Vier begrafnisse en 'n troue. Pat Stamatélos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos страница 16

Автор:
Серия:
Издательство:
Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos

Скачать книгу

      Die beleefde jong man se oë rek en sy mond sak oop. Shorty glimlag innerlik. Sy weet, hy het nie gedink sy is so oud nie, want ten spyte van haar jare lyk sy nog goed. Dis net haar kop wat soms agterbly as sy vorentoe gaan, maar die liggaam is nog sterk, die hande nog kragtig.

      “Ouma, weet Ouma wat in meneer en mevrou Louw se huis gebeur het?” vra die boykie met ’n soet stem.

      Shorty kyk hom aan soos ’n ma haar klein kind sou aankyk as sy hom saans in sy kombersie gaan toedraai. “Die mense in daardie huis is almal dood,” sê sy beslis.

      “Ouma, weet Ouma wánneer hulle dood is?”

      Sy is nie die dokter nie, hoe moet sy weet? Maar sy probeer haar nie slim hou met die boykie oorkant haar nie. Hy dra die uniform, loop met die geweer. Sy moet hom ook respekte wys.

      “Dokter Drikus Opperman het na die huis gekom en na Louwkie en na Oubaas gekyk, gesê hulle is albei dood. Ná die dokter het die poelies gekom, toe die undertakers.”

      Sy wys na die groot man wat teen ’n muur aanleun asof hy wil omval. “Daai man het na die huis gekom en ook gesê Louwkie en Oubaas is dood.”

      Shorty vee met die agterkant van haar hand ’n paar maal oor haar neus. “Louwkie het nog die oggend van die breakfast geëet wat ek vir haar gemaak het, maar Oubaas eet lank nie meer nie.”

      “Noem Ouma vir mevrou Louw Louwkie?”

      “Ja, van altyd af. Sy noem my Shorty en ek noem haar Louwkie.”

      “Hoekom het meneer Louw nie geëet nie?”

      “Omdat Louwkie gesê het Oubaas eet nie meer nie. Van lankal. Ons het nog altyd sy gesig gewas, hom aangetrek en hom aan ’n stoel vasgemaak.”

      Shorty voel ’n bietjie kriewelrig. Arme Louwkie, arme Oubaas. Sy moet suutjies van hulle praat, hulle moenie hoor dat sy so sit en praat van hulle nie.

      “Maar, Ouma, het mevrou Louw nie haar man al jare gelede begrawe nie?”

      “Ja, sy het. Dit was ’n baie mooi begrafnis, met ’n duur kis.”

      “Hoe is dit dan moontlik vir Oubaas om nog in ’n stoel te sit?”

      Tussen die venster en die gang is daar ’n trek en die kantoor voel koud. Shorty trek die kombers stywer om haar skouers. Die son wat deur die karige gordyne inkom, is dun en maer soos ’n straatkind.

      “Jy’s te jonk om te verstaan hoe dit voel om alleen en eensaam te wees. Hoe dit voel om alleen te gaan slaap, alleen op te staan.”

      Shorty sug lank en hard, sit haar hand oor haar seer hart en druk haar neus teen die kombers om haar skouers. Sy trek die reuk van die kombers diep in. Die kombers ruik soos Louwkie. Dit gee haar die nodige krag om al die boykie se baie vrae te beantwoord.

      Die jong man bekyk die kombers, wys daarna. “Waar het Ouma die kombers gekry?” vra hy asof hy haar van diefstal beskuldig.

      Sy neem aanstoot, sy sou hom nooit oor sý klere gevra het nie. Hy sou definitief nie so iets van sy ouma gevra het nie.

      “Louwkie het dit vir my gegee, van altyd af. ’n Paar winters terug was dit baie koud, toe sê Louwkie vir my: ‘Shorty, vat hierdie kombers en draai dit om jou terwyl jy die blare hark, dis bitter koud buite.’ ”

      Sy voel vies. Is die man dan blind? Kan hy nie sien gister se warmte is nie meer hier nie? Sy roer haar skouers onder die sagtheid van die kombers, lek oor haar droë lippe. Hulle het haar in so ’n haas kom haal, sy het nie eens ’n smeersel vaselien aan haar nie, nie eens ’n snuifie vir ’n toe neus nie.

      “Toe Louwkie bed toe is met haar siekte, het ek die kombers oor haar gegooi vir ekstra warmte. Toe hulle haar kom haal, het ek my kombers teruggevat. Dis mos myne, of hoe?” Sy kyk hom uitdagend aan.

      “Ja, natuurlik, maar het Ouma dit nie eers gewas nie?”

      “Dis skoon,” sê sy beslis, trek die kombers tot by haar ore, vryf haar wang teen die sagte donsies. Die glimlag in haar hart by die herinnering aan Louwkie word ’n hartseer wat oorloop in groot druppels trane.

      Sy voel skaam oor haar bewoënheid, haal ’n sakdoek uit haar mou en vryf oor haar oë en haar gesig. Sy hou haar kop gebuig sodat die poelies nie die blink op haar gesig moet sien nie, maar die trane hou aan loop.

      Die boykie druk ’n knoppie op die masjien.

      “Ouma, het Ouma nog ’n kombers by die huis wat Ouma oor die skouers kan hang?” vra hy sag.

      Dis nou vir jou ’n onnosele vraag, dink sy, maar sy sê niks. Hy dra die uniform, die geweer. Sy knik haar kop, want haar stem het in die niet verdwyn, nes die vuurtjie van Shayamoya.

      Tien minute later stop die poeliesvan voor haar huis in Toekies. Sy weet die bure loer deur hulle vensters. In al haar jare was die poelies nog nooit op haar erf nie.

      “Moenie te lank draai nie, Ouma,” vermaan die boykie.

      “My hoenders is honger, my hond is honger,” sê sy en staan botstil om die jong man aan te gluur. “Ek moet langsaan gaan om ’n bietjie Omo te leen om die kombers in te soak.”

      Die jong man knik. “Dis alright, Ouma,” gee hy toe, “ek sal wag.”

      Shorty snork en draai haar rug op hom. ’n Plattelandse man behoort te weet van African time. Daar gaan nie gejaag word op haar erf nie.

      Sy maak die emaljebeker vol mielies en loop strooi dit oor die draad van die kekkelende hoenders se hok, maak hulle waterbak vol. Toe sny sy twee stukkies brood, druk dit in die bakkie vet en sit dit in die hond se bak.

      Sewe jaar gelede het iemand die klein wit hondjie met die bruin oor in haar hoenderhok gesit. Toe sy die oggend die hoenders gaan voer, staan die tjankende hond langs die vet hen, sy beentjies soos vuurhoutjiestokkies. Sy het hom Hoenertjie gedoop.

      Toe sy haar diere gevoer het, sluk sy haar trots en gaan vra die buurvrou vir ’n bietjie waspoeier. Dié gee ’n lepel vol waspoeier sonder om vrae te vra.

      Shorty sleep die groot sinkbad uit die huis, tap water in en druk die kombers daarin. Met haar moue opgerol staan sy handeviervoet die kombers en knie, borreltjies skuim wat in haar gesig waai.

      Sy gee die boykie ’n vinnige kyk. Hy sit op ’n groot klip onder die vyeboom, sy rug geleun teen die stam terwyl hy haar dophou. Sy regterbeen is voor hom uitgestrek en tussen sy lippe rol hy ’n grassie heen en weer, om en om. Sy linkerskoen hou die beat van Afrika wat oor ’n radio blêr terwyl vrouens opgewonde lag en gesels en hulle wasgoed inseep en uitspoel in die huise om haar.

      Honger honde rem aan kettings en kinders speel eenbeentjie. Ou vrouens loer deur vuil, gekraakte vensters. Dun straaltjies rook klim die lang leer en ’n effense reuk van pap hang in die lug. En die boykie wag.

      Uiteindelik, met die geblomde kombers oor haar skouers met ’n groot haakspeld vasgemaak, verwerdig sy haar om aan die boykie te erken dat sy gereed is.

      Die jong man staan op, stof hom af en loop na die bakkie toe. Terselfdertyd word die beat van Afrika stil. Almal kyk hoe die ou vrou in die voertuig klim en langs die konstabel gaan

Скачать книгу