Hoogty. E. Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hoogty - E. Kotze страница 16

Автор:
Серия:
Издательство:
Hoogty - E. Kotze

Скачать книгу

die korrels so groot soos ghoens.”

      ’n Klein windhok staan tog oop, waar ’n hond kan slaap, en besems en emmers gebêre word. Ook op hierdie werf is daar geen bewys van ’n tuin nie, nie eens ’n aalwyn of malva nie, en dit ten spyte van al die rivierwater. Só lyk ’n plek waar daar lank nie mense gewoon het nie. Waar die spoke nie tot rus kom nie.

      “Toe,” sê hy toe die plasie reeds ’n ent agter hulle lê, “nou is dit jou beurt.”

      “Om te wat?”

      “Ek het jou my plaas gewys. Vertel jy nou vir my.”

      “Wat wil jy weet?”

      “Sê my hoe oud jy is.”

      “Agtien.”

      “Jy jok vir my. Jy moet ouer wees. Jy het matriek gemaak en jy was ’n jaar op kollege.”

      Hy het blykbaar self ’n paar somme gemaak, net soos sy. Hy moet twintig wees. In baie opsigte nog ’n seun, op wie se breë skouers vroeg reeds ’n berg verantwoordelikheid gelaai is.

      “Dus maak dit my neëntien? Ek kan een-en-twintig ook wees. Ek kon gedruip het. Weggeloop het met ’n man. Ma van een kind. Geskei.”

      Hy lyk openlik geskok.

      “Nee, ernstig,” help sy hom uit sy verwarring, “ek was pas agtien in November. Het klasse op laerskool gespring. Maar wat maak dit saak?”

      “Ek moet jou kan glo.”

      “Hoekom? Ons ken mekaar skaars.”

      “Ons kan mekaar altyd leer ken. Of wil jy nie?”

      “Goed. Waar wil jy hê moet ek begin? My ouderdom. Ek het sewentien geword aan die einde van my matriekjaar. ’n Jaar op kollege. In November was ek agtien. Met my volgende verjaardag sal ek neëntien wees. November l952,” benadruk sy die datum. “Ek het niks om weg te steek nie. Ek kan my doopseel vir jou wys, en getuigskrifte van die skoolhoof en predikant. Ek is aangeneem toe ek vyftien was en is eers die volgende jaar voorgestel in die NG Kerk.”

      “Ek het nie bedoel om jou te katkiseer nie.”

      “Nee, maar een ou dwalinkie beteken nie ek is gewoond daaraan om te lieg nie. Die dopery was ’n fout, maar dit was ook nie nodig dat die Venters dit moet weet nie. Dat jy my in ’n swak lig gestel het voor hulle . . . en dalk voor jou ouers ook. Moes jy ’n storie daarvan maak?” trap sy hom liggies uit.

      Nogtans kan sy nie help om lag te kry vir die verleentheid waarin hy haar geplaas het nie. En te wonder wat Felix daarvan gaan maak nie.

      “Ek weer het gedink jy is nogal ’n oulike meisie, maar ons het ’n kerkalmanak wat nie jok nie. Onthou dit volgende keer. Ek wou jou nog ’n kans gee; as jy nie vanmiddag met my wou saamry nie, het ek van jou vergeet.”

      “Ek is bly om dit te hoor, meneer De Wet. En baie verlig. Is daar nog iets?”

      “Terwyl jy so aandring, ja,” sê hy op ligter trant. “Het jy ’n kêrel . . . daar aan die Skedelkus?”

      “Nie waarvan ek weet nie. Maar ek ken stringe . . . op Vollemink.”

      “Vollemink?”

      “Ek bedoel Flaminkbaai. Dis waar ek grootgeword het, aan die Kaapse Weskus. Daar sê die mense sommer Vollemink.”

      En sy vertel hom van die flaminke wat in hul honderde der honderde ná die broeiseisoen in die panne van Midde-Afrika na die vleigebied by Volleminkbaai kom en bedags daar in die vlak water wei. Sy maak die geluid van hul geroep na wanneer die mannetjies hul diep pienk pluime ten toon stel en voor die wyfies pronk. En hul lang nekke krink om hul rugvere by te kom en uit te kam.

      Voor hulle vlam die Vrystaatse sononder. “Saans slaan die pienk in die wolke op en kaats terug op die water,” mymer sy. “ ’n Pienk aand, noem die vissers so ’n mooi aand. Op die strand maak die kinders die flaminkveertjies bymekaar en bêre dit in hul Bybels.”

      “By ons kom die bloukraanvoëls op die lande wei as die oes af is,” vertel Chris. “Hulle kom in troppies, en soms pare. Ons kyk elke jaar uit vir hulle. Dis ’n gesig wat jy self moet sien. Ons het ook flappe, grys in die winter, maar lentetyd is die mannetjies se sterte so swaar dat hulle skaars kan opkom van die grond af. Jy sal dit nog sien.”

      Hulle is soos twee kinders wat mekaar wil troef met wie s’n die beste is. Dan wen hy seker, want wat het sy om te wys? ’n Flaminkveertjie?

      Asof hy haar gedagtes lees, herhaal hy: “Vollemink, Vollemink . . . Jy, Helena Burger met die pienk Volleminkkop, wie se ouma ’n Deen is! So iets kan geen mens uitdink nie. Dit moet die waarheid wees.”

      Toe hy haar by die huis aflaai en Felix nooi hy moet kom saam eet, hulle het toebroodjies met koue hoender gemaak, sê hy nee dankie en sien haar by die hekkie af.

      “En toe,” wil Anneke weet, “hoe was dit? Hoe lyk Dewet vir jou?”

      “Interessant en mooi,” antwoord Helena, “op die wal van die Caledonrivier en aangrensend aan Basoetoland. Dis half onwerklik, asof ek in ’n geskiedenisboek ingestap het. Dis net jammer dat ek die huis nie kon sien nie. Ek is altyd nuuskierig oor huise, en juis nadat Chris my ’n bietjie van die agtergrond vertel het. Maar toe het hy nie die sleutel by hom gehad nie.”

      “Ek is verbaas jou kop draai nie.”

      “Van al die oupas en ooms, die stiefkinders en erfgrond? Dit lyk darem nie of dit Chris pla nie.”

      “Nie solank tant Nelie lewe nie. Sy ma het goed na hom gekyk.”

      Felix gee ’n kuggie. “Die huis is maar primitief en verwaarloos. Oud.”

      “Ek hou van ou huise.” Helena wil byna die verwaarloosde klipgeboutjie verdedig. “Ek het in een grootgeword wat seker nog eendag tot ’n museum verklaar sal word. Die laaste van sy soort met al die mitterjale –”

      “Se watter jale?” bars Felix uit van die lag.

      “Materiale.” Sy voel verplig om eers weer uit te lê: die dak van sterk rogstrooi klam gemaak en oor ’n drom gekneus, soos sy haar pa dit sien doen het; wolfsgeweltjie; die mure ’n mengsel van palmiet en klei, afgepleister en witgekalk; kaggeltjie met ’n bakoond; loergatvenstertjies.

      “Volleminkbaai!” skud Felix sy kop toe hy later gangaf stap na hul slaapkamer toe.

      Ook hulle glo haar nie altyd nie, of dink sy speel. Lieg!

      Alleen in haar kamer dink sy weer aan die plasie waar alles so verkeerdom lyk, nes sy vir hierdie mense. As dit nie vir Chris de Wet was nie, het sy net daar in die water gespring en geswem. So ’n warm Krismis ken sy nie.

      Maar wat sou Simon wat die plaas oppas daarvan sê, en die vreemde man wat sy skaars ken?

      ’n Boks sjokolade word vir Helena afgelewer, waaraan hulle almal smaaklik eet. Dit kan net van Chris kom.

      Felix koop nie vir sy vrou lekkergoed nie, dis nie nodig dat hy haar omkoop nie, sê hy.

      “Jy het net al vergeet,”

Скачать книгу