Madeliefies van staal. Pat Stamatélos
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Madeliefies van staal - Pat Stamatélos страница 6
Hulle kyk vlugtig na mekaar. Dan skud sy net haar kop.
“Ná ’n tydjie lyk alle rampokkers na mekaar. Jong bruin latte met kroeshare, vuil en bebloed, arm en armsalig . . .” Sy maak ’n sagte kreungeluid in haar keel. “Jy weet mos.”
“Wil jy nie maar vir Tshabalala van jou vermoede vertel nie?” hou Jacques aan.
Hoe goed ken hy haar nie. Sy trek net haar skouers op.
Hy neul nie en verwys ook nie weer daarna nie. Hulle verval in ’n gemaklike stilte terwyl hy op die besige pad konsentreer. Sy is dankbaar vir die geleentheid om haar gedagtes te kan orden.
Die man met die noodlottige kopwond ken sy goed.
Eddie Stamper. Gatswaaier, vrouenaaier, dis sy reputasie en hy was trots daarop. Ses-en-twintig jaar oud, pa van Hessie se tweeling, hulle melkkoper. Nou morsdood agter in die lykhuis se bakkie.
Sy weet nie of sy moet lag of huil nie. Wat sy moet sê nie. “Prys die Here, die skarminkel is dood” of “Arme Hessie, wie gaan nou pa staan vir die tweeling?”
2
Cheryl Douglas lees haar bankstaat vir die tweede keer deur, haar Vrydagaand-ritueel.
Sy werk en speel tussen die überrykes en dis uiters belangrik om die regte voorkoms te handhaaf, by die regte adres te bly en die regte uithangplekke te besoek – en die kolom met al die minussyfers getuig daarvan.
Ek klink al nes my ma, dink sy. Om die waarheid te sê, sy is besig om in haar ma te verander. Dis nogal ’n gedagte. En dis nogal alright.
Ma Dulcie het gespring van (amper) gopserige, bruin Gumaville tot (amper) elite, skitterwit Roxy. Van desperaat tot welvarend. Toe (amper) terug na ’n glybaanbestaan van nederigheid om verwaarloosde kinders en verhongerde diere te voer, tot ’n huwelik met ’n ryk man (miljoene van sy suster geërf). Sy het van nuuts af geproklameer dat die regte voorkoms lewensbelangrik is terwyl sy vir altyd gelukkig lewe.
Met haar neus in haar dogter se besigheid.
Maar dís ’n ander storie.
In hierdie stadium dink Cheryl ernstig daaraan om na ’n goedkoper blyplek te trek. Haar argument was altyd: Kyk net hoeveel kan ek spaar deur so naby aan my werk te bly! Dit het net ’n paar maande gevat om te besef dat haar woonstel se huurgeld dubbel die bedrag is wat sy aan petrol moes bestee toe sy nog in haar ma se huis in Roxy gebly het.
Ná haar kursus in haarkappery en grimeerkuns aan die tegniese kollege het sy deur ’n vriend van ’n vriend vir Lisa le Roux leer ken, wat destyds by e.tv gewerk het. Eintlik is hulle meer tjommies as hegte vriende, maar drie jaar gelede is Cheryl die pos van haar drome aangebied – Lisa het besluit om te trou (die baba reeds op pad) en Cheryl is nadergehark vir haar pos by e.tv. Op ses-en-twintig het sy dit met albei hande aangegryp en so gou as moontlik haar naam op die stippellyntjie geteken. Nou is sy deel van die permanente personeel as stileerder en grimeerkunstenaar, een van die groep, ’n mede-toiletspoeler.
Blootstelling aan die hoë lewe van die rykes en die glamour en glitz van die vermaakwêreld was meteens binne haar bereik, iets wat sy jare lank begeer het. En natuurlik was die geld ook nie te versmaai nie.
Nou klink sy weer soos ma Dulcie . . .
Die beste van haar werk is dat sy net vier dae ’n week werk, al word sy soms ingeroep om uit te help. Twee maal ’n week werk sy as vrywilliger by FreeMe, ’n rehabilitasiesentrum vir wilde diere in Paulshof. Daar kan sy haar verlustig in die groot liefde van haar lewe (naas Ma en Ashwin), naamlik diere.
Maar een ding het sy by haar ma geleer: Maak nie saak hoe arm, platsak of bankrot jy dink jy is nie, jy kan altyd iets wegbêre vir ’n rainy day. Dis presies wat sy al die jare gedoen het, en dié neseiertjie het al aansienlik gegroei. Sodanig dat sy ’n oorsese trippie saam met haar beste vriendin, Dae-Yung Kim, beplan. Om die waarheid te sê, hulle plekke op die vliegtuig is reeds bespreek.
Dae met die laggende oë is op vier-en-twintig afgesmeer aan ’n ryk ou man, ene meneer Lee van die Koreaanse dorp Boseong, die eienaar van meer teeplantasies as hare op sy kop. Hy het haar oënskynlik goed behandel, maar sy kinky seksvoorkeure het haar ’n jaar later laat wegloop.
Dae-Yung Kim het sewe jaar gelede in Suid-Afrika aangekom en binne weke werk gekry by die Koreaanse ambassade in Pretoria. Nou is dit hoog tyd dat sy huiswaarts keer vir ’n besoek, maar sy is so senuagtig oor die verwytende oë van die Kim-clan dat sy Cheryl gesmeek het om saam te gaan.
“Jy kan my lyfwag wees.”
Cheryl moes lag. “Van watter nut is ’n lyfwag wat nie ’n woord Koreaans kan praat nie?”
“Jy’s groter as ek,” was Dae se saaklike antwoord.
Dis waar.
Volgens Dae sal haar mense haar nooit vergewe vir die skande wat sy met haar weglopery oor die families gebring het nie. Intussen het die ou man van haar geskei, weer getrou en is sy haar erfporsie en status kwyt.
“Hoekom het jy in die eerste plek met hom getrou?” wou Cheryl weet. Wat háár betref: liewer ’n arm, pronkerige pistooltjie as ’n skatryk kwynende ou kanon.
“He is boss who lie on top,” het Dae skouerophalend gesê, en Cheryl het gereken mens stry nie met Koreaanse logika nie.
Sy vou die bankstaat in ’n klein blokkie op en druk dit in haar motor se paneelkassie. Sy sal dit later by die huis uithaal en verder dissekteer, sent vir sent.
Sy klim uit haar nuwe silwer Honda Jazz en loop na die ingang van die Upper Mall. In die lingua franca van die noorde word daar na die Upper Mall eenvoudig verwys as The Mall. Daar is hoegenaamd niks wat kan vergelyk met The Mall nie, ten minste nie diékant van die ewenaar nie.
Cheryl kies koers na die delikatesse toe.
Die Vrydagaandjollers hang aan mekaar terwyl hulle die paadjie oopkloof na die naaste fliek, gek-duur boetieks en koffieplekke. Hulle lag, gesels, soen-soen en is oor die algemeen so in mekaar verstrengel dat enige ander wese by wyse van spreke uitgewis word, insluitende sy.
Sy sorg dat sy hulle nie te indringend aanstaar nie, ingeval iemand per ongeluk haar oog vang. Op nege-en-twintig is sy steeds enkellopend, onbetrokke en partykeer voel sy selfs onbemind en oorbodig. Met die uitsondering van die familia, natuurlik.
Maar die familia (haar ma se gunstelingwoord vir hulle bloedlyn) bly ver van haar af en soms het sy geselskap broodnodig. Sy besef terdeë – dankie, Ma – dat ’n vrou van amper dertig ’n beter kans staan om met ’n goudvis te trou as met ’n man.
Dae-Yung Kim se opruiende geselskap maak darem op vir die tekort aan kêrels. Ongelukkig bly Dae in Midrand, te ver vir ’n vinnige koffie. Hierdie naweek slaap ’n man genaamd Philly oor by Dae. Dae noem hom sommer Feely.
“I feely him he feely me,” sal sy lag as Cheryl haar versigtig uitvra.
Philly en Dae-Yung se sogenaamde verhouding gaan nou al jare lank aan, maar daar is nog geen gelui van trouklokkies in die vooruitsig nie. Tussen Philly se verskynings en verdwynings deur gaan Dae-Yung met ander mans uit.
Soos