Die Grysland-verblyf. Jaco Fouché

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Grysland-verblyf - Jaco Fouché страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Die Grysland-verblyf - Jaco Fouché

Скачать книгу

hulle oor die telefoon begin gesels, lyk ’n persoonlike ontmoeting moontlik. Maar sy gretigheid taan: hy het ’n spesmaas dat hulle mekaar in lewende lywe net sal ontnugter. Sy is seker nie die eksotiese wese wat hy hom voorstel nie, en hy is beslis nie die skerpsinnige skilder wat sy waarskynlik in gedagte het nie. Om die waarheid te sê, hy is ver van skerpsinnig af. Eenkeer op skool het hy sy IK-punt te siene gekry. Dit was 108 – maar min vir ’n man wat hoop hy sal eendag as geniaal gereken word.

      Ook is daar ’n man met wie hy gereeld korrespondeer. Sy naam is Theo en hy het ’n boek gepubliseer. Hulle ruil menings uit wat kort duskant anargistiese begeertes gaan draai. Nie een hou van sy werk nie, en albei droom van geld en roem. Of, as dit dan nie anders kan nie, van berugtheid.

      Daag die bestel uit, skryf hulle vir mekaar. Na die maan met die establishment. Konfronteer die hoër klasse. Vind uit wat hulle dink. Maar sal dit die moeite werd wees? Sê nou dit verskil nie veel van wat hy reeds dink nie?

      Wat beteken dit? Wat gebeur wanneer ’n mens jouself uit die samelewing gewerk het wat jou so frustreer? Dan het jy geen tuiste meer nie. Wat is dan jou voorland? Die tronk? ’n Armbuurt? ’n Kultus? Dan is jy lid van ’n donkerder samelewing, waar jou lewe in gevaar sal wees en jy met boosheid flankeer.

      Verdere sosiale bedrywighede is die gereelde fliek saam met Ben, die filmentoesias. Dié man verteenwoordig, vermoed Phillip, sofistikasie en geleerdheid. Hy het jare lank gestudeer en noem professore op die naam. Hy werk in die boekebedryf en verstaan Phillip se ontevredenheid oor sy werk. Maar sy raad is om aan te bly en eerder op die spanning te steun vir inspirasie as om op onverstandige wyse te bedank.

      Soms is daar ’n kerkdiens. Phillip gaan na die Katolieke Kerk, Saterdagaande om sesuur oorkant die poskantoor in Bellville. Hy probeer die ander aanbidders die kniebuigery en die vingerkruis nadoen en verwonder hom aan hoe die dienste andersins ooreenstem met dié van die NG Kerk. Hierdie kerk is net mooier, met beelde en gewade en kleur. Verder kom die woorde (hoewel in Engels) en die verloop van die diens bekend voor.

      Hy gaan totdat die priester, wat ná die dienste by die deur staan en mense groet, hom opmerk en vir hom begin knik en glimlag asof hy ’n pastorale ontmoeting in die vooruitsig stel. Wat Phillip daar maak, weet hy self nie. Hy kan dit ook nie verduidelik nie en hy bly eerder weg.

      Hy dink: as hy net die moed het, sal hy Katoliek word. Dit sal gaaf wees om die dinge aan te leer wat ’n mens moet aanleer, om van voor af te katkiseer, om iets nuuts aan te pak. Maar daar bly dit, by dink daaroor.

      By Alkoholiste Anoniem is daar ook ’n soort heenkome. Woensdagaande sit hy in die vergadering en luister hoe mense vertel van hulle stryd teen die dranklus – ’n stryd wat hy lankal weer verloor het. Drank is belangrik in sy lewe, weet hy magteloos. Dis soos medisyne.

      By die vergaderings drink hy koffie saam met mense wat soms sake met mekaar doen, of wat bevriend raak en oor en weer kuier. Op ’n keer gaan hy vir ’n naweek weg saam met ander lede van die groep. Dis ’n naweek vol besprekings. Hulle hou sessies en inspireer mekaar, konfereer oor hoe moeilik hulle huwelike en werk is, lag vir mekaar se onbesonnenhede, praat soos mense wat al als gesien het. Hier by AA, wanneer die groep saam lag vir iets wat die spreker gesê het, wanneer hulle aan die einde van die vergadering hande vat en saam koor: “Keep coming back, it works”, voel hy dat hy iewers hoort, al drink hy skelm.

      Hy is bewus van die een of ander leegheid, die een of ander gebrek aan dryfkrag, die een of ander oortuiging dat hy te min tyd aan die geestelike afstaan. Hy is verveeld en ontevrede en toenemend skrikkerig vir alles. Hy is besig om sy tyd met onbenullighede te verkwis. Hy wil wegbreek en sien nie kans daarvoor nie.

      Wat in ’n mate verlossing bied van die verwarring, is af en toe se naweek by Andy in Rosebank. Dan, wanneer hy in die gesig van sy skoolmaat kyk en sy stem hoor, onthou hy weer sy kinderdae: die speel op strande, uitstappies in die berge, kuiers by mekaar se ouerhuise, ’n gelag terwyl ’n tennisbal rondgeslaan word. Hy gaan Vrydagaand met die trein deur en bly tot Saterdag- of Sondagmiddag. Hulle drink bier en rook sigarette en speel rekenaarspeletjies en braai en gaan soms uit.

      Phillip mor oor sy werk en sy lus om te skilder, en dit word geduldig aangehoor. “Die korporatiewe lewe is baie veeleisend,” sal hy sê, en só eerder wegbly van sy spesifieke afkeer van sekere kollegas en allerlei verpligtinge.

      Op sy beurt het Andy klagtes en ontevredenheid uit die gasvryheidsbedryf, en hy vertel: “Een van ons sjefs het bedank en maak nou ’n restaurant oop in die omgewing waar hy gewerk het. Dis teenstrydig met sy kontrak en nou moet ons hof toe.” Of hy sê: “Ek raak darem lus om iets op my eie aan te pak.”

      Is dit net planne en dagdrome, soos die lus om oorsee te gaan woon? Andy is ’n sjef, maar hy dink aan ’n spysenieringsbesigheid. Hy kan bestellings neem en bak en kos kook en aflewer. Anders kan hy moontlik in die rekenaarbedryf geholpe raak, want hy stel belang in rekenaars en is bedrewe daarmee – meer as Phillip die programmeerder.

      Verder sien Phillip hoe Andy en sy vriendin toenemend huisliker raak, al minder uitgaan, praat van ’n groter woonstel.

      Hulle trou een Dinsdagoggend by Binnelandse Sake in Wynberg.

      Phillip gaan met die trein deur vir die geleentheid, waar die vrou wat die seremonie lei kennelik net soveel as hy geraak is deur die gebeurtenis. Daar is min mense – net die paartjie en drie vriende, wat hom insluit. Een van die ander gaste het ’n videokamera.

      Phillip glimlag vir ’n vrou, wat terugglimlag, en die dag is lekker. Maar hy dink daar is beslis minder vordering in sy lewe as in ander mense s’n.

      Ná die troue is daar iets om te eet by die bruid se ma se woonstel. Toe ry Andy en sy nuwe vrou om ’n week lank Oos-Kaap toe te gaan.

      Phillip gaan terug werk toe, waar hy plesier daaruit put om te vertel dat hy ’n troue by Binnelandse Sake bygewoon het eerder as ’n duur Saterdagaandaffêre. Veral sy bestuurder – ’n man met ’n voorliefde vir die mooi huis, die duur broek, die skoon motor, en iemand wat in arbeidsadel glo slegs wanneer dit welvaart meebring – lyk of hy nie veel dink van so ’n troue nie. Dis genotvol om sy misnoeë te aanskou, en Phillip maak die man se reaksie af as burgerlik en naïef. Sy baas is ’n beperkte man.

      Maar hy wonder wat presies sy standpunt teenoor sy baas en sy ander kollegas is. Wil hy aan hulle die boodskap oordra dat hy nie soos hulle is nie? Verbeel hy hom hy is verhewe bo ekonomiese verpligtinge en die behoefte aan status?

      Nee. Hy is nie. Hy hunker na geld en status. Maar hy wil sy geld as skilder verdien en sy status as kunstenaar vestig.

      Hy gaan soms na vriende in die stad, vriende wat hy nooit sou leer ken het as hy nie ’n uitstalling gehou het nie. Dis gegradueerde mense met gegradueerde ingesteldhede. Dis BA-mense. By die werk is daar eerder BCom-mense – ’n spesie wat nie te veel van BA’s dink nie, weet hy al. Een van hulle praat van BA Useless, en ’n ander sê neerhalende dinge oor musikante. Maar Phillip het ’n BA-hart, dis vir hom duidelik.

      Handelsmerke – klere, motors – is nie prominent onder hierdie mense nie. Trouens, van hulle maak blykbaar ’n punt daarvan om eenvoudig aan te trek en te ry. Lees en espresso’s en duur wyn is egter belangrik. Die regte flieks is belangrik. As jy van aksieprente hou, sorg jy dat jy krities oor sulke prente praat en na “die genre” verwys. Dis ook belangrik om nie na gewilde Afrikaanse musiek te luister nie.

      Saam met hierdie mense bring Phillip af en toe ’n aand by kuierplekke in die stad deur. Dan kritiseer hulle lustig mededingers se werk en bespiegel oor hulle kunstige paaie vorentoe. Daar is vae maar ambisieuse planne oor wat nog geskryf en geskilder moet word. Meer nog: oor wat nog geskryf en geskilder

Скачать книгу