Hoogty. E. Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hoogty - E. Kotze страница 17

Автор:
Серия:
Издательство:
Hoogty - E. Kotze

Скачать книгу

“En pyn. ‘Want pyn is geen pyn, maar om ’n bokkie te hê wat ver van my zyn, dát zy pyn!’ ” sê hy en Anneke tegelyk.

      Dink hulle sy weet niks van die kriewelinge en gefladder van meisiewees nie? Dis nie asof sy nog nooit ’n ou gehad het nie. Klein-Koen wat vir haar briewe in groen ink geskryf het, vir wie sy in matriek afgesê het omdat sy nie daardie vatterige skoolseunagtigheid soek waar sy heeltyd moet keer dat haar klere losgeknoop word nie. Daardie onvolwasse origheid wat sy so verpes.

      Chris de Wet is nie lastig nie. En Helena neem die Venters se tergery nie ter harte nie.

      Daar is dringender dinge waaraan sy dink. Noudat die skole haas moet heropen, sal haar ma Boetie se klere begin regkry. Dis sy laaste jaar op Vollemink. Hy sal uit sy skoolbroeke gegroei het en nuwe hemde moet kry. En skoene.

      “Is daar nie nog van Heuleuna s’n wat hy kan dra nie?” hoor sy Jas sê van die wit hemde. “En vat die skoene vir ou Japie Neus dat hy halfsole onder kap. Hulle is nou net mooi lekker uitgetrap, nou moet hulle weggegooi word.”

      Hulle moes meermale hoor dat hy sy eerste paar dry soles gekry het toe hy sestien was. En dat hy gedink het ’n skoen moet so sit, dit móét jou druk. Daarom verkies hy steeds om kaalvoet te loop.

      Helena sluit twee pondnote by haar brief in. Sy wens sy kon meer stuur, maar sy het ’n spaarboekie by die poskantoor oopgemaak en ’n polissie uitgeneem waarvan sy elke maand die paaiement moet betaal. Daarby het sy ingeteken op die naweekuitgawe van Die Burger, om darem nie heeltemal voeling met die Kaap te verloor nie.

      Hoewel die kanse skraal is dat daar ooit ’n berig oor Flaminkbaai in die koerant sal verskyn. Slegs as daar ’n skuit in die mis verdwaal of op die wal loop, as die bemanning verdrink en ’n patrollieboot uitgestuur word, of snoekvangste so dik is dat die vis nie ’n prys het nie, haal dit die koerant.

      Prinses Elizabeth van Engeland bestyg wel die troon nadat koning George vi oorlede is. Helena onthou helder die koningsgesin se besoek aan Suid-Afrika in 1947, toe elke skoolkind ’n medalje gekry het wat ewe gou aangeslaan het. En die fraaie prinses Margaret, so verlief op Peter Townsend. Helena het selfs ’n plakboek gemaak, wat die muise vier jaar later seker al opgevreet het. Dalk het haar ma dit weggegooi toe sy die kamer skoongemaak het.

      Van die geld skryf haar ma terug dat sy dit liewer moet spaar. Hou dit teen jou bors, sit jou hoed daarop. Op die ou end sal Jas wel vir ’n kleurbaadjie betaal; soos met alles moet hy eers wys wie dra die beursie voor hy uithaal. Boetie is so goed in sport en atletiek, hy behoort vanjaar plek te kry vir Boland-tennis, en hy het ’n bekertjie gekry vir hoogspring. Dit sal darem ’n alte groot skande wees as Jas Burger se seun afsteek by die groot skole se kinders teen wie hy kompeteer.

      Die vorige jaar met interskole het hy die laaste kind in sy ouderdomsgroep uitgehardloop in die kort afstande. Die hoof van een van die voorstedelike skole in Kaapstad het ná die tyd na hom gekom en aangebied dat hy gratis kan studeer en loseer as hy na hulle oorkom. Maar Cora wou nie. Sy was nog nie reg om hom te laat gaan nie. En hy nie naastenby gereed vir Bellville nie.

      Helena het ’n foto waar hy met die beker op die podium staan tussen die twee naaswenners. Boetie, jy is op die wenpad, wys hulle! dink sy trots.

      Sy weet hy is hard aan die oefen vir atletiek, en hy hoop ook om die fabriekbeurs te wen wat elke jaar toegeken word aan die beste presteerder. Al sê Jas hy kruip agter sy boeke weg as daar nette gestel moet word, en dat ’n mens wat nie werk nie ook nie kan eet nie. Hy weet nie leer is ook harde werk nie.

      Intussen word Blommie gedoop – die troetelnaampie waarop Henriëtta Luisa uit die staanspoor genoem word. ’n Vloek vir ’n kind, wat nooit weer van Hillie of Boetie ontslae kan raak nie.

      Felix bondel hulle almal die Sondagoggend in die motor Ladybrand toe. Die bure se dogtertjie bring die kleintjie in en Helena hou in die konsistorie oog terwyl die diens aan die gang is. As die Retiefs daar is, sien niemand hulle nie. Is hulle dalk “al om die veertien dae”- kerkgangers? wonder sy. Of voel tant Nelie nie lekker nie, of oom Stoffel?

      Daar kom mense by die huis tee drink, en die twee kleintjies word gekiek: twee feetjies in frilletjies en kant, met satynskoentjies wat Anneke self gemaak het. En twee baie broeis ouers.

      Ewe trots wys Helena die foto wat sy in haar Bybel hou.

      “My boetie,” sê sy van die elfagtige seun met donker krulhare en spits ore, en die breë borskas van Jas Burre. “Hy lyk meer na my ma met die hartvormige gesig en bruin oë. Ek het altyd so gewens dis ek.”

      “Het jy nie ’n foto van julle gesin nie?” wil Anneke weet.

      ’n Foto van haar pa en ma weerskante van haar en Boetie? O jinne nee, hoe kry hulle vir Jas voor ’n kamera?

      Vir hom moet ’n mens betrek, soos die dag toe hy onder die boom sit en hardernet boet het, met sy kaal tone in die masse gehaak, en ant Tiek se seun hom gekiek het. Die vergroting hang in hul voorhuis. Sal later ook nog ’n reliek word, voorspel ou Erwee van ant Tiek.

      Daar is nie eens ’n trouportret van Cora en Jasper in hul huis nie. “Hoekom nie?” wou Helena weet toe sy begin wonder het. In al haar maats se huise hang daar ’n trouportret in die voorhuis: die vrou in ’n wit rok met handtak en veil, die man in ’n donker pak met ’n wit sakdoek in sy bosak.

      “Ons is voor die magistraat getroud.”

      “En wat het Ma aangehad?”

      “ ’n Baadjiepakkie.”

      Met ’n hoed en skoene en handskoene. Amper soos voorstelling. Sonder ’n ou blommetjie.

      “Hoekom?”

      “Omdat jou pa dit so wou hê. Ons het later vir ’n tweede maal in die studeerkamer van die pastorie getrou.”

      “Eers getroud en toe gekerk.” Hoekom Helena dit juis moes sê, weet sy nie. Sy het niks daarby bedoel nie, maar sy kon haar tong afbyt toe sy haar ma se gesig sien. So geknou.

      Van Cora se ouers was daar foto’s; ook van ooms en tantes, susters en die swaer wat hul grond gekoop het, wat af en toe ’n mandjie druiwe of ’n kis vye gebring het om konfyt van te kook. Maar wat hoe later hoe minder sy gesig gewys het weens Jasper se houding van “ons het nie jul aalmoese nodig nie”.

      Selfs van ouma Lina Nimb en haar pa, die ou Deen met die rooi baard wat Helena se grootjie was – en wat byna honderd jaar oud geword het sonder dat sy hom ooit lewend gesien het – was daar verbleikte foto’s. Niks van Jas of sy pa nie. Helena is te skaam om voor die mense te erken dat Jas Burre sy eie familie nie ken nie. Of is sy familiefoto’s iewers versteek in ’n boks in ’n kis op ’n solder?

      “Daar sal seker familiefoto’s wees as ’n mens tussen die rommel krap,” antwoord sy Anneke se vraag ontwykend.

      Dan raap sy Koekoe op en begin met haar ’n speletjie uit haar eie babatyd wat Cora met haar gespeel het: Voorkop, kyker, snuiter, mondjie-vol-pap, kennebak, gorrelgat, melkpens, doedelsak! En dan weer: Duimpie, duimpie-se-maat, langeraat, fielafooi, piepie-in-die-kooi!

      Asof dit sal help om haar eie miserabelheid hok te slaan. Sy moes nooit so uitgebrei het oor hul Kersfees op Vollemink nie, en ’n gebrek aan familiebande.

      Wat dink Anneke en Felix werklik as hulle klaar gelag het? vra sy haarself af toe sy later in die rigting van die spruit stap en op die bruggie se randsteen gaan sit onder die oorhangende

Скачать книгу