Hoogty. E. Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hoogty - E. Kotze страница 18

Автор:
Серия:
Издательство:
Hoogty - E. Kotze

Скачать книгу

Paarl aanvaar het nie, waar sy later vir haar eer sou moes veg en dalk sou verloor het. Dis waarom sy eerder Grenspan toe gekom het.

      Miskien nie die beste keuse uit ’n finansiële oogpunt nie, maar dit mag die begin van ’n begin wees, die onderste sport na die punt van die leer. Hoe gepas klink al die gesegdes van meneer Meyer nie nou nie. Op die oomblik is dit gerieflik dat sy by die Venters inwoon, maar dit maak tog inbreuk op hul privaatheid. As die tyd geleë is, sal sy wil nesskop op haar eie, ’n meer uitdagende werk met ’n beter salaris op ’n groter dorp kry. Bloemfontein? So ver wil sy nie nou dink nie.

      Met haar bene opgetrek onder haar rok, ken op die knieë, kyk sy voor haar uit. Die grond is droog, die lug bedompig soos voor ’n donderweer. Almal sien uit na reën. Somerreën vir die jong mielies. Vroeë herfsreën vir die Sandveldse koringboere. Die aarde is dorstig. Die see ook. Vreemd, maar die see moet ook reën kry, anders is die vis skaars. Maar dis glo vieslik nat op ’n skuit se dek as dit op see reën, al is dit ook maar water.

      As die oostewind dae lank gewoed en die see en lug bleek gewaai het, kom daar ’n kenterweer op, en ’n genadige koelte. Blou soos kobalt rol dit van die einder af oor die water land toe. Dis dan dat die masbanker agter die bamboes, feitlik in die klip, rys en die skuite losgooi, ’n skep maak en aflaai en dan weer uitgaan.

      Chris de Wet het byna by haar verbygery en toe weer teruggestoot.

      Sy is bly om hom te sien. “Hallo! Waar kom jy vandaan?”

      “Ek het sommer kom kyk hoe dit op Grenspan gaan. Gaan dit goed?”

      Sy knik.

      “En met my?”

      Aan hierdie uitgerekte ritueel van groet en oor en weer uitvra na mekaar se welstand moet sy nog gewoond raak. Sy merk dit ook in die spreekkamer en onder die huiswerkers. Dis iets wat sy moet onthou.

      “Ek kan mos sien hoe dit met jou gaan. Wil jy sit?”

      Sy maak vir hom plek langs haar op die muurtjie en weet toe nie verder nie. Skielik is sy baie bewus van hom hier langs haar: die jong, byna seunsagtige gesig, die opgeslaande wit hempskraag, die polsende kuiltjie, die tekstuur van sy baadjie teen haar kaal arm.

      Selfbewus sit hulle ’n ruk lank terwyl die son laag bo die horison hang. “Was jy weer op Dewet?” vra sy, net om iets te sê.

      “Ja, die skeerders was daar en ons het sommer gedip en gedoseer ook. Ons wil volgende maand ’n klompie jaaroudlammers vendusiekraal toe bring. En ’n paar tollies slagpale toe stuur.”

      ’n Slagtery sal sy altyd vereenselwig met die twaalf australorphenne en die swart haan met die pronkerige stertvere, spore en kam in hul hoenderhok. Een van die min vermaaklikhede vir Jas Burre op sy eie werf. Elke keer as Cora ’n hoender wil kop afkap, moet sy dit stilletjies doen dat hy nie daarvan weet nie. Want die kuikentjies word hans grootgemaak, in ’n boks by die vuurherd. Later spog hulle met potsierlike penveertjies; die haantjies wys spore, begin kraai en sleep pronkerig vlerk en skrop en roep die henne om te kom vreet.

      Haar pa sal sy mond nie aan die bruingebraaide hennetjie sit nie. ’n Werfdier is te na aan jou eie mens, sê hy. Dalk nader, want hy neem meer notisie van die manewales van die ou haan as van sy eie weerspannige dogter en die seun wat nie aan sy verwagtinge voldoen nie.

      Met so ’n slagtery het Helena haar ook uit die voete gemaak. Eenmaal toe die slagter hul hanskalf kom haal het, het sy hom byna te lyf gegaan, en dae lank nie met haar ma gepraat nie.

      Miskien maak sy te veel daarvan. Maar sy moet in gedagte hou dat Chris de Wet ’n boer is, hy hou nie vee vir die aardigheid aan nie. Daarby is vleis hul stapelkos. Hy maak die stelling asof hy hom moet verdedig teenoor haar, wat skaars daaraan raak.

      “Ek eet vleis,” help sy hom reg. “Eintlik eet ek alles.”

      “Alles?”

      Sy is dit van jongs af ingemoker dat jy nie jou neus vir Gods gawe optrek nie. En as sy by die huis nog vol fiemies was, het die koshuis haar gou geleer om nie uitsoekerig te wees nie.

      “Ek eet afval, maar nie die uier van ’n bok nie,” noem sy nou lighartig op. “En ook nie long nie, of ystervark of dassie.”

      “Of krokodil of slang?” speel hy saam.

      “Of seekat of twakshaai of pikkewyneiers. Maar ek eet skilpad.”

      “Nee!”

      Nou het sy hom. “Ek drink nie bies nie, maar ek eet skilpad.”

      Sy vertel hom van die veldskilpaaie van die Sandveld, die wyfies wat in die winter rooipens is van eiers. Ná die reën loop hulle en is dit maklik om sommer gou ’n streepsak vol op te tel. Net daar in die veld word ’n vuur gemaak so groot soos ’n trapvloer, waarin die lewende skilpaaie gegooi word nadat dit uitgebrand is.

      Sy dink hy wil haar terugkry toe hy sê: “Ek is weer dol op haaspastei. Wanneer kan ek jou nooi om te kom springhaas jag?”

      “Springhaas?”

      “Met ’n koplamp in die nag. Ek en my vriende jaag hulle met die bakkie in die lande. Sagter vleis het jy nog nie geproe nie.”

      Hoe het hulle op dié bisarre onderwerp gekom? Sy skuif ongemaklik rond. Die muurtjie onder haar het koud geword. “Ons moet aanstaltes maak en ry dat ek by die huis kom.”

      Hy trek haar aan een hand op en help stof die droë gras van haar rok af.

      Op pad huis toe onthou sy om dankie te sê vir die sjokolade. Benadruk dat sy én die Venters dit geniet het. Hy moet weet dat sy dit nie van hom verwag nie, sodat hy nie op sy beurt meer van haar wil hê nie. Soos die seunskind in haar matriekjaar wie se roomys in sy gesig beland het toe hy in die fliek wou begin vry.

      Felix steek ’n preek af omdat sy ná donker nog uit was. “Ons is bekommerd oor jou. Al luister jy ook na die mense se sang by die kerkie, nie saans nie. Ek wil nie die een wees wat jou langs die pad gaan optel en vir jou ouers laat weet –”

      Uit die donker agter haar sê Chris: “Roskam my maar, Dokter.”

      Felix se gesig verander. “Ja, maar julle moet verstaan, ek het al met te veel messteke en verkragtings te doen gehad.”

      Helena is rooi in die gesig by die gedagte. “Verskoon my.”

      In die kamer verwonder sy haar aan die beeld wat uit die spieël na haar terugkaats. ’n Walkure met los rooi hare en rooi stof wat sy van haar hande afspoel. Die enigste verskil is dat sy nie op die oorlogspad is nie, slegs verwaai van buite in die wind rondloop.

      “Jy eet seker saam, Chris,” nooi Anneke gasvry, en Felix skink vir elkeen ’n glasie koue witwyn.

      “Dankie,” aanvaar hy en kom sit aan.

      Eers ná koffie en ’n stuk van die vrugtekoek wat ryp geword het in die blik, maak hy aanstaltes om te ry. Hy bedank Anneke met ’n soen, spreek met Felix af om, wanneer hy Vrydag inkom dorp toe, vir hom ’n geslagte lam saam te bring.

      Vra dan of dit in orde sal wees as hy Helena die volgende naweek saam Harmstat toe neem. Asof hulle haar voogde is.

      “Verbeel ek my, of het ek nie ’n sê nie?” vra sy toe sy saam tot

Скачать книгу