Hoogty. E. Kotze
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hoogty - E. Kotze страница 19
“My ma weet van jou.”
Hoofstuk 4
“Wat neem ’n mens saam?” vra sy vir Anneke, wat Nelie Retief beter ken.
Niks persoonliks nie, besluit hulle. Die orige vrugtekoek word mooi toegedraai.
Op die ingewing haal Helena een van die flaminkveertjies uit haar Bybel en sit dit in ’n wit koevert vir Chris.
Die huis se skaduwee val lank oor die werf toe hulle op Harmstat aankom. Hy stoot die motor direk in die waenhuis en laai haar tassie uit. Die hond kom hulle tegemoet en sy ma wag hulle by die hekkie in.
Chris soen haar. “Waar is Pa?”
“By die melkery,” antwoord sy.
“Middag, tannie. Hoe gaan dit?” onthou Helena haar maniere.
“Goed, dankie,” antwoord Nelie, “en met jou?”
“Goed, dankie, tannie.”
Chris staan daar met ’n tevrede laggie, dié van ’n kat wat ’n leeu ingedra het.
Helena sit haar voete versigtig oor die drumpel. “Ek waardeer dit dat ek die naweek hierheen mag kom. Ek het baie daarna uitgesien.”
“Jy is welkom, maak jou tuis,” sê haar gasvrou gul.
Nelie Retief het dieselfde goue oë as haar seun. Twee leeus met golwende maanhaar en dieselfde lengte, sy ietwat geset. ’n Kragtige vrou vir wie Helena ten spyte van die gasvryheid lugtig voel, soos ’n veldmuis in ’n braakland wat nie seker is of die ploegskaar se lem hom gaan vang of nie.
Die dubbelbed in die gastekamer waarheen sy geneem word, het swaar versierde bedstyle, swart met koperknoppe, driepuntige embleme aan die voetenent, ingelê met perlemoer. So mooi soos wat sy nog nie tevore gesien het nie.
Onwillekeurig trek sy die patroon met haar vinger na. ’n Ster? Die kompas langs die stuurwiel van ’n visserskuit! Sy voel die hoendervleis op haar arms uitslaan. Dís iets wat sy ken.
“Die bed het oorlede Pa op ’n vendusie gekoop, dit was sy trougeskenk aan my,” sê Nelie.
“En eendag myne,” sê Chris besitlik.
Dis te mooi om op te slaap, protesteer Helena, maar Nelie sê sy is welkom en wys haar waar die badkamer is. Met ’n outydse bad en liggroen teëls teen die mure. Ook hier moet sy sê wanneer sy wil bad, sodat die bediendes warm water kan indra. Die outydse lampetbeker en waskom op die wastafel is van porselein, en onder die bed ’n kamerpot.
Al wat pla, is die kleinhuisie eenkant op die werf, witgekalk met ’n plat dak. So in die oog van almal. Selfs by die huis gee die manatok ’n mate van privaatheid.
“Ek gaan wys haar die melkery,” sê Chris.
Hulle stap uit, in die rigting van die koeistalle waar die melkers juis klaar is, spantoue losmaak en voer in die krip gooi.
“Tef,” sê hy toe Helena vra wat die beeste kry, “en gebreekte mielies en koring wat ons maal.” Hulle het ’n handgedrewe meul.
In ’n aparte kamp word jong kallers uit emmers melk gegee. “Ons laat hulle nie by die koeie kom nie. Op drie maande gaan hulle veekraal toe. Anders moet ons hulle deur die winter voer.”
Dis kort en klaar, dis waarvoor hulle grootgemaak word.
Hulle kry oom Stoffel by die koelkamer aan die agterkant van die huis, naby die kombuis, waar die kanne melk gehou word wat kaasfabriek toe gaan. Twee keer ’n week kom laai die lorrie dit. Daar hang ook stukke van ’n slagding aan hake; boud en blad losgesny.
Toe hulle vir aandete aansit, dra Fransiena, een van die baie bediendes, ’n tamaai plat skottel vleis met aartappels en ’n aparte skottel met koring op haar plat hande in en plaas dit voor Stoffel Retief.
Nadat hy gebid het, help hy eers vir tant Nelie aan sy regterkant. Toe skep hy vir Helena in. Daarna help hy homself, voordat hy die vurk en lepel vir Chris aangee.
“Dis te veel vir my,” fluister Helena vir Chris wat langs haar sit.
“Proe eers, en los die res vir my,” fluister hy terug en gee die koring aan.
Die tamaai glimlag op sy gesig trek oom Stoffel se aandag. “Wat is dit, Chris?”
“Niks, Pa. Ek vra maar net of sy nie liewer ’n skilpadjie wil hê nie.”
“Skilpad? Hoe so?”
“Want sy eet nie springhaas nie.” En hy raak aan die lag. “Toe het ek vir Fransiena gevra om vir ons skilpadjies te braai.”
Die bakkie met lewer in netvet is inderdaad op tafel, die vetjies kraakbruin en die gemaalde lewer geurig.
“Jy, Chris!” skud tant Nelie haar kop. “Moet jy altyd terg? Pa het vanoggend die hele rugstring van die skaap in die pot gesit. Eet, Helena.”
Sy eet effentjies. Lewer is ’n suiweringsorgaan waarvoor ’n mens ook kan gril, waarvan die buise uitgesny moet word.
Teen wil en dank moet oom Stoffel die skilpadstorie hoor. Helena byt op haar tande en druk deur toe sy sien Chris gaan haar nie help nie.
“Ek het hom maar net vertel hoe lekker vet ons veldskilpaaie in die winter word.”
“En van die groot skilpadbraaiery,” por Chris nou.
“Dit gebeur maar een keer in die winter, gewoonlik met ’n veldpiekniek. Dan maak die mans ’n vuur . . .” En kortliks beskryf sy dit weer.
Stoffel Retief wil weet wat daar te eet is onder so ’n dop.
“Bloedmin,” moet sy erken, behalwe die lewer en sagtedop-skaaleier, en die sagte vleisies wat die kinders van die beentjies afsuig. Ook dat sy in geen jare skilpad geproe het nie. Vir ’n kind gaan dit eerder oor die opwinding van ’n wintersdag in die veld, en die vuur.
Sy moet toegee dat dit ’n absurde praktyk is. En effens rooi om die kieue wil sy haarself nog verdedig dat dit omtrent gelykstaande is aan die braai van lammerstertjies en peertjies . . . toe knal dit meteens soos ’n donderslag in haar kop: Heuleuna, hou jou bek en vreet jou kos!
Wat het sy gedink doen sy? Wat sou hulle gedink het as sy aan tafel opgehaal het van die bosluisies aan die skilpadpootjies? Of dat dié wat uit die vuur probeer wegkom met ’n stok teruggedruk word . . . Besadig eet sy verder, en vee die sous met ’n stukkie brood op sonder om een maal weer te praat.
Die skottelgoed word ná ete in die buitekombuis in ’n skottel gepak. Helena wil opwas, maar Chris, wat help afdra het, keer. “Dis Fransiena se werk, my ma sal nie daarvan hou nie.”
Daar word boekegevat, en dan drink hulle koffie.
“Chris, jy moet kyk dat alles toe is. En blaas die lampe dood,” gee Stoffel Retief sy laaste orders af.
Hulle soen mekaar goeienag.