Vier begrafnisse en 'n troue. Pat Stamatélos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos

Скачать книгу

die uitloop.

      “Moes jy nie ook maar in die hospitaal gebly het nie?” vra sy toe hulle kar toe sleepvoet. “Jy lyk glad nie vir my lekker nie.”

      “Hulle wou my die nag hou, tannie Dulcie, maar ek het aan Puck gedink. As hy môreoggend wakker word en sy hele gesin lê in die hospitaal . . .” Enver trek sy skouers op. “Buitendien kan die hospitaal niks meer vir my doen nie, ek het net rus nodig. Hulle het vir my pynpille gegee.”

      Die reën val nog in sagte grys vlae; die strate is steeds gevaarlik, nat en blink. Hulle ry stadig en in stilte huis toe. Die gebeure is nog te vars en te skrikwekkend om te verwerk of te bespreek.

      Dulcie wonder stilletjies of Sparky geld het vir ’n nuwe motor. Of hy iets van Hanna gaan erf behalwe die ou meubels.

      In Chesterlaan draai sy by haar oprit in en druk die knoppie vir die afstandbeheerde hekke. Nog ’n knoppie om hulle te laat toegaan. Nog ’n knoppie vir die garagedeur. Ligte gaan aan en sy parkeer die kar, sit ratslot, gorilla en alarm aan. Haar hande bewe.

      “Tannie Dulcie . . .” begin Enver hortend. “Ek kon my seun doodgemaak het . . .”

      “Maar hy is nie dood nie. Hy het harsingskudding en krapmerke en môre kom hy huis toe.” Sy klink nie vir haarself oortuigend nie.

      Enver sit vooroor gebuig, hartverskeurende snikke wat uit sy bors kom.

      Dulcie sit haar arms om hom. “Enver, luister nou mooi. Wees dankbaar julle het vinnig in ’n privaat hospitaal beland. En behalwe die paar krapmerke, steke, skok en blou kolle gaan dit goed met almal, Bowie inkluis.” Sy skep asem. “Maar as ek ooit weer hoor dat jy enige van die seuns in ’n kar sit sonder ’n gordel, dan . . .”

      “Ek weet, ek het nie gedink nie.”

      “Dan verwúrg ek jou, verstaan jy?”

      Hy knik sy kop, droog sy trane af en klim stadig uit die kar.

      “Weet jy wat ek vandag besef het, Enver?” Dulcie druk nog twee knoppies vir die sluit van motor en garagedeur. “Rose is die aangewese persoon om by jou te hê in ’n tyd van krisis. Sy was so koel soos ’n komkommer daar in Intensief. Jy is ’n gelukkige man om so ’n vrou te hê, hoor. Ons het almal iemand nodig op wie ons kan peil trek.”

      Enver trek sy tannie nader, vou haar toe in sy arms, druk haar liefderik. Dulcie weet elke beweginkie maak hom seer.

      “Enver, van die os op die jas. Het jou pa hierdie week meubels gekoop? Hy het vroeër ’n oproep ontvang en gesê dis van ’n meubelwinkel, maar hy het ’n bietjie ontsteld gelyk.”

      “Nee, ek weet nie. Dad het niks gesê nie. Ma was baie verknog aan haar meubels.” Hy aarsel. “Maar Ma se meubels is regtig horingoud,” gee hy toe.

      Dulcie glimlag. Dis steeds Má se meubels.

      Sy sit haar hand om Enver se lyf en saam loop hulle die trappies op na die voordeur. Toe sy omkyk, sien sy die geparkeerde polisiemotor oorkant die straat staan.

      “Dankie tog, julle het gekom,” sê Sparky toe hulle inloop, duidelik verlig om hulle te sien.

      Twee polisiemanne sit in die sitkamer, en oorkant hulle sit ’n baie senuagtige Sparky op die punt van sy stoel. Agter hom staan Nash met sy voorpote op Sparky se rug, swaai sy stert vir Dulcie.

      Enver en die polisiemanne skud hand en gaan sit.

      “Verskoon my, ek wil net gaan kyk na –” begin Dulcie.

      “Puck slaap, Ma. Hy het omtrent omgekap toe hy die kussing sien,” sê Cheryl toe sy inkom. Sy kyk met afgryse na Enver. “Jy lyk omtrént verniel! Voel jy alright?”

      Hy wys met sy duim als is reg, skuif ver agtertoe in die gemakstoel.

      “Terloops, Sparky, ek het die hospitaal gebel om te hoor hoe dit met Fanny gaan. Sy is soort van oukei. Haar familie is by haar, maar nie haar ma nie. Bly sy en haar ma dan nie saam nie?” vra Dulcie.

      “Dankie, Dulcie, ek het ook gebel. Ja, sy en haar ma bly saam, maar haar ma is baie siekerig die laaste tyd.”

      Dulcie en Cheryl loop kombuis toe.

      “Ek het ’n dop nodig,” sê Dulcie en val behoorlik in ’n stoel. “As jy koffie maak, haal sommer die brandewynbottel van die boonste rak af, asseblief.”

      Cheryl skakel die ketel aan en trek die bottel nader.

      “Hoe het dit toe gegaan met Sparky onder kruisverhoor?” vra Dulcie bekommerd.

      “Nogal heel goed,” antwoord Cheryl terwyl sy ’n glas uithaal.

      “Los die glas, gooi sommer die laaste bietjie in die koffie.”

      Cheryl gee haar ma ’n kyk, gooi net die helfte van die laaste bietjie in die koppie.

      “Ma weet hoe oom Sparky is: óf langdradig óf vergeetagtig. Maar ek dink hy ly nog aan skok, want hy het al die polisie se vrae in drie-woord-sinne beantwoord!” Cheryl gee ’n laggie. “En wat meer is, hy het onthou om Fanny se familie te skakel, onmiddellik ná die ongeluk.”

      “My wêreld,” is al wat Dulcie aan kan dink om te sê, verbaas dat Sparky so kalm was. Sy voel skielik moeg en getap, dankbaar dat die ergste verby is.

      Sy dink terug aan die oproep, kort nadat Sparky-hulle weg is. “Ons is by die hospitaal,” het hy met ’n bewerige stem gesê. Dit het vir haar gevoel asof die twee mans weer op haar drumpel staan: Jammer, ons het slegte nuus. En Bennie in die intensiewesorgeenheid.

      Bennie het soos ’n dooie gelyk nog voor hy dood is. Sy hande was yskoud. ’n Buis was aan ’n ventilator gekoppel en sy het langs sy bed gesit en luister na die biep-biep-biep-geluide totdat sy wou mal word.

      Die volgende dag het hy ’n bietjie geroer en haar hoop het opgevlam.

      Die dag daarna het sy hart gaan staan, toe weer begin loop.

      Teen die einde het sy nie meer die verskil tussen dag en nag geken nie; die een het eenvoudig in die ander gesmelt. As hulle ’n bord kos voor haar neersit en dit ontbyt noem, het sy geweet dis ’n nuwe dag. Met aandete het sy geweet dis die einde van die dag.

      Op die tiende dag het hulle huisdokter en die spesialis haar voorgekeer toe sy terugkom ná ’n stort en skoon klere se aantrek, die enigste rede waarom sy nog huis toe gegaan het.

      Bennie is breindood, het hulle gesê. Daar is geen punt daarin om die masjiene aan die gang te hou nie, dit verleng net die familie se smart.

      Die besluit was hare, en sy op glibberige terrein. Medies gesproke het sy nie eens die verskil tussen parasetamol en aspirien geken nie. Nou moes sy die jawoord gee om iemand se lewe te neem, of nee sê en hulle eie smart verleng.

      Tog het sy geweet: die enigste manier om uit te vind of Bennie sal oorleef, is om die knoppie te druk. Toe die tyd aanbreek, het Ashwin hom in sy kamer toegesluit. Cheryl het in die motor vir haar gesit en wag.

      Sy het na haar lewensmaat, haar geliefde gesit en kyk terwyl die vonk van sy lewe stadig geblus word. Hulle was skaars veertien jaar oud toe hulle vir mekaar begin loer het.

Скачать книгу