Siegfried. Willem Anker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Siegfried - Willem Anker страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Siegfried - Willem  Anker

Скачать книгу

      *

      Sodra die bakkie uit sig verdwyn, stap hy oor die straat na die drankwinkel, besef dan hy het nog nie geraak aan die liter whisky in die rugsak nie. Siegfried kyk rond. “Ek soek mossels. Ek’s lus vir mossels.” Hulle vind ’n kafee en Siegfried hardloop soos ’n besetene op en af tussen die rye rakke. Smit sien hoe die eienaar die foon optel, en verduidelik. Die eienaar, ’n skeel ou man, glimlag en roep vir Siegfried. “Kan ons help, meneer?” Siegfried vra hom hoe mossels “nou eintlik rêrig lyk”. Die ou man beduie na die verste rak en Siegfried skaf sy eerste blikkie ingelegde mossels aan. Hy vra vir Smit om dit oop te maak met sy pa se knipmes, gaan sit op die sypaadjie buite die kafee en eet die ingemaakte diertjies een vir een op.

      “Dis die eerste keer dat ek mossels eet. Ek hou baie daarvan.” Siegfried staan op en sit die blikkie in sy rugsak.

      “Nee brandblaas, man, jy kan dit nie hou nie. Dit gaan vrot,” probeer hy keer.

      “Ek hou dit want ek wil die ruik weer ruik dis myne,” kom die antwoord voor die blikkie in die rugsak verdwyn. Hy loop woordeloos tevrede agter Smit aan. Hiervandaan moet hy as leier, of ten minste begeleier, optree.

      Daar is ’n land so ver en woes geleë, ’n land wat my nog sal wegvee, of so iets. Hy neem ’n sluk uit die bruin papiersak.

      I I

      Dis ’n dorpie omring deur niks. ’n Matriks van ’n paar strate, ’n kerktoring. Die platgeskraapte grondpaaie loop dood in die omliggende woestyn. Die mense stap stadig, versigtig om nie die stof te versteur nie.

      Dit is helwarm. Dis al.

      Hy en Siegfried sit in die plaaslike kroeg. ’n Platdakgehuggie met ’n stuk hardgeryde grond voor die deur, waarop twee bakkies met lang skaduwees staan. Smit sit en speel met ’n dooie kewer wat hy in die parkeerarea opgetel het en nie dadelik kon eien nie. Dit proe effe na kaneel. My nooi is in ’n nartjie, my ouma was ’n kewer.

      Toe hulle vyf minute gelede oor die drumpel getrap het, was hulle in ’n klein kafeetjie wat die kroeg en restaurant skei. Die vrou agter die kasregister was ’n dowwedopluis, ’n duisend maal opgeblaas. ’n Groot wese met oë weerskante van die te klein kop.

      Die restaurant bestaan uit ’n paar plastiektafels met tuinstoele. ’n Gesin was ter plaatse besig om in die een hoek die lunch special te verorber. Minute steaks, burgers, bier en milkshakes.

      “Los jou suster. Wat maak jy? Wil jy in die kar gaan sit?”

      Die klein mannetjie het sy lip uitgestoot. In die agtergrond was ’n middeljarige Afrikaanse duifie op maat van ’n disco beat aan die kerm oor haar gebreekte hart by die Vaaldam.

      “Eet jou kos. Ek en jou ma wil net in rus en vrede eet.” Die leuse van die middelklasgesinshoof: ons sit hier in ons Sunday best om onsself een keer hierdie maand trommeldik te vreet sodat julle ma miskien vanaand vir my ja sê vir ’n slag, so God hoor my, eet en smile, maak nie saak wat nie.

      “Eet jou blerrie kos! Ek het ten duurste betaal.”

      “Dawie, asseblief. Kom ons geniet net die dag.”

      “Jou kinders kan hulle nie gedra nie. As hulle . . . Los die blerrie soutpot, Mattheus!”

      “Jou kinders? Wat bedoel jy, jou kinders?” ’n Dramatiese stilte. “Vat my huis toe. Ek skaam my dood.” Die vrou was in trane.

      Dit was die geween wat hom genoop het om vir Siegfried te beduie na die kroegdeur links. Die storie in die restaurant kon lelik raak. Die kroeg was leeg, afgesien van die kroegman en twee dronk oliekuiwe wat pool speel. Toe hulle die vertrek betree, word die gesprek onderbreek. In stilte het hulle gaan sit in een van die afskortings wat aan treinkompartemente herinner.

      Die kroeg is uitgelê met riete wat uiteraard bedoel was om ’n absurde soort eksotiese ambience aan die plek te gee. Teen die mure is verskeie bokkoppe wat met glasoë waak oor die pool-spel. Hy bestel ’n bier vir die sitplek. Smit voel heeltemal te sober so laat in die dag. Siegfried sit sy sak met die plantjie op die tafel. Hy is slim genoeg om sy hande onder die tafel te hou. Goed geleer.

      Die kroegman sit ’n Afrikaanse CD op waarin die hees sanger ’n vrou gebied om “daai lyfie” te “rock”; die gesprek word hervat.

      ’n Ontstellende groot vrou met ’n pers serp en gepoeierde gesig vul meteens die ruimte. Sy het te veel gedrink. Die koei stel haarself voor as Liezel van Franschhoek en koop vir die hele kroeg ’n rondte Springbokkies. Liezel kom sit styf teen hom en begin uitvra. Hy antwoord so vaag moontlik, terwyl die drankasem uit die te rooi mondjie in sy gesig blaas. Sy was hier vir ’n troue, sê sy. En nou wil sy nog dans. Sy sê troues maak haar wild. Sy gryp hom om die lyf en trek hom met een arm op.

      “Sit ’n lekker ene op,” sê sy vir die kroegman en begin hom rondstuur om die pool-tafel. Die kroegman speel ’n nommer waarin ’n vrou opgewonde sing oor ’n fenomeen oënskynlik bekend as die “skarumba”, of iets drekliks. Hy voel duiselig van al die beweging. Sy druk al die wind uit hom uit. ’n Vent met ’n beetgevreet, wat ook die kroeg binneval, maak ’n einde aan die verleentheid.

      “Liezeltjie, loop jy al weer rond? Kom hier, jou lekker ding, ek dog jy is in ’n ander man se bed.”

      “Hoe ken jy my, Boetie,” lag sy. Sy soen Smit op die mond. Boetie gryp haar van agter om haar ekwator en maak haar los uit die doodsgreep wat sy op hom uitoefen. “Sorrie, oom, maar sy’s nou myne. Kom gee bietjie tong.”

      Smit gee so gou moontlik pad en gaan sit weer by Siegfried.

      “Ek en jy gaan vanaand hierdie plek rooi verf, sexy.” Hulle dans om die pool-tafel tot by die kroeg waar nog Springbokkies gekoop word. Smit kry twee. Dit is meer as welkom. Siegfried lyk nie of hy enigiets ongewoons opmerk nie. Die twee verliefde gedrogte verruil die kroeg vir ’n Ford backseat.

      Hulle moet planne maak. “Reg. Wat maak ons nou?”

      “My oom sal help oom.” Die paddakind lyk sekerder as ooit te vore. Hy voel naar; miskien is hy nie die een wat hierdie verdwaalde siel moet help nie. Siegfried sien die twyfel in sy oë: “Hy sal help. Oom Bert is familie.” Hy haal sy hande onder die tafel uit, sit hulle oopgesprei op die tafel. “Hy is Ma se broer.”

      “Reg. Dan moet ons seker in die stad uitkom. Ek sal uitvind.”

      Siegfried staar by die venster uit na dinge wat net hy sien. Hy kan die kind nie so los nie. Hy is nou eenmaal in hierdie ding en sal dit moet deursien tot die einde. Hy staan op en stap na die kroegman toe.

      “Ek en my jong vriend is op pad Kaapstad toe. Weet u dalk van ’n geleentheid?”

      “Jong vriend, sê jy?” Die kroegman is lus vir grappies maak. “Geleentheid waarvoor nogal?” Dreg dit.

      “Meneer, uiteraard . . .”

      “Luister, vriend.” ’n Pool-speler, Plato se Idee van die Boer, verskyn skielik langs hom. “My neef vat môre ’n lorrie Stellenbosch toe na ’n man daar wat die ding gekoop het. Julle is welkom om saam te ry. Ek’s seker hy sal nie omgee nie.”

      Die neef is ene Dawie Lambrechts, die einste Dawie wat langsaan veg vir die genot van minute steaks.

      “Dankie . . . uiteraard.”

Скачать книгу