het niks met gebede uit te waai nie.

      Toe die vyfde winkelassistent Jaz met ’n kil glimlag en ’n “Ons sal jou laat weet as iets opduik” uit die winkel lei (sonder dat die sogenaamde assistent haar portefeulje oopgemaak het), besluit sy om huis toe te gaan. Hierdie Britse snobs weet nie wat talent is wanneer dit reg onder hulle neuse – in die beste ontwerpersklere – verskyn nie.

      Laatmiddag is die Tube volgepak soos ’n sardyneblik. Jaz skuif vinnig in by ’n sitplek waar ’n vrou pas opgestaan het. Met elke stop word die spasie tussen die mense kleiner, die suurstof minder. Maak nie saak hoe sy rondskuif nie, sy kan nie fisieke kontak met die vet man langs haar vermy nie.

      “Alright, love?” vra die man.

      Ek is nie jou “love” nie, wil sy terugspoeg, maar besluit om hom te ignoreer.

      Sy waag dit om ’n slukkie van haar koffie te vat en op dieselfde oomblik besluit die vet man om op te staan en hy stamp teen haar elmboog. Stomende koffie mors oor haar ken en spatsels donker kolle verskyn op haar serp. Van skrik ruk sy haar hand vinnig terug. Die koffiedekseltjie vlieg soos ’n frisbee deur die lug en die res van die donker vloeistof spat oor haar geliefde jas.

      Sy kyk verbaas na die mense om haar, maar die vet man het lankal by sy stasie afgeklim. Een vrou glimlag simpatiek; die res van die sardyne druk hulle neuse dieper in boeke of koerante.

      Dis ’n moerse duur baadjie hierdie, wil sy skree, maar julle is seker te pateties om dit te weet!

      Sy bekyk die skade deeglik. Die kunspels om die jas se kraag het skoon platgeval. Fokken great!

      Dis nie hoe Jaz haar haar eerste dag in Londen se strate voorgestel het nie. Jaz die modeontwerper van Johannesburg het gedink sy gaan die mense se voete onder hulle uitslaan, dat hulle haar gaan smeek om vir hulle te kom werk. Dat sy soos ’n wafferse mode-ikoon deur die strate gaan loop en dat mense gaan wonder: Wie is hierdie stylvolle, hot fashionista wat soos ’n jonger weergawe van Kate Moss lyk? Waar kom sy vandaan?

      Sy haal ’n snesie uit haar handsak, probeer die ergste nattigheid daarmee klad. Met elke vee sê sy hard en duidelik in haar kop: Ek. Is. Jaz. Coetsee. En. Ek. Doen. Fashion.

      Sy sal nie toelaat dat hierdie aaklige mense op haar drome kom piepie nie.

      Februarie

      Outfit van die maand:

       Naaswit Topshop-bloes

       Swart Jenni Button-miniromp

       Rooi Mango-jas

       Ben Sherman-fedora

       Plathak-leerstewels van Country Road

       Blompatroon-sykouse van Falke

       Swart armband van H&M

      Jaz hou nie van museums nie. Kunsgalerye, ja, maar geskiedkundige geboue staan haar nie aan nie. Die Tate Modern is haar tipe plek. Sy ignoreer die “kamera verbode”-teken en neem ’n hele paar steelfoto’s met haar iPhone. Een keer raas ’n sekuriteitsbeampte met haar, maar sy glimlag onskuldig en draai weg om nog ’n foto te neem.

      Sy koop koffie by ’n kafee met ’n uitsig oor die Teemsrivier en blaai deur haar portefeulje. Haar werk is fenomenaal, dit weet sy, maar hoekom sien niemand anders dit raak nie? Sy het CD-kopieë van haar portefeulje uitgedeel by al wat ’n winkel is, maar sy is steeds werkloos.

      Frank hou vol sy kan enige tyd by die Slug aanklop, en Annika het voorgestel dat sy haar CV stuur aan ’n agentskap wat vir Suid-Afrikaners werk kry. Maar hoe sal hulle verstaan dat sy nie belangstel in tafels skoonmaak en babadoeke omruil nie? Hulle wonder seker hoe sy dit kan bekostig om die huur te betaal en boonop elke nou en dan met sakke vol inkopies by die huis aankom – sonder dat sy ’n sent verdien.

      Hulle vra nie uit nie, al sien sy die geligte wenkbroue as sy met nog ’n Topshop-sak by die huis inwals. Hulle sal in elk geval nie verstaan nie. Wat weet hulle van omkoopgeld van ’n afwesige pa? Een met genoeg geld om sy gegradueerde dogter als te gee wat haar hart begeer, maar wat nie die tyd kan maak om vir haar te gee wat sy eintlik nodig het nie?

      Sy mis vir Jess. Waar is Jess nou om haar moed in te praat? Om saam met haar die mooiste handsakke uit te kies en daarna tot laataand tequila te drink en in een of ander kroeg op die tafels te eindig? Jess. Jess. Jess.

      Haar iPhone vibreer in haar hand. ’n Vreemde nommer. Wie kan dit wees? Behalwe vir Moeder en haar huismaats is daar niemand wat haar nommer in Engeland het nie.

      “Hallo?”

      “Is this Margaret Jasmine Coetsee?” ’n Engelse aksent. Vroulik.

      “Yes, this is she, but please call me Jaz.” Sy het vinnig geleer dat die Britte glad nie kan regkom met Maretha of Jasmyn nie, dus verklaar haar besigheidskaartjie dat sy Margaret Jasmine Coetsee is.

      “I’m phoning from H&M’s retail department. You dropped off your portfolio at our head office a while ago and we’d like to meet with you to discuss a few things.”

      Jaz se hart spring amper by haar keel uit. Sy kan dit nie glo nie! Sy moet diep asemhaal om kalm te bly. “Yes?”

      “We like your work, Margaret, and we want to meet with you soonest. Can you come in this afternoon?”

      “Absolutely!” Jaz kyk op haar horlosie. “I can come in right now. Should I meet you at your head office in town?”

      “Yes, at Holden House. That would be wonderful. Ta!”

      Jaz sit vir ’n oomblik tjoepstil. Sy kan dit nie glo nie! Sy kyk op haar foon of die oproep werklik gebeur het. Daar is die vreemde nommer. Sy stoor dit dadelik as “H&M”. Sy raap haar portefeulje op, trek haar handskoen styf om die wond (wat nou aansienlik beter lyk as ’n maand gelede) en skuif haar fedora reg op haar kop.

      Sien jy, Jess, ek gaan dit maak. Ek wéét ek gaan.

      Vyf rokkiehemde. Hoe moeilik kan dit nou wees? H&M wil hê Jaz moet binne ’n week vyf somerkledingstukke aan hulle voorlê; daarna sal hulle besluit of hulle haar idees wil gebruik.

      Sy skets twee dae sonder ophou

Скачать книгу